Elvis Costello – This Year’s Model
Januarie 24, 2011 in Sonder kategorie
Elvis Costello – This Year’s Model
Ek sou van Elvis Costello gehou het al het ek nooit ‘n noot van sy musiek gehoor nie. Iemand wat met Diana Krall getroud is, staan gebaai in die gereflekteerde glorie van Krall. Gelukkig is Costello ‘n musikale reus, met of sonder Krall.
This Year’s Model (1978) was Costello (regte naam Declan MacManus) se tweede album, en die eerste wat hy saam met die groep gemaak het wat hulself The Attractions noem. Die produksieleier was Nick Lowe, wat voorheen lid was van die berugte Britse groep Brinsley Schwarz en in die laat sewentigs saam met Dave Edmunds gespeel het.
Lowe se bynaam as produksieleier was The Basher, ‘n verwysing na sy liefde om al die klank op band te kry, sonder té veel inmenging, en daarna te skaaf aan die opnames eerder as aan die uitvoering. Die gevolg was dat die musiek waarvan hy produksieleier was, ‘n rou onmiddelikheid had.
Vergelyk mens die musiek van Costello se debuutplaat, My Aim is True (1977) met dié van This Year’s Model, val die soniese aanslag jou dadelik op. Op die debuutplaat het hy hard moes werk om Costello se begeleiers, die Amerikaanse country-groep Clover, na ‘n Britse New Wave-groep te laat klink.
Op This Year’s Model is daar min probleme – die Basher en die Costello is saam op een stasie en daardie stasie se naam is Maksimum Moer.
Die groot plesier van hierdie album, destyds, was dat mens dadelik besef het die dae van punk-rock is verby. Nie alleen staan die Attractions se musiek en uitvoering daarvan in skerp kontras met die moedswillige ongekunsteldheid van punk nie, maar ook is Costello se lirieke baie slim en stel dit taamlike eise aan die luisteraar. Mense wat gom snuif het nooit regtig begryp waaroor Costello dit het nie. Hulle was net verlief op sy hardegat-houding.
Waaroor hy dit het, is dat mense verlief raak op mekaar, en dat een van die partye gewoonlik baie onsmaaklike dinge doen wanneer hulle op iemand anders verlief raak. Dit wek haat en ‘n behoefte aan wraak, om van intense minderwaardigheidsgevoelens nie te praat nie. Costello skaar hom uiteraard aan die kant van die verloorder. Hy het ‘n tong skerper as meeste messe en hy huiwer nie om sy ekstensiewe woordeskat as wapen te gebruik nie.
Die videogrepe hieronder kom eers tot hul reg as jy die klank deur ‘n versterker kan stuur en die volume hoog oopdraai. “Night Rally” veral moet jy liewers van die album af luister – hierdie weergawe was op ‘n kortspeler en die sprong van analoog na digitaal laat die betowerende orrelklanke wegraak.
(Ek ondervind probleme met die laai van die videogrepe. Hier is die skakels:
“(I don’t want to go to) Chelsea”: http://www.youtube.com/watch?v=7aAG9iGCBa8
“No Action”: http://www.youtube.com/watch?v=Otv_63OFhQQ&feature=related
“Lipstick Vogue”: http://www.youtube.com/watch?v=dip-FtbsD8E&feature=related
“Night Rally”: http://www.youtube.com/watch?v=tWQGMWG3rEo
Onlangse kommentare