Brixton Barnard – Hartseer broers, nooitlag susters (2011)
November 29, 2011 in Sonder kategorie
Ek was nie heeltemal gereed hiervoor nie. Nou nie eintlik werklik tred gehou met wat aan die gang is in Afrikaanse musiek nie – veral nie die alternatiewe sy (as mens dit so ken noem) nie. Met die hulp van Ansie Kamffer het ek darem nou bygekom, ‘n paar weke nadat Brixton Barnard my oorbluf het, en ken ek die verskil tussen Paul Riekert en Trike en Andries Bezuidenhout. Nou moet ek dadelik sê: Hartseer broers, nooitlag susters is ‘n moerse goeie album. Kitaar-georiënteerd, onopgesmuk, behalwe … As jy eers aanvaar dat die plasing van Barnard se stem effe tru in die klankvermenging absoluut korrek is om die maksimum verlatenheid, eensaamheid en enkelingskap te suggereer, dan begin dinge in plek val. Barnard laat sy blik meestal rus op die Afrikaner in ‘n werkersomgewing, dikwels met ongelooflik triestige gevolge – vgl. die man wat in “Berusting” Sondag van die kerk wegbly sodat hy na Jim Reeves kan luister. Donder – kan jy dink wat in sy kop aangaan? Daarteenoor moet jy aandag gee aan die manier waarop die instrumente in “Ford Granada” om mekaar dartel, mekaar aai, rustig vroetel op jou oortromme. “Ford Granada” is ‘n befokte liedjie, die hoogtepunt waarop die album sluit. Dit het verskeie genote wat gehalte betref: “Waarheen nou?” (wat jou tot trane behoort te dryf, was dit nie vir die speelse musiek wat die man se verleentheid relativeer nie), “Sprokie van ‘n fabriekswerker”, “Gelykenis van ‘n blom” en “Berusting”. Uitstekende musisering, prima produksieleiding deur Paul Riekert.
Ek kan nie ‘n klank- of videogreep hierby aanhak nie. Gaan koop dit en luister oordentlik daarna.
(Die CD kan bestel word by [email protected] – R120 + posgeld)
Onlangse kommentare