Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

by ctb

The New Pornographers – Challengers

Junie 29, 2010 in Sonder kategorie

 

TNP is ‘n Kanadese indie-groep – op ‘n manier. Die groep bestaan uit musici wat almal aktiewe lede van ander groepe is, of self solo-loopbane aan die gang het. Maar hulle deel ook ‘n vreemde estetiese ideaal – om die ou konsep van “power pop” te laat herleef.

 

Die lede is Dan Bejar (van Destroyer, Swan Lake en Hello, Blue Roses), Kathryn Calder (Immaculate Machine), Neko Case (solo-kunstenaar, maar ook lid van Maow, die Corn Sisters en Cub), John Collins (The Evaporators), Kurt Dahle (Limblifter en Age of Electric), Todd Fancey (solo-kunstenaar, asook lid van Limblifter), Carl Newman (hy tree op as die solo-kunstenaar A.C. Newman, maar is ook lid van Superconductor en Zumpano), en Blaine Thurier (wat ‘n rolprentmaker van nering is).

 

Die groep kry dit reg om hul pop-ideale te verwesenlik deur veral hul sang – Newman, Bejar, Case en Calder tree om die beurt as hoofsanger op terwyl die ander die agtergrondsang verskaf. Newman en Bejar skryf hul musiek.

 

Die naam? Ofskoon die Kanadese media wyd berig het dat die groep se naam ‘n verwysing is na iets wat die Amerikaanse tele-evangelis Jimmy Swaggart gesê het (rock-musiek is die nuwe pornografie), hou Newman vol dat hy die groep só gedoop het na die sien van ‘n Japanse rolprent getiteld The Pornagraphers.

 

Hul albums tot dusver: Mass Romantic (2000), Electric Version (2003), twin Cinema (2005), Challengers (2007) en Together (Mei, 2010). Mass Romantic is in 2007 aangewys as die 24ste beste indie-album van alle tye deur die tydskrif Blender. Volgens die Rolling Stone-tydskrif was Electric Version een van die 100 beste albums van hierdie dekade.

 

As jy nuuskierig geneg is, begin luister by Challengers  die mees toeganklike, popperigste van hul albums.

 

by ctb

Bill Wyman’s Rhythm Kings

Junie 23, 2010 in Sonder kategorie

 

Toe die rock-kitaarspeler Peter Frampton elf was in 1961, was hy ‘n lid van die pop-groep  The Preachers, wie se bestuurder Bill Wyman van die Rolling Stones was. Amper veertig jaar later speel hy kitaar in Bill Wyman’s Rhythm Kings, ‘n groep wat aan die konsep swaaibal kosmiese dimensies gee.

Frampton is een van verskeie groot name wat in Wyman se Rhythm Kings gespeel het sedert hy in 1997 met hierdie nuwe deel van sy loopbaan begin het.  Die amper permanente kern van die groep (so bykans permanent as wat bykans kan kom) is Wyman (baskitaar), Graham Broad (tromme), Georgie Fame (orrel), Albert Lee en Terry Taylor (kitare), Gary US Bonds (sang), Mick Taylor (kitaar), Jack Bruce (baskitaar), Beverley Skeete (sang) en Gary Brokker (einste hy van Procol Harum as klavierspeler).

Wyman het die Stones in 1992 verlaat omdat hy keelvol was van die lang hiate tussen hul konserte, en omdat hy dik was daarvan om na Mick Jagger se dartelende skraal figuur en fameuse boude voor hom op die verhoog te kyk.

Met Terry Taylor as musiekvennoot (hul verbindtenis strek terug na die laat sestigs) het hy ná ‘n paar flouerige solo-plate en die kortstondige Bootleg Kings-projek uiteindelik die Rhythm Kings aan die gang gekry. Hulle het tot op datum al ses albums en twee DVDs agter hul naam, maar hulle spits hulle meer op konserte toe.

Die plesier van hul musiek lê daarin dat niemand eintlik iets moet bewys nie. Daar is ‘n rustigheid en kalmte wat mens eintlik geen ander keuse gee as om self taamlik hups in jou stoel te sit en word nie. Luister maar hoe sing Brooker “Daydream”, of Skeete die ou Rascals-treffer “Groovin’”.

Kyk na die videogrepe hierby. George Fame sing en werk die karma agter sy orrel, Gary Brooker geniet hom so gate uit dat hy soms agter sy klavier opstaan net sodat hy weer kan sit.

Op ‘n manier herinner hul musiek aan JJ Cale in ‘n katoolse bui, en net sodra jy gewoond is daaraan, kom daar suggesties van goeie, deurleefde blues, en dan, onverwags, iets van Brian Setzer se bop. ‘n Regte musikale hutspot, maar nie een van hul albums het ‘n teleurstellende snit op nie.

Gaan soek dit!

Hul albums is:Struttin’ Our Stuff (1997), Anyway the Wind Blows (1999), Groovin” (2000), Double Bill (2001), Just for A Thrill (2004) en Rhythm Kings (2006).

Bill Wyman word op 24 Oktober vanjaar 74.

 

 

 

by ctb

Eagles – Desperado

Junie 21, 2010 in Sonder kategorie

 

Dis moeilik om te glo dat die groot Amerikaanse supergroep die Eagles, wat so skouspelagtig irrelevant geword het in die jare negentig, in ‘n stadium beskou is as dié nuwe aangesig van country-musiek – totdat hulle met Desperado vorendag gekom het in 1973. Wat begin het as Linda Ronstadt se konsert-begeleiers in 1971, het skielik in 1973 ‘n koersverandering gehad wat rock-musiek tot vandag toe beïnvloed het.

Ronstad se groep het toe bestaan uit Bernie Leadon, Glenn Frey, Don Henley en Randy Meisner.

Die groep se groot geluk was dat David Geffin en Eliot Roberts toe pas Asylum Record begin het, met die hoofdoel om Jackson Browne se musiek uit te reik. Naas Browne het hulle ook vir Judee Sill, Linda Ronstadt en Joni Mitchell onder kontrak gekry. Om hul kanse op welslae te vergroot, en om meer uitlaatplekke vir Browne se talent te kry, het Geffin vir Ronstadt se groep omgepraat om hul eie pad te loop – en onder die naam van die Eagles.

Daarom was hul eerste album, Eagles, ietwat onverwags ‘n reusagtige treffer wat die brug tussen country- en rock-musiek gespan het en beskou is as die eerste album sedert die Flying Burrito Borthers se Gilded Palace of Sin (1969) wat werklik substansie gegee het aan hierdie nuwe genre. Die treffers was “Take it easy”, “Witchity Woman” en “Peaceful Easy Feeling”.

Aanvanklik is gedink dat die groep se rigting bepaal sou word deur die lid wat die natuurlikste komponis en mees begaafde musikus was, naamlik Bernie Leadon. Leadon se smaak het sterker na country as na rock geneig, maar hy was ‘n alleenlopers en stil faktor, baie soos Clarence White ‘n paar jaar vantevore in die Byrds was.

Met Desperado se opnames het dit skielik duidelik geword dat Leadon eerder leiding ontvang as gee, en dat Don Henley en Glenn Frey saam ‘n baie beter proposisie was as komponiste. Skielik is Leadon se bydraes beperk tot twee liedjies (“Twenty-One” en “Bitter Creek”) terwyl die Henley-Frey-komposisies ‘n mens dadelik laat besef het dat jy hier met iets spesiaals te doene het.

Die album het een liedjie opgelewer wat as klassieke country-rock beskou word (“Tequila Sunrise”) en verskeie ander wat binne die Eagles se liedereskat onder hul bestes gereken kan word: “Desperado”, “Dooli-Dalton”, “Out of Control” en “Saturday Night”.

Die album is gebou rondom ‘n uitgebreide metafoor waarin die wêreld van rock-sterre vergelyk word met dié van outlaws in die Amerikaanse Wilde Weste. Die musiek sluit daarby aan, en dit is veral Leadon wat gedy en kans kry om sy volle arsenaal van kitaar, banjo en mandolien te benut. Die styl is nie suiwer country-rock nie – eerder americana, iets van alles, sonder dat een styl ooit oorhand kry.

Ek verkies dié album bo meeste van hul latere werk om die eenvoudige rede dat die latere werk té wisselvallig is. Té veel vullers, té min gehalte. En bowendien verkies ek die romantiek van die wilde weste bo die lugubere romatiek van dwelm-gomgattigheid rondom Hotel California (1976) en daarna.

 

 

by ctb

Television – Marquee Moon

Junie 18, 2010 in Sonder kategorie

 Soms kan mens jouself net troos dat niemand iets kan verstaan as hulle nie self destyds dáár was nie. As mens vandag na die top-albums van die punk- en New Wave-eras luister, is dit vrek moeilik om ‘n hele album op ‘n slag deur te luister. Soveel onmusikaliteit, soveel foute, so min wat die luisteraar werklik uitdaag.

Maar aan die ander kant …

Toe punk in 1976 opdaag, was die liefhebbers van pop-musiek besig om vratte in hul ore te kry weens té veel van die Eagles, Electric Light Orchestra (ELO), Yes, Rick Wakeman en Pink Floyd. Die mode-dwelm pre-1976 onder die rock-sterre was kokaïen. In die ateljees het hulle opnamebanke met meer as tientalle kanale nodig gehad om die musiek in volle glorie op te neem. Niemand kon musiek maak sonder die bydraes van ‘n klawerbord-virtuoos nie.

Punk was in feitlik alle opsigte net ‘n houding. Die groepe het kitaar gespeel, of hulle nou kon of nie. (Kan mens ooit die Sex Pistols se weergawe van “My Way” vergeet?)  Sing? So atonaal as moontlik, met plek vir ‘n snedige bektrek by die laaste sillabes van elke versreël. Gelukkig kom daar uit só ‘n chaotiese benadering altyd iets goeds, in hierdie geval die musiek van die New Wave.

Television, ‘n Amerikaanse groep, word daarmee gekrediteer dat hule ‘n groot invloed gehad het op punk en die New Wave – nogal ‘n moeilike gedagte, want die groep was deel van dieselfde tydvak. Nietemin, die groep se twee kitaarspelers, Tom Verlaine en Richard Lloyd, het beslis ‘n enorme invloed gehad op die herstel van vakmanskap en kundigheid onder kitaarspelers. Die groep se baskitaarspeler was Fred Smith (eens van Blondie) en die tromslaner was Billy Ficca.

Verlaine is ‘n enigmatiese, charismatiese persoon. Hy is Thomas Miller gedoop, maar het die van Verlaine as verhoognaam aangeneem om aan te sluit by die Franse simboliste, en spesifiek die digter Paul Verlaine. Tom Verlaine had ook aspirasies as digter, en was in ‘n stadium die minnaar van Patti Smith. Hy het in dieselfde New Yorkse kringe as Smith en die fotograaf Robert Mapplethorpe beweeg.

Verlaine had ‘n jazz-agtergrond en geen groot liefde vir enige rock-kitaarspelers nie. Trouens, hy het homself leer kitaar speel, en had nooit enige aanvoeling vir die deeglik uitgewerkte frasering van rock-licks nie. Dit klink letterlik altyd asof hy te stadig speel – maar die rede is dat jy geen clichés in sy spel sal vind nie.

Hul groot album was Marquee Moon (1977). Wat mens onmiddelik opval, is dat Verlaine en Lloyd, anders as die kitaarspelers van die punk-era, hoegenaamd geen klankdistorsie in hul spel gebruik nie. Die musiek herinner baie aan dié van die Britse groep Wishbone Ash en die Amerikaners Quicksilver Messenger Service, wat albei hul klank-identiteit gebou het rondom die aaneenskakelende klanke van twee hoofkitare. (Om te hoor waar distorsie ‘n groot invloed het by hierdie soort formasie, luister gerus na die musiek van Lynyrd Skynyrd.)

Wat Verlaine wel doen, is om die tremolo-arm van sy kitaar baie deeglik te gebruik, wat dan te hoor is in die baie vibato in die musiek. Wat Verlaine (en saam met hom Lloyd, want hul style stem ooreen en vul mekaar aan) laat uittroon bo die ander kitaarspelers van die New Wave-era, is sy benadering tot rock-frasering, sy aandrang op skerp tonale omlyning, en die aandrang op ineenvloeiing van note (legato) soms, en die absolute afwesigheid van legato wanneer mens dit wel verwag.

Ek hak hieronder twee snitte van Marquee Moon aan – konsertopnames uit 1977 is nie beskikbaar nie.

Ten slotte: Steeds uitstekende musiek, maar sonder die inagneming van die konteks is dit vandag ‘n bietjie vervelig.

 

 

by ctb

The Call – Reconciliation

Junie 15, 2010 in Sonder kategorie

 

Chris le Roux doen navraag oor ‘n Amerikaanse groep genaamd The Call, en sit ‘n ding aan die gang. Die groep het elf albums gemaak tussen 1980 en 2000 en verskeie van hul liedjies was van só ‘n aard dat hulle wyer gebruik as wat gewone groepe ooit regkry: Al Gore het die groep se “Let the Day Begin” gebruik as kampanje-liedjie met sy poging om in 2000 die VSA se president te word, en talle ander liedjies is in rolprente gebruik om ‘n spesifieke tydsgees vas te vang.

Die gelol tans is dat geen Internet-handelaar enige van The Call se elf albums verkoop nie – buiten iTunes, waartoe Suid-Afrikaners nie toegang het nie. Ek het uiteindelik ‘n eksemplaar met die hulp van Rapidshare in die hande gekry. As jy bereid is om ‘n bietjie te wag, kan jy ‘n CD van Amazon bestel.

Ek het hul deurbraak-album, Reconciled, opgespoor op ‘n blogsite wat afgestaan word aan sonderlinge Christelike musiek. Later meer daaroor.

Reconciled is in 1985 gekomponeer en opgeneem. Dit was die jaar toe die SABC vir Stevie Wonder se musiek van die lug verban het omdat hy ‘n Oscar vir klankbaanmusiek ontvang het en in sy danksegging die prys opgedra het aan Nelson Mandela. Dit was die jaar waarin Ronald Reagan en Margaret Thatcher die groot internasionale kitaar geslaat het. Dit was die jaar waarin Michael Jackson die publikasieregte van die Beatles se musiek voor Paul McCartney se neus weggeraap het op ‘n veiling. Dit was die jaar van Live Aid en Farm Aid. Amadeus het die Oscar vir die beste fliek gewen.

Die groot musiekalbums van daardie jaar was Phil Collins se No Jacket Required, Sade se Diamond Life, Dream into action van Howard Jones, DeBarge se Rhythm of the Night, Paul Young se The Secret of Association, die Eurythmics se Be Yourself Tonight, REM se Fables of the Reconstruction, die Pointer Sisters se Contact, Simply Red se Picture Book, Midge Ure se The Gift, Level 42 se World Machine, Sheena Easton se Do You en die klankbaanmusiek van St. Elmo’s Fire. Die grootste kortspeeltreffers was “We are the world” van USA for Africa, A-ha se “Take On Me”, Foreigner se “I want to now what love is”, Tears for Fears se “Shout” en Madonna se “Into the Groove”.

Wat die groep vir my so luisterbaar maak, is die tipiese klankproduksie van die jare tagtig. Die tromme (wat hierdie geval nog fisiek gedonder word deur Scott Musick) staan prominent, meedoënloos, onderlê deur Michael Been se baskitaar en gewone elektriese kitaar, Tom Ferrier se kitaar, en Jim Goodwin se klawerborde wat die borduursel verskaf. Soms herinner Goodwin se spel mens aan A-ha in goeie oomblikke, maar gelukkig is daar twee kitaarspelers wat dinge nugter hou. En húlle sorg dat Reconciled die soort kragtige, voortstuwende rock-musiek is wat mens onthou.

Kritici het tereg daarop gewys dat “I Still Believe” ‘n soort anthemic march is – dit is opruiend in die goeie sin van die woord. Michael Been, die komponis, wil nie die liedjie met enige godsdienstige groep verbind nie, maar die feit van die saak is dat hy ‘n Christen is en die liedjie is ‘n soort alternatiewe gospel classic. Ek sou nogal wat wou gee om The Call op die verhoog te gesien het – al die snitte het genoeg skop in hulle om baie energie op die verhoog op te wek.

Hoe ookal, The Call se musiek het ‘n spirituele element in hul lirieke, en het kommentaar gelewer op die tydsgewrig waarin die groep hulle bevind het.

Drie bekende musici van daardie tyd het die groep bygestaan. Robbie Robertson speel kitaar op “The Morning”, Peter Gabriel sing op “Everywhere I go” en Jim Kerr sing op “Sanctuary” en “Everywhere I Go”.

Soek dit gerus! (Net om te wys hoe hulle verder ontwikkel het, hak ek ook ‘n videogreep van “Let the day begin” aan. Dit kom uit 1989.)

 

 

by ctb

James Taylor – James Taylor

Junie 6, 2010 in Sonder kategorie

In 1970 het die Beatles se Apple-platemaatskappy die eerste plaat deur ‘n buitelandse kunstenaar op dié etiket uitgereik – James Taylor se eponieme debuutalbum. Taylor is tans weer in die nuus danksy ‘n groot konsertreis saam met Carole King.

Sy debuut was in baie opsigte fabelagtig. Die Beatles, en veral Paul McCartney en George Harrison, was mal oor Taylor en sy musiek.  Omdat die album in 1968 tussen Julie en Oktober in Londen opgeneem is, terwyl die Beatles in ‘n ateljee langsaan besig was met die opnames van die White Album, het Taylor baie met hulle te doen gehad.

McCartney en Harrison is te hoor op een van die snitte, “Carolina on my mind”. Die titel van “Something in the way she moves” het aanleiding gegee tot Harrison se “Something” wat later op Abbey Road  sou verskyn.

Daarbenewens was McCartney die een wat daarop aangedring het dat Paul Hewson ingeroep word om die skrapse instrumentasie aan te vul met orkes-begeleiding en ander versierings. Daarom kry mens byvoorbeeld op die eerste snit, “Don’t Talk Now”, ‘n klavesimbel wat met ‘n akoestiese kitaar meeding om ons aandag.

Hierdie versierings klink vandag koddig, omdat hulle so duidelik onnodig is. Maar dit maak ook van die plaat ‘n eienaardigheid binne Taylor se oeuvre – ‘n dompeling in romantiek wat so wars is van die musiek wat hy op sy volgende album, Sweet Baby James gemaak het.

Die ander wetenswaardigheid is dat Taylor in 1968 van New York na Londen verhuis het in ‘n poging om ‘n skoon begin te maak nadat hy eers jare lank in ‘n inrigting vir mense met sielkundige probleme was en dáár gematrikuleer het, en daarna verslaaf geraak het aan heroïen.

In Londen was hy aanvanklik “skoon”, maar tydens die opnames van hierdie album het weer met heroïen slaags geraak. Hy het die verslawing eers in 1983 finaal kon beëindig.

 

by ctb

Bee Gees – Odessa

Junie 4, 2010 in Sonder kategorie

 

Die aaklige waarheid is dit niks my ooit sal oortuig dat die Bee Gees tot en met Life in a Tin Can (1973) ‘n swak plaat gemaak het nie. Ek was ‘n tiener tydens die grootste deel van hul eerste, sentimentele periode. Ek het meer buie geken as wat daar trane in ‘n paisley-patroon is.

Soms, wanneer die hormone mekaar se hakskene hap, kon ek na die Bee Gees luister en met ‘n gemoed wat volskiet myself oortuig dat daar geen beter sanger as Robin Gibb is nie. Soveel hartstog, soveel hartseer, soveel onbegrip vir sy diepste hunkeringe en gevoelens.

En in 1969, toe sy lewe self onstuimig raak en hy die Bee Gees verlaat, het ek presies geweet hoe hy voel. Só vlak gekyk deur almal, veral deur sy oudste boetie, Barry-met-die-lekker-tande-vir-boomklim.

Later sou die waarheid uitkom: Robin het gevoel hul bestuurder, Robert Stigwood, trek Barry voor, veral met die besluit dat hul groot kortspeler vir 1969, Barry se liedjie “First of May” sou wees, en nie Robin se “Lamplight” nie. Deur Barry se bemiddeling is die kortspeler toe as ‘n dubbel A-kant uitgereik, wat beteken dat radiostasies self kon besluit watter een van die twee liedjies hulle wou speel. Toe kies meeste van hulle “First of May”, en Robin verlaat die Bee Gees.

Sy besluit is vergemaklik deur die feit dat hy in daardie stadium ‘n dwelmverslaafde was (opkikkers) en nie baie reguit gedink het nie. ‘n Jaar later was hy terug by die groep.

Hoe ook, Odessa (1969), waarop genoemde twee liedjies verskyn, word allerweë beskou as die Bee Gees se musikale hoogtepunt.  Komend ná Idea, wat oorgenoeg stroop had, was Odessa ‘n verstommend goeie plaat: al hoe meer snitte met ‘n sterk narratiewe inslag, musikale style wat wissel van klassiek tot country. Die groep het altyd geprobeer om ‘n goeie sintese van pop-groep en simfonie-orkes te verkry, en hier het hulle daarin geslaag.

Dis vandag nog moontlik om die album dwarsdeur te luister, en net tweekeer sal daar ‘n siniese glimlag by jou uitbars: “Seven Seas Symphony” en “With All Nations”. Pretensieus, maar dis tog mooi musiek.

Groot dele van die album, asook ‘n klompie snitte wat uitgeval het uit die finale keuse, is op die musiekblog  Birds With Broken Wings te hoor.

 

by ctb

The Roling Stones – Exile on Main Street (aangevulde heruitreiking)

Junie 2, 2010 in Sonder kategorie

 

Daar was ‘n tyd, net so uit die greep van die tienerjare, so in die eerste wonderlike huweliksjare, dat ‘n mens vir seker kon weet dat dié eetpartytjies wat nie met ‘n politieke gestryery geëindig het nie, op net twee ander maniere kon afloop. Wanneer die fondue-olie al begin afkoel het en die mense oorgeslaan het van koue Tassies na warm Tassies-glüwein, is daar òf begin sing aan die Beatles se groot treffers vóór Revolver, òf daar is gestry oor watter Stones-album hul beste is.

My gunstelinge was (en is steeds) Aftermath, Beggar’s Banquet en Between the Buttons. Maar daar was destyds geen teenargument as iemand Exile on Main Street nomineer nie. Dis die Stones-album waarvan almal vergeet, totdat iemand dit onthou. Moes die Tassies gewees het.

Die album is in Mei 1972 uitgereik, en in daardie stadium het dit ongelooflik swak resensies gekry. Hier’s die “thumbnail”-resensie wat in Playboy verskyn het – en dit was een van die positiewe resensies!

“The Rolling Stones are into a new thing: music. Well, that’s not quite fair, because they’ve always been more than competent, but Exile on Main St. does tend to bury Mick Jagger’s vocals in the band’s sound and stress the group’s eclectic musical abilities at the expense of words and messages. Which is too bad; we miss Jagger’s mean, smartass trenchancy in most of these tunes. The zingers are on the jacket covers, in photos of assorted freaks, in penciled notes (“I gave you the diamonds, you give me disease”) and in the montages of Mick and the band. In the process of exposing the black roots of the Stones’ music (Gospel, blues and boogie), the album shows how well the Stones can play in a variety of styles. “Shake Your Hips” is a dark, heavy-sounding boogie with a fine ricky-tick riff; Gospel comes on strong in “Just Wanna See His Face” and “Shine a Light”; there are good vocal tracks, like “Let it Loose” with Clydie King, Vanetta Fields, Dr. John, et al.; and the straight-ahead rockers, such as “Soul Survivor,” were never better. But where are the Stones of yesteryear?”

 Robert Christgau, een van die beste rock-kritici van daardie tyd, se kort opsomming (opgeneem in Rock Albums of the 70s, Vermilion Press) is min of meer die volledige waarheid oor dié album:

“More than anything else this fagged-out masterpiece is difficult — how else describe music that takes weeks to understand? Weary and complicated, barely afloat in its own drudgery, it rocks with extra power and concentration as a result. More indecipherable than ever, submerging Mick’s voice under layers of studio murk, it piles all the old themes — sex as power, sex as love, sex as pleasure, distance, craziness, release — on top of an obsession with time more than appropriate in over-thirties committed to what was once considered a youth music. Honking around sweet Virginia country and hipping through Slim Harpo, singing their ambiguous praises of Angela Davis, Jesus Christ, and the Butter Queen, they’re just war babies with the bell bottom blues. A+”


Nou, Exile on Main Street was ‘n dubbel-album, maar dit het destyds met die eerste uitreiking van die album op CD netjies ingepas op een CD. Nou is daar ‘n Anniversary Edition uit, met ‘n bonus-CD waarop tien snitte verskyn wat destyds opgeneem is maar nie die paal gehaal het nie (sommige daarvan is hoorbaar meer onlangs aangesuiwer).

Vir die hierdie gedenk-uitreiking is die hele album opnuut digitaal ge-remaster en die lekkerste beginpunt is om die twee weergawes van “Soul Survivor” met mekaar te vergelyk. Op die bekende een sing Mick Jagger, terwyl die een op die bonus-CD vir Keith Richards agter die mikrofoon het. Onthou, Richards was in 1972 volledig aan heroïene verslaaf, en hy klink gehawend. Maar so halfpad deur trek hy met die kitaar weg en laat die hoendervleis in riwwe op jou arms uitslaan.

Ook onverwags aandoenlik is die klavier-inleiding van “Following the River”, met Nicky Hopkins in sy volle glorie.

Die ouer snitte is ook die herontmoeting werd. Exile was altyd berug vir die onhoorbaarheid van die sang, en nou is daar ‘n bietjie meer helderheid. Maar die musiek bly sterker in die vermenging, soos geplaas teenoor die sang. En “Rip this joint” sal steeds die moeë ou heupe laat huppel.