Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

Die Donker Eeue 17: Mohammed

31/03/2011 in Sonder kategorie

Mohammed is as lid van die Quraysh-stam omstreeks 570 n.C. gebore in Mekka in die huidige Saoedi-Arabie. Sy ouers is vroeg oorlede, waarna hy deur ‘n oom grootgemaak is. Later het hy met ‘n ryk weduwee, Khadijo getrou en handel gedryf met pelgrims wat die Kaaba-steen in Mekka besoek het. Op 40-jarige ouderdom het hy begin om sy lewe aan gebed, meditasie en hulp aan armes te wy. Hy het beweer dat hy geinspireer is deur die een ware God (Allah) en dat hy as profeet van Allah aangewys is deur die aartsengel, Gabriel. Nadat hy sy heilige openbarings neergeskryf het in die Koran het hy begin preek en spoedig ‘n klein gevolg opgebou.

Hy het die Arabiere van Mekka veroordeel vir hul afgodery en is met sy volgelinge uit die stad verjaag in 622. In Medina, ‘n oase-dorp omtrent 300 km noord van Mekka het sy leerstellings inslag gevind en is binne 10 jaar ‘n groot gevolg opgebou. Dit het ‘n klein maar lojale groep ingesluit wat bereid was om tot die dood te veg om die nuwe geloof te versprei. Die geloof het bekend geword as die Islam en Mohammed se volgelinge as Moslems. Die Koran was hulle heilige boek. Die jaar van die vlug uit Mekka, die Hagira, was die jaar 0 van die nuwe Moslem-kalender. In 630 het die Moslems Mekka verower. Met Mohammed se dood in 632 was die hele Arabie reeds tot die nuwe geloof bekeer. Bekwame manne onder sy volgelinge het daarna sy taak voortgesit.

Die Islamitiese geloof is eenvoudig dat elke gelowige moet bely dat Allah die enigste God is en dat Mohammed sy profeet is. Hulle moet 5 keer per dag bid, met hul gesigte in die rigting van die heilige stad, Mekka. Hulle moet gereeld aalmoese aan die armes gee, gedurende die heilige maand, Ramadan vas en minstens een pelgrimstog na Mekka onderneem.

Elkeen kon die geleentheid kry om die geloof te aanvaar. Diegene wat nie wou nie, is as ‘ongelowiges’ bestempel. ‘Ongelowiges’ moes beveg word, wat die lewens van talle ‘ongelowiges’ gekos het. Tog word in die geskiedenis verdraagsaamheid teenoor ander gelowe gevind. Die Moslems se vervolging van sg. ongelowiges was nooit so wreed of omvangryk as die van die Roomse Kerk gedurende die Middeleeue nie*.

*Die Verhaal van die Mensdom (‘n KENNIS-boek), H.J. van Aswegen en andere.

Die Donker Eeue 16: Mekka

29/03/2011 in Sonder kategorie

Mekka was ‘n hawestad aan die Rooi See kus van die Arabiese skiereiland. Die stad was veral bekend vir die Kaaba, ‘n swart klip wat volgens oorlewerings deur die stamvader, Abraham, daarheen geneem is. Pelgrims van oral uit die Midde-Ooste het Mekka besoek om die Kaaba te sien. Die inwoners was Arabies-Semitiese stamme. Sommige het geneig na ‘n Judaistiese godsdiens. Die meeste het egter ‘n verskeidenheid van gode deur gesnede beelde aanbid.

Volgens die laat 7de eeuse Islamiese geskiedskrywer, Ibn Ishaq, was daar in die laat 530’s ernstige hongersnood. Amr, ‘n leiersfiguur in Mekka, het graan uit Sirie ingevoer en sy mense laat oorleef op ‘n dis van gekrummelde brood (hashama) met water gemeng. Daarvandaan het hy die naam, Hashim, gekry. Sy optrede het sy aansien en die van sy nasate verhoog. Een van sy agter-kleinseuns was Mohammed, wat sowat 40 jaar later gebore is.

Die Oos-Afrikaanse ‘Plaag’ (builepes) het ook in Mekka ‘n rol gespeel. Omstreeks 550 is Mekka bedreig deur ‘n Jemeense mag. In die Koran word beskryf hoe God die vyand met die ‘Plaag ‘ gestraf het. Die Jemeniete het in groot getalle buite die stad gesterf en op hul terugtog het manskappe gedurig langs die roete neergeval.

Omstreeks 600n.C. het Arabiese perde- en kameelruiters die grense van die Bisantynse (Oos-Romeinse) en Persiese ryke begin aanval. Hierdie Arabiere, half-Semitiese stamme uit die woestyne van Arabie, was vanwee hul nomadiese bestaan gehard. Hulle het nog verskeie afgode gehad, maar vroeg in die 7de eeu is ‘n nuwe geloof aan hulle gebring.

Die Donker Eeue 15: Rampspoed in Jemen

27/03/2011 in Sonder kategorie

Vir bykans ‘n duisend jaar tot die 6de eeu n.C. was die belangrikste politieke mag in die Arabiese skiereiland gesetel in die huidige Jemen. Hierdie staat was ook in beheer van handel-sentrums aan die Oos-Afrika kusstreek. Met die destabilisering van die wereld se klimaat in die laat 530’s het twee rampe die streek getref. Eerstens het ‘die Plaag’ (builepes) in 539 of 540 uitgebreek, wat volgens alle gegewens in Oos-Afrika ontstaan het. Tweedens is die landbou-ekonomie van die belangrikste deel van die staat vernietig.

Die Marib-dam was een van die grootste prestasies van siviele ingenieurswese in pre-moderne tye. Die damwal was sowat 700 meters lank, 17 meters hoog en met ‘n basis-wydte van 65 meters. Vloedwater is in die dam opgevang en deur twee sluise uitgelaat na ‘n 1 200 meter-lange kanaal en daarvandaan deur 15 sekondere sluise en 121 tersiere sluise na ‘n besproeiing-stelsel bestaande uit honderde kilometers van sekondere kanale. Meer as 10 000 hektaar is besproei en het ‘n bevolking van tot 50 000 mense onderhou.

Die stad Marib was die hoofstad van die koninkryk van Saba (vermoedelik die bybelse Skeba) tot laat in die derde eeu. Daarna was dit ‘n belangrike sentrum van die gesamentlike koninkryk van Saba en Himyar, nadat Saba aan die Himyariete onderworpe geraak het.

Soos aan die begin van hierdie reeks uitgewys is, het die wereldwye klimaats-ontwrigting van 535n.C. tot die 550’s gevolg op ‘n katastrofiese uitbarsting en ontploffing van ‘n proto-Krakatoa vulkaan in die Soenda-seestraat. In Jemen is droogtes sporadies onderbreek deur frats-vloede. ‘n Vloed van ongekende omvang in die 540’s het die Marib-damwal vir die eerste keer in 100 jaar laat meegee. Volgens koninklike argiewe is ‘n werksmag van oral uit die koninkryk op die been gebring om die damwal te herstel en te versterk. Verdere vloede het egter gevolg wat, behalwe skade aan die damwal self, ook die dam se kapasiteit deur verslikking laat afneem het. Verslikking is veroorsaak deurdat plantegroei in die dam se opvanggebied weens droogte vernietig is, waarna die bogrond met opeenvolgende swaar reens weggespoel is.

In die 550’s het die damwal weer gebreek. Alhoewel dit weer herstel is en nog tot die 590’s in gebruik was, was Marib sedert die 550’s nie meer in staat om sy eie bevolking en besoekende nomadiese groepe te voed nie. Weens migrasie elders heen in die Arabiese skiereiland het die bevolking van Marib gedaal tot sowat 5 000 tot 10 000 mense. Die verswakking van die Himyariet-koninkryk het ‘n mags-vakuum in die Arabiese wereld laat ontstaan.

Volgende: Droogte in Mekka

Die Donker Eeue 14: Die Gety Draai

26/03/2011 in Sonder kategorie

In 618n.C., met net die sowat 1.5 km wye water van die Bosporus-seestraat tussen die Persiers en Konstantinopel, was toestande in die hoofstad van die Romeinse Ryk haglik. Die verlies van driekwart van sy grondgebied het voedsel-voorsiening nadelig geraak. In 622 het Heraklius die Kerk versoek om hulle skatte van silwer en goud te oorhandig om die staatskoffers aan te vul, om die Ryk te help oorleef. Sowat 100 ton goud is so ingesamel. Die Avars se kagan het egter daarvan te hore gekom en die ‘beskermingsgeld’ verdubbel tot 200 000 goudmunte per jaar. (so ‘n skarmunkel!).

In 626 was Konstantinopel omsingel. Die Avars en Slawiers was net buite die stadsmure in die weste en die Persiers agter die Bosporus in die ooste. Die twee groepe het saamgespan teen die Ryk. Die kagan het die stad se inwoners die keuse gegee om met net die skoene en klere aan hul lywe die stad te verlaat, dan sal hul lewens gespaar word.

Die jaar 626n.C. was egter ‘n minstens tydelike keerpunt. Die barbare se aanval het misluk en die Persiers is teruggedryf. Oor die volgende 4 jaar het keiser Heraklius daarin geslaag om alle verlore grondgebied in Noord-Afrika en in Klein Asie te herower. Die massiewe koste en verlies aan mannekrag van die 25 jaar-lange Persiese oorlog het beide kampe ‘n militere en ekonomiese knou toegedien. Die Romeinse Ryk se weermag het oor ‘n tydperk van 100 jaar gekrimp van 100 000 man tot net sowat 30 000-40 000.

Binne 5 jaar sou die Ryk se militere vermoens weer getoets word. ‘n Nuwe militere mag het ontstaan in die Arabiese woestyn, genaamd ‘Islam’.

Die Donker Eeue 13: Keiser Heraklius

25/03/2011 in Sonder kategorie

Alhoewel interne bloedvergieting tot ‘n einde gekom het toe Heraklius keiser van die Romeinse Ryk geword het, het die proses waardeur die Ryk binne 30 jaar 70% van sy grondgebied verloor het voortgeduur. Sedert die muitery van 602n.C. het betrekkinge met beide die Persiers en barbare agteruit gegaan. Geskiedskrywer Theophanus beskryf, “Heraclius, on becoming emperor, found the Roman state in a terrible condition. For the barbarians [Avars and Slaves] had made Europe a desert, while the Persians had given all Asia to ravaging and had lead whole cities into captivity and had constantly swallowed up whole Roman armies.”

In die noordweste het Slawiers deur die Romeinse grensmagte gebreek en dorpe aan die Adriatiese kus aangeval en afgebrand. Vlugtelinge het na Italie gestroom of na verdedigbare posisies aan die kus, waar hulle omringende mure opgebou en versterk het. Dorpe soos Ragasium (huidig Dubrovnik) en Split, wat die grondslag van die middeleeuse staat, Kroasie gevorm het, dateer uit daardie tyd.

Intussen het ander Slawiese stamme, met goedkeuring van die Avars, op Griekeland toegesak en selfs die Griekse eilande en dele van Anatolie (huidig Turkye) aangeval. Aanvanklik het hulle die see betree op groot kano’s van uitgeholde boomstamme, maar later ook op bote wat van ander volke gebuit is. In Griekeland het Slawiers daarna ‘n beduidende deel van die bevolking uitgemaak en talle hedendaagse dorpe het nog name van Slawiese oorsprong. Die Avars se Kagan het steeds ‘beskermingsgeld’ van die Ryk ontvang, maar nogtans strooptogte uitgevoer.

In Asie (eintlik Klein-Asie) het die Persiers in 611 Kappadosie en Antiochie en in 613 Damaskus verower. Die verlies van Jerusalem in 614 was veral ‘n swaar slag vir die moraal van die Ryk. Die Persiese leer het duisende Christene doodgemaak en nog duisende as gevangenes na Babilon weggevoer. Spoedig was ook die hele Egipte, Libie en Palestina in Persiese hande. In 616n.C. het ‘n Persiese leer aan die oostelike oewer van die Bosporus-seestraat opgedaag, binne sig van Konstantinopel. 

Critical Biodiversity Zones

24/03/2011 in Sonder kategorie

A few days ago, when I visited the local municipality office to pay the monthly rates and taxes, I noticed a map of the district showing ‘critical biodiversity zones’. One of these covers an area of some 20 000 hectares, which to me seems exactly the same as the adjacent hundred thousand square kilometers of semi-desert.

It reminds me of the early 1990’s when I was stationed on the Klerksdorp Goldfields. International mining magazines were circulated in the mine offices regularly. At the time, wherever Australian mining companies applied for mining or prospecting permits, the Aborigines objected on the grounds of  ‘sacred sites’ in the area applied for. One issue of the Australian magazine contained a cartoon depicting two Abo’s (with bones through their noses) sitting around a fire somewhere in the ‘outback’. The caption below read:”You know, proclaiming sacred sites is much like eating chinamen. About four hours after I have proclaimed a sacred site I feel like proclaiming another sacred site!” 

Prospektering in die Karoo

22/03/2011 in Sonder kategorie

Nadat inligting oor die beoogde prospektering in die Karoo in die naweek se koerante verskyn het, kan mens die aangeleentheid in perspektief sien.

Die prospekteerder het regte oor drie blokke grond, elk sowat 30 000 vierkant kilometer. Daar word verwag dat gemiddeld 8 boorgate per blok geboor gaan word (mits die geofisiese opnames gunstige resultate oplewer, anders dalk glad nie). Dus gemiddeld een boorgat per 3 750 vk. kilometer/per 375 000 hektaar/per 30 plase? Gewone boorgate affekteer ‘n area van sowat 10 meter by 10 meter (0.01 hektaar). ‘n Diep boorgat sal seker nie ‘n hele hektaar in beslag neem nie, maar kom ons gebruik een hektaar per boorgat vir hierdie oefening. Dan is die omgewingsimpak van die projek 1:375 000, terwyl die drakrag van die grond waarskynlik etlike hektare per skaap is.

Die skaliebreking en moontlike besoedeling van grondwater is waarvoor die omgewings-aktiviste die bangste is. Dis nie asof daar oral in die Karoo grondwaterbronne is nie, maar waar dit wel raakgeboor is was dit meestal binne 100 meter onder die oppervlak. Die gas-boorgate sal na verwagting sowat 3 000 meter (3 kilometer) diep wees. Die boorgate sal voering van die oppervlak af tot by die moontlike gasdraende skalie kry, enersins om te verhoed dat die boorgat toeval in swak rotssones, andersins om te verseker dat die gas, indien enige, bo uitkom. Daar sal dus nerens naby die dieptes waar grondwater voorkom enige gas of vloeistof uit die boorgat kan uitlek nie.

Springstof word gebruik om die gas-draende skalielae te kraak, om die deurlaatbaarheid daarvan vir gasse en vloeistowwe te verhoog. Sover ek weet is nie een goudmyn in Suid-Afrika 3 000 meter diep nie. Ondergrondse skietwerk kraak net die rots tussen en onmiddelik rondom ladings. Skalie-kraking kan onmoontlik nie die oppervlak 3 000 meters ver affekteer nie.

Soos gewoonlik probeer die omgewings-aktiviste weereens ‘n ontwikkelingsprojek dwarsboom, sonder dat hulle weet wat prospektering behels. Rupert Junior, wie se familie-fortuin op die nikotienbedryf rus, is in een van die eerste koerantberigte aangehaal, “hulle moenie dink ons is takhare in safari-pakke nie” . Sy optrede skep juis daardie indruk! Hy, prinses Irene en ander is besig om hulleself belaglik te maak. Dis nie ‘n wonder dat Suid-Afrika so ‘n lae internasionale ‘rating’ het vir mynbou-beleggings nie.  

Die Donker Eeue 12: Toenemende Anargie in die Ryk

20/03/2011 in Sonder kategorie

In Antiochie, Palestina en Egipte, provinsies verantwoordelik vir ‘n derde van die Romeinse Ryk se inkomste, was daar  opstande teen keiser Phocas. In Antiochie is die opstand met groot bloedvergieting deur troepe onderdruk. Rebelle is verwurg, verbrand, verdrink of vir wilde diere gevoer. In Egipte het anti-Phocas rebelle die Romeinse goewerneur en sy volgelinge aangeval en met die swaard gedood. Daar het hulle beheer oor 5 stede oorgeneem.

Teen 603 of 604 n.C. is Romeinse troepe van die Avar-grens onttrek om die Persiese aanval af te weer. Ten spyte daarvan dat keiser Phocas met vredesbetalings aan die Avars volgehou het, het die Avars se onderhorige Slawiers die geleentheid gebruik om die verswakte grens oor te steek vir strooptogte in Griekeland.

Gedurende 605 was daar weer opstootjies en bloedvergieting in Konstantinopel, terwyl die hele Romeinse Mesopotamie  deur Persiese magte verower is. Die Romeinse prefek is saam met ander beamptes tereggestel. Daarna is ook die Armeniese en oostelike Anatoliese provinsies deur die Persiers afgeneem.

Die paranoise Phocas het in 607 en 608 talle leiersfigure in die hoofstad laat doodmaak, ook die vorige keiser  Maurice se vrou en drie dogters. Burgeroorlog het nou in alle erns uitgebreek. Konstantinopel se administratiewe kantore is afgebrand en tronkdeure oopgegooi. In Antiochie het die Joodse bevolking opgestaan, die huise van rykes afgebrand en die Christelike Patriarg om die lewe gebring.

Uit die Noord-Afrikaanse stad, Karthago, het ‘n vloot skepe onder aanvoering van Heraclius, die seun van die leidende politikus, na Konstantinopel vertrek. Met hul aankoms in Konstantinopel is Phocas se bewind beeindig en is hy lewendig  verbrand deur sy opponente. 

Gedurende die komende week gaan sakeverpligtings en -besoekers my aandag verg en my noop om tydelik die blog op ys te hou. Ons sal voortgaan met die Romeinse Ryk se voortgesette beproewings sodra alles hier weer rustig raak.

   

Die Donker Eeue 11: Interne Onrus in die Ryk

18/03/2011 in Sonder kategorie

In 591 n.C., na ‘n vredesverdrag met Persie gesluit is, het keiser Maurice groot getalle troepe aan die Avar-front ontplooi. Met aanmoediging van die Avars het Slawiese stamme sedert 600 uit die huidige Serwie versprei langs die Dalmatiese kus van die Adriatiese See. Die Avar-bedreiging was nou oor ‘n 1 100 km lange Balkan-grens.

Met die aanbreek van die 7de eeu het die Romeinse Ryk – weens die Plaag – ekonomiese en militere rampspoed in die gesig gestaar. Oor die vorige 30 jaar is sowat 15 ton goud deur die Avars afgepers. Dit terwyl die Romeinse bevolking weens opeenvolgende Plaag-epidemies oor ‘n 60 jaar tydperk met sowat ‘n derde gekrimp het. Die Ryk se belastingbasis is verder geknou deurdat grondgebied deur die Avars afgevat is. Die keiser het die staatskoffers probeer aanvul deur meer belasting te hef en die troepe se vergoeding te verswak.

In November 602 het die leer opdrag gekry om oor die Donau-rivier te beweeg en die winter in barbaarse gebied oor te bly. Dit was die laaste strooi wat die leer laat muit het. Phocas, ‘n uitgesproke centurion (hoofman oor 100 manskappe) is tot die troepe se leier verkies en het 14 dae later die nuwe keiser geword na betogings in Konstantinopel, gevolg deur ‘n opstand. Maurice met sy gesin het in die nag probeer vlug, maar is gevang. Hy en sy seuns is op Phocas se bevel om die lewe gebring, terwyl sy vrou en dogters voorlopig in ‘n klooster aangehou is. Phocas se gewildheid het egter vinnig getaan en gedurende die volgende drie jaar het die Ryk toenemende interne destabilisering ondervind. In die leer was daar faksies vir en teen Phocas.

Die Persiese koning, Chosroes, wat ‘n goeie verhouding met Maurice gehad het, het geweier om die nuwe Romeinse ambassadeurs te ontvang. ‘n Romeinse generaal aan die Persiese front, Narses, het teen Phocas gerebelleer, beheer van die stad, Edessa (in die huidige suidoos-Turkye) oorgeneem en koning Chosroes skriftelik versoek om die Ryk aan te val. Dit het dan ook vroeg in 604 gebeur, waar die Romeinse generaal, Germanus, gesneuwel het. Phocas het nou troepe van die Avar-front onttrek om die Persiese aanslag af te weer. By die eerste groot veldslag, by die Arzamom-rivier, het die Persiese koning met sy olifante die Romeinse magte verpletter. Gevange Romeinse soldate is onthoof. Hulle aanvoerder, Leontius, het weggekom, maar hy en die rebel, Narses, is op Phocas se bevel na Konstantinopel gebring, waar Narses in die openbaar verbrand is.

Die Donker Eeue 10: Avar-afpersing

16/03/2011 in Sonder kategorie

In 571 is ‘n Romeinse leer onder aanvoering van die toekomstige keiser Tiberius in noordelike Serwie deur die Avars verslaan. Daarna moes die Romeine jaarliks ‘beskermingsgeld’ betaal om die Avars uit die Ryk te hou. Laasgenoemde het egter nie by hul deel van die ooreenkoms gehou nie. In 578 n.C. was hul weer op die oorlogspad onder leiding van Kagan Baian. Die teiken was die strategiese Romeinse stad Sirmium aan die Sarva-rivier, wat die roete tussen die oostelike en westelike dele van die Ryk beheer het. Terwyl die stad beleer is het die Kagan gevange Romeinse ingenieurs gedwing om pontbrue oor die rivier aan weerskante van Sirmium te bou, waardeur die stad totaal geisoleer is. ‘n Ontsettingsmag is verslaan en na twee jaar van hongersnood en pessiektes moes Sirmium oorgee.

Die Avars het nou die ‘beskermingsgeld’ verhoog van 80 000 tot 100 000 goudmunte per jaar. Keiser Maurice, bekend vir sy suinigheid, het egter geweier om die verhoogde bedrag te betaal. Dit het gelei tot ‘n nuwe inval al langs die suidelike oewer van die Donau-rivier tot by die Swart See, waar die Avars gedurende die winter van 583/584 op Romeinse grondgebied vertoef het. Na ‘n paar maande het keiser Maurice ingestem om die verhoogde som te betaal, waarop die Avars na hul eie grondgebied teruggetrek het.

‘n Paar maande later het die Slawiese bondgenote, aangepor deur die Avars, die stad Hadrianapolis, minder as 200 km wes van Konstantinopel aangeval. Weer het keiser Maurice geweier om steeds meer te betaal vir ‘beskerming’. ‘n Groot Avar/Slawiese mag is daarop deur die Kagan gestuur om Griekeland aan te val. Hulle het gevorder tot by Thessalonika, maar kon nie die stad inneem nie, ten spyte daarvan dat dit verswak was deur die Plaag-epidemie van 585-586.

Gedurende 587 en 588 was daar nog Avar-aanvalle op onder andere Thrasie en het die barbare tot 80 km van Konstantinopel gevorder, voordat hulle betaling aanvaar het om huis toe te gaan.