Jy blaai in die argief vir 2011 Maart.

by ctb

Roy Harper – When an old cricketer

Maart 26, 2011 in Sonder kategorie

Suid-Afrikaanse krieket het ‘n aardbewing nodig. Ek’s nou só teneergedruk ek kan nie vandag oor musiek skryf nie. Hierdie videogreep het g’n visuele inhoud nie. Baie soos gister se krieket. Dit gaan oor verlies, liefde, en die menslike kondisie.

by ctb

Elbow

Maart 19, 2011 in Sonder kategorie

   

 


Was dit nie vir Marianne Thamm wat onlangs ‘n liedjie van Elbow op Facebook gepos het nie, sou ek waarskynlik nooit na hulle begin luister het nie. D-dalk eers oor ‘n paar jaar per abuis op hulle afgekom het, en gewonder het, soos nou, hoekom ek so aan die slaap was.

Elbow is al sedert 1990 in die rondte, maar het weens die woelinge in die platebedryf eers in 2001 hul debuutalbum, Asleep in the Back uitgereik. Sedertdien het groot name soos Radiohead, Coldplay, Blur, REM, U2 en John Cale hul lof besing. In 2008 is die Mercury Music Prize aan hul album The Seldom Seen Kid toegeken.

Elbow kom van Ramsbottom in die buitewyke van Manchester, Engeland. Hulle kan beskryf word as ‘n alternatiewe rock-groep, hoofsaaklik omdat hulle rustigheid ook as ‘n instrument beskou. Soms rumoerig, maar meestal afgestem op die gesamentlike krag van melodie en eenvoudige instrumentasie.

Die lede van die groep is Guy Garvey (sang), Mark Potter (kitaar), Craig Potter (klawerborde), Peter Turner (baskitaar) en Richard Jupp (tromme).

Elbow is al waarna ek op die oomblik luister. Die groep se musiek, of liewer die gehalte van hul skryfwerk, het gegroei sedert Asleep in the Back. Cast of Thousands (2003), Leaders of the Free World (2005) en The Seldom Seen Kid is elk op sy eie manier ‘n reuse-gebeurtenis. Die musiek hieronder kom uit al vier albums.

Volgens Garvey is die groep uit drie rigtings beïnvloed: die vroeë Genesis (met Peter Gabriel), Talk Talk en Radiohead. Hiervan sonder hy Genesis en Gabriel se gebruik van melodie en harmonie uit, en Talk Talk se unieke benuttig van klankdinamiek.

Laasgenoemde is nogal belangrik vir die luister van Elbow. Jy kan maar die klank oopdraai – jy gaan nie geraas kry uit jou luidsprekers nie. Wat daar wel in oorvloed is, is daardie wonderlike belewenis van musiek wat skynbaar deur stilte omgeef is: rustigheid, kleiner klanke wat saam ‘n groter geheel vorm, en die bindende, voortstuwende krag van die melodie. “The Everthere” is ‘n pragtige voorbeeld hiervan.

Elbow het twee Ivor Novello-pryse gekry vir hul komposisionele vernuf. Albei die bekroonde liedjies is hieronder ingesluit: “Onde Day Like This” en “Grounds for Divorce”.

Geniet!

 

 

 

by ctb

Morning Glory: The Tim Buckley Anthology

Maart 12, 2011 in Sonder kategorie

 

Tim Buckley het ‘n ongelooflik goeie opvoeding gehad. Sy ma het hom op 5-jarige ouderdom leer luister na Miles Davis, Frank Sinatra en Judy Garland, terwyl sy pa hom weer bekend gestel het aan Hank Williams en Johnny Cash. Wat kon daar verkeerd gaan met sy lewe?

Nogal heelwat. Buckley is in 1947 gebore, en in 1975 oorlede toe hy maar 28 was. Hy het op ouderdom 19 sy eerste album gemaak, was teen die tyd van sy dood reeds een keer deur die proses van rehabilitasie weens verslawing aan heroïen, had een eie seun (Jeff, beroemd in eie reg) en een aangenome seun, Taylor.

In sy loopbaan het hy geen kortspeeltreffers gehad nie, en ná twee uitmuntende albums, Goodbye and Hello (1967), en Happy Sad (1969), het sy loopbaan stelselmatig agteruit gegaan.

Die probleem lê nie in sy musiek nie. Ek het vandeesweek kans gehad (die lang daaglikse tog na en van die Stellenbosse Woordfees) om hierdie versameling verskeie kere van begin tot end te beluister. Dit is absoluut verruklike musiek vir die klein, intieme omgewing van ‘n motor se kajuit. Daarna het ek dit tuis tot voordeel van almal in die buurt ook ‘n bietjie oopgedraai – selfs beter!

Buckley het sy musiek begin maak in die dae toe folk-musiek ‘n baie sterk invloed op rock en pop had. Sy eerste album, Tim Buckley (1966), spog selfs met orkestrasie deur Jack Nitzsche. Dis nie ‘n sleg album nie, maar Buckley het nie sulke dinge soos strykers op die agtergrond nodig nie. (Dieselfde ding het ook vir Leonard Cohen met sy eerste album oorgekom – ‘n platemaatskappy wat gedink het hulle weet beter hoe die kunstenaar behoort te klink..)

Daarna het hy sy voet neergesit. Twee albums lank het dit gewerk, maar van Blue Afternoon (1969) af het hy té idiosinkraties vir die platebedryf geword. Die daaropvolgende Lorca (1970) was ‘n kommersiële flop, en Starsailor (1970) het buitengewone eise gestel aan selfs sy mees lojale volgelinge met die jazz-bevrugte musiek en heeltemal buitenissige sang (waarin hy gewys het hoe groot sy stemregister is, maar ook dat mens van een uiterste na ‘n ander kan gly-sing).

In die jare daarna het Buckley sy bes gedoen om die bestaan van Starsailor te verswyg of heeltemal te ignoreer.

Sy laaste drie albums, Greetings from L.A. (1972), Sefronia (1973) en Look at the Fool (1974) het elemente van die funk-musiek van daardie era. Vandag kan mens geen fout daarmee vind nie, dis goeie musiek, gesing deur die man met die goddelike stem, maar in daardie jare het dit hom net met elke nuwe stukkie musiek verder van die hoofstroom van sy volgelinge vervreem.

Ironies genoeg het hy sy dwelmprobleem onder beheer gekry, en begin terugbeweeg na die musiek-styl van Happy Sad toe hy een aand tydens ‘n partytjie weer heroïene in die hande geneem het. Dit was dit.

Wat maak Tim Buckley se musiek so spesiaal? Soms is die anti-oorlog sentimente van sy vroeë musiek koddig, omdat die Viëtnam-oorlog so lank vergete is. Maar wat wel nou nog sterk tref, is die ongelooflike emosionale lading van sy sang, en die man se stylvolle musiek. Ek’s mal oor die manier waarop hy uiteenlopende dinge soos handklokkies en die vibrafoon in sy musiek inkorporeer. En die gebruik van die ryk, vol klanke van die 12-snaar kitaar om sy stem ‘n behoorlike fondament te gee waarteen dit gekaats kan word, dít het ons sedertdien eintlik bitter min op só ‘n aangrypende, verrykende manier ervaar.

Dit is interessant dat sy seun, Jeff, nooit met presies dieselfde soort instrumentasie musiek gemaak het nie. Maar dit is onmoontlik om nie die genetiese oorsprong van die jong Buckley se stem te eien nie. Volgende keer as jy na Jeff Buckley se weergawe van “Hallelujah” luister, onthou net dat dit baie ver teruggryp, na Lorca en Starsailor, om presies te wees.

(Die foto op die omslag is geneem deur Linda Eastman, later beter bekend as Linda McCartney.)

 
 
 

by ctb

“Klassieke” liedjies – Genesis se “Supper’s Ready”

Maart 4, 2011 in Sonder kategorie

Genesis het “Supper’s Ready” in 1972 uitgereik op die album Foxtrot. Dit is 23 minute lank en word deur die groep se aanhangers en die kritici beskou as een van die groep se top-prestasies tydens hul eerste periode, 1971 -1975.

Dus die tydperk toe Peter Gabriel die sanger was, Phil Collins die tromslaner, Mike Rutherford die baskitaar- en kitaarspeler, Steve Hackett die hoof-kitaarspeler en Tony Banks die klawerbordvirtuoos.

Die liedjie is deur Peter Gabriel beskryf as “’n persoonlike reis wat eindig met ‘n paar wandelinge deur tonele in die Bybelse boek Openbaringe, Cha-cha.”

In sommige opsigte is dit net so moeilik om te begryp as Openbaringe. Daarom gaan ek nie ‘n vertolking aandurf nie. Dis genoeg om te sê dat daar twee minnaars is wat wandel, ‘n boer wat na die plaas omsien en ‘n vuurslaner wat na die vuur omsien. Dit handel ook oor die lot van die mens, die opkoms van die anti-Chris en ‘n naderende apokolips. Dit is die lot van alle mense om kos vir die maaiers te word, en die stryd op die hoop mensevleis lei tot die vrye, vol lewe op ‘n groen plato.

En nog baie meer.

Laat die woorde jou gedagtes deurmekaarkrap, maar geniet die musiek.

 

by ctb

Love – Forever Changes

Maart 3, 2011 in Sonder kategorie


 Bly weg van Forever Changes – dit neem jou lewe oor. Dis onmoontlik om net een keer daarna te luister. Totdat jy twee weke later skielik agterkom die gedreun in jou skedel raak té erg …

Die Amerikaanse groep Love het Forever Changes in 1967 opgeneem in ‘n tyd toe baie kritici gemeen het hulle, en nie Jimi Hendrix of the Doors nie, sou die groot groep wees wat na die somer van liefde staande bly.

Maar Arthur Lee en sy musici het ‘n passievolle verhouding met LSD en aaptwak gehad, en teen die tyd dat 1968 aangemeld het, was Lee en sy trawante op heeltemal ‘n ander planeet, vanwaar hulle net sporadies teruggekeer het. Onderhoude wat daardie jare met Lee gevoer is, was baie lekker om te lees omdat dit baie duidelik was dat die man ‘n psigedeliese skroef los had.

Wat die dwelms nie kon onderdruk nie, was die fenomenale musiek wat hy en kitaarspeler Bryan MacLean vir Forever Changes geskryf het.

Die maak van die plaat was egter ‘n nagmerrie. Bruce Botnick, wat saam met Lee die produksieleier van die album was, het met die eerste sessies agtergekom dinge is nie pluis nie. Arthur Lee en Bryan MacLean was min of meer funksioneel, maar Johnny Echols (hoofkitaar), Ken Forssi (baskitaar) en in mindere mate Michael Stuart (tromme) was dermate deur dwelms lamgelê dat hy Carol Kaye, Billy Strange en Jim Gordon moes huur om op die twee snitte “Andmoreagain” en “The Daily Planet” te speel. Die twee liedjies is binne een dag opgeneem en afgehandel.

Daarna het die groep hulself gaan rehabiliteer en die volgende paar liedjies geskryf en geoefen. Nadat dié liedjies opgeneem is, is die proses herhaal vir die volgende klompie snitte. Probeer jou indink hoe dit moet wees om jou hoofkitaar-speler en baskitaarspeler na elke paar snitte eers terug te stuur na rehab …

Die album is binne vier maande opgeneem, wat in 1967 ‘n baie lang tyd was vir sulke opnames. Ek haak soveel as moontlik van die snitte hier onder aan deur middel van videogrepe – my verskoning vir die snitte wat slegs ‘n plaatomslag as visuele element het – sodat dit duidelik kan wees hóé uiteeinlopend en dinamies Love se musiek was.

Die volle spektrum van musiek, sou mens kon sê. Kyk veral na “You set the scene” – ‘n ongelooflike ondervinding, en met een van die mees nagebootste refreine in die geskiedenis van pop musiek.

Love was ná Forever Changes nooit weer dieselfde nie en het in 1968 opgebreek. Lee het verskeie pogings aangewend om weer ‘n groep en sy loopbaan aan die gang te kry, en het eers in 2002, nadat hy vyf jaar in die tronk deurgebring het vir die onwettige besit van ‘n wapen, daarin geslaag om Forever Changes volledig op die konsertverhoog te laat herleef onder die vaandel van Love with Arthur Lee.

Bryan MacLean is in 1998 oorlede aan ‘n hartaanval, en Lee in Augustus 2006 weens leukemia.