Greenslade
Maart 30, 2010 in Sonder kategorie
Die etiket wat om Greenslade se nekke gehang word, is dié van ‘n Britse progressiewe jazz-rock groep. “Brits” omdat hul welslae beperk was tot Brittanje, met ‘n mate van bekendheid in Europa. Die res van hul etiket is ‘n noodwendige uitvloeisel van die feit dat die stigterslede, Dave Greenslade (orrel, sang) en Tony Reeves (baskitaar) lede was van die progressiewe jazz-rock groep Colosseum, hoewel Greenslade juis probeer het om die dinge wat Colosseum so veeleisend vir die luisteraar gemaak het, te vermy.
Colosseum (Those Who Are About To Die Salute You, Valentyne Suite) was bekend vir hul gewoonte om liedjies wat reeds lekker lank was, met improvisasie so lank as moontlik uit te reik. Dit het sekerlik groot pret besorg vir mense wat by hul konserte was, maar op plaat het dit nie altyd ewe spontaan gebeur nie.
Greenslade en Reeves was vasberade om korter, meer moledieuse musiek te maak toe hulle in 1972 hul nuwe groep bekend gestel het. Die ander twee lede van die groep, Dave Lawson (klawerborde) en Andrew McCulloch (tromme) het elk uit ‘n omgewing gekom waar rock-musiek die botoon gevoer het, wat dit sekerlik vir Greensade en Rhodes makliker gemaak het om binne ‘n kleiner musikale formaat te werk.
Wat ek van hul musiek geniet, is die feit dat hulle sover moontlik geen gewone rock-kitare toelaat nie, en al hul musiek bou rondom die orrel en ‘n groot falanks elektroniese klawerbord-instrumente (sintetiseerders, mellotron). Onthou, hulle moes meeding in ‘n omgewing waar Genesis (se eerste inkarnasie) die leiers was. Greenslade kon dus niks anders wees as ‘n pop-Colosseum nie.
As jy hul vroeë albums in die hande kan kry, sal Greenslade (1972) en Bedside Manners Are Extra (1973) jou groot pret verskaf. Op Time and Tide (1975) het hulle ‘n kitaarspeler bygekry, en dt was die spyker in hul doodskis. In 1997 het Greenslade en Reeves, bygestaan deur John Trotter (tromme) en John Young (klawerborde, sang) die groep weer laat herlewe. Large Afternoon (2000) en Greenslade 2001 – Live The Full Edition (2002) het met hierdie groepering verskyn, en is albei sterk aan te bevele.
Tegnies seker nie so ingewikeld as Colosseum of Yes nie, maar warm, emosioneel en lekker om te beluister. Daar lê 25 jaar tussen die twee weergawes van “bedside Manners Are Extra”.
Onlangse kommentare