Jy blaai in die argief vir 2010 September.

by ctb

Roy Harper – Death or Glory?

September 28, 2010 in Sonder kategorie

Hierdie CD is oorspronklik in 1992 uitgereik en kon alleen deur posbestelling bekom word. Ek het dit nou uiteindelik ingehaal, en die album se vreemde melankolie begin stadigaan sy betowerende greep op my verstewig.

Death or Glory Is geskep direk ná Harper van sy vrou Jaqui geskei het. Na die skeiding het hy eers besef wat hy verloor het. “Toe ek haar verloor het in 1992, het dit vir my gevoel of ek ‘n lang ruk my wil om te leef verloor het,” skryf Harper op sy webwerf.

“Die album wat ek destyds gemaak het, is ‘n goeie album – in vermomming,” sê Harper.

Daar is ‘n aantal van die liedjies wat vandag ‘n bietjie skel aandoen, veral dié oor die euwels van oorlogvoering. Maar wanneer die emosionaliteit oorneem en Harper se gevoelens blootgelê word, gee dit ongelooflik mooi musiek af.

Twee daarvan, “Evening Star” en “On Summer Day” hak ek hierby aan. “Next to me” is gelukkig nie op YouTube beskikbaar nie – die snit waar Harper die stukkies van sy gemoed van die vloer probeer optel. Dis baie moeilik om te beluister – mense wat in liedjies ineenstort, is nie musikaal plesierig nie.

Maar die eerste videogreep hierby is van die hoogtepunt op die plaat – die snit “Miles Remains”, wat ‘n huldeblyk is aan die groot jazz-trompetblaser Miles Davies. Dit is eenvoudig verstommende stuk musiek, en dit klink op plaat nog beter as wat hierdie skitterende konsertopname mens laat agterkom.

Net vir die interessantheid plaas ek ook die lirieke van dié liedjie, sodat die inleidende opmerkings by die liedjie nie té verbysterend is nie:

 

Miles away and gone

Half my life passed on

A spirit now

In leaves that blow

And leaves a world

To you and me

To everyone


 

 

by ctb

Maarten van Roozendal

September 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek kon geen biografiese inligting oor Maarten van Roozendaal opspoor nie, maar moet erkenning gee aan Etienne Posthumus wat uit Amsterdam via Ansie Kamffer laat weet het hiervan.

Om van te huil, so mooi!

by ctb

Einstürzende Neubauten

September 21, 2010 in Sonder kategorie

 Nou kan ek dit seker nie langer ontken nie – ek het Einstürzende Neubauten se musiek amper dertig jaar lank vermy. Mens tref hulle op ‘n dag wat jou luim so laag is soos die nat vloere van ‘n openbare toilet, en vir die res van jou lewe beskou jy hulle as ‘n klomp pretensieuse Duitsers wat post-modernistiese rock wil maak, alles onder die vaandel van die diepsinnige naam “Ineenstortende Nuwe Geboue”, maar hul diep is ook lekker vlak. Ek bedoel ….

Maar Ansie Kamffer stuur vir my ‘n URL aan wat lei na Einstürzende Neubauten se “The Garden” en skielik besef ek dat ék die dom ene was.

Goed, hul soort industriële rock, waarin ‘n magdom slag- en weird instrumente figureer, almal gelig uit die daaglikse ommegang van iemand wat skynbaar tussen fabriekvloer en simfonie-konsertsaal pendel, sal nie aan almal se idee van melodiese meevoering beantwoord nie.

En die feit dat Blixa Bargeld, die sanger en hooffiguur, baie beïndruk is met homself en ‘n intense liefdesverhouding met die kamera het, maak dit ook nie makliker nie.

Maar sodra mens die visuele by die klank bring, verander alles. Skielik kan jy Bargeld en sy makkers se teatrale voorstellings van musiek verstaan. Hul gebruik van installations en die betekenisvolle voorstelling van lirieke maak sin, en jy moet dit omtrent benader as ‘n soort avant-garde gebeurtenis, van die soort wat Chris Pretorius jare gelede in die Glas-Teater in Kaapstad op die planke gebring het. Gebare het betekenis, maar word ook vervreem van konvensionele lyftaal.

Daar is n strakheid aan Bargeld se optrede, maar dit werk. Die manier waarop hy byvoorbeeld slaag om “The Garden” met ‘n gil af te sluit terwyl strykers bo-oor die industriële klanke skarrel, wek onmiddelik die illusie van ‘n musikale eggo van Edvard Munch se skildery “Die gil”.

Ek hak hierby ‘n klomp van Einstürzende Neubauten se musikale “opvoerings” vir die TV-kamera aan. Geniet, maar wees versigtig vir die CDs!

Naskrif: Blixa Bargeld (regte naam is Hans Emmerich) het van 1983 tot 2003 ook diens gedoen as kitaarspeler in Nick Cave se Bad Seeds. Cave het Bargeld in Amsterdam hoor sing, en was só begeester deur die buitewêreldse hartseer van Bargeld se voorkoms dat hy hom gevra het om met hom saam te werk.

 

 

by ctb

Crosby, Stills, Nash & Young – Déjà Vu

September 9, 2010 in Sonder kategorie

 

Een van die top albums van die jare sewentig – en beslis een van die groot uitreikings van moderne rock-musiek sedert die dae van Elvis Presley tot nou. Déjà Vu (1970) was David Crosby, Stephen Stills en Graham Nash se tweede album saam, en die eerste saam met Neil Young, wat in 1969 by die groep aangesluit het kort voor die fameuse Woodstock-fees.

Wat ookal later in die lede se loopbane gebeur het, hierdie album is die punt waar ten minste drie van die lede die toppunt van hul kreatiewe loopbane bereik het, en die vierde (Young) se bydraes (as liedjieskrywer) van só ‘n aard was dat dit feitlik alles anders op die album verdwerg het – maar binne die konteks van sy loopbaan is dit nie noodwendig sy beste werk nie.

Die album open met “Carry On”, ‘n amper ongelooflik verwikkelde liedjie waar feitlik al die lede (met uitsondering van Young) kans kry om opvallende musikale bydraes te lewer. Hoekom Young nie daarop te hoor is nie, weet nugter alleen – dit het moontlik te make met die knaende struwelinge en spaning tussen hom en Stills. Stills, die komponis van die liedjie, is eenvoudig briljant: sy bydraes as baskitaarspeler, orrelis en kitaarspeler staan uit, en boonop is die samesang gedoen aan die hand van sy verwerkings.

Daarna volg die bekende “Teach your children”, ‘n ietwat soetlike liedjie deur Graham Nash, maar wat merkwaardig gemaak word deur Jerry Garcia (van die Grateful Dead) se bydrae met die pedaal-staalsnaarkitaar.

Dit word gevolg deur Crosby se “Almost cut my hair”, ‘n musikaal besonderse liedjie, maar met lirieke wat Crosby seker vandag nog sy kop in skaamte laat sak. Infantiel.

Daarna kom Young se “Helpless”, ‘n eenvoudige country-liedjie met hartseer-mooi sang deur Young. Dit was die eerste aanduiding dat hy as solo-kunstenaar ‘n nuwe rigting inslaan (later in 1970 bevestig deur sy briljante After the Gold Rush).

 

Die enigste liedjie wat nie deur lede van die groep geskryf is nie, “Woodstock”, het gekom uit die pen van Joni Mitchell, Nash se vriendin van daardie tyd, waaroor die liedjie “Our house” ook later handel. “Woodstock” was ‘n ligte treffer vir die groep, maar dit is nie werklik die uitstaan-snit op die album nie.

Die titelsnit is gekomponeer deur Crosby, en is ook uitgevoer sonder bystand van Young. John Sebastian het wel bekfluitjie geblaas daarop. Dit is ‘n besonderse liedjie wat vir ewig onder jou aandag uit wil dans. Stills is die enigste lid van die groep wat speel op “4 + 20”, sy eie komposisie.

Hy en Young het  die sluitsnit, “Everybody I Love You” saam gekomponeer, die enigste snit op die album wat in peil nie heeltemal dáár is nie.

Dit laat ons met die hoogtepunt van die album, Neil Young se “Country Girl”. Dit is bitter moeilik om hierdie liedjie te beskryf sonder om in clichés te verval. Dit is die betowerendste snit wat Young gelewer het sedert hy twee jaar vantevore “Expecting to Fly” vir Buffalo Springfield opgeneem het – ‘n liedjie in drie bewegings met CSN&Y wat dit hul volle longe gee, met musisering van die hoogste gehalte.  In die laaste beweging is daar ‘n kombinasie van orrel en bekfluitjie agter Young se stem wat ‘n mens eenvoudig oor en oor wil hoor. Dít is vir my die toppunt van alles wat CSN&Y ooit as groep kon en sou bereik.

Ek hak die liedjies aan met slegs die illustrasie van die album se omslag. Die groep het meeste van die materiaal op die verhoog uitgevoer, maar nooit so goed soos op hierdie album nie.

 

 

by ctb

Spirit – Twelve Dreams of Dr. Sardonicus

September 2, 2010 in Sonder kategorie

Ek luister nou al veertig jaar na hierdie album en het nog nie moeg geword daarvan nie. Dit is een van daardie handjievol plate waarvoor mens tyd afsonder in jou program en dan sorg jy eenvoudig dat jy eenmaal per jaar gehaltetyd daarmee deurbring. Sardonicus is ‘n baken in rock-musiek en die wonder daarvan is dat die twaalf snitte elkeen in ‘n ander rigting baanbrekerswerk vir rock-musiek gedoen het.

Die album was die laaste waarop die “klassieke” formasie van die groep behoorlik saam musiek gemaak het. Die lede was Jay Ferguson (sang, klawerborde, slagwerk), Randy California (sang, kitaar, baskitaar), Mark Andes (baskitaar, sang), John Locke (klawerborde) en Ed Cassidy (tromme, slagwerk). Met bykomende koperblasers.

Die album is in 1970 uitgereik, en gemaak met David Briggs as produksieleier – op aanbeveling van Neil Young. Met Briggs se leiding, en John Locke se oorsigtelike beplanning van die album as ‘n nuwe soort “art rock”, en talle persoonlikheidsbotsings onder die lede van die groep het alles saamgespan om elk oomblik van musiek ‘n interessante gebeurtenis te maak.

Formeel beskou vermeng die groep hier rock, jazz en folk-musiek, alles onder die sambreel van psigedeliese rock. Daar is voorspooksels te hoor van space rock, van glam rock. Groepe wat later hul skatpligtigheid teenoor die album gesinjaleer het, was Steely Dan (vgl die ooreenkomste tussen die intro van hul liedjie “FM” en een van die snitte op Sardonicus, “Space Child”) en Iron and Wine. Randy Newman het ‘n slag sy kepsie in hul rigting getip en dit word algemeen aanvaar dat Marc Bolan van T Rex oorgeslaan het na elektriese kitaarmusiek nadat hy Sardonicus gehoor het. Ek weet nie of mens Spirit hoegenaamd daarvoor moet dankbaar wees nie.

Informeel beskou is Sardonicus een van daardie plate wat soveel wonderlike dinge bevat dat mens nie weet waar om te begin nie. Ek probeer altyd in gedagte hou dat Randy California net 19 was toe hy hier gespeel het – onthou, hy was net 15 toe hy sy plek in die Jimi Hendrix Experience verbeur het omdat hy nie saam kon reis na Brittanje. Sy ouers het daarop aangedring dat hy eers skool klaarmaak.

California se kitaarspel  en die fabelagtige manier waarop hy met Andes se baskitaar en Locke se klawerborde kombineer is die sleutel tot die album se krag. Op die 1996-heruitreiking (op CD) van die album kan mens vir die eerste keer hoor hoe subliem die groep saam kon speel op “Space Child”, met California wat ‘n tonale tour de force op verskeie plekke prakseer.

Jay Ferguson se “Mr Skin”, met sy koperblasers vir Afrika is ‘n snit wat my met die verloop van jare al hoe meer aangespreek het. (Ferguson het later naam gemaak as komponis van film- en TV-musiek – onder meer die temamusiek van NCIS Los Angeles). Mark Andes se welsprekende baskitaar is op elke snit opvallend, maar die beste op “Animal Zoo”.

Ander dinge om voor uit te kyk: die eksperimentering op “Love has found a way”, die kitaar-extravaganza op “Why can’t I be free”, die afwisseling tussen ewewigtigheid en brute krag op “When I touch you”, die vindingrykheid van die groep met die verskeidenheid klankskakerings wat hulle op “Street Worm” uitbou, die kragtoere “Life has just begun” en “Morning will come”.

Dit laat twee “drome” ongenoem: “Nature’s Way”, ‘n snit wat in eie reg beroemd geword het as ekologiese wekroep en “Soldier, die album se “crowning glory”, die wyds gespasieerde, trippieste nugter liedjie wat ek nog ooit gehoor het.