The Herd – Paradise Lost
Julie 28, 2010 in Sonder kategorie
Dit klink simpel om dit te sê, maar meeste roemryke loopbane het iewers in onsekerheid en met halwe treffers begin. Peter Frampton het met Humble Pie en later op sy eie groot roem as rock-kunstenaar verwerf. Andy Bown het jare lank die klawerborde vir Status Quo gespeel. Albei het hul loopbane in The Herd begin.
The Herd het in die vaarwater van flower power en die wilde psigedeliese somer van 1968 hul naam op die treffersparades gekry met liedjies wat tegelyk eersteklas pop musiek was én psigedeliese elemente bevat het.
Hul eerste kortspeler, “I can fly” (ja tannie, dis ‘n verwysing na LSD), is vir hulle geskryf deur hul bestuurders, Ken Howard en Alan Blaikley – dieselfde paar wat die loopbaan en musiek van Dave Dee, Dozy, Beaky, Mick & Tich “bestuur” het. Waar laasgenoemde een van die oëverblindery-groepe was wat uit die ateljee-omgewing na vore gekom het (die groep het nie op al hul plate gespeel nie), was The Herd ongelukkig vir Howard en Blaikley baie ernstige musici.
Soos mens kon verwag is Howard en Blaikley onder hul jiste geskop en het Peter Frampton en Andy Bown meeste van die liedjies op hul eerste langspeler, Paradise Lost (1968) gekomponeer.
Frampton was ‘n wonderskone jongeling wat net 16 was toe hy by The Herd aangesluit het. Binne ‘n ommesientjie het al wat ‘n tienertydskrif is hom aangewys as die mooiste mens op Gods aarde. Gelukkig kon hy kitaar speel dat die hel op hom staan en had hy ‘n stem wat in skerp kontras gestaan het met sy hoë wangbene en aknee-vrye vel.
Die groep se eerste twee kortspeeltreffers, “From the underworld” en “Paradise Lost” was nie vry te spreek van pretensie nie – dit het onderskeidelik aangesluit by die Griekse mitologie en die werk van die digter John Milton. Maar die musiek was betowerend mooi en die komposisies formule-perfekte pop.
Hul derde kortspeler, “I don’t wan’t our loving to die”, het vir hulle ‘n deurbraak in die VSA gebring. Dié liedjie tel na al die jare nog as een van my persoonlike gunstelinge – ‘n vreemde soort oer-hip hop.
Ná “I don’t wan’t our loving to die” het die groep uitmekaargespat. Bown het hom op ateljeewerk toegespits, ‘n paar jaar lank vir Framton baskitaar gespeel, en in die agtergrond die klawerborde op meeste van Status Quo se albums gespeel totdat hy in 1976 gevra is om ‘n permanente lid van die groep te word.
En waar Frampton eers saam met Steve Marriott (ex-Small Faces) in Humble Pie en later as solo-kunstenaar in eie reg roem behaal het, was Bown bestem om een van daardie musici te word op wie se nommer meeste groot kunstenaars elke nou en dan druk. Onder meer was hy die baskitaarspeler van die sogenaamde Surrogate Band tydens Pink Floyd se The Wall-konserte in 1980 en 1981, en het ook klawerborde in die plek van Rick Wright gespeel op Pink Floyd se se The Final Cut.
Bown het ook twaalfsnaar-kitaar en Hammond-orrel gespeel op Roger Waters se The Pros and Cons of Hitchhiking-konsertreis in 1984, maar daarna het hy tot dieselfde insigte as Rick Wright gekom en Waters soos die pes vermy.
Onlangse kommentare