by

Jane Monheit – Come Dream With Me (2001)

Desember 16, 2011 in Sonder kategorie

 

My vriend Blindehond Wessels, wat normaalweg hom met die blues en motorfietse besig hou, sleep onlangs vir Jane Monheit onder my ore deur. Daar is baie dinge wat mens in die lewe verbaas, maar die konneksie tussen Monheit en Blindehond is iets só onverwags dat dit my ‘n paar weke van bietjies-bietjies luister gekos het om die ding uit te pluis. Jane Monheit kan beskryf word as die Anna Netrebko van jazz-sang. ‘n Donkerkop van wie gesê sou kon word sy smeul te veul. ‘n Stem suiwer en donker, frasering wat soms milimeters van die gebruiklike afwyk om jou net te herinner dis jazz dié. Come Dream With Me is een van haar mees konvensionele albums. Gemaak met die swier van orkes-begeleiding (tesame met ‘n klavier), vertolk sy ‘n dosyn liedjies met die selfvertroue van ‘n Barbara Streisand, of ‘n ietwat formele Diana Krall. Come Dream With Me is ‘n goeie vertrekpunt om haar oeuvre te beluister: benewens die liedjies wat orkestrasie verg en groots in opset is, is daar ook liedjies soos “I’m through with love” waar sy net ‘n wulpse klavier het om ‘n speelpark vir haar stem te skep. Die album bevat twee uitstaan-snitte. Die eerste is “Over the rainbow”, wat die temalied was van die fliek Sky Captain and the World of Tomorrow. Die ander is haar vertolking van Joni Mitchell se “A Case of You”. Dit is ‘n wonderlike liedjie, en Monheit se vertolking is vir my onmoddelik dié vertolking waarna mens moet luister – naas Mitchell s’n, natuurlik.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.