Jy blaai in die argief vir 2010 November.

by ctb

R.I.P. Paul Alberts

November 23, 2010 in Sonder kategorie

My eerste ondervinding van die plesiere van jazz was op aanstigting van Paul Alberts, die bekende fotograaf van Brandfort wat onlangs oorlede is. Pleks van oor Paul te skryf, plaas ek liewer ‘n klompie videogrepe van sy groot held, Sonny Rollins, in volle swang. Ek bly Paul vir ewig dankbaar vir die bekendstelling. Daar is nie ‘n beter manier om hom te onthou as deur sy fotografie, en deur die musiek waarvoor hy so lief was.




by ctb

James – Om depressie te vernietig

November 22, 2010 in Sonder kategorie

Wat doen mens as jou rugbyspan die nasionale trots deur die modder sleep? Niks help om die skouers reguit te trek soos opruiende musiek nie – en dan het ek ‘n paar liedjies deur die Britse groep James in gedagte. Dis wat ek Saterdagaand gedoen het om te vergeet van die aaklige dinge wat in Skotland gebeur het.

James is een van daardie groepe wat ‘n enorme gevolg in Brittanje en Europa gehad het danksy hul hoë-energie konserte. Hulle het die groot geluk gehad om in Manchester die oog te vang van Tony Wilson toe hulle in die Hacienda opgetree het, en het in 1983 hul eerste pogings op Factory Records uitgereik.

Ofskoon hulle self die klem laat val op hul konserte en lewende optredes, moet ‘n mens nie vergeet dat hulle van die intelligentste lirieke in die bedryf skryf nie, en dat hul musiek alles behalwe simplisties is. Die lirieke van “Getting away with it (All messed up)” gee ‘n goeie idee van hul flambojante omgang met woorde.

James het deur die jare talle kortspeel-treffers gehad, maar om een of ander rede nooit ’n groot deurbraak in die VSA kon bewerkstellig nie. Teen die jare negentig kon hulle nietemin met elke album groot jolyt maak op die Britse treffersparades.

Deesdae tree hulle net op wanneer Tim Booth (sanger) nie besig is met film- en TV-projekte nie.

Die videogrepe hieronder tel onder die meeste gekykte video’s op YouTube. “Sometimes” en “Getting Away with It (All messed up)” is albei al kort duskant ‘n miljoen keer besigtig.

Draai oop die klank! Vergeet van Snorman en die 22 kabouters!

 

 

 

 




by ctb

Die outoppies kom terug

November 17, 2010 in Sonder kategorie

 

 Die afgelope maande was daar uitsonderlike goeie CD-uitreikings deur drie van die rock-sterre van weleer, manne wat as ouballe eerder as swaaiballe beskryf kan word. Hulle is Neil Young (Le Noise), Elton John (The Union, saam met Leon Russell) en Carlos Santana (Guitar Heaven, saam met ‘n magdom groot name).

Ek gee net ‘n bietjie inligting oor elk – die plesier lê in die luister.

Le Noise se titel is tegelyk woordspeling op die naam van die produksieleier, Daniel Lanois, en ‘n eerlike opsomming van sommige van die dinge wat Young op party snitte doen.

In wese was dit aanvanklik ‘n akoestiese solo-album, maar soos altyd is Young totaal onvoorspelbaar. Hy speel meeste van die snitte op ‘n elektriese kitaar, met baie weerklank, baie note wat onbelemmerd bly hang, eggo en uiteindelik verwring raak voordat hy aangaan. Dit is vrek interessant om te luister, want Lanois het, in sy eie woorde, ‘n bietjie ingemeng met sy “sonics”.

Die album is vir my op ‘n gelyke voet met Zuma en Trans, twee albums wat radikale swaaie in Young se loopbaan aangekondig het. Die manier waarop sy stem nog hou, is verstommend.

The Union is ‘n gesamentlike projek van Elton John en Leon Russell. John is ‘n ou bewonderaar van Russell, en dit is duidelik dat die samewerking die twee se kreatiewe vonke laat hoog brand het. Albei dra liedjies tot die album by en ek is seker ons gaan in die maande wat kom nog baie van die twee op VH1 en elders te siene kry. 

Volgens sommige oorsese kritici s dit Elton John se beste album in twintig jaar, en ek glo hulle.

Toevallig is my gunsteling onder die snitte een waarop Neil Young sing, naamlik “Gone to Shiloh”, maar ewe indrukwekkend is “When Love is Dying” (met agtergrondsang en verwerking deur Brian Wilson) en Leon Russel se “If it wasn’t for bad”.

Carlos Santana se Guitar Heaven is, as ek Helgaard Muller mag aanhaal, ‘n Valiant met heeltemal ander hubcaps. Santana is een van die groot kitaarhelde van die laat jare sestig, en het mens ook dikwels verbaas met die manier waarop hy telkens nuwe momentum in sy loopbaan gevind het.

Hierdie album het iets desperaats wat dit omgeef – Santana werk nie met sy eie materiaal nie, en sy stilistiese ingryp op die nommers wat gespeel word, is nie baie groot nie. Jy kan sy styl hoor deurslaan, maar meestal bly hy baie getrou aan die oorspronklike.

Die liedjies wat hy vertolk, is onder meer “Whole lotta love” (van led Zepelin, uitgevoer saam met Chris Cornell), “Sunshine of your love” (Cream, uitgevoer saam met Rob Thomas), “Bang a gong” (T. Rex, uitgevoer saam met Gavin Rossdale), “Fortunate Son” (Creedence Clearwater Revival, uitgevoer saam met Scott Stapp), en vele meer: Hy maak draaie by AC/DC, Jimi Hendrix, die Doors, Dave Edmunds en Howlin’ Wolf.

 
 



by ctb

Leonard Cohen – Songs from A Room

November 10, 2010 in Sonder kategorie

 

Wanneer het jy na Leonard Cohen begin luister? Dis ‘n vraag wat amper so belangrik is as die een oor jou eerste groot liefde.

Tot dusver wou ek ‘n wye draai om Cohen gooi met hierdie blog, en met die uitsondering van die stukkie oor “Hallelujah” dit goed reggekry. En toe vra iemand my vandeesweek wat my eerste kennismaking met die beroemde Kanadese digter se musiek was.

Soos ‘n junkie wat presies weet wie sy eerste dealer was, onthou ek dat die eerste platewinkel wat ek goed ondersteun het, die Long Player in Harrisonstraat, Johannesburg was. Ek het in 1970 by Volkskas gewerk, ‘n soort pre-universitêre interlude, en maandeliks die grootste deel van my salaris op plate geblaas.

So ‘n lenige man het daar gewerk. Toe ek die dag Songs from a Room (1968) op die toonbank plaas, vra hy my of ek Cohen se eerste plaat, Songs of Leonard Cohen ken. Ek het nie, en sy onvergeetlike reaksie was: “Jy lyk darem emosioneel stabiel genoeg, maar wees versigtig. Dis eensame musiek.”

Natuurlik het ek later Songs of Leonard Cohen gekry, en die tydlose “Suzanne” en die ander skitterende snitte op daardie plaat leer ken en geniet, maar wat Leonard Cohen betref, het ek by die diepkant ingespring.

Die openingsnit, “Bird on a wire” is daarom vir my die sleutel tot Cohen se musiek: eensaam, melankolies, digterlik, ‘n effense mate van Weltschmerz. ‘n Kitaar, ‘n trompie, ‘n kontrabas en strykers wat later opdaag. Niks van die tipiese hooks & chorusses en bloemryke taalgebruik wat die folk-musiek van die laat sestigs versier het nie – musikale eenvoud was die sleutel. En natuurlik het sy digterskap volledig aan die ander kant van die poëtiese spektrum gelê as die digkuns waarmee Rod McKuen daardie jare mense se knieë laat knak het.

Die Viëtnam-oorlog was destyds in volle swang, en daarom was “Story of Isaac” vir my ‘n proteslied, en as sodanig Goed. “A bunch of lonesome heroes” het selfs my pa se aandag getrek, en van daar af trek Songs from a Room ‘n mens deur vreemde emosionele driwwe.

“The Partisan” is gegrond op ‘n Franse gedig van Emmanuel D’Astier, en “Seems so long ago, Nancy” vertel van ‘n teneergedrukte jong vrou wat gedwing was om haar baba op te gee vir aanneming, en toe selfmoord gepleeg het.

Die tweede kant van die plaat het begin met ‘n meer oorsgtelike siniese, wêreldbeeld, en die ander liedjies (“The Butcher”, “You know who I am”, “Lady Midnight” en “Tonight will be fine”) is nog deprimerend, maar laat sak jou nie heeltemal so laag soos “Seems so long ago, Nancy” nie.

Die tegniese aspekte van die plaat sou eers later vir my belangrik word. Met die eerste luister het dit my nie getraak of Bob Johnston die produksiemeester was nie, en ek het gedink (anders as latere kritici) dat die trompie wat altyddeur hoorbaar is is oulik. Dink nou nog so – ek kan die musiek nie daarsonder indink  nie.

En ongeag hoe vatbaar ek op enige gegewe oomblik is vir Leonard Cohen se bekoring, weet ek dat hierdie album een van die sleutelstukke in my versameling is. Daar is ander Cohen-albums wat beter is, maar hulle lê nie so na aan die hart nie.

Iets interessants oor die videogrepe: Die opname van “Seems so long ago, Nancy” is in 1970 opgeneem tydens die Isle of Wight-fees. Volgens Cohen was hy in daardie tyd in die diepste van sy depressies, en het hom kort daarna ‘n ruk lank heeltemal aan alles onttrek.

 

 

by ctb

Roger Waters – Amused to Death

November 6, 2010 in Sonder kategorie

 Kort ná die uitreiking van hierdie album in 1992 het Roger Waters in ‘n onderhoud verklaar dat hy een van die beste liriekskrywers van alle tye is. ‘n Mens kan hom vergewe vir die verwarring van ambisie en omvang met liriese, digterlike kwaliteite – Amused to Death is die een album waarop Waters sy volle visie verwesenlik het.

Waters was altyd die een siel in Pink Floyd wat bekommerd was oor die Groter Prentjie. The Wall en The Final Cut was verkennings van sy eie biografiese en sielkundige landskap, maar op sy eie het hy eers twee bra gemiddelde albums gemaak (Pros and Cons of Hitchhiking en Radio K.A.O.S.) voordat hy vir Amused to Death op volle toere gekom het.

Op die agtergrond was hy in ‘n verbete stryd met die agtergeblewe lede van Pink Floyd gewikkel, maar hier, op die musikale front, het hy ‘n album geskep wat nie alleen in die tydlose tradisies van Pink Floyd-musiek staan nie, maar ook ‘n besonder koherente siening gee van die vernietigende uitwerking van televisie en die massamedia op die Westerse beskawing.

Ek kan my voorstel dat die bywoning van een van die Amused to Death-konserte (daar was nie baie daarvan nie, om een of ander rede) ‘n audio-visuele wonderwerk moes gewees het.

Wat my die meeste kielie, moet ek bysê, is dat hierdie album soos ‘n Floyd-album klink. Nog selde was die klawerbord-gees van Rick Wright só aanwesig in Waters se musiek. Luister gerus na die manier waarop die klavier en orrel op die album gebruik word. Om te dink dat Waters gesorg het dat Wright by die Floyd uitgewerk word tydens die maak van The Wall omdat Wright volgens hom niks had om te bied nie.

Die musici op die album is ‘n uitgelese klomp: Jeff Beck speel kitaar saam met Andy Fairweather-Low en Steve Lukather, Patrick Hammond is die klawerbordspeler wat ‘n medalje verdien, Jeff Porcaro en Graham Broad slaat die tromme, onder andere.

Waters laat baie klem val op die gebruik van blertse klankgrepe. Amused to Death herinner ‘n mens aan die onbeskryfbaar wonderlike manier waarop stereofoniese klank ‘n deur vir die verbeelding open. Dit laat jou ‘n wêreld van dramatisering en klankbetoog betree. Die album het ‘n baie sterk sosiaal-politieke onderbou, en klank is die manier waarop Waters jou aandag gryp en hou.

Ek het hierdie week taamlik baie moes reis. Amused to Death het een vlug tussen Johannesburg en Kaapstad so halfpad vol gemaak, via die iPod. Daar is iets totaal anderwêrelds om oor die reënbehoewende Vrystaat te vlieg en dié totaal sublieme stukkie uit “Perfect Sense” te hoor:

Can’t you see

It all makes perfect sense

Expressed in dollars and cents

Pounds, shillings, and pence

Gaan soek dit gerus – daardie een strofe is ‘n meesterklas oor die manier waarop woorde en metrum en musikale maat mekaar kan vind en ‘n mens met die laaste klankgreep ‘n gevoel van intense bevrediging ervaar.

Luister ook na “Amused to Death”, veral rondom 4’59” waar die hoendervleis selfs op jou voetsole sal uitslaan. Draai die klank oop, verby 11.

 

 

by ctb

Syd Barrett and Pink Floyd – An Introduction to Syd Barrett

November 1, 2010 in Sonder kategorie

 

Daar is min rock-verhale wat meer hatseer is as dié van Syd Barrett. Die skeppende gees van die oorspronklike Pink Floyd. Die bekendste LSD-slagoffer van die jare sestig. Die man met die flambojante visie wat binne die bestek van ‘n naweek ‘n totale wrak geword het.

Die feite van sy verhaal is oorbekend: Die kitaarspeler wie se uiters oorspronklike lirieke en komposisies materiaal gegee het vir Rick Wright (orrel), Roger Waters (baskitaar) en Nick Mason (tromme) waarmee hulle hul psigedeliese rock-musiek kon skep.

Toe loop hy oor ‘n naweek in Europa ‘n groep Duitsers raak wat hom kragtige LSD voer. Barrett was bekend met dié dwelm, maar in daardie naweek het hy ‘n oormaat ingeneem, en sy verstand het nooit teruggekeer van die trip nie.

Hoe die groep noodgedwonge vir Barrett in 1968 moes vervang deur David Gilmour, een van Barrett se jeugvriende uit Cambridge, is ook oorbekend. Hierdie versameling is Gilmour se poging om Barrett se kreatiewe vonk bekend te stel aan ‘n geslag wat nog nie bekend is daarmee nie.

Gilmour het as produksiehoof van die projek sommige van die ou opnames hersien om te voldoen aan vandag se standaarde. Die resultaat is uiters bevredigend – liedjies soos “Here I Go” en “Dominoes” baat baie daarby.

Uiteraard is daar ook heelwat van eerste Pink Floyd-opnames. Ek sluit hulle nie by die videogrepe hieronder in nie, met die uitsondering van “Mathilda Mother”, waarvan die alternatiewe weergawe op hierdie album te hoor is, en wat ‘n verrassende “ander” stel lirieke het.

Ek hou my maar verder in. Syd Barrett is een van my groot helde, en die beste wat ek kan doen is om die versameling aan te beveel. Luister na die lirieke, en hou in gedagte dat sommige van hulle, veral dié wat nie uit sy tyd saam met Pink Floyd kom nie, geskryf is deur ‘n man met ‘n uiters vreemde greep op die werklikheid. En selfs dán kan mens hoor dat hy iemand was hoogs orspronklik was. En dis al wat tel.

(Inkomste uit die verkope van hierdie versameling, verneem ek, gaan na liefdadigheid en Barrett se agtergeblewe familie wat hom deur die jare versorg het.)