Paul Simon, Robbie Robertson, Alison Krauss and Union Station
April 20, 2011 in Sonder kategorie
Terwyl ek probeer om King Crimson se hele oeuvre deur te luister, moet mens so nou en dan wegbreek en iets heeltemal anders luister. En soos dit gaan, vind ek toe drie nuwe albums deur ou hande wat baie amper die King Crimson-projek verongeluk.
Daarom vandag net kortliks iets oor die drie:
Paul Simon reken die musiek op So Beautiful or So What is beter as enigiets wat hy op Songs from the Capeman (1997), You’re the One (2000) en Surprise (2006) gespeel het. Wie is ek om met hom te stry? Vir my gevoel sukkel Simon ná Graceland nog al die jare om met sy muse te herkonnekteer. Die Afrika-invloed slaan nog sterk deur, maar gelukkig het hy ook bewustelik probeer om in ‘n bluegrass-rigting uit te wyk en gewis weer sy muse gevind. En geslaag, na die mate wat dit moontlik is om op ouderdom 69 nuut te klink. As mens die eerste (en swakste) snit, “Getting ready for Christmas Day” ignoreer, is hierdie ‘n album wat sy betowering mettertyd oor jou uitsprinkel en uiteindelik sorg dat jy ronddwaal met die ritmes en frases wat oor en oor in jou gedagtes herhaal.
Robbie Robertson se How to become clairvoyant het gegroei uit ‘n paar weke wat Robertson en Eric Clapton saam deurgebring het en hul kitare met mekaar laat praat het. Uiteindelik was Robertson se bydrae groter en meer rigtinggewend, en Clapton het aangedring om net gelys te word as ondersteunende musikus. Met Pino Palladino (baskitaar) en Ian Thomas (tromme) permanent aan sy sy, maak Robertson musiek saam met ‘n groep besoekende musiekhelde: Clapton, Steve Winwood, Trent Reznor, Robert Randolph en Rocco Deluca. Die album se beste oomblik is “He don’t live here no more”, wat die verhaal vertel van die paar jaar wat Robertson ‘n huis gedeel het met Martin Scorsese, en die twee amper daarin geslaag het om huself met dwelms om die lewe te bring. Die musiek, soos altyd met Robertson, is uitnemend.
Paper Airplane is Alison Krauss and Union Station se eerste album sedert Lonely Runs Both Ways (204), en haar eerste groot album sedert sy Raising Sand in 2007 saam met Robert Plant gemaak het. Waar Raising Sand se uniekheid gelê het in die kombinasie van haar engelstem en Plant se dekadente deurleefde sangstem, het mens hier weer die onverdunde mezzo stem van Krauss op die voorgrond. Die lede van Union Statin is vir meeste van die liedjies verantwoordelik, maar dié deur buitestanders slaan die hardste: Richard Thompson se “Dimming of the Day” en Jackson Browne se “Opening Farewell”. Jerry Douglas se dobro-spel op “Dimming of the Day” is ongelooflik emosioneel, as ek een uitstaan-oomblik moet noem. Die res is bluegrass- en country-musiek van die hoogste kaliber.
Onlangse kommentare