Jy blaai in die argief vir 2011 Julie.

by ctb

Todd Rundgren – Johnson en With A Twist

Julie 2, 2011 in Sonder kategorie

 


Dis moeilik om nog musikale helde te hê. Daar is té veel voete van klei en enorme ego’s vir ‘n mens om nog gemaklik te voel met die idee dat iemand ‘n heroïese figuur is net omdat hy kan sing of musiek maak of liedjies skryf. Ek meen, Snotkop! Hè?

Todd Harry Rundgren was so ‘n paar weke gelede 63. Gaan lees maar oor sy loopbaan op Wikipedia. Giganties.

Vir my is die mooiste die deel waar hulle skryf hy was/is aktief in die volgende genres: “rock, progressive rock, soft rock, power pop, pop rock, hard rock, blue-eyed soul”. Hulle kon nog Latin en blues rock ook bygevoeg het. Miskien het hul plek opgeraak.

Maar dis nie al nie. Hy is “singer-songwriter, musician, multi-instrumentalist, record producer, video director, recording engineer, computer programmer”.

Alles wat mens op Wikipedia van hom lees, en alle onderhoude wat ek al sedert 1969 met hom gelees het, bevestig dat die man ‘n intellektuele reus is. Toe die argitekte van die Moses Mabhida-stadion in Durban strukturele oplossings gesoek het, het hulle twee boë gebruik wat redelik goeie afkaatsings was van Todd Rundgren se hoë voorkop.

Benewens die rojale gebruik van sy verstand het die man ook al heelwat opgeoffer vir sy musiek. Vir die komponeer van die musiek op A Wizard, A True Star (1973), het Rundgren (wat voorheen anti-dwelms was) met dagga, LSD en Ritalin slaags geraak op ‘n vrywel grootse manier. Die lirieke is pateties, maar dit het hom selde langer as twintig minute geneem om taamlike ingewikkelde liedjies te skryf en ‘n demo te maak daarvan. Daai Ritalin is ‘n bliksem vir ooraktiewe kinders, maar vir Todd het dit sommer baie skop in die gat gegee. Soos in overdrive.

As mens is Rundgren ook ‘n taamlike sonderling. Hy kan enige instrument onder die son speel, maar sy interpersoonlike verhoudinge is bok se dinges werd. Andy Partridge van XTC skryf op ‘n plek dat hy vreeslik sarkasties en lelik was met die lede van XTC tydens die maak van Skylarking. Nou ja.

Die vraag wat mens altyd oor hom pla, is hoekom hy nie beter bekend is nie. Hy is die produksieleier van Meat Loaf se Bat Out Of Hell en XTC se Skylarking, albei werklik grootse albums, maar nie een van sy eie het dieselfde status nie, met die moontlike uitsondering van Something/Anything? (1971). Jim Steinman reken hy is ‘n genie – maar hoekom net met ander mense se musiek?

Miskien het dit iets met sy sangstem te doen. Niks besonders nie, maar darem ook nie sleg nie. Hy kan beter sing as ten minste twee van die lede van Romanz.

Nietemin, ek het die afgelope ruk na heelwat van Rundgren se albums geluister, en twee daarvan het vir my groot plesier verskaf. Die belangrikste is Todd Rundgren’s Johnson, wat baie onlangs uitgereik is en sy vertolkings bevat van ‘n klomp van die Blues-legende Robert Johnson se bekendste liedjies. Musiek wat mens baie hard wil luister.

Die ander is With A Twist (1997), wat bestaan uit ‘n hervertolking van Rundgren se grootste treffers in die bossa nova-styl. Subliem.

Die eerste twee videogrepe is van Johnson en die ander twee van With A Twist.