Yes – Close to the Edge
Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie
The Yes Album kon nog gaan. Fragile was luisterbaar. Maar teen 1972, to hierdie Britse supergroep Close to the Edge produseer, het ek begin met ‘n lewenslange poging om so min as moontlik van hul musiek te luister.
Ek had nogal simpatie met die punks in 1976 toe hulle teen groepe soos Yes gerebelleer het. Dit is net nie moontlik om soveel pretensie in een lewe te moet absorbeer nie.
Maar ek was verkeerd – ten dele. Ek kom onlangs op YouTube af op ‘n konsert-weergawe deur Yes van hul “And You and I”. Verwoed begin ek soek na die bron, en kom tot my verleentheid agter dit is op Closer to the Edge, die album wat ek met soveel genot geïgnoreer het.
Die ding is (besef ek nóú) dat mens moet aanvaar dat jy na fusion-musiek luister, wat nie uit die hek van jazz aangebied word nie (soos byvoorbeeld die Mahavishnu Orchestra hul musiek), maar uit ‘n rock-hoek. Heelwat van die musieksoort se hebbelikhede is nog teenwoordig, en as mens kan vrede maak met Jon Anderson se eentonige tenoor, daar waar dit ‘n paar note in die hoë registers bemeester het, dan sit jy met ‘n proposisie, want Rick Wakeman (klawerborde), Steve Howe (kitaar), Chris Squire (baskitaar) en Bill Bruford (tromme) was in daardie tyd, 1972, waarskynlik van die heel begaafdste rock-musici op hierdie planeet, en dalk verskeie ander.
Die album bestaan uit drie snitte, Close to the Edge (verdeel in “The Solid Time of Change”, “Total Mass Retain”, “I get Up I Get Down” en “Seasons of Man”), And You And I (verdeel in “Cord of Life”, “Eclipse”, “The Preacher the Teacher” en “Apocalypse”) en Siberian Khatru.
As mens ‘n kort begrip wil hê van hoe vlak die pretensie lê, dan hoef jy net die openingstrofe van Syberian Khatru te luister:
Sing, bird of prey;
Beauty begins at the foot of you. Do you believe the manner?
Gold stainless nail,
Torn through the distance of man
As they regard the summit.
Ná Close to the Edge het die groep ‘n paar lede verloor en nuwes bygekry, en die pad heeltemal byster geraak met Tales from Topographic Oceans, wat allerweë beskou word as een van die grootste vergrype ooit deur ‘n supergroep.
Maar vir die oomblik moet ek toegee dat ek van Close to the Edge begin hou het, sommer baie, en kwaai vibe daarmee saam terwyl ek my bes doen om nie te hoor wat Anderson sing nie.
Onlangse kommentare