Jy blaai in die argief vir 2012 Januarie.

by ctb

Seal – Soul 2

Januarie 18, 2012 in Sonder kategorie


Soos die ou geeste wegval, so moet daar mense vorentoe kom om te doen wat Paul Kruger se hart sou blymaak – om te neem ut die verlede wat goed is, en te bou daarop. Seal het dit in 2008 gedoen met sy album Soul. ‘n Klompie liedjies deur die top-kunstenaars van soul-musiek uit die jare sestig en sewentig, gesing soos net Seal kan, en gespeel met die finesse en hardegatgeit van die nuwe eeu se ateljee-boffins.

Nou land Soul 2 tussen ons, en mens begin voel dalk is hier ‘n groeinywerheid aan ‘t ontplooi. As jy terugdink wat hy op Soul gedoen het met liedjies soos “It’s a Man’s Man’s Man’s World”, “I’ve been loving you too long”, “Knock on wood” en “Stand by me”, dan weet jy sommer daar wag iets spesiaals op jou wanneer jy verneem dis liedjies van Marvin Gaye, Teddy Pendergrass en Al Green, om enkele name te noem, wat hy sing hierdie tweede keer.

En man, hy lewer af, as julle my die keurige taalgebruik sal verskoon. Vandat hy sy hemelse stem om die eerste hoë note van Rose Royce se “Wishing on a star” vou, is dit soul-besigheid by uitstek. Net daarna klim hy in onder Teddy Pendergrass se temalied vir die middernag-romantici, “Love TKO”, en hoor jy dat daar gelyke dele swaaibal en diepsiel in sy emosionele vertolking is. Hierdie kenmerk slaan nog sterker deur in sy vertolking van die Miracles se “Ooh Baby Baby”. Ek sidder om te dink hoe hierdie album my sou getref het toe ek nog jonk was en verlief en geneig om my dinge aan te trek.

Dis egter moeilik om te besluit of sy weergawe van Marvin Gaye se “What’s Going On” werklik beter is as Gaye syne– ek het destyds op die regte tydstip na Gaye geluister. Moet my nie verkeerd verstaan nie, Seal se vertolking is eksie perfeksie en is eweneens nie nabootsbaar nie. Dis net dat Gaye se stem ‘n paar druppels testosterone meer gehad het.

So kan ek aangaan. Daar is nie eintlik swak snitte nie. Sekerlik is die kombinasie van goeie materiaal en Seal se stem grotendeels daarvoor verantwoordelik – maar mens moet ook in gedagte hou dat Trevor Horne en David Foster die twee produksieleiers van die album was. Mens sou kon sê die totale paket is in die hemel gemaak.

 

by ctb

Procol Harum

Januarie 16, 2012 in Sonder kategorie


 Die besoek aan Suid-Afrika van Procol Harum is iets waarna ek uitsien – meer as dié van die Moody Blues, saam met wie hulle reis. Ek moet beken dat ek meer dikwels as wat heeltemal gesond is na die Moody Blues se musiek terugkeer, net om ou emosies en gewaarwordinge ‘n bietjie te toets. Maar Procol Harum is een van die groepe wat deel is van my lewe – soveel so dat ek ‘n klompie jare gelede met groot plesier deelgeneem het aan ‘n e-pos mailing list se skermutselinge oor watter plaat hul beste is, Shine On Brightly of A Salty Dog. (Die deelnemers kon nooit by ‘n antwoord uitkom nie!) Ek kan nie wag om Gary Brooker in lewende lywe te sien en hoor nie – solank hy daar is, is Procul Harum in wese ongeskend. Jammer dat hy en Matthew Fisher ‘n uitval gehad het – Fisher se orrelspel is onlosmaakbaar deel van die groep se klank, en alle orreliste wat ná hom gekom het, boots sy styl na. Ek het al vantevore oor Grand Hotel (1973) geskryf – die groep se eerste werklike comeback nadat Fisher gevlug het. Iets wat ek eers onlangs ontdek het, is dat die titelsnit van dié plaat vir Douglas Adams geïnspireer het om The Restaurant at the End of the Universe te skryf. Daarom, hopend dat Gary Brooker ‘n paar Suid-Afrikaanse musici sal naderklap om die ordentlike ding te doen, plaas ek hieronder ‘n videogreep van ‘n onlangse uitvoering deur Brooker en Procol Harum van hierdie besonderse liedjie. Die beste Matthew Fisher-liedjie waarby Fisher nie betrokke is nie.

by ctb

The Police – Outlandos d’Amour (1978)

Januarie 13, 2012 in Sonder kategorie

Dis Vrydag die dertiende, en op hierdie dag in 1978 het Gordon Sumner, Stewart Copeland en Andy Summers met £ 1500 wat hulle by Copeland se broer, Miles, geleen het, na die Surrey Sound-ateljee gegaan om te begin met die opnames van hul debuutplaat. Dit het hulle ses maande geneem om te voltooi. Ofskoon Miles Copeland danksy die trefkrag van die snit “Roxanne” vir hulle ‘n platekontrak kon beding, het die album aanvanklik nie goed gevaar nadat dit op 2 November 1978 uitgereik is nie. Die twee snitte wat as kortspelers utgereik is, “Roxanne” (oor ‘n prostituut) en “Can’t stand losing you”, is deur die BBC verbied. Maar die groep het verbete konserte gehou, aan albei kante van die Atlantiese oseaan, en teen April 1979 was die album ‘n treffer en The Police beroemd. Sumner het die verhoognaam Sting gebruik, sy onderwyspos bedank en die res is geskiedenis.

Die album self is ‘n vreemde hebried. Dit begin met ‘n sterk punk-inslag danksy die snit “Next to you”, maar wanneer daar ‘n slide guitar-solo in die middel losbars, weet ‘n mens nmiddelik hierdie groep is nie in die verbeeldinglose, melodie-arme groef van punk vasgevang nie. Benewens die reeds genoemde snitte bevat dit ook ‘n ander snit wat deur die jare een van die groepse sleutelnommers in hul konserte was – “So lonely”. In die geheel staan die album in die teken van reggae, punk en rock, plus ‘n intellektueel as sanger, wat die lirieke ‘n uitdaging vir die luisteraar maak.

Moet mens dit koop? ‘n Beter roep sou wees The Police Live of The 50 Greatest Songs. Hulle het hul beste werk eers op Regatta de Blanc (1979) begin lewer.