by

Leonard Cohen – Songs from A Room

November 10, 2010 in Sonder kategorie

 

Wanneer het jy na Leonard Cohen begin luister? Dis ‘n vraag wat amper so belangrik is as die een oor jou eerste groot liefde.

Tot dusver wou ek ‘n wye draai om Cohen gooi met hierdie blog, en met die uitsondering van die stukkie oor “Hallelujah” dit goed reggekry. En toe vra iemand my vandeesweek wat my eerste kennismaking met die beroemde Kanadese digter se musiek was.

Soos ‘n junkie wat presies weet wie sy eerste dealer was, onthou ek dat die eerste platewinkel wat ek goed ondersteun het, die Long Player in Harrisonstraat, Johannesburg was. Ek het in 1970 by Volkskas gewerk, ‘n soort pre-universitêre interlude, en maandeliks die grootste deel van my salaris op plate geblaas.

So ‘n lenige man het daar gewerk. Toe ek die dag Songs from a Room (1968) op die toonbank plaas, vra hy my of ek Cohen se eerste plaat, Songs of Leonard Cohen ken. Ek het nie, en sy onvergeetlike reaksie was: “Jy lyk darem emosioneel stabiel genoeg, maar wees versigtig. Dis eensame musiek.”

Natuurlik het ek later Songs of Leonard Cohen gekry, en die tydlose “Suzanne” en die ander skitterende snitte op daardie plaat leer ken en geniet, maar wat Leonard Cohen betref, het ek by die diepkant ingespring.

Die openingsnit, “Bird on a wire” is daarom vir my die sleutel tot Cohen se musiek: eensaam, melankolies, digterlik, ‘n effense mate van Weltschmerz. ‘n Kitaar, ‘n trompie, ‘n kontrabas en strykers wat later opdaag. Niks van die tipiese hooks & chorusses en bloemryke taalgebruik wat die folk-musiek van die laat sestigs versier het nie – musikale eenvoud was die sleutel. En natuurlik het sy digterskap volledig aan die ander kant van die poëtiese spektrum gelê as die digkuns waarmee Rod McKuen daardie jare mense se knieë laat knak het.

Die Viëtnam-oorlog was destyds in volle swang, en daarom was “Story of Isaac” vir my ‘n proteslied, en as sodanig Goed. “A bunch of lonesome heroes” het selfs my pa se aandag getrek, en van daar af trek Songs from a Room ‘n mens deur vreemde emosionele driwwe.

“The Partisan” is gegrond op ‘n Franse gedig van Emmanuel D’Astier, en “Seems so long ago, Nancy” vertel van ‘n teneergedrukte jong vrou wat gedwing was om haar baba op te gee vir aanneming, en toe selfmoord gepleeg het.

Die tweede kant van die plaat het begin met ‘n meer oorsgtelike siniese, wêreldbeeld, en die ander liedjies (“The Butcher”, “You know who I am”, “Lady Midnight” en “Tonight will be fine”) is nog deprimerend, maar laat sak jou nie heeltemal so laag soos “Seems so long ago, Nancy” nie.

Die tegniese aspekte van die plaat sou eers later vir my belangrik word. Met die eerste luister het dit my nie getraak of Bob Johnston die produksiemeester was nie, en ek het gedink (anders as latere kritici) dat die trompie wat altyddeur hoorbaar is is oulik. Dink nou nog so – ek kan die musiek nie daarsonder indink  nie.

En ongeag hoe vatbaar ek op enige gegewe oomblik is vir Leonard Cohen se bekoring, weet ek dat hierdie album een van die sleutelstukke in my versameling is. Daar is ander Cohen-albums wat beter is, maar hulle lê nie so na aan die hart nie.

Iets interessants oor die videogrepe: Die opname van “Seems so long ago, Nancy” is in 1970 opgeneem tydens die Isle of Wight-fees. Volgens Cohen was hy in daardie tyd in die diepste van sy depressies, en het hom kort daarna ‘n ruk lank heeltemal aan alles onttrek.

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.