John Lennon – Walls and Bridges
April 28, 2010 in Sonder kategorie
John Lennon was een van my eerste helde. Was dit baie jare lank. Paul McCartney was ook een van my helde. Ek het altyd aan myself verduidelik dat hy wat nie “Strawberry Fields” (Lennon) kon waardeer nie, geen reg gehad het om van “Penny Lane” (McCartney) te hou nie. Dit was die keersye van die grootste pop groep van alle tye.
Danksy ‘n boek getiteld You never give me your money (geskryf deur Peter Doggett) het mens nou, op McCartney se oudag, ‘n beter perspektief op sowel Lennon as McCartney. Asook die manier waarop hul musiek sal oorleef lank nadat mens vergeet het van hul persoonlikhede.
Trouens, nadat Doggett se boek my onder die indruk gebring het van welke groot ghwappe die lede van die Beatles was (iets wat mens al die jare vermoed het, maar te bang was om selfs in die stilte van jou binnekamer te oorweeg), het ek dadelik drie albums geluister net om die gif uit my emoed te kry: All Things Must Pass (George Harrison), Ram (Paul McCartney) en Walls and Bridges (1974). Ek sal later oor eersgenoemde twee skryf, maar nou eers meer oor Lennon se meesterwerk, die neerslag van sy sg. “lost weekend” van agttien maande weg van Yoko Ono af.
Wat mens moet in gedagte hou, is dat Lennon se solo-loopbaan glad nie dieselfde treffersparades-suksesse gehad het as McCartney s’n nie. Hy was pynlik bewus van sy kleiner aantrekkingskrag. Weg van Yoko af kon hy weer ou vriendskappe opneem, en die musiek op Walls and Bridges getuig dan ook van groter vryheid as wat hy selfs op Mind Games (sy eerste album weg van Yoko af) gehad het. Hy had natuurlik toe reeds ook ‘n hele reservoir drank saam met Harry Nilsson opgedrink, en sy dwelmgebruik was kreatief (volgens Doggett). Gelukkig het hy Phil Spector ook uit sy ateljee gehou – Spector was nie meer ‘n goeie invloed op Lenon se musiek nie.
Onder die musici het getel Jim Keltner (tromme), Nicky Hopkins (klavier), Klaus Voorman (baskitaar) en Jesse Ed Davis (kitaar). Lennon was self die verwerker en produksieleier. Elton John sing en speel klavier op “Whatever gets you through the night”, en speel Hammond-orrel op “Surprise, Surprise (Sweet Bird of Paradox)”.
‘n Heruitreiking van die album is in 2005 onder toesig van Yoko gemaak – wees versigtig, sy het met die klank gepeuter.
“Whatever gets you through the night” was Lennon se enigste internasionale nommer 1-treffer tydens sy solo-loopbaan (iets wat “Imagine” nie volledig kon regkry nie); onder die ander snitte is dit “Nobody loves you (when you’re down and out)”, “Number 9 Dream” en “Scared” wat mens die langste bybly.
Meeste van die liedjies het ‘n direkte betrekking op Lennon se lewe soos dit in daardie stadium was – met “Scared” en “Nobody loves you” wat die senuwees duidelik raakgeboor het.
Onlangse kommentare