by

Roger Waters – Amused to Death

November 6, 2010 in Sonder kategorie

 Kort ná die uitreiking van hierdie album in 1992 het Roger Waters in ‘n onderhoud verklaar dat hy een van die beste liriekskrywers van alle tye is. ‘n Mens kan hom vergewe vir die verwarring van ambisie en omvang met liriese, digterlike kwaliteite – Amused to Death is die een album waarop Waters sy volle visie verwesenlik het.

Waters was altyd die een siel in Pink Floyd wat bekommerd was oor die Groter Prentjie. The Wall en The Final Cut was verkennings van sy eie biografiese en sielkundige landskap, maar op sy eie het hy eers twee bra gemiddelde albums gemaak (Pros and Cons of Hitchhiking en Radio K.A.O.S.) voordat hy vir Amused to Death op volle toere gekom het.

Op die agtergrond was hy in ‘n verbete stryd met die agtergeblewe lede van Pink Floyd gewikkel, maar hier, op die musikale front, het hy ‘n album geskep wat nie alleen in die tydlose tradisies van Pink Floyd-musiek staan nie, maar ook ‘n besonder koherente siening gee van die vernietigende uitwerking van televisie en die massamedia op die Westerse beskawing.

Ek kan my voorstel dat die bywoning van een van die Amused to Death-konserte (daar was nie baie daarvan nie, om een of ander rede) ‘n audio-visuele wonderwerk moes gewees het.

Wat my die meeste kielie, moet ek bysê, is dat hierdie album soos ‘n Floyd-album klink. Nog selde was die klawerbord-gees van Rick Wright só aanwesig in Waters se musiek. Luister gerus na die manier waarop die klavier en orrel op die album gebruik word. Om te dink dat Waters gesorg het dat Wright by die Floyd uitgewerk word tydens die maak van The Wall omdat Wright volgens hom niks had om te bied nie.

Die musici op die album is ‘n uitgelese klomp: Jeff Beck speel kitaar saam met Andy Fairweather-Low en Steve Lukather, Patrick Hammond is die klawerbordspeler wat ‘n medalje verdien, Jeff Porcaro en Graham Broad slaat die tromme, onder andere.

Waters laat baie klem val op die gebruik van blertse klankgrepe. Amused to Death herinner ‘n mens aan die onbeskryfbaar wonderlike manier waarop stereofoniese klank ‘n deur vir die verbeelding open. Dit laat jou ‘n wêreld van dramatisering en klankbetoog betree. Die album het ‘n baie sterk sosiaal-politieke onderbou, en klank is die manier waarop Waters jou aandag gryp en hou.

Ek het hierdie week taamlik baie moes reis. Amused to Death het een vlug tussen Johannesburg en Kaapstad so halfpad vol gemaak, via die iPod. Daar is iets totaal anderwêrelds om oor die reënbehoewende Vrystaat te vlieg en dié totaal sublieme stukkie uit “Perfect Sense” te hoor:

Can’t you see

It all makes perfect sense

Expressed in dollars and cents

Pounds, shillings, and pence

Gaan soek dit gerus – daardie een strofe is ‘n meesterklas oor die manier waarop woorde en metrum en musikale maat mekaar kan vind en ‘n mens met die laaste klankgreep ‘n gevoel van intense bevrediging ervaar.

Luister ook na “Amused to Death”, veral rondom 4’59” waar die hoendervleis selfs op jou voetsole sal uitslaan. Draai die klank oop, verby 11.

 

 

4 antwoorde op Roger Waters – Amused to Death

  1. AhJayEm het gesê op November 6, 2010

    Interessante waarnemings rondom Waters en spesifiek die Amused album. Ek persoonlik dink Waters was die gom in Floyd bloot oor sy skryf talent asook sy skepping van eenvoudige melodie.

    Ek was gelukkig om die In the Flesh toer se openings konsert 27 Februarie 2001 in Kaapstad by te woon en dit was openbarend. Daar het ek besef dat Waters eintlik maar Floyd was. Met alle respek teenoor Gilmour, Wright en een van die swakste drommers ooit…………Dave Mason.

    Indien jy die konsert gemis het kan jy die DVD kyk en ‘n goeie smaak kry van hoe Floyd al die jare eintlik moes klink. Na Waters se vertrek het Floyd net twee oorpronklike albums uitgereik, eers Momentary Lapse….. meestal deur Bob Ezrin geskryf en verwerk en toe die briljante Division Bell wat ‘n totale nuwe Pink Floyd klank gebring het. Ja, ons mag nooit van Floyd vergeet nie maar sonder Waters het dit platgeval. Glo as Waters en Gilmour die weg sou oopsien om te herenig sal dit ‘n……………herontdekking skep.

  2. My musiek … Sit eenmaal ‘n week PULSE in my DVD speler … pure plesier …

  3. ctb het gesê op November 18, 2010

    @Blues Boy: Het jy gehoor wat Waters deesdae self dink (in die Britse TV-program Which One is Pink?). Dit klink asof hy begin jammer voel hy het die groep destyds verlaat.

  4. ctb het gesê op November 24, 2010

    @Samuhr & Blues Boy: Dis ‘n helse groot debat dié wat nooit afgesluit kan word nie – gaan kyk gerus oe woed dit vort op die verskillende PF sites. Ek is bly Waters voel hy het dalk ‘n fout gemaak destyds, maar dit verander nie aan die feit dat die groep sy soort in-your-face-personlikheid gemis het nie, asook die inhoud van sy lirieke nie. Gilmour erken self dat hy nie lirieke wil of kan skryf nie, en sy vrou het maar net nie die substansie wat Waters aan sy liedjies gee nie. As mens Gilmour se laaste solo-album luister, dan hoor jy gou hoe min Polly te sê het. Haar beste pogings was op Division Bell. Aan die ander kant stem ek ook iets anders sterk saam met Waters: Gilmour ken nie sy gelyke as kitaarspeler nie. Floyd sonder Gilmour is ondenkbaar, nes die Floyd sonder Rick Wright.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.