Al Kooper
Januarie 30, 2010 in Sonder kategorie
Snaaks hoe dit ook mag klink, nie alle musici is publisiteitsoekers nie. Baie van hulle maak ontsaglike bydraes tot die musiek waarna ons luister, sonder dat ons ooit bewus raak van hul name. Al Kooper is een van hulle.
Streng gesproke moet mens hom beskryf as die man wat sedert die jare sewentig ‘n lektor in moderne liedjieskryf en opename-tegnieke aan die gesiene Berklee-musiekkollege in Boston was. Die invloed wat hy op studente gehad het, was een van die bronne van inspirasie vir die gewilde rolprent (en later TV-reeks) Fame.
Aan die ander kant was Kooper (regte naam Alan Kuperschmidt) ook die kinderwonder wat op 14 kitaarspeler geword het van die groep Royal Teens (treffer “Short Shorts”, 1960) en op 16 die liedjie “This Diamond Ring” geskryf het (later ‘n treffer vir Gary Lewis and the Playboys).
Toe hy mondig geword het, het hy na New York verhuis. Hy was duidelik iemand wat geglo het in sy eie vermoëns, want hy het homself by die opname-sessies vir Bob Dylan se Highway 61 Revisited ingewurm, hopend dat hy as kitaarspeler sou kon bydra. Toe hy sien dat Mike Bloomfield vir Dylan kitaar speel, het Kooper summier sy diens as orrelspeler aangebied en met ‘n slenterslag in die ateljee beland terwyl die produksieleier se aandag afgelei was.
Die res is geskiedenis. Kooper het geweet hoe om die Hammond-orrel aan die gang te kry (vir die oningewydes: dit had in daardie tyd ‘n spesiale aanskakel-prosedure) en het begin saamspeel toe Dylan en die musici besig was met “Like a Rolling Stone”. Kooper het ‘n fraksie laat gespeel (om seker te maak hy het die regte akkoord) en het op die ingewing van die oomblik ‘n gospel-agtige en destyds vir rock totaal ongewone orrelriff aan “Like A Rolling Stone” toegevoeg. Dylan was só versot daarop dat hy die orrel luider in die klankvermenging laat plaas het – en Kooper was outomaties vir die volgende twee jaar Dylan se orrelspeler.
Sy eie loopbaan is amper ewe kleurryk. Kooper het in 1965 lid geword van Mike Bloomfield se Blues Project, en in 1967 het hy die groep Blood Sweat & Tears gestig. Hul debuutplaat, Child is Father to the Man (1967) is in wese ‘n Kooper-soloplaat. Kooper en die lede van die groep het nie gestryk nie, en hy is vort om onder sy eie naam die skitterende I Stand Alone (1968) te maak.
In 1968 het hy ook die Super Session saam met Bloomfield en Stephen Stills gemaak, en in 1969 het hy die 15-jarige Shuggie Otis se loopbaan aan die gang gesit met Kooper Session. In hierdie tyd het hy ook sy fameuse bydrae tot die Rolling Stones se liedjie “You can’t always get what you want” gemaak (die verwerking asook die koor), en gespeel op albums van Cream, The Who, Jimi Hendrix, BB King en Alice Kooper.
Kooper was die persoon wat Lynyrd Skynyrd ontdek het, en was produksieleier van hul eerste drie albums. Hy het The Tubes se eerste album gemaak, musiek geskryf vir TV-reekse (Crime Stories), rolprente (onder meer The Landlord) en was die dryfkrag agter die Banana Splits-musiekreeks.
Nadat hy sy outobiografie (Backstage Passes) gepubliseer het, het hy ‘n losse groep van skrywers georganiseer om hul eie rock-groep te begin (en orrel vir hulle gespeel). Die groep heet Rock Bottom Remainders, en bestaan uit Dave Barry, Stephen King, Amy Tan, Matt Groening en Scott Turow.
Kooper se solo-albums is moeilik op te spoor in CD-winkels (ek het per reinste toeval myne in die hande gekry by Concierto in Amsterdam), maar mens kan feitlik almal op die internet koop en aflaai (MP3Fiesta het feitlik almal). Die titels is: I Stand Alone (1968), You Never Know Who Your Friends Are (1969), Easy Does It (1970), New York City (You’re A Woman) (1971), A Possible Projection of the Future / Childhood’s End (1972), Naked Songs (1973), Act Like Nothing’s Wrong (1977), Rekooperation (1994), Soul of a Man (1995), Rare and Well Done (2001), Fillmore East: The Lost Concert Tapes 12/13/68 (met Mike Bloomfield, 2003), Black Coffee (August 2005) en White Chocolate (2008).
Hiervan is I Stand Alone en Black Coffee onmisbaar, en die res is, ofskoon van wisselende gehalte, goed genoeg om elke slag ten minste ‘n handvol onvergeetlike liedjies op te lewer. Die videogrepe hieronder gee ‘n goeie idee van sy loopbaan. “Jolie” kom van die album Naked Songs, en op die laaste videogreep speel Kooper en sy groep die beroemde “Green Onions” (van Booker T and the MGs) wat ook te hoor is Black Coffee.
Onlangse kommentare