Iggy Pop and the Stooges – Raw Power
Augustus 30, 2010 in Sonder kategorie
Volgens die Britse joernalis Nick Kent is Raw Power die beste, suiwerste rock-plaat wat in die jare sewentig gemaak is. Ek wonder waar plaas Kent dan Led Zeppelin se vierde album, maar dit tersyde. Raw Power is ‘n album vir mense wat musiek met sommer baie skop verkies. Dít het Kent ten minste heeltemal reg.
Eintlik is Iggy Pop ‘n baie intrigerende figuur. Sy regte naam is Jim Osterberg, en soos hy dit self stel, is hy ‘n bewys dat “trailer trash” ook iewers in die lewe kan kom. Osterberg het grootgeword in ‘n karavaan in Muskegon, Michigan, en hoewel hy aanvanklik ‘n tromslaner wou word, het die verhoogoptrede van Jim Morrison tydens ‘n Doors-konsert wat Osterberg in 1967 bygewoon het hom só geïnspireer dat hy ‘n mikrofoon gegryp en begin sing het.
Sy verhoognaam het hy gekry na aanleiding van een van die eerste groepe waarvan hy lid was, The Iguanas. Nadat hy The Stooges gestig het, het die groep twee baie doelgerigte rock-plate gemaak: The Stooges (1969) en Fun House (1970). In hierdie tyd het hy die eerste ding gedoen wat hom ewige roem sou besorg: Tydens ‘n konsert in Detroit het hy van die verhoog af in die gehoor in geduik.
Van sy ander eksentrisiteite op die verhoog het ingesluit die langdurige ontbloting van sy manlike orgaan (volgens oorlewering het Osterberg die grootste orgaan in die besigheid) en vomering op die verhoog (veral wanneer Osterberg, ‘n heroïen-verslaafde, homself kort voor die aanvang van die konsert ingespuit het).
Osterberg se Iggy Pop-persona was berug vir sy nihilistiese uitkyk op die lewe en sy hedonistiese lewensstyl wat gesorg het mense soos David Bowie en Lou Reed (volgens Nick Kent in sy skitterende boek Apathy for the Devil) sy geselskap al van die vroeë sewentigs opgesoek het.
Bowie het Osterberg omgepraat om sy groep na Londen te neem, waar Osterberg se dwelmhandelaar hom nie so maklik in die hande kon kry nie. Die Stooges het ná Fun House ontbind, maar Bowie en Osterberg het Ron en Scotty Asheton (baskitaar en tromme) weer laat kom en die Stooges het Raw Power toe in Londen opgeneem, met James Williamson as kitaarspeler.
Raw Power is met totale gebrek aan geesdrif deur die resensente begroet toe dit in 1973 uitgereik is. Dit was, alles in ag genome, die jaar waarin barre, onpretensieuse rock-musiek nie die toon aangegee het nie. Raw Power moes meeding met die Floyd se Dark Side of the Moon, Elton John se Goodbye Yellow Brick Road, David Bowie se Aladdin Sane, Roxy Music se For your pleasure, Alice Cooper se Bilion Dollar Babies en Paul McCartney & Wings se Band on the run.
Met die verloop van tyd het dit egter duidelik geword dat Raw Power aansienlik meer invloed en musikale integriteit had as baie van die plate uit daardie jaar. Dit word tans beskou as ‘n onignoreerbare bousteen in die geskiedenis van rock-musiek – Kurt Cobain van Nirvana het dit aangedui as sy gunsteling album, en dit had ook ‘n bepaalde invloed op die musiek van kunstenaars so uiteenlopend as Henry Rollins en die Sex Pistols.
As mens die oorspronklike uitgawe van die album vandag beluister, is die klank effens aan die dunnerige kant. Mens kan dit nie op primitiewe apparaat blameer nie – luister maar wat die Floyd, Bob Marley, Steely Dan en ander kanstenaars in dieselfde tydperk vermag het.
Die rede vir die yl klank was dat Osterberg in sy voortvarendheid die klankvermenging totaal opgeneuk het deur die musiek in die linkerkantste stereobaan te plaas en die sang in die regterkantste baan – amper soos jare vantevore met Sgt Pepper’s gebeur het. Omdat Osterberg self die produksieleier was, wou hy niemand toelaat om daarmee te peuter nie. Sy bestuur het toe daarop aangedring dat David Bowie die klankvermenging moet oordoen, wat hy binne een dag moes afhandel. Bowie het dit gedoen, maar Osterberg het geweier dat Bowie “Search and destroy” herstel.
Had Bowie meer tyd, sou die klank bes montlik ‘n bietjie meer lyf en warmte gehad het.
Hoe ookal, Raw Power is ‘n belewenis en moet met die klankvolume hoog oopgedraai geluister word.
Onlangse kommentare