by

Can – Tago Mago (1971)

Februarie 1, 2012 in Sonder kategorie

Die woord eksperimenteel in ‘n rock-konteks is té dikwels ‘n teken dat musici hul gebrek aan vaardigheid wegsteek agter losse strukture en atonale geploeter. Met Can is dit presies die teenoorgestelde. Hierdie voorste eksponent van krautrock het in hul geledere twee musici gehad, Irmin Schmidt en Holger Czukay, wat nie alleen geweet het wat Stockhausen bedoel het nie, maar ook wat Steve Reich en Terry Reily “anders” maak, dít terwyl Schmidt ‘n opgeleide konsertpianis (spesialis-vertolker van Brahms) was en Czukay ‘n musiekonderwyser vir klassieke studente. Albei was studente van Stockhausen en albei het gewonder hoe mens die hoofstroom van eksperimentele musiek só kon buig dat dit rock-musiek akkomodeer.

Die groep het met Monster Movie in 1968 gedebuteer, met Malcolm Mooney as sanger, Czukay as baskitaarspeler, klankingenieur en elektronika-boffin (onthou, dit was voor die tyd van behoorlike sintetiseerders), Irmin Schmidt (klawerborde), Michael Karoli (kitaar) en Jaki Liebezeit (tromme en slagwerk). Mooney het mal geword ná hul tweede album, Soundtracks (1970) en is vervang deur die Japanse boemelaar Damo Suzuki. Suzuki had nie die gawe van lirieke uit sy kop leer nie, wat hom die kans gegee het om met elke konsert iets anders te sing, dikwels in Japans.

Tago Mago is ‘n dubbelplaat. Iets wat my elke keer tref wanneer ek na ‘n lang verposing weer daarna luister, is hoe vars en oorspronklik dit elke keer klink. Dit is asof die musiek nie verouder nie. ‘n Bruisende stroom oorspronklikheid; eksperimenteel beslis, maar ongeag hoeveel keer mens dit al gehoor het, daar is altyd iets anders, iets nuuts om jou in vervoering te bring. Geniet dit. Selfs “Peking O” kruip onder jou vel in sodra Liebzeit so ‘n ent in die snit in weer inval.

Dit neem ‘n bietjie inspanning om gewoond te raak aan Suzuki se sang, maar sodra jy besef dat jy dit eintlik net moet aanhoor as ‘n soort uiting van emosie en speelsheid, maak die groter geheel meer sin. Vir my draai alles om Jaki Liebezeit se tromslanery. Hy het sy opleiding in jazz-klubs gehad, en hy is die verbete enjin wat die Can-trein laat voortstoom. As jy ‘n idee wil kry van hoe diep in die funk-groef hierdie groep kon delf, gaan luister na die manier waarop hulle een van Tago Mago se snitte, “Halleluhwah”, op die album Can Live uitspin tot dertig minute van soniese plesier.

Die groep het ná Tago Mago verskeie meer ambisieuse albums gemaak, maar Tago Mago bly die een wat hul grootsheid die beste belig. Onthou, dis hier wat Sonic Youth hul inspirasie gekry het- en dit is ook die eksperimente hierop wat Tangerine Dream, Talking Heads, Joy Division, Talk Talk, Brian Eno en vele meer gehelp het om hul inhibisies te oorkom. Daar word dikwels gesê dat Radiohead anders sou geklink het as daar nooit ‘n Can was nie, en ek is geneig om saam te stem.

 

2 antwoorde op Can – Tago Mago (1971)

  1. Nice – het die ouens gladnie geken nie!

  2. Kerneels Monster Movie se “Mary, Mary So Contrary is ‘n meesterstuk. Gesels saam met ons by:

    http://www.facebook.com/pages/BlouBlad/186334228081635

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.