Jy blaai in die argief vir 2011 Oktober.

by ctb

Tom Waits – Bad As Me (2011)

Oktober 26, 2011 in Sonder kategorie

 

Tom Waits is 61. Hy sing nog oor die wrede melancholiese bitterheid wat van jou besit neem wanneer jou geliefde jou verlaat (“Back in the Crowd”). Hy skree ook nog, maar hy sing meer. En dit is hoekom Bad As Me na een dag in my ore skielik my gunsteling Waits-album is sedert Bone Machine. Was dit nie vir die georganiseerde chaotiese briljantheid van die musiek nie, sou mens plek-plek kon sweer dis Captain Beefheart, circa The Spotlight Kid wat hier doenig is. Luister na “Chicago” en jy verlang skoon na die Captain. Is die liedjie Waits se huldeblyk aan hom? Wie weet. Die skelheid is ‘n bietjie afgeskaal op Bad As Me. Waits kom krap nie meer jou oorkanale skoon met sy musiek-tumult nie. Ek vermoed Bad As Me gaan nog ‘n hele klompie dae pal gespeel word in my huis. Teen die naweek is die kanse goed dat ek dit as Waits se beste album ooit beskou. Dit maak daarna.

by ctb

Lewis & Clarke Expedition – Earth, Air, Fire & Water (1967)

Oktober 20, 2011 in Sonder kategorie

 Ek haal in Piekniek by Hangklip aan uit ‘n liedjie deur hierdie groep, “Destination Unknown”. Ek het dit oorspronklik in 1967 oor LM Radio gehoor. Ek had destyds ‘n Akai-bandopnamer (een van daardie logge goed met twee groot bandspoele) waarop ek dinge wat vir my interessant geklink het, sommer van die lug af opgeneem het, om later eindeloos te luister terwyl ek huiswerk doen. Die tyd het daardie bandopnemer ingehaal, en die musiek is verlore. Maar die refrein van “Destination Unknown” het in my gedagtes bly vassteek. Ek het begin dink dat ek die liedjie vir ewig kwyt is, maar danksy die digitale revolusie en die ongelooflike konneksies van Etienne Bloemhof het ek uiteindelik in 2008 gesit met ‘n baie gangbare digitale opname, weliswaar met ‘n viniel-langspeler as bron. Mens kan maar vergeet om die Lewis & Clarke Expedition op YouTube te kry; al wat ek van hulle weet, is dat hulle van Boston kom, en dat hulle ‘n baie sterk saak uitgemaak het daarvoor dat die mense die natuur om hom moet respekteer. Wat uiteindelik my laat besluit het om uit die liedjie in die roman aan te haal, was die feit dat die refrein so pragtig reflekteer wat met die heldin van my verhaal gebeur.


09 – destination unknown by Kerneels Breytenbach

by ctb

The Waterboys – An Appointment with Mr. Yeats (2011)

Oktober 17, 2011 in Sonder kategorie


Mike Scott het al in 1988 op Fisherman’s Blues begin met die toonsetting van gedigte van die Ier W.B. Yeats (“The Stolen Child”). Nou het hy ‘n hele album daarvan voorberei. Normaalweg sou ek ver weggehardloop het. Die toonset van gedigte het wat my betref meer mislukkings as suksesse opgelewer. Gelukkig het Scott en sy groep met groot omsigtigheid te werk gegaan. Meer as helfte van die veertien snitte is verbluffend goed. Die top-pogings is “Sweet Dancer” (waarby fragmente van twee ander gedigte bygewerk is) en “Song of the Wandering Aengus”. Laasgenoemde het ‘n vergelykingspunt: Donovan se toonsetting op H.M.S. Donovan (1970). Waar Donovan ‘n kinderlied daarvan gemaak het met klem op die sussende klanke, het Scott die lewering van die liriek dikwels effens vertraag na ‘n snelheid tussen sing en praat, wat pragtige dramatiese oomblikke skep in samehang met die golwende, voortrollende musiek. Ook eersteklas: “The Hosting of the Shee”, “An Irish Airman Forsees His Geath”, “The Lake of Isle Innisfree”. Vermy “A Full Moon in March”.

by ctb

Tír na nÓg – Tír na nÓg (1971)

Oktober 13, 2011 in Sonder kategorie

 

Die debuutplaat van hierdie Ierse folk-duo bly een van my kosbaarste besittings. Dit was dekades lank haas onverkrygbaar, en het nou maar weer in omloop gekom toe die platemaatskappye hul kluise leeggemaak het in pogings om die kontantvloei-probleme aan te spreek. Toegegee, die platemaatskappy het al vantevore (in 1999) probeer om met heropnames van hul beste musiek onder die titel In the Morning die groep ‘n groter gehoor te gee, maar dit het nie juis geslaag nie. (Dit is asof hul ouderdom die vuur gedemp het.) Nou, Leo O’Kelly en Sonny Condell in hul 1971-gedaantes is twee mense wat ‘n mens maar in jou kopruimte kan binnelaat. Hul musiek plaas die muggie en die sprinkaan terug in pastorale folk-musiek; hulle is bedrewe kitaarspelers en hulle het ‘n skynbaar natuurlike talent om in twee stemme groot diepte uit eenvoudige musiek te put. Uiteraard wemel hul lirieke met verwysings na die Keltiese mitologie, maar moenie dat dit jou afsit nie. Die groep het effektief in 1974 ophou bestaan. 

by ctb

Pink Floyd – The Dark Side of the Moon (Experience Edition 2011)

Oktober 12, 2011 in Sonder kategorie

 

Die groot vraag wat mens jou in hierdie dae afvra, is of jy kans sien om die hand diep in die geldsak te steek om ‘n klomp Pink Floyd-musiek te koop wat jy reeds het. Die Immersion-stelle van The Dark Side of the Moon, Wish you were Here en so meer is duur, en beslis gemik op diegene wat soek na enkele voorheen uiters onverkrygbare snitte. Die Experience Editions is meer bekostigbaar, en die een wat ek in die hande gekry het, van The Dark Side of the Moon, is wel vir my die koop werd. Veral omdat my huidige kopie van die CD ‘n krapmerk opgedoen het en nie behoorlik speel nie. Hierdie uitgawe is digitaal “remaster”, wat beteken dat die klank steeds meer en dieper uithoeke van die buitenste ruimtes tref. Die tweede CD van die stel bevat ‘n konsertopname van die album, in 1974 by Wembley opgeneem. Omdat daardie konsert ook deur die BBC uitgesaai is, en dit nou al jare lank op die roofplaat BBC Archives 1974 beskikbaar is, het ek gewonder of die Floyd se eie opname enigsins beter sou wees as die BBC-bootleg s’n. In ‘t korte: Ja, myle beter. Trouens, die groep het in hierdie stadium al meer as ‘n jaar se konsert-uitvoerings van die album agter die rug, en hulle het die komposies oral aangevul, en dít hoor ons nou behoorlik. Aan die een kant is dit opvallend dat Rick Wright se orrel sterker na vore kom – luister na die absoluut sublieme oorgang tussen “Money” en “Us and Them”, ‘n orrel-deel wat afwesig is op die ateljee-weergawe. En dan is daar fabelagtige definisie in die kitaarspel in die opbou tussen die alarms en die eerste strofe op “Time”. Mens wil dit net al hoe harder luister. Mens kan snit-vir-snit dinge ontdek wat verfyn is, en die album opnuut leer liefkry.

(Die videogreep hieronder is uit BBC Archives 1974 en ek plaas dit alleen omdat dit openlik op YouTube te sien en hoor is. Die nuwe CD-weergawe hiervan is onvergelykbaar beter opgeneem.)

by ctb

Brian Wilson – In the Key of Disney (2011)

Oktober 11, 2011 in Sonder kategorie


Dis baie hartseer. Brian Wilson, die man wat die Beach Boys gemaak het, een van die groot komponiste, verwerkers en produksieleiers van die jare sestig, is aanstaande jaar 70. Hy sukkel al vyf jaar lank met “writer’s block”, en hierdie album is een van die maniere waarop hy probeer het om die muse weer aan die gang te kry. Die liedjies kom almal uit die groot Disney-flieks van die afgelope vyftig jaar (Dumbo, Toy Story, Jungle Book, Little Mermaid, Lion King, Mary Poppins, Snow White and the Seven Dwarfs). Wat Wilson gedoen het, is om hulle in die musikale clichés van die Beach Boys te giet – die klankwondere minus die bekende melodië. Die resultaat is nie onaardig nie, trouens, dis baie luisterbaar en Wilson se stem is nog nie heeltemal oor die muur nie. Die verwerkings en produksie is tops. Maar dit ís hartseer dat ‘n ikoniese figuur aan die einde van sy loopbaan hom tot sulke uiterstes wend om sy muse terug te lok. Daar is darem ook goeie nuus: op 1 November word die oorspronklike opnames van Smile uiteindelik uitgereik. Plus ‘n klomp van die alternatiewe weergawes wat ons deur die jare op bootlegs moes luister terwyl die stem van jou gewete gedurig inmeng.