by

The Smiths (The Queen is Dead) en The Decemberists (The King is Dead)

April 1, 2011 in Sonder kategorie

 

Die indie-plaat wat die afgelope maand die grootste opslae gemaak het in die VSA gemaak het, is die Decemberists se The King is Dead. Met só ‘n titel laat dit mens dadelik dink aan The Smiths se The Queen is Dead, en dit is dan ook interessant om te merk dat daar wel ‘n verband is tussen die twee albums.

Die Decemberists se sanger en liedjieskrywer is Colin Meloy, wat nooit enige geheim gemaak het van sy groot bewondering vir The Smiths nie. Hierdie keer erken hy dit ruiterlik in al wat ‘n onderhoud is.

Meloy is nie so onsubtiel om die Britse groep te kopieer nie, maar hy het duidelik ná die taamlik ingewikkelde dog flouerige The Hazards of Love (2009) besluit om eenvoud sy wagwoord te maak, en wat beter as ‘n plaat wat The Queen is Dead, die Smiths se groot hoogtepunt, eggo in die musiek en die algemene hartseer ondertone?

Meloy se sangstem het taamlike beperkinge – nie baie dinamies of ekspressief nie, en geneig om gedra te word deur die inhoud van dit wat hy sing. Ditto Morrissey. Morrissey is geseën met die kitaarspel en musikale vindingrykheid van Johnny Marr, wat ‘n perfekte teenhanger is vir sy soort sangstyl. Ditto Meloy – behalwe dat hy die Decemberists se kitaarspeler en sanger ook is.

Hou mens in gedagte dat Meloy met die groep se vorige drie albums (Picaresque van 2005, The Crane Wife van 2006 en The Hazards of Love) die stempel gedra het van sy beheptheid met Britse folk-musiek en folk-rock uit dieselfde geweste, dan is die ander ding wat hy met The King is Dead gedoen het om die groep se gevolg weer te laat regop sit, taamlik geniaal.

Meloy het naamlik die ander groot invloed op sy musiek, R.E.M., ook laat weerklink in die musiek. Peter Buck, kitaarspeler van daardie groep, speel op drie van The King is Dead se snitte. Meloy se frasering en infleksie is ‘n baie direkte metode om Michael Stipe se sang op sommige van die liedjies in herinnering te roep.

Die geluk is net dat Meloy en sy groep een van die bestes is waarna mens vandag kan luister. Hulle is briljant. Jy hoor die eggo’s van Morrissey en Stipe, maar die Decemberists druk hul hebridiese musiek net daardie aks verder in die rigting van country as wat mens gedink het moontlik sou wees. En daarmee verlos Meloy sy groep van beskuldigings dat hulle té erg deur die Smiths of R.E.M. beïnvloed is.

Dis moontlik ‘n hutspot van style, maar dit werk. The King is Dead is lig dog dinamies.

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.