Fleet Foxes – Fleet Foxes
Desember 30, 2010 in Sonder kategorie
Die stuiptrekkings van die jaar, die babbelaas van Krismis wat jou gedagtes soos muggies laat dwarrel. Bring dit tot ruste met die Fleet Foxes.
Ek het op hulle afgekom via 1001 Albums You Must Hear Before You Die. Ek moes eenvoudig iets kry my wat my sou genees van die verslawing aan die musiek van Richard Hawley wat my voor Krismis getref het.
Die Fleet Foxes kom van Seattle en is gebou rondom Robin Pecknold en Skyler Skjelset. Te oordeel na die musici wat hulle beïnvloed het, is hulle mense met onberispelike smaak: Bob Dylan, Hank Williams, Neil Young, Brian Wilson en Roy Harper.
Hul eponieme debuutplaat het ‘n sterk natuurbewustheid. Onbewustelik het hulle in daardie rigting beweeg, sê hulle. Hul musiek is volgens hulle “baroque harmonic pop jams” – wat ‘n ander manier is om te sê dat hulle geweldig baie tyd aan die oefen en verfyning van hul musiek bestee. Mens merk dit onmiddelik in die sang en die struktuur van die liedjies.
Hulle het darem ook ‘n humorsin. “Daar moet ‘n paar vals note wees, en die kitaarspelers moet hier en daar foute maak,” aldus Pecknold.
Terwyl ons gewoond raak aan die debuutplaat, is daar die vooruitsig van ‘n nuwe album binne die volgende paar maande – en dis volgens die groep een wat geïnspireer is deur Roy Harper se Stormcock.
Nou moet hulle nog net Gene Clark en Steely Dan ontdek dan loop hulle wat my betref op water.
Onlangse kommentare