by

Syd Barrett and Pink Floyd – An Introduction to Syd Barrett

November 1, 2010 in Sonder kategorie

 

Daar is min rock-verhale wat meer hatseer is as dié van Syd Barrett. Die skeppende gees van die oorspronklike Pink Floyd. Die bekendste LSD-slagoffer van die jare sestig. Die man met die flambojante visie wat binne die bestek van ‘n naweek ‘n totale wrak geword het.

Die feite van sy verhaal is oorbekend: Die kitaarspeler wie se uiters oorspronklike lirieke en komposisies materiaal gegee het vir Rick Wright (orrel), Roger Waters (baskitaar) en Nick Mason (tromme) waarmee hulle hul psigedeliese rock-musiek kon skep.

Toe loop hy oor ‘n naweek in Europa ‘n groep Duitsers raak wat hom kragtige LSD voer. Barrett was bekend met dié dwelm, maar in daardie naweek het hy ‘n oormaat ingeneem, en sy verstand het nooit teruggekeer van die trip nie.

Hoe die groep noodgedwonge vir Barrett in 1968 moes vervang deur David Gilmour, een van Barrett se jeugvriende uit Cambridge, is ook oorbekend. Hierdie versameling is Gilmour se poging om Barrett se kreatiewe vonk bekend te stel aan ‘n geslag wat nog nie bekend is daarmee nie.

Gilmour het as produksiehoof van die projek sommige van die ou opnames hersien om te voldoen aan vandag se standaarde. Die resultaat is uiters bevredigend – liedjies soos “Here I Go” en “Dominoes” baat baie daarby.

Uiteraard is daar ook heelwat van eerste Pink Floyd-opnames. Ek sluit hulle nie by die videogrepe hieronder in nie, met die uitsondering van “Mathilda Mother”, waarvan die alternatiewe weergawe op hierdie album te hoor is, en wat ‘n verrassende “ander” stel lirieke het.

Ek hou my maar verder in. Syd Barrett is een van my groot helde, en die beste wat ek kan doen is om die versameling aan te beveel. Luister na die lirieke, en hou in gedagte dat sommige van hulle, veral dié wat nie uit sy tyd saam met Pink Floyd kom nie, geskryf is deur ‘n man met ‘n uiters vreemde greep op die werklikheid. En selfs dán kan mens hoor dat hy iemand was hoogs orspronklik was. En dis al wat tel.

(Inkomste uit die verkope van hierdie versameling, verneem ek, gaan na liefdadigheid en Barrett se agtergeblewe familie wat hom deur die jare versorg het.)

 

 

1 antwoord op Syd Barrett and Pink Floyd – An Introduction to Syd Barrett

  1. ctb het gesê op November 18, 2010

    Beide kom van die tweede solo-LP, Barret. As jy die eerste, The Madcap Laughs, in die hande kan kry, sal jy dit interessant vnd. Barrett was in daardie stadium ‘n bietjie meer helder, en het homself begelei. Maar die komposisies is net so vreemd, en doen almal as klankervaring ‘n bietjie dun aan. Jy is letterlik besig om na ‘n mal man te luister, en die effek kan geweldig ontstellend wees.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.