Die Donker Eeue 10: Avar-afpersing

16/03/2011 in Sonder kategorie

In 571 is ‘n Romeinse leer onder aanvoering van die toekomstige keiser Tiberius in noordelike Serwie deur die Avars verslaan. Daarna moes die Romeine jaarliks ‘beskermingsgeld’ betaal om die Avars uit die Ryk te hou. Laasgenoemde het egter nie by hul deel van die ooreenkoms gehou nie. In 578 n.C. was hul weer op die oorlogspad onder leiding van Kagan Baian. Die teiken was die strategiese Romeinse stad Sirmium aan die Sarva-rivier, wat die roete tussen die oostelike en westelike dele van die Ryk beheer het. Terwyl die stad beleer is het die Kagan gevange Romeinse ingenieurs gedwing om pontbrue oor die rivier aan weerskante van Sirmium te bou, waardeur die stad totaal geisoleer is. ‘n Ontsettingsmag is verslaan en na twee jaar van hongersnood en pessiektes moes Sirmium oorgee.

Die Avars het nou die ‘beskermingsgeld’ verhoog van 80 000 tot 100 000 goudmunte per jaar. Keiser Maurice, bekend vir sy suinigheid, het egter geweier om die verhoogde bedrag te betaal. Dit het gelei tot ‘n nuwe inval al langs die suidelike oewer van die Donau-rivier tot by die Swart See, waar die Avars gedurende die winter van 583/584 op Romeinse grondgebied vertoef het. Na ‘n paar maande het keiser Maurice ingestem om die verhoogde som te betaal, waarop die Avars na hul eie grondgebied teruggetrek het.

‘n Paar maande later het die Slawiese bondgenote, aangepor deur die Avars, die stad Hadrianapolis, minder as 200 km wes van Konstantinopel aangeval. Weer het keiser Maurice geweier om steeds meer te betaal vir ‘beskerming’. ‘n Groot Avar/Slawiese mag is daarop deur die Kagan gestuur om Griekeland aan te val. Hulle het gevorder tot by Thessalonika, maar kon nie die stad inneem nie, ten spyte daarvan dat dit verswak was deur die Plaag-epidemie van 585-586.

Gedurende 587 en 588 was daar nog Avar-aanvalle op onder andere Thrasie en het die barbare tot 80 km van Konstantinopel gevorder, voordat hulle betaling aanvaar het om huis toe te gaan.  

5 antwoorde op Die Donker Eeue 10: Avar-afpersing

  1. brug het gesê op 16/03/2011

    Woeste tye. Keiser Konstantyn op die horizon ?

  2. Dexter_Morgan het gesê op 16/03/2011

    Ek geniet jou blog.

  3. vuurklip het gesê op 16/03/2011

    Baie interressant, dankie, maar ek sal graag ook jou opinie oor fracking in die Karoo wil hoor?

  4. deonleroux het gesê op 18/03/2011

    Konstantyn Die Grote was keiser in 324-327n.C. Die stad, Konstantinopel, is na hom vernoem. In sy tyd, 325 n.C.,het die Christelike Geloof die amptelike geloof van die Ryk geword.Na sy dood het die Ryk verdeel in die Westelike (Rome) en Oostelike (Konstantinopel) Romeinse Ryke. Gedurende die Avat-tyd het net die Oostelike Ryk nog bestaan.

  5. deonleroux het gesê op 22/03/2011

    ‘n Storm in ‘n tee-koppie. Sien my jongste pos