Jy blaai in die argief vir 2011 Junie.

by ctb

Gevonde musiek

Junie 28, 2011 in Sonder kategorie

Met dank aan Le Roux Schoeman – wat sou mens hierdie noem? Found music?

by ctb

The Byrds – Byrdmaniax

Junie 22, 2011 in Sonder kategorie


 

As mens alles moet glo wat al oor hierdie album geskryf is, sou jy dink dis ‘n absolute gemors van begin tot einde. Die skuld word gewoonlik gepak op die produksieleier Terry Melcher, wat die album kwansuis sou beduiwel het met strykers en soetlike klanke. Die geneuk is net dat wanneer mens vandag na Byrdmaniax luister, jy verstom is oor hóé goed dit is.

Twee jaar vantevore was Melcher se naam in die nuus toe Charles Manson sy bende na Melcher se huis gestuur het om hom te gaan doodmaak, min wetende dat Melcher nie meer daar gewoon het nie. Melcher se goeie geluk, maar vertel dit vir Sharon Tate!

Teen die tyd dat hy vroeg 1971 begin het met die opnames van Byrdmaniax, was Melcher se lewe weer die rustigheid vanself. Die Byrds het té laat agtergekom hóé rustig. Die snitte van Byrdmaniax vertel die storie: tydig en ontydig word goeie liedjies voorsien van die voller klanke van ‘n simfonie-orkes wat refreine help versier, of stiller oomblikke elders effe minder gestroop laat.

Maar dit maak nie saak nie. Daar’s geen orkes op “Glory Glory” nie – een van die mees verrassende gospel-liedjies wat nog ooit in aller erns deur ‘n top-rockgroep opgeneem is. Die snit geniet darem die klavier-bydrae van Bread se Larry Knetchel. Dieselfde Larry Knetchel wat klavier gespeel het op Simon & Garfunkel se “Bridge over troubled water”. Op “Glory Glory” speel Knetchel asof hy hy pas die Volle Waarheid ontdek het – met krag en vuur en op ‘n manier wat die hele snit op ‘n gallop laat wegtrek en ook daar laat eindig.

Sodra mens die tweede snit tref, “Pale Blue”, weet jy hoekom Melcher die strykers nadergeklap het. Omdat die groep nie genoeg tyd tussen konserte gehad het om behoorlik aandag aan die opnames te skenk nie, sou hierdie snit baie yl (akoestiese kitaar, sang en bekfluitjie) gewees het. Nou rus Roger McGuinn se stem op ‘n kussing van onopdringerige strykers. En dis goed so.

Die derde snit, “I Trust”, is moontlik een van die Byrds se beste komposisies uit daardie era, en toon presies hoe ‘n goeie groep musici hulle bymekaar was. Tromslaner Gene Parsons was ook ‘n skitterende banjo-speler en sanger. Baskitaarspeler Skip Battin is van die Pete Entwhistle-skool, en hy is ook ‘n knap komponis. Clarence White (kitaar en sang) is heeltemal in ‘n klas van sy eie, en McGuinn geniet dit duidelik om hom die klankstryd aan te sê. Luister net na hul samewerking op hierdie snit. (Die videogreep is goor, maar mens kan darem hoor wat aangaan.)

Twee Battin-komposisies, “Tunnel of Love” en “Citizen Kane” volg daarop. Battin sing self, en dis veral laasgenoemde wat my nog altyd aangegryp het.

Die tweede kant van die ou album, of snit 6, is een van McGuinn se mees onvergeetlike siniese liedjies: “I wanna grow up to be a politician”. Die videogreep hierby is heelwat later opgeneem, maar dit is in essensie presies wat mens ook op Byrdmaniax hoor.

Dit is gevolg deur drie snitte wat ‘n heeltemal ander skedelruimte suggereer: Skip Battin se “Absolute Happiness”, Parsons en White se “Green Apple Quick Step” (kyk gerus na die hele klankgreep hierby, dis ‘n interessante verhaal), en ‘n vertolking van Helen Carter se “My Destiny”, met Clarence White wat verskeie soorte kitare looi.

Die voorlaaste snit is McGuinn se “Kathleen’s Song” met wolke en wolke van strykers. Dit het darem ‘n oulike melodie.

Die laaste snit is ‘n weergawe van Jackson Browne se “Jamaica say you will”. Great liedjie, besonder goeie kitaarspel, danksy White en Sneaky Pete Kleinow (pedal steel).

Ek het hierdie album in Oktober 1971 gekoop by die ou Musica in St Georgestraat, Kaapstad. Die perskebome op Stellenbosch het vol bloeisels gestaan, en die musiek het vir my die wonderlikheid van die hormoonryke aardse bestaan bevestig. ‘n Bietjie van daardie gevoel bly nog oor in die musiek.

 

 

by ctb

Dr. John the Night Tripper

Junie 14, 2011 in Sonder kategorie

 

Dit was só ‘n lekker naam. Dr. John the Night Tripper. Daar in die jare sestig. Luister na die dokter, en jy weet dis ‘n gevaarlike man.

Eintlik wás hy gevaarlik. Hy het sy loopbaan as kitaarspeler begin. Toe skiet iemand sy linkerhand se fielafooi raak terwyl hy in ‘n barney sy vriend Ronnie Barron wou beskerm.

Hy het daarna ‘n rukkie baskitaar gespeel, en toe oorgeslaan klavier toe. Dr. John is gebore.

Sy regte naam is Mac Rebennack. In sy kleurryke loopbaan het hy eers bekend gestaan as Dr. John the Night Tripper, toe as Dr. John Creaux, en uiteindelik net Dr. John. Hy sal vir ewig bekend wees as die man wat gesorg het dat die musiek van New Orleans ook stewig by rock uitkom. ‘n Onverbeterlike vermenger van rock, blues, jazz, Zydeco, en daardie geseënde stiefkind van die drinkhole van die Suide en Weste van die VSA, boogie woogie-klavier.

Sy musiek het die afgelope week weer hier by my oorgeneem nadat Miles ‘n wonderlike versameling daarvan op sy blog Birds With Broken Wings beskikbaar gemaak het. Vir diegene wat Dr. John glad nie ken nie (skaam julle!) is dit ‘n wonderlike wegspringplek: Gaan na http://birdswithbrokenwings2.blogspot.com/2011/06/night-tripper.html

Die 70-jarige dokter het al vyf Grammys gewen, maar is vanjaar eers opgeneem in die Rock and Roll Hall of Fame. Daar is tans nog 58 van sy albums in omloop en aflaaibaar by Internet-handelaars, so dit is ‘n effens onbegonne taak om by een punt te begin. Daarom net kortliks iets oor enkele van sy albums:

 

Gris-Gris (1968): Begin by “Gris-Gris Gumbo Ya-Ya”. Moerasklanke. Modderige baskitaar. ‘n Kitaar wat gespeel word deur iemand met rumatiek-vingers. Die Night Tripper sing asof hy oefen om eendag Tom Waits te word. En dan kom die backing vox in, ‘n klompie niggies wat rustig naderby fluistersing: “Gris-gris gumbo ya-ya”. Die goeie dokter verduidelik via die lirieke: gris-gris is die doepa wat ‘n voodoo-dokter in daai sakke sit wat mens om jou nek hang om jou teen die boosheid te beskerm. Die backing vox doen die ding. Wees versigtig. Teen die tyd dat die dokter met “Danse Kalinda Ba Doom”, “Mama Roux” en “Danse Fambeaux” klaar is, is hierdie musikale doepa nie uit jou kop te kry nie.

Babylon (1968): ‘n Paar baie weird snitte. My gunsteling is “The Lonesome Guitar Strangler”, ‘n bisarre satire op die kitaarhelde van die sestigs, gegrond op die ou rock-liedjie “Long Tall Texan”, wat in 1959 ‘n taamlike treffer vir die Four Flickers was. Ewe verbeeldingryk is “Twilight Zone” en “Glowin’” met sy vreemde instrumentasie. Daar kan geen twyfel wees dat 1968 ‘n baie goeie dagga-oes gehad het nie.

Remedies (1970): “Loop Garoo”, “Angola Anthem” (sewentien minute daarvan!) en “Mardi Gras Day” wys dat die musiek van New Orleans nie maklik af te skud was nie, maar die res van die album hak weer goed by die rock van daardie tyd aan.

Gumbo (1972): Hierdie was die album waarmee Dr. John hulde gebring het aan die musiek van New Orleans. Dit bevat sy weergawes van liedjies wat reeds vir ander kunstenaars van New Orleans treffers was dáár, maar nie noodwendig elders inslag gevind het nie. Die eerste snit was onmiddelik ‘n internasionale treffer vir die dokter – “Iko Iko”, voorheen uitgevoer deur James “Sugar Boy” Crawford.

Wat die dokter se loopbaan buite rock-musiek betref, is daar ook twee CD wat ek kan aanbeveel:

The Doc meets The Duke (1999): Musiek deur Dr. John and the Lower 9-11, komposisies deur Duke Ellington. Absoluut prima.

In A Sentimental Mood (1989): Die bekendste snit hierop is Dr. John en Rickie Lee Jones se weergawe van “Makin’ whoopee!”, maar daar is ook briljante weergawes van die titelsnit en “Love for sale”.

Dr. John is natuurlik ook ‘n taamlike bekende teenwoordigheid op ander mense se albums: Rolling Stones, Neil Diamond, Carly Simon, Van Morrison, Willy DeVille, Rickie Lee Jones, en ontelbaar meer.

Een van ons kerk se mense.

 

 

 

by ctb

The Essential Janis Joplin

Junie 3, 2011 in Sonder kategorie

Ongelukkig het ek dit al vantevore geskryf, swart op wit: Janis Joplin was, wat my betref, ‘n groot vertrouenswendelaar. Kon haar nie vat nie.

Maar soos His Bobness sing, “I was so much older then, I am younger than that now”. Vir elke summiere verwerping moet daar seker eendag ‘n oomblik van aanvaarding wees. So het dit dan ook gekom dat ek in ‘n oomblik van diepe frustrasie met die daaglikse gesleur na The Essential Janis Joplin uitgereik het en binne die bestek van daardie versameling agtergekom het dat ek my naam destyds gat gemaak het toe ek haar afgeskryf het.

Miskien het die feit dat ek sedertdien toegelaat het dat Kate Bush en Björk se uniekheid my tref iets daarmee te make. Enigiemand met ‘n greintjie verstand kan nie in alle erns na Björk luister en daarna sê dat Janis Joplin skrou nie.

Ek swyg liewer oor Diamanda Galas.

Goed, Joplin se sangstem kan soms ‘n bietjie rou op die oor wees. Soms raak dit ‘n bietjie skel. Maar daar lê groot emosie en gewroeg daaragter. Sy kan ook teer en vertederend wees.

En wat mens ookal dink van haar register, die feit van die saak is dat sy daai musiek ry soos ‘n cowboy ‘n wilde perd sou ry totdat hy getem is. Ek kan my voorstel dat haar musici na elke konsert selfs haar sokkies sou pruim só bloots het sy hulle in submissie in gesing.

Deel van haar sukses is uiteraard die musici wat haar begelei. Big Brother and the Holding Company was ‘n blues-groep wat mens op die beste met die Engelse uitdrukking hot shit kan beskryf. Hulle het nie nonsens gevat nie en het boonop ‘n soort blues gespeel wat die klomp Engelse bleeksiele net oor kon droom: Blues wat gesweet en gehuil het.

Wat die musiek vir my des te interessanter maak, is die feit dat dit ‘n jaar geneem het vir Joplin, wat van Austin, Texas kom, om gewoond te raak hoe om saam met een van San Frincisco se top-groepe te sing op die verhoog. Dit het die groep ook ‘n jaar geneem om te vergeet van hul eksperimentele neigings en blues-rock te speel waarmee Joplin kon saamsing.

En vir my is die mooitse deel hiervan die feit dat James Gurley in die proses ontpop het as ‘n kitaarspeler wat ‘n absoluut moederloos gemene kitaarsolo aan die gang kon kry wanneer Joplin ‘n bietjie asem skep. Later het sy dit nog beter getref. John Till van die Full Tilt Boogie is ‘n man wat verf kan laat skilfer en mynwerkers laat huil met sy kitaarsolo’s.

Hierdie versameling bevat musiek wat Joplin saam met Big Brother and the Holding Company, daarna die Kozmic Blues Band en uiteindelik saam met die illustere Full Tilt Boogie gemaak het. Dit is tragies dat sy so jonk oorlede is – maar aan die ander kant het sy in die kort duur van haar loopbaan meer goeie musiek gemaak as wat meeste ander kunstenaars in ‘n leeftyd uitkarring.

Die hele versameling is puik, maar die snitte waarna ‘n mens baie moet luister, is “Ball and Chain”, “Down on me”, “Summertime”, “Try”, “Move over”, “Women Is Lonely” en “Mercedes Benz”.

My volgende mikpunt is om al die albums van waaruit hierdie versameling saamgestel is te kry en te speel totdat die iPod oppak.