by

Sweet Smoke – Just A Poke

April 8, 2011 in Sonder kategorie


‘n Duitse vriend het my laat weet van ‘n Amerikaanse groep met die naam Sweet Smoke wat in die laat jare sestig en vroeë jare sewentig in Duitsland gewoon het en lewende legendes geword het danksy die uitwerking van dit waarna hul naam verwys op hul konserte.

Die bietjie inligting wat ek oor hulle kon opspoor, dui daarop dat die groep gebou was rondom die tromslaner en slagwerker Jay Dorfman. Hy is baie knap bygestaan deur Michael Paris (saxofone en slagwerk), Marvin Kaminovitz (kitaar), Steve Rosenstein (ritmekitaar) en Andrew Dershin (baskitaar).

Hul musiek word beskryf as jazz-rock met ‘n psigedeliese klap weg. Naas Just A Poke (1970) het hulle twee ander albums uitgereik, synde Darkness to Light (1973) en Live (1974). Hul debuutplaat bly egter hul grootste bydrae tot moderne kultuur.

Dit bevat net twee snitte, “Baby Night” en “Sily Sally” – en laasgenoemde is die eintlike ding. Trom-solo’s is lankal nie meer mode nie, maar in die dae toe Sweet Smoke aan die gang was, het alle tromslaners hul oomblik van glorie gehad.

“Silly Sally” het seker in die ateljee begin as ‘n redelik losse jam, en duur uiteindelik 16 minute. In die middel daarvan breek Jay Dorfman los met wat tot vandag toe nog een van die opwindendste tromsolo’s op plaat is.

Die rede daarvoor lê in die gebruik van phasing om ‘n besonder gerookte effek te verkry. As mens ordentlike stereofoniese klankapparaat het, en goeie luidsprekers, gaan die videogreep hieronder vir jou heeltemal nugter in ‘n baie kwaai groef laat beland.

Daar is bewerings dat Sweet Smoke se tweede en derde albums se oorvloed van korter snitte, en geen tromsolo’s die rede was vir hul ondergang. Dit kan ook wees dat tromsolo’s net nie met die wit snuif geakkordeer het nie.

Vandag is hul albums net via die internet nog toeganklik. Bejeën hierdie videogrepe met groot agting! 

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.