Ry Cooder – Pull Up Some Dust And Sit Down (2011)
September 30, 2011 in Sonder kategorie
Soos enige goeie Blues-man het Ry Cooder al heelwat gesing oor armoede en die mens se fatalistiese aanvaarding van sy lot. Jy sukkel en dan gaan jy dood. Die begin van sy loopbaan (as mens die afdwaal na Captain Beefheart ignoreer) het ongelooflike musiek in daardie trant opgelewer: “The Bourgeois Blues” op Chicken Skin Music, “Taxes on the Farmer Feeds Us All” en “Denomination Blues” op Into the Purple Valley, “Jesus on the Mainline” op Paradise & Lunch, om maar enkeles te noem. Sy nuwe CD sluit daarby aan, maar hierdie keer is daar ‘n verskil. Hy lê die blaam vir ons arme sterflinge se aardse ellende vierkantig op die skouers van die wêreld se bankiers. Die album se skreinende hoogtepunt is “Christmas Time This Year”, die verhaal van oorlogslagoffers wat kom Kersfees hou, gespeel met ‘n vrolike Tex-Mex-inkleding, volledig met trekklavier gespeel deur Cooder se ou kameraad Flaco Jeminez. Die ander liedjies op die album werk dikwels met dieselfde soort jukstaposisies. Cooder self speel ‘n magdom instrumente. Dis ook lekker om te hoor hoe hy sy vokale aanslag afwissel en verander. Uteindelik sit mens met ‘n eienaardige gewaarwording. Enersyds is dit van die lekkerste musiek wat ‘n mens kan aanhoor, geplaas iewers tussen blues, Tex-Mex en die wals, en andersyds draai die lirieke jou kop. Jy hoor van rykgatte wat hul kamerbediendes ‘n lewe ly, jy hoor ‘n pleidooi om John Lee Hooker president te maak. En net om jou ten slotte goed ‘n depro te laat kap, open die slotsnit, “No Hard Feelings” met ‘This land should have been our land’, waardeur ‘n afsluiting gebring word aan Woody Guthrie beroemde liefdesverklaring aan sy land. Hierdie is ‘n briljante plaat, en die wonderlikste daarvan is die feit dat mens nooit sal hoor hoe iemand op Pop Idol enige van die snitte vermorsel nie.
Onlangse kommentare