Gerry Rafferty – Sleepwalking
Februarie 27, 2010 in Sonder kategorie
As mens kon ryk word uit koppigheid, sou Gerry Rafferty skatryk gewees het. Hy was loshande een van die beste Britse liriekskrywers van die sewentigs en tagtigs. Twee van sy liedjies, “Stuck in the Middle with You” (as lid van Stealers Wheel) en “Baker Street”, word beskou as onder die top 100 liedjies wat tussen 1961 en 1999 gekomponeer is.
En tog het Rafferty nooit die glorie en roem verwerf wat ander mindere siele wel verwerf het nie. Hy woon deesdae in Toskane, uitgedroog na ‘n lewenslange stryd met die bottel. Hy het ‘n hekel aan konserte, en tree selde op om sy CDs te promoveer.
Trouens, die drie groot albums wat hy tussen 1980 en 1988 gemaak het (Snakes and Ladders van 1980, Sleepwalking van 1982 en North and South van 1988) het almal sonder ophef gesink weens sy weiering om met sy platemaatskappy saam te werk en met konserte reklame vir die plate te maak.
As mens die lirieke van “Stuck in the Middle with You” goed beluister, bly Rafferty se haat vir die amptenary by platemaatskappye jou by. Geen wonder nie dat hy gesukkel het om sy musiek internasionale rykwydte te gee nie.
Sleepwalking is nou al jare lank een van my gunsteling CDs. Enersyds miskien omdat Rafferty skielik meer van klawerborde as van kitare gebruik gemaak het, andersyds omdat die liedjies se lirieke so skitterend is. Mense sê altyd Leonard Cohen het vir hulle soveel in tye van depressie beteken – ek wonder wat hulle van Sleepwalking sou maak.
Nie dat dit teneerdrukend is nie. Dit is net een van daardie albums waar elke liedjie ‘n mens leer hoe om beter bestek van jou eie lewe te neem. “The Right Moment” veral het onvergeetlike reëls. “On the Way” neem dieselfde tema verder: Mens moet soms toegee dat jy ‘n meester is van uitstel, altyd uitstel … Die aardigheid van die lewe is nie die ongemak en ongerief wat ander mense en liefde bring nie, maar wel jou mikpunte wat immer onbereik bly, weens jou eie luiheid.
Soek dié album gerus op die internet. Dit is een wat deel word van mens se lewe, sodra jy dit gehoor het, ‘n getroue klankvriend in nerveuse tye.
Onlangse kommentare