Jy blaai in die argief vir 2011 Augustus.

by ctb

Ollie Viljoen en Blues & Susters – My land, my lied

Augustus 10, 2011 in Sonder kategorie


 

Ollie Viljoen vertel hy wou hierdie album al lank aanmekaarsit. ‘n Veertiental ou en bekende Afrikaanse liedjies, hul binnegoed uitmekaargehaal en weer teruggesit met ‘n plesierige blues- en jazzhand.

Plus een van sy eie komposisies, ‘n tango so soepel en speuls en smagtend dat jy so al luisterend agterkom hoe jeukerig die baskitaar by die melodika en akkordion aanlê, en jy presies weet hoekom.

Daardie snit heet “Hemel en Aarde”. Gaan luister daarna en jy sal die siel van dié album verstaan.

Die veertien ander snitte sou mens ‘n handvol van die beste pop melodië van die afgelope klompie dekades kan noem, plus ‘n paar classics. Anton Goosen is goed verteenwordig (“Waterblommetjies”, “Jantjie”), Jan de Wet se “Ek verlang na jou” en Danie Bosman se “Sawends” is daar, en Nico Carstens se “Zambezi” en “Herd Boy”. Ook nog “Daar kom die Alibama”, “Sarie Marais”, “Suikerbossie”, “Oom Bossie van die Bosveld”, en Groep Twee se “Groen koringlande” en “Ou Kraalliedjie”.

Die musici is Ollie Viljoen (akkordion, harmonika, klavier), Anna Davel (sang), Schalk Joubert (baskitaar), Lou-Ann Stone (saxofoon) en Kevin Gibson (tromme). Tops, in elke geval.

In ‘n sin is dit maklik om te verstaan wat die groep se benadering was. Die melodie word nooit verniel nie, maar die pret lê in hoe dit aangegee word onder die instrumente, en onder kombinasies van instrumente. Ollie Viljoen het byvoorbeeld op “Ver in die ou Kalahari” ‘n lekker ding aan die gang met sy drie instrumente, en dit is veral ‘n lus om te hoor hoe hy die onderskatte melodika laat saampraat met die akkordion.

Ek geniet Anna Davel se sang vreeslik baie op die snitte waar sy sing. Haar frasering en tydsberekening is baie verbeeldingryk. Sy sing wonderlik teen die cliché in (“Skadu van ou Tafelberg” bv.), maar dis haar vertolkings van “Jantjie” en “Waterblommetjies” wat nog lank bespreek gaan word.

Nodeloos om te sê is Ollie Viljoen se klavier en akkordion die instrumente waaromeen alles wentel. Dit is tot ons voordeel dat hy sy liefde vir Dave Brubeck en Bill Evans skaamteloos vervleg met sy eie styl. Wat hy hier gedoen het, is ‘n kreatiewe kragtoer. Dit moes ongelooflik opwindend gewees het om die opnamesessies te beleef het.

Viljoen is uiteraard in daardie stadium waar hy nie meer eksperimenteer nie. Hy doen net. Hy weet hoe om die ruimtes te laat vir Lou-Ann Stone, en omdat sy so ‘n begaafde saxofonis is, komplementeer sy Viljoen se musiek met ‘n klompie skitterende solo’s. Dié saxofonis kondig haarself aan met bydraes wat mens wil laat hande klap: luister na haar solo’s, en die manier waarop haar selfversekerdheid Viljoen en Joubert aanspoor (veral op “Alibama”). En wanneer sy net ondersteun of help met die melodie (“Ek verlang na jou”), is dit met ‘n wêreld- en lewenswyse saxofoon wat sy dit doen.

Dit bring my by Schalk Joubert. Hy is ‘n baskitaarspeler van internasionale gehalte. Viljoen en Stone gedy in sy geselskap omdat hy so ‘n skitterende fondament help skep. Hy is te vertrou met die melodie wanneer die ander wegdwaal in hul eie rigtings, maar hoofsaaklik gee hy die musikale karakter en huppeling. “Jantjie” se swing is sy swing, “Alibama” en “Oom Bossie van die Bosveld” se funk vloei van hom uit. En dan is daar kere dat hy die musiek laat galop deur in ‘n vinniger tydmaat as die ander te speel. “Sarie Marais” waarop net hy, Viljoen en tromslaner Kevin Gibson speel, is ‘n belewenis in sofistikasie en hupsheid.

Gibson is amper onopsigtelik deel van die geheel. Nooit opdringerig nie, maar altyd die baken wat Joubert op die aarde hou. Soms skiet hy ‘n bietjie uit (“Alibama”), maar dan bly hy byderhand en in toom.

Waarop dit alles afstuur, is vir my baie duidelik. Hulle was nou in die ateljee, en die musiek smeek om verhoog toe geneem te word. Na ‘n groot gehoor, wat die energie sal voel, en verder sal laat ontsteek. Hier is nog baie ruimte vir langer solo’s, vir wye draaie van musikale verbeelding gooi.

Asseblief, Ollie!

(Foto: Carien Breytenbach)