Jy blaai in die argief vir 2011 Februarie.

by ctb

Die Wainwrights

Februarie 23, 2011 in Sonder kategorie

Die naaste wat mens aan blou bloed in die vermaakwêreld kom – die gesin Wainwright.

Loudon Wainwright III is ’n direkte nasaat van Peter Stuyvesant, die laaste direkteur-generaal van Nieuw-Nederland, soos die huidige New York-staat eens geheet het. Hy is ‘n sanger, liedjieskrywer, akteur en Grammy-wenner – asook pa van Rufus en Martha Wainwright, albei kunstenaars wat die afgelope dekade noemenswaardige albums gemaak het.

Dit is juis Martha Wainwright se optrede op Jools Holland se TV-program Later wat my weer na hulle laat begin luister het. Sy is bekkig, nes haar pa. Sy weet hoe om met woorde te kasty, nes haar broer. Broer en suster het hul pa se wonderlike talent geërf om met hulself te kan spot.

Uiteraard het die twee Wainwright-kinders iets ander ook wat hul pa nooit kon opneem in sy repertoire nie, naamlik die ernstige, humorlose introspeksie en selfanalise wat dikwels te hoor is in die komposisies van hul ma (Loudon se eerste vrou), wyle Kate McGarrigle.

Loudon Wainwright se humor bestryk ‘n breë gebied, van hansworstery tot satire. Wanneer hy in die styl van sy voormalige vrou komponeer, is dit asof hy mens ook goed wil laat verstaan dat hy dit half onwillig doen. Luister gerus wat hy in die “Father/Daughter Dialogue” hieronder sing.

Hy het ‘n groot klomp albums in die mark. Soek veral Album III (1972, met “Dead Skunk”), Unrequited (1975, met “Rufus is a tit man”) en Fame and Wealth (1983) op.

Rufus Wainwright se albums is vir ‘n meer eklektiese smaak, maar almal aan te beveel. Die bekendste is seker Poses (2001), en Rufus does Judy at Carnegie Hall (2007) is eenvoudig briljant.

Martha Wainwright het eers in 2005 gedebuteer met ‘n eponieme album. Nes Rufus is sy gou om hulde te bring aan haar helde, soos ‘n besonder goeie konsertopname Sans Fusils, Ni Souliers, à Paris: Martha Wainwright’s Piaf Record getuig.

Die liedjie “Bloody mother fucking asshole” handel oor haar pa.