Die Donker Eeue 11: Interne Onrus in die Ryk

18/03/2011 in Sonder kategorie

In 591 n.C., na ‘n vredesverdrag met Persie gesluit is, het keiser Maurice groot getalle troepe aan die Avar-front ontplooi. Met aanmoediging van die Avars het Slawiese stamme sedert 600 uit die huidige Serwie versprei langs die Dalmatiese kus van die Adriatiese See. Die Avar-bedreiging was nou oor ‘n 1 100 km lange Balkan-grens.

Met die aanbreek van die 7de eeu het die Romeinse Ryk – weens die Plaag – ekonomiese en militere rampspoed in die gesig gestaar. Oor die vorige 30 jaar is sowat 15 ton goud deur die Avars afgepers. Dit terwyl die Romeinse bevolking weens opeenvolgende Plaag-epidemies oor ‘n 60 jaar tydperk met sowat ‘n derde gekrimp het. Die Ryk se belastingbasis is verder geknou deurdat grondgebied deur die Avars afgevat is. Die keiser het die staatskoffers probeer aanvul deur meer belasting te hef en die troepe se vergoeding te verswak.

In November 602 het die leer opdrag gekry om oor die Donau-rivier te beweeg en die winter in barbaarse gebied oor te bly. Dit was die laaste strooi wat die leer laat muit het. Phocas, ‘n uitgesproke centurion (hoofman oor 100 manskappe) is tot die troepe se leier verkies en het 14 dae later die nuwe keiser geword na betogings in Konstantinopel, gevolg deur ‘n opstand. Maurice met sy gesin het in die nag probeer vlug, maar is gevang. Hy en sy seuns is op Phocas se bevel om die lewe gebring, terwyl sy vrou en dogters voorlopig in ‘n klooster aangehou is. Phocas se gewildheid het egter vinnig getaan en gedurende die volgende drie jaar het die Ryk toenemende interne destabilisering ondervind. In die leer was daar faksies vir en teen Phocas.

Die Persiese koning, Chosroes, wat ‘n goeie verhouding met Maurice gehad het, het geweier om die nuwe Romeinse ambassadeurs te ontvang. ‘n Romeinse generaal aan die Persiese front, Narses, het teen Phocas gerebelleer, beheer van die stad, Edessa (in die huidige suidoos-Turkye) oorgeneem en koning Chosroes skriftelik versoek om die Ryk aan te val. Dit het dan ook vroeg in 604 gebeur, waar die Romeinse generaal, Germanus, gesneuwel het. Phocas het nou troepe van die Avar-front onttrek om die Persiese aanslag af te weer. By die eerste groot veldslag, by die Arzamom-rivier, het die Persiese koning met sy olifante die Romeinse magte verpletter. Gevange Romeinse soldate is onthoof. Hulle aanvoerder, Leontius, het weggekom, maar hy en die rebel, Narses, is op Phocas se bevel na Konstantinopel gebring, waar Narses in die openbaar verbrand is.

2 antwoorde op Die Donker Eeue 11: Interne Onrus in die Ryk

  1. Blikskottel het gesê op 18/03/2011

    MMM. baie interresant. het jy al die boek. “Tracing our ancestors” gelees?

  2. deonleroux het gesê op 18/03/2011

    Nee, daardie een is nie in my boekrakke nie. Indien dit dieselfde tydvak dek, is jy welkom om by wyse van kommentaar bydraes daaruit op hierdie blog te lewer.