Jy blaai in die argief vir 2010 Mei.

by ctb

Musiek uit die blogosfeer – Birds With Broken Wings

Mei 28, 2010 in Sonder kategorie

Onlangs het ‘n artikelskrywer in die New Yorker met groot stelligheid beweer dat die dae van CD-winkels getel is en dat die musiekbedryf in wese ineengestort het. Een van die bewyse daarvoor, is aangevoer, sien mens in die feit dat musici deesdae al hoe meer konserte moet hou om ‘n inkomste te kry, omdat die verkope van CDs so kwaai gedaal het.

Dit mag so in die VSA wees, maar tot tyd en wyl iTunes ook aan Suid-Afrikaners musiek verkoop, sal CD-winkels goeie besigheid hier by ons doen.

Wat wel ook waar is, is dat mens al hoe meer musiek van die Internet aflaai. Die plekke waar mens kan koop (mits jy ‘n kredietkaart het) raak al hoe meer: eMusic, MP3Panda, MP3Sale, 7Digital, om enkeles te noem.

As mens ‘n bietjie rondtoer in die musiekblogs op die Internet, is daar onverwagse winste. Die enigste vereiste is dat mens weet hoe om Rapidshare of Megaupload te gebruik, wat mens gou genoeg onder die knie kry.

Ek het pas hierdie week in die blogosfeer afgekom op ‘n kêrel genaamd Miles wat die Birds With Broken Wings-musiekblog by die adres  http://birdswithbrokenwings2.blogspot.com/ het. Miles is ‘n Amerikaner wat baie duidelik ‘n heel besonderse versameling musiek deur die jare bymekaargemaak het.

Hy is baie lief daarvoor om versamelings musiek saam te stel, wat mens dan as albums kan aflaai. Verniet, bygesê.

Onder die kunstenaars wat besonder baie aandag by hom kry, is Frank Zappa, Prefab Sprout, Todd Rundgren, Doug Sahm, Alan Price, die Bee Gees (vroeë inkarnasie), die Kinks, verskeie vorme van jazz en Paul Butterfield.

Ek het baie pret gehad in veral sy versamelings van Doug Sahm en die Bee Gees se musiek, veral omdat hy variante van bekende liedjies in die hande gekry het op herdenkingsuitgawes van Horizontal, Idea en Odessa. Dis verskriklik snaaks om te lees hoe probeer hy op sy oudag om sy jarelange liefde vir die Bee Gees se soetsappige vroeë musiek te regverdig. Net vir die rekord – ek is self mal or daardie musiek. Luister so een maal ‘n jaar daarna.

Net om julle nuuskierig te maak hak ek ‘n paar videogrepe aan van musiek wat na Birds With Broken Wings herlei kan word.

 

 

by ctb

Tracey Thorn – Love and Its Opposite

Mei 26, 2010 in Sonder kategorie

Ben Watt en Tracey Thorn is ‘n egpaar wat met hul introspektiewe musiek sedert 1982 baie beteken het vir heelwat luisteraars. Hul groep, Everything But The Girl, het een groot treffer behaal, naamlik “Missing”, wat in ‘n Todd Terry-verwerking in 1995 vir hulle ‘n groot deurbraak besorg het.

“Missing” is eintlik’n misleidende liedjie, die uitsondering wat die reël bewys binne die konteks van EBTG. Die groep was nie eintlik op die dansvloer gerig nie. Thorn se geweldig emotiewe sangstem sou vermors gewees het op ‘n wêreld van hupsheid.

Thorn en Watt het in 2002 vir EBTG op ys geplaas sodat hy aandag kon gee aan sy loopbaan as DJ, en sy hul kinders kon grootmaak. Thorn het egter nie heeltemal huisvrou geword nie. In 2007 het sy ‘n CD getiteld Out of the Woods uitgereik, en voorverlede week ‘n hele nuwe versameling musiek onder die titel Love and Its Opposite.

Omdat ek altyd nuuskierig is oor die lewens van die kunstenaars, is dit miskien hier ook die regte plek om te noem dat Thorn en Watt uiteindelik verlede jaar getroud is, en dat Thorn skynbaar suksesvol is met die grootmaak van hul 12-jarige tweelingdogters en hul 9-jarige seun. Watt, op sy beurt, is na berig word baie suksesvol as DJ (hy is die broodwinner, nie Thorne nie), ofskoon hy ly aan die aftakelende Churg-Strauss-sindroom.

Nou, Love and Its Opposite is ‘n wonderlike album. Daar is nie groot, dramatiese oomblikke nie, geen musikale kragtoere nie. Alles is in gedempte toon, lig georkestreer waar nodig, en nou en dan met ‘n bietjie jolliger aanvulling of verwerking.

Die liedjies handel oor die soort dinge waarmee mense in hul veertigs te make kry – egskeidings, verveling binne verhoudings, die dubieuse plesier van voor die televisie lê en meegesleur raak deur die dramas van die sepie-lewe. Daar is aanduidings van die slaggate van oop verhoudings en vrouens wat hulle ná jare in vaste verhoudings skielik weer in kroeë vir enkellopendes bevind. En natuurlik die onsekerheid wat gepaard gaan met die eerste deel van ‘n ontluikende verhouding.

Presies wat in Tracey Thorn se eie lewe aan die gang is, kan mens net raai. Die punt is dat sy met daardie stem (like a voice!) van haar die diep gevoelde emosionele rampspoed van die voorstedelike lewe van ‘n veertigjarige vrou baie ontroerend oordra.  Luister gerus na “Oh, the divorces!” en “Come on home to me” (‘n duet met Jens Lekman) – die lang wag was die moeite werd.

 

 

by ctb

‘n Nagedagte oor die Doors

Mei 23, 2010 in Sonder kategorie

Het Ray Manzarek ooit die krediet gekry wat hom toekom oor die Doors se prestasies? Kyk hierna!

by ctb

Mark-Almond – The Best of …

Mei 20, 2010 in Sonder kategorie

 

Ná die amperse oordosis van Cat Stevens-musiek wat ek verlede week beleef het, was ek nuuskierig om meer te hoor van Stevens se vriend en kitaarspeler, Alun Davies. Davies, ‘n Wallieser, was voor hy Stevens ontmoet het, lid van ‘n duo saam met Jon Michael Burchell, en die twee was daarna lede van die groep Sweet Thursday.

Ná Sweet Thursday het Burchell sy verhoognaam na Jon Mark verander, en was saam met Mick Jagger produksieleier van Marianne Faithfull se vroeë opnames. Daarna het Mark en Davies Europa platgereis, op passasiersbote musiek gemaak, en uiteindelik het Davies na Cat Stevens oorgeloop terwyl Mark saam met Johnny Almond, wat voorheen saxofoon geblaas het vir Zoot Money se Big Roll Band en die Alan Price Set, in 1969 aangesluit het by John Mayall se Bluesbreakers. Hul laaste verskyning saam met die Bluesbreakers was op Empty Rooms (1969), waarna hulle die Mark-Almond Band begin het.

Die groep se albums is nie meer erg in omloop nie, maar mens kan meeste daarvan koop en aflaai by emusic.com. Die albums waarna ek geluister het, is Mark – Almond II (1972), Rising (1972), Mark – Almond ’73, Other Peoples Rooms (1978) en Night Music (1996). Die Best of Mark – Almond-versameling is werklik hul beste sonder dat daar enige treffersparade-besmetting is.

Ek moet beken dat hul musiek vir my een van die aangenaamste verrassings is wat ek in ‘n lang ruk gehad het – ‘n mengsel van ligte rock en jazz. In sekere opsigte herhinner hulle baie aan Michael Franks se vroeë musiek, maar sonder die sweetypie-stem.

Johnny Almond se saxofoon-, fluit- en vibes-bydraes is meestal die musikale voorgrond van hul musiek, terwyl Jon Mark met sy kitaar en tromslanery sorg dat jazz die musiek anker. Albei sing, en Jon Mark se produksieleiding is daarop gemik om ‘n warm gemoedlikheid uit te dra. Daar is geen skel klanke nie, maar genadelose hipness aan die kant van die musici sorg dat verrigtinge baie lewendig bly. Die nagklub waarin hierdie musiek gedy is geleë in ‘n baie diep kelder.

Sedert die groep se ontbinding is Almond aan kanker oorlede (in 2009), terwyl Jon Mark en sy vrou, Thelma Burchill, in 2004 ‘n Grammy gekry het vir hul opnames van Tibetaanse monnikesang.

 

by ctb

The Doors – 40th Anniversary Editions

Mei 17, 2010 in Sonder kategorie

 

Omtrent elke nuwe geslag wat ná 1971 gekom het, het een of ander tyd in hul jeug die musiek van die Doors geassimileer. Dit is ongelukig só dat dieselfde nie altyd van Elvis Presley en die Beatles se musiek gesê kan word nie, maar om een of ander rede staan almal luistertyd aan die Doors af.

Die maklike verklaring is dat dit Jim Morrison se charismatiese aandeel in die groep se musiek is wat die hoofrede is. ‘n Ander rede sou wees hul unieke mengsel van rock-kragmusiek, uitgedra deur orrel en kitaar as die twee sentrale klankpunte. Daar is ook filosowe wat meen dat die Doors uitstekende dagga- en LSD-musiek gemaak het.

Ek self is geneig om te dink dat dit iets van alles is – op YouTube is daar twee videogrepe van die liedjie “Light my fire”, en hulle is al onderskeidelik deur 9,1 miljoen en 4,4 miljoen mense besigtig. Mense kry nie genoeg van die groep nie. Volgens die jongste statistiek is daar reeds meer as 75 miljoen eksemplare van hul albums (in alle formate buiten digitaal, waarvoor daar nie betroubare syfers is nie) dwarsoor die wêreld verkoop.

Oor die groep se geskiedenis kan Wikipedia geraadpleeg word. Ek wil nie nou die oorbekende dinge herhaal nie.

Wat my wel nou prikkel (noudat mens na al die jare gewoond geraak het aan Morrison se oorweldigende persoonlikheid), is die musiek – en veral na aanleiding van die 40th Anniversary-reeks van heruitreikings van die groep se albums.

Die digitale suiwering van die klank laat die musiek nog meer magies en eteries klink. Ray Manzarek se orrel is nou behoorlik hoorbaar, en Robbie Krieger se kitaarspel is dikwels orgasmies mooi.

Luister byvoorbeeld na die weergawes van “Moonlight Drive” wat by die bekende snitte van die groep se debuutplaat gevoeg is, en vergelyk dit met die bekende weergawe, wat eers op hul tweede album, Strange Days (1967) uitgereik is. Mens het hier te make met uiters begaafde musici, en elke snit was vir my ‘n herontdekking.

En net om mens se mond verder te laat oophang, kan mens nou hoor presies wanneer die groep nie van baskitaarspelers gebruik gemaak het nie, maar Manzarek die Fender Rhodes Piano Bass met die een hand besig gehou het.

Alles in ag genome, bly Morrison steeds ‘n betowerende figuur, maar die musiek het vir my nou meer bekoring en die Lizard King kom tweede. Goed, The Soft Parade(1969) is steeds ‘n ellendige plaat, maar LA Woman (1971) is suiwer ekstase. Gaan luister gerus na “Riders on the storm”, klank sterk oopgedraai.

Ek hak hierby ‘n paar  van die groep se konsertvideogrepe aan – niks met die 40th Anniversary-reeks te make nie, dis net vir plesier.

 

 

by ctb

Rolling Stones – Unplugged & Have you heard the outtakes, baby, recorded in the shadow?

Mei 12, 2010 in Sonder kategorie

 

As jy ‘n ernstige musiekversamelaar is, sal jy bewus wees van die verskeie P2P-netwerke (Rapidshare, Bit Torrent ens.) waardeur mens nie-amptelike CDs in die hande kan kry op die internet. Die sg. bootlegs is al sedert die jare sestig met ons, dit word net deesdae RoIOs genoem (Recording of Inderterminate Origin), en met die koms van die Internet en ADSL-verbindings is dit baie maklik om hulle in die hande te kry.

Uiteraard is dit onwettig om daarmee handel te dryf – dis vir private konsumpsie alleen.

Die Rolling Stones is een van die groepe wat die meeste daardeur geraak word. Ek stel veral belang in die periode in hul loopbaan wat van Aftermath tot by Let it bleed strek. Hierdie twee RoIOs het daarom vir my ‘n paar besondere nuutjies opgelewer.

Unplugged bevat musiek wat tussen 1968 en 1973 gemaak is, lank voor die dae van MTV se Unplugged-reeks, en is ‘n ongelooflike versameling snitte waarop Keith Richards, Brian Jones en Mick Taylor se akoestiese kitaar-spel prominent is.

Die album open met “You got the silver”, met Mick Jagger in plaas van Keith Richards wat sing. Sublieme slide guitar van Taylor. Daarna duik die juwele een vir een op. Op “No expectations” is die kitaarrolle omgeruil, met Richards wat die slide speel. “Sister Morphine” is ‘n verbluffend goeie weergawe van die liedjie wat op Sticky Fingers uitgereik is – met baie klemverskille, ‘n ander klankbenadering, en Richards & Taylor wat vir hulle plek in die hemel bespreek, veral Taylor.

Onder die ander snitte is daar ‘n pragtige weergawe van “You can’t always get what you want” sonder die koor, maar met Al Kooper se koperblasers, orrel en verwerking. Prima!

Daar is ook baie interessante weergawes van “Country Honk”, “You gotta move”, “Dead Flowers”, “Wild Horses” en “Angie”. Die hoogtepunt is egter ‘n deurpriemende weergawe van “Cocksucker Blues”, die Stones se beroemde/berugte liedjie oor ‘n manlike prostituut. Ek sal die weergawes daarvan op YouTube nie hierby aanhak nie, om redes van faux fatsoenlikheid, maar gaan soek gerus daarna op YouTube.

Have you heard the outtakes, baby, recorded in the shadow?  Is een van daardie versamelings wat slegs tot die groep se hardcore bewonderaars sal spreek. Dit bevat die musiek-gedeeltes van bekende liedjies soos “(I can’t get no) Satisfaction”, “19th Nervous Breakdown”, “Out of time”, “Citadel”, “We love you” en “Child of the Moon”, sonder die sang.

Die voordeel hiervan is dat ons agterkom dat die Stones, nes die Beach Boys in daardie jare, eers die musiek opgeneem het, daarna die sang en dan die tierlantyntjies bygevoeg het.

En wat meer is, dit blyk dan ook soms dat daar dikwels agter die sang hoogs ingewikkelde en fabelagtige stukke musiek weggesteek is. Enigiemand wat na die musiek van “Yesterday’s Papers” op hierdie album luister en steeds dink die Stones was ghwarre, het nie die vaagste benul waaroor dit in pop musiek gaan nie.

Voorspoedige soektog! Om klaarblyklike redes kan ek niks hierby aanhak nie.

 

by ctb

Cat Stevens – Catch Bull at Four, Foreigner, Buddha & the Chocolate Box, Numbers, Izitso, Back to Earth

Mei 10, 2010 in Sonder kategorie

 

Teaser and the Firecat het Cat Stevens doelbewus weggeskram van die soetlike elemente in sy vorige drie albums. Dit was ‘n doelbewuste rigtingverandering, en het direk daartoe aanleiding gegee dat baie van sy aanhankers gevoel het hy het hulle versaak. Maar, soos hy self in onderhoude gesê het, wou hy nie aanhou om die insigte en sentimente van sy vorige albums eindeloos te herhaal nie. Vernuwing en verandering was sy dryfkragte.

Sy sang was skielik meer robuust, en met die koms van die klawerbordspeler Jean Rousseal (haar elektriese klavier het ‘n enorme verandering in Stevens se klankdinamika gebring, ten koste van die akoestiese kitaarspel wat hy en Alun Davies tot in daardie stadium baie effektief verfyn het) was dit geen verrassing nie dat Catch Bull at Four (1972) onmiddelik vir hom groot welslae in die VSA besorg het nie.

En ofskoon die lirieke steeds geneig het tot introspeksie, en die titel met sy verwysing na Zen Boeddhisme wat ‘n duidelike sein gee, was dit duidelik dat die vonk van kinderlike onskuld wat hy voorheen so moeiteloos kon oordra, nou al hoe flouer gebrand het. Die album het twee treffers opgelewer, “Sitting” en “Can’t keep it in”.

In onderhoude wat destyds met hom gevoer is, het hy vertel dat hy besig is om groot te word in sy musiek, dat dit nie meer vir hom nodig was om in die maanlig op ‘n strand te gaan dans om die lirieke vir sy liedjies te vind nie (soos hy met “Moonshadow” gemaak het) – die woorde stroom al hoe meer van binne uit.

Hoe ook, Stevens was in dié stadium ‘n multi-miljoenêr verby, en moes (soos die Beatles en Stones in dieselfde jare) sy verblyftyd in Brittanje beperk om skrikwekkende belastingaanslae af te weer. Sy keuse vir ‘n nuwe tuiste het geval op Brazilië, waar hy ‘n obsessie ontwikkel het met die musiek van swart kunstenaars soos Stevie Wonder, van Motown, Stax en so meer. Sy volgende plaat, Foreigner (1973), is in Jamaika opgeneem, is klawerbord-georiënteerd (Alun Davies is nêrens in sig nie). Dis nie ‘n onaardige album nie, maar dis ligjare verwyder van die pop-gebaseerde musiek wat hy ‘n paar jaar vantevore gemaak het.

Die titel slaan op Stevens se standpunt dat hy swart musiek as buitestander benader, en verbete is om dit te leer ken en maak. Interessant genoeg het die laaste beweging van die “Foreigner Suite” aanleiding gegee tot ‘n hofsaak: Stevens beweer Coldplay het dit geplagiariseer op hul liedjie “Viva la Vida”.

Alun Davies het teruggekeer op die volgende album, Buddha & the Chocolate Box (1974), en so ook gedeeltes van die intieme styl van Tea for the Tillerman en Teaser and the Firecat. Die musiek is veel meer toeganklik as dié van Foreigner, en dit ook ‘n treffer opgelewer, synde “Oh very young”.

Die daaropvolgende Numbers (1975) is ‘n konsepalbum gebou rondom syfers, en waarskynlik een van die mees skouspelagtige insinkings deur ‘n pop kunstenaar. As ‘n mens effe terugstaan, is dit duidelik dat Stevens se spirituele reis problematies was; dit is nie makliker gemaak deur die soort musiek wat in daardie tyd gewild was nie (Pink Floyd se Wish you were here, Queen se “Bohemian Rhapsody”, Alice Cooper se Welcome to my Nightmare, Minnie Ripperton se “Lovin’ You” en so meer), die eerste tekens van punk en die vernietiging wat kokaïen onder musieksterre gesaai het nie.

Daarna het hy die punk-orkaan van die kantlyn besigtig en in 1977 Izitso uitgereik, ‘n onmerkwaardige album met een treffer tussen ‘n klomp middelmatige musiek. Die treffer was “(Remember the days of the ) Old Schoolyard”, waarop Elkie Brooks sy mede-sanger was.

Stevens se laaste album voor sy bekering tot Islam en sy uittrede uit die hoofstroom van pop musiek was Back to Earth (1978). Dit was sy laaste onder die naam Cat Stevens, wat hy afgewerp het met sy bekering en die naam Yusuf Islam. Dit is interessant genoeg ‘n besonder bekoorlike album, maar dit het ‘n stille dood gesterf omdat Stevens dit nie self gepromoveer het nie.

In 2006 het hy onder die naam Yusuf die CD An Other Cup uitgereik. Later iets daaroor.

 

 

 

by ctb

Cat Stevens – Mona Bone Jakon, Tea For The Tillerman, Teaser and the Firecat

Mei 7, 2010 in Sonder kategorie

  

Die tweede periode in Cat Stevens se loopbaan is nie voorafgegaan deur die eerste nie – tussen die twee het hy ‘n jaar in en uit hospitale deurgebring in ‘n lang stryd teen tuberkulose. Hy het by die dood omgedraai, en anderkant uitgekom met ‘n nuwe lewensbeskouing. Meer spiritueel, vegetaries, en met baie tyd afgestaan aan joga, meditasie en nadenke. In hierdie tyd het hy aanhou liedjies skryf, en baie daarvan het op sy volgende drie albums verskyn.

Dié drie is Mona Bone Jakon (April, 1970), Tea for the Tillerman (November, 1970) en Teaser and the Firecat (September, 1971). Drie skitterende albums, opgeneem binne die bestek van anderhalfjaar.

Hy het oorgeskuif na Island Records vir hierdie albums, en het Paul Samwell-Smith, baskitaarspeler van die Yardbirds, gekies as produksieleier. Samwell-Smith het die musici versamel vir die opnames, en sy keuse van ‘n kitaarspeler wat Stevens kon bystaan het geval op Alun Davies. Dit was ‘n besielde keuse – Davies is die ideale bondgenoot en styl-sielsgenoot vir Stevens.

Op Mona Bone Jakon is hulle nog besig om mekaar musikaal te vind, maar op Tea for the Tillerman en Teaser and the Firecat kan die sublieme aard van die klankopnames en die klank self toegeskryf word aan die manier waarop Davies en Stevens saam musiek gemaak het. Teaser veral is ‘n soniese meesterwerk

Mona Bone Jakon: Daar is nog reste van die ou Cat Stevens (vgl die orkestrasie op “Lilywhite”), maar in die algemeen kan die album goed vergelyk word met James Taylor se Sweet Baby James en Carole King se Tapestry, wat onderskeidelik in 1970 en 1971 uitgereik is. Stevens het so netjies in die kategorie van sanger-komponis ingepas, dat mens geneig is om te vergeet dat liedjies sos “Lady D’Arbanville” en “Maybe You’re Right” absoluut foutlose pop musiek is.

Tea for the Tillerman: Die album wat Stevens ‘n internasionale superster gemaak het. In Mona Bone Jakon was daar baie voorbeelde van sy kinderlike, amper naïewe romantiek, maar op Tea het hy dit verder verfyn en aangevul deur ‘n opvallende besinnig oor spirituele sake. “Wild World” was die treffersnit wat die album aangekondig het, en is in die treffersparades gevolg deur “Father & Son”. Maar as mens dieper gedelf het, het jy op ‘n skatkis van meesleurende melodieë en fabelagtige klankopnames afgekom: “Hard-headed Woman”, “Longer Boats”, “Miles from Nowhere”, “On the road to find out” en “Where do the children play?” As mens twee albums will identifiseer wat die sewentigs en die veranderinge wat dié dekade gebring het die beste illustreer, sou Tea for the Tillerman die aanvang van die dekade simboliseer, en Pink Floyd se The Wall die einde. Tea for the Tillerman is briljant.

Teaser and the Firecat: As Tea briljant is, wat noem mens Teaser? Die klank is nog beter gerealiseer as op Tea, die produksiewerk is meer dinamies (vgl. “Bitterblue”), en in terme van afronding is elke snit op die album onverbeterlik. Selfs waneer hy ‘n ou Christelike liedjie neem en sy eie lirieke daarvoor skep (“Morning Has Broken”) is dit asof hy die groot uitvinder van nuwe vreugde word en ‘n unieke ervaring onder woorde bring. ‘n Mens kan hom bewonder vir snitte soos “Peace Train”, “The Wind”, “If I Laugh” en “How can I tell you”, maar dit is “Moonshadow” wat die stempel van tydloosheid daarop afgedruk het.

Drie groot albums – só groot dat die teleurstelling wat gevolg het, amper groter was.

 

 

by ctb

Cat Stevens – Eerste twee albums

Mei 6, 2010 in Sonder kategorie

Ek is besig, na aanleiding van die terugkeer van Neil Diamond se Hot August Night in my klanklewe, asook ‘n fliek wat ek gesien het waarin mens agterkom hoe Alkoholiste Anoniem se program werk, om weer na musiek te luister wat ek om infantiele, kinderagtige redes afgeskryf het toe daardie musiek baie gewild was. Ek sal nie ingaan op die redes vir my simpel optrede nie – maar ek sal onmiddelik erken dat ek verskriklik bly is vir die “herontdekking”.

“Herontdekking” tussen aanhalingstekens, want ek het hierdie albums op hul dag goed geken. Dis net dat ek goor redes had om nie daarvan te hou nie.

Cat Stevens is die eerste van hulle.

Die Kort Begrip oor Cat Stevens is: Hy is in Julie 1946 gebore en Steven Demetre Georgiou gedoop (sy pa is ‘n Griekse Cyprioot, sy ma ‘n Sweedse wonderwerk). Hy het bo die familie se restaurant, die Moulin Rouge, in Shaftesbury Avenue, Londen grootgeword. Die musicals in die omgewing het hom geïnspireer om musiek te begin maak op sy ouers se klavier. Hy is ‘n outodidak op die klavier en kitaar. Hy het aanvanklik onder die naam Steve Adams musiek gemaak, toe kortliks sy eie naam gebruik, en uiteindelik die naam Cat Stevens gekies. Omdat hy en sy meisie van katte gehou het, en sy meisie gedink het sy oë lyk soos ‘n kat s’n.

Sy eerste twee plate in in 1967 uitgereik: Matthew & Son in Maart 1967 en New Masters in Desember 1967. Albei bevat pop musiek  met sterk, meevoerende melodieë. Albei is gemaak met Mike Hurst as produksieleier, en is goeie voorbeelde van Hurst se besonderse aanvoeling vir die soort klanke wat die pop mark van daardie tyd gedryf het: rojale gebruik van orkestrasie en min toegewings aan die kunstenaar se eie siening. Onthou, Stevens het die mark betree nadat die Beach Boys  Pet Sounds gemaak het, en voordat die Beatles Sgt Peppers Lonely Hearts Club Band uitgereik het.

New Masters het Stevens besef dat hy reeds besig is om musiek in ‘n styl te komponeer wat glad nie deur Hurst begryp word nie. Volgens sy latere bekentenis het hy toe met buitensporige eise Hurst tot raserny gedryf en is sy kontrak met Hurst en die platemaatskappy Deram opgesê.

Matthew & Son het benewens die titelsnit twee ander treffers opgelewer, naamlik “I love my dog” en “I’m gonna get me a gun”. New Masters het die een snit opgelewer wat vir Stevens ewigdurende roem en ‘n baie breë inkomstestroom besorg het: “First cut is the deepest”.

Albei albums kan vandag beskou word as kuriositeite, maar is nie sonder meriete nie. En vandag is mens gewapen met die kennis dat Stevens se daaropvolgende vier albums hom ‘n superster sou maak.

 

 

by ctb

Neil Diamond – Hot August Night

Mei 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek het nooit van Neil Diamond gehou nie. Wag, ek lieg. Ek het van sy musiek gehou toe die Monkees die liedjies gesing het: “I’m a believer”, “A little bit me, a little bit you” en “Love to love”.

Maar van hom het ek nie so baie gehou nie. Hy was effens té blink gepoleerd vir iemand wat met ‘n growwe stem sing oor sy eensaamheid en sy behoefte om met ‘n vroulike persoon kontak te maak. Boonop het iemand in die koshuis waar ek was, en wat ‘n groot ondersteuner was van die politieke party wat ek nie ondersteun het nie, dag en nag na Neil Diamond geluister. Daar was geen kans dat ek Diamond sou aanvaar nie.

Nou het ek op versoek van iemand vir wie ek nie nee kan sê nie sy ou treffer-album Hot August Night (1972) van die internet gaan koop en aflaai. Noodgedwonge moes ek weer daarna luister, met voorspelbare gevolge.

Ek hou nogal van Neil Diamond. ‘n Teer siel, maar ook iemand wat die skoonheid in ‘n vrou raaksien en nie skaam is om daaroor te sing nie. Wat ek ookal voorheen van hom gedink het, nóú kan ek nie anders as om te erken dat die man ‘n besonder goeie liedjieskrywer was nie. Ja, ek het destyds geweet hy is ‘n Brill Building-komponis, maar nou val die vakmanskap des te meer op.

Die kritici het destyds geskryf dat Diamond se konserte  van 1972 in die Greek Theatre, Los Angeles, die toonbeeld was van ‘n kunstenaar op volle toere. Daarvan is daar genoeg bewys in die ontvangs wat hy kry, in sy praatjies, en in die oënskynlike energie van die geleentheid. Maar vir my is dit die krag van die komposisies: “Solitary Man”, “Sweet Caroline”, “Shilo”, “Girl, you’ll be a woman soon”, “Song Sung Blue”, “Holly Holy” en “I am … I said” is sonder twyfel kragtoere van pop-skryfwerk.

Daarom, teen wil en dank en omdat my vrou sê ek moet, raai ek julle aan om weer na Hot August Night te gaan luister. Dan sal jy Steve Hofmeyr ook beter kan takseer.