Jy blaai in die argief vir 2009 Desember.

by ctb

Jan Garbarek vir Kersfees

Desember 24, 2009 in Sonder kategorie

Jan Garbarek is ‘n Noorweegse saxofoon-blaser vir wie ek groot agting het en oor wie ek later graag meer sal wil skryf. Maar nou, in die Kersgety, wil ek net ‘n videogreep plaas waarop ek ‘n ruk gelede afgekom het. Daarin word een van die snitte op sy CD Officium gebruik saam met foto’s gelig uit die rolprent The Last Temptation of Christ. Dit is effens sjokoladeblikkerig, maar die geheel is treffend.

My beste wense in hierdie tyd.

by ctb

Captain Beefheart – The Spotlight Kid & Clear Spot

Desember 21, 2009 in Sonder kategorie


As ek moeg word vir die lewe in die stad kyk ek na my DVD van The Big Lebowski. Dis sanerend. Toe ek in die afgelope naweek myself die BL-behandeling gee, val dit my op dat in een van die tonele waar The Dude vir hom ‘n Black Russian skink, daar ‘n massiewe stuk musiek op die agtergrond speel.

Captain Beefheart en sy Magic Band met “Her eyes are a blue million miles”. Einste die tweede beste snit op Clear Spot, daar uit 1972.

Nou Captain Beefheart (gedoop Donald van Vliet) is nie almal se glasie Black Russian nie. Hy laat Janis Joplin na ‘n operasangeres klink – hy glo daarin om die blues nie alleen te sing nie, maar te klankskilder. Dis ‘n aanhaling! En sy Magic Band speel nie soseer die note nie, maar die note tussen-in. Dis ook ‘n aanhaling.

Die probleem was altyd, veral met sy epogmakende Trout Mask Replica (1969), dat as mens nie toegewings maak nie, en die Captain as jou eie persoonlike groove-master aanvaar nie, dan moet jy liewer nie na hom luister nie.

Toe kom 1972 aan, en die Captain reik twee albums uit. The Spotlight Kid (wat nog al die jare my gunsteling is) was ‘n solo-plaat, hoewel die Magic Band daarop speel, terwyl Clear Spot ‘n volle Captain Beefheart and His Magic Band-projek is. Spotlight Kid was minder toeganklik, baie meer blueserig, terwyl Clear Spot ‘n baie bewustelike poging was om om deur te breek na ‘n groter gehoor met meer luisterbare materiaal.

Een van die snitte op Clear Spot, “Big eyed beans from Venus”, is top-werk en bevat die onvergeetlike Beefheart-reël: “Mister Zoot Horn Rollo hit that long lunar note and let it float …” En dan laat Zoot Horn Rollo daai noot dryf.

Die Magic Band, net vir die rekord, het onder byname gespeel. Hulle was Zoot Horn Rollo (Bill Harkleroad, kitaar), Rockette Morton (Mark Boston, baskitaar), Drumbo (John French, tromme), Ed Marimba (Art Tripp, marimba, klavier en klavesimbel) en Winged Eel Fingerling (Eliot Ingber, kitaar). Die Captain het ook geskilder en bekfluitjie gespeel. Op Clear Spot het Orejon (Roy Estrada) vir Rockette Morton gehelp met die baskitaar.

Ek hak vier videogrepe aan, die eerste twee van The Spotlight Kid, die laaste twee van Clear Spot.

Wees gewaarsku. Die Captain se Magic Band het hom ná hierdie twee albums verlaat, omdat hy glo ‘n slawedrywer was. Miskien het hulle net opgehou van LSD hou.

by ctb

Dwight Yoakam – Last Chance for A Thousand Years

Desember 18, 2009 in Sonder kategorie

Time Magazine het nie gespeel toe hulle Dwight Yoakam ‘n “renaissance man” genoem het nie.  As mens kyk waarmee hy al welslae behaal het, kan dit nie anders nie: hy is in ‘n wêreld van nabootsers ‘n waarlik oorspronklike country-kunstenaar, hy is ‘n gereelde en suksesvolle film- en verhoogakteur, hy is ‘n entrepeneur wat sy eie reeks koekies geskep en met enorme welslae bemark het.

As jy wil sien wat Yoakam as akteur kan doen, soek gerus die flieks Crank, Four Christmassas en Panic Room op. Hy het duidelik ‘n natuurlike aanvoeling daarvoor. Hy is nie onaansienlik nie, beweeg met ‘n lui sensualiteit wat ook opmerklik is in die verhoogoptredes – kyk maar gerus na die talle konsertgrepe wat van hom op YouTube te siene is.

Wat ook opvallend is, is die feit dat Yoakam ‘n lekker spel kan speel met die verwagtinge van sy gehore, hulle met sy kenmerkende styfpassende jeans betower en met sy humorsin bewus hou van sy menslikheid. Daarom is dit verstaanbaar dat sy grootste bewonderaars mense soos Johnny Cash en Chris Isaak was.

Yoakam het sedert sy debuut met Guitars, Cadillacs Etc Etc (1986) sy musiek self getipeer as honky tonk – moontlik omdat Nashville hom nie aan hul besoedelde borste wou koester nie. Yoakam het Los Angeles sy basis gemaak (nes sy held, Buck Owens, met Bakersfield gemaak het), en die res is geskiedenis. Hy het ‘n wêreldgehoor gewen, Nashvile het mettertyd ingeval.

 Last Chance for A Thousand Years is ‘n keur van die beste snitte op Guitars, Cadillacs Etc Etc (1986), Hillbilly Deluxe (1987), Buenas Noches From A Lonely Room (1988), If There Was A Way (1990), This Time (1993), Gone (1995), A Long Way Home (1998), Tomorrow’s Sounds Today (2000) en South of Heaven, West of Hell (2001).

Ek kan enige van hierdie CDs aanbeveel, maar die voordeel van Last Chance is dat dit mens ‘n idee gee van die omvang van Yoakam se musiek. Luister na sy weergawes van Elvis Presley se “Suspicious Minds” en daarna na die manier waarop hy Queen se Crazy Little Thing Called Love” vertolk. Die man het talent en selfvertroue, en daarom kan sy vertolkings van hierdie liedjies enige dag naas die oorspronklikes staan.

So goed as wat Yoakam op CD klink, so skraps is die ordentlike opnames wat daar van sy musiek op YouTube beskikbaar is. Meeste daarvan is deur bewonderaars vanuit die gehoor geneem, wat beteken die klank is swak. Die videogrepe hieronder is van die gangbaarstes, en wees geduldig met die een van “Turn It On, Turn It Up, Turn Me Loose”. Dit is Yoakam se amptelike video vir dié liedjie, en die inleiding is lank en gedoop in Yoakam se lakoniese humor.

by ctb

10cc – The Original Soundtrack

Desember 15, 2009 in Sonder kategorie

 

Soveel talent bymekaar, en uiteindelik so min om te wys. Mens kan 10cc se loopbaan in drie verdeel: die fase voor The Original Soundtrack, wat treffers soos “Rubber Bullets” en “Donna” opgelewer het; die tyd rondom The Original Soundtrack en How dare you!; en hul laaste fase, met Kevin Godley en Lol Creme wat die groep Godley & Creme gestig het, en Graham Gouldman en Eric Stewart wat voortgegaan het onder die naam 10cc.

Volgens die vier lede van die groep was die opnames vir The Original Soundtrack (1975) reeds afgehandel toe hulle op grond van een van die liedjies, “I’m not in love”, ‘n nuwe platekontrak beding het en hulself met een magtige sprong uit armoede en vodde geruk het. Dit is maklik om te sien hoekom. Die opnametegniek was revolusionêr vir sy tyd – ‘n doelbewuste poging om die Beach Boys se “All I wanna do” (Sunflower, 1970)  ‘n stap verder te voer deur die veelvoudige opneem van sangstemme sodat die hoofsanger mettertyd sy sang neerlê op ‘n groot bed van wydgespreide agtergrondsang. “I’m not in love” het dan ook die groep se heel grootste treffer geword – geskryf deur Gouldman en Stewart.

The Original Soundtrack het een ander groottreffer opgelewer, synde “Life is a minestrone”, ook van Guldman en Stewart. Maar die album se groot besprekingsunt was “Une Nuit A Paris”, ‘n komposisie van Godley en Creme wat nie alleen hul liefde vir musikale eksperimentering getoon het nie, maar ook die boertige humorsin wat mens so dikwels in hul liedjies terugvind.

Dié liedjie is ‘n soort mini-operette, agt minute lank, vol verrassende wendings en draaie, en volgens die Wikipedia was dit deels die inspirasie vir Queen se “Bohemian Rhapsody”. Ek is bevrees ek vind dit moeilik om te glo, en het nog nêrens in enige onderhoude met Freddie Mercury of boeke oor Queen ‘n aanduiding gekry dat hy deur “Une Nuit A Paris” beïnvloed is nie.

Wat wel ‘n feit is, is dat Andrew Lloyd Webber die melodie van “Une Nuit A Paris” gebruik het in die overture tot sy musiekspel Phantom of the Opera.

by ctb

The Who Sell Out

Desember 12, 2009 in Sonder kategorie

Die ou gesegde is dat as mens die jare sestig kan onthou, dan was jy nie daar nie. M-maar sommige van ons was toe nog op skool en ons kan meeste daarvan goed onthou. En sommige van die herinneringe is koddig.

Soos: Toe die Rolling Stones “Have you seen your mother baby standing in the shadows” uitgebring het, het Melody Maker en NME albei geskryf dat die skrif aan die muur is en dat dit van toe af net afdraende pad vir die Stones sou wees.

Soos: Dat die einde vir die Beatles voorspel is toe hulle hul eerste groot terugslag had. Dié terugslag was dat hulle besluit het om eers hul fliekprojek Let it be terug te hou en gou ‘n ander album (wat Abbey Road sou word) op te neem. Vandag dink meeste mense Let it be  is ná Abbey Road opgeneem, wat natuurlik foutief is.

Soos: Met die uitreiking van “I can see for miles” is algemeen aanvaar dat The Who besig was om af te dwaal na psigedeliese rock. Verkeerd!

As mens vandag na The Who Sell Out luister, hang jou bek letterlik oop. Die konteks daarvoor was enorm (by gebrek aan ‘n beter woord). Die Beatles het die jaar vantevore Revolver uitgereik, en die Beach Boys Pet Sounds. Terwyl The Who besig was om Sell Out op te neem, was die Beatles besig met Sgt Pepper’s Lonely Hearts Club Band, en die Beach Boys met Smile. Almal in die bedryf het geweet daarvan, en die musiekpers was vol met berigte oor hoe dit vorder. Die Who het dus geweet dat hulle met ‘n meesterlike plaat sou moes vorendag kom om saam te kon gesels.

The Who Sell Out is in 1967 uitgereik, maar eers met die uitreiking vanjaar van die Deluxe Edition kry ‘n mens die projek in sy volle glorie te hoor – ‘n konsepplaat bestaande uit snitte wat verbind is deur advertensies vir Charles Atlas Body Building, vir reukweerders, vir Heinz Baked Beans en baie meer, wat almal kwansuis deur ‘n Londense roofradio, Radio London, uitgesaai word. Die musiek self is nog pop-musiek, met nu en dan tekens van die groep se rock-spiere.

Gewis was “I can see for miles” ‘n kopknik in die rigting van San Fransisco, maar die res het meer te doen met die groep se beheptheid om so goed soos die Beach Boys en Beatles te kon sing, en om liedjies te skryf wat so eenvoudig klink maar onderliggend so kompleks is as wat Lennon/McCartney of Brian Wilson in daardie tyd kon lewer. Tematies is die liedjies dan ook veel meer onskuldig as die dinge waaroor Pete Townshend die groep later sou laat sing.

Die gevolg is dat Roger Daltrey heelwat minder die rol van hoofsanger vervul op Sell Out, terwyl Townshend se liedjies in vele rigtings by Britse pop-tradisies aansluit. Daar is ‘n flirtasie met klassieke musiek (“In the hall of the mountain king”) en daar is ‘n interessante advertensieklingel “Top Gear”. Wens Jeremy Clarkson wil dit naderklap.

Iets wat ek nie besef het destyds nie, was dat daar ‘n baie spesifieke agtergrond vir die advertensies was. Mens het geweet dié op die plaat is fabrikasies – maar verstommend genoeg was die groep in 1965 en 1966 besig om hul inkomste aan te vul met die opneem van radioklingels en advertensiemusiek. Tye verander!

Die visuele grepe hieronder is nie sterk op die video nie, maar vir diegene met geduld kan die volledige album gehoor word. Geniet – dit is ‘n besonderse album. Vir diegene wat daarin belang stel om dit te koop van die internet af, kan vanjaar se Deluxe-uitgawe by MP3Fiesta, MP3Sale en MP3Panda gekoop en afgelaai word.

by ctb

Amazing Blondel – Fantasia Lindum

Desember 9, 2009 in Sonder kategorie


‘n Baie luidrugtige rock-groep genaamd Metusalah is verantwoordelik vir die ontstaan van Amazing Blondel. Daar in 1969 het twee van Metusalah se lede, John Gladwin en Terry Wincott, halfpad deur Metusalah se konserte ‘n paar akoestiese nommers gespeel. Die gehore het soveel daarvan gehou dat die twee die groep verlaat het om op akoestiese musiek (folk) te konsentreer.

En nie sommer enige folk-musiek nie. Die duo het gekonsentreer op die herskep van Renaissance-musiek. Dit is die feite. Ander tersaaklike feite is dat die Renaissance-musiek wat die twee wou herskep, in ‘n groot mate geïnspireer is deur die klankbaan-musiek van ‘n ou Britse TV-reeks, Robin Hood.

Dat hulle dit wel reggekry het om nie net pseudo-Renaissance-musiek te skep nie, maar wel by die werklike bron uit te kom, veral danksy die moontlikhede wat hul instrumente gebied het, is merkwaardig. As jy na Fantasia Lindum luister, veral die tweede kant en “Celestial Light” op die eerste, is dit baie moeilik om aan Amazing Blondel se betowering te ontsnap. Uiteraard is dit gek om vandag te probeer beweer dat hulle die tydsgees van die Renaissance deeglik vasvang –  hoe sou mens weet? Maar ek skat hulle kan ook nie ver verkeerd wees nie (vgl. die godsdienstige strekking van “Safety in God Alone”).

Wat hulle regkry met kitare, luite en die talle variasies van die blokfluit uit die Renaissance-tydperk, is asembenemend. Fantasia Lindum is sedert dit uitgereik is in 1971 een van my gunstelinge, en ek luister baie gereeld daarna.

Op hierdie album het Eddie Baird sy teenwoordigheid baie meer laat geld as op die plaat se voorganger, Evensong. Die groep se albums ná Fantasia Lindum is wisselvallig (spesifiek in die gevalle waar Gladwin nie deel is van die groep nie) en ‘n bietjie herhalend (waar Gladwin wel teenwordig is). Wat wel ‘n troos is, is die feit dat hul vakmanskap altyd bo verdenking is. Soek gerus op die Internet hiervoor – daar is op die P2P-netwerke verskeie van die latere albums beskikbaar, terwyl Evensong en Fantasia Lindum steeds as CDs beskikbaar is in die winkels en web.

Die opnames hieronder is meer onlangs gemaak, maar is getrou aan die oorspronklikes.

by ctb

Madeleine Peyroux – Careless Love

Desember 7, 2009 in Sonder kategorie

 

Die afgelope twee dekades was ‘n baie vrugbare tyd vir sangeresse wat die moeilike genre van jazz-sang beoefen. Norah Jones se welslae was moontlik die skouspelagtigste, maar mens moet ook nie vergeet van mense soos Patricia Kaas en Diana Krall nie. En beslis nie vir Madeleine Peyroux nie.

Peyroux is ‘n Amerikaanse sangeres wie se voorsate Franse was. Sy het haar jeug in New York en suid-Kalifornië deurgebring. Sy is op ouderdom 13 na Parys saam met haar ma nadat haar ouers geskei het. Haar pa en ma was albei akademici, maar met ‘n sterk boheemse klap weg. Haar pa het sy dogter van vroeg af leer jazz luister, en toe sy as straatmusikus in Parys begin sing het, was dit nie net Franse minneliedere nie, maar ook ou jazz-liedjies.

Peyroux het haar debut gemaak met Dreamland in 1996 en was toe afwisselend verhoog- en straatmusikus tot 2003. Haar tweede album was Got you on my mind (2004) en Careless Love het in dieselfde jaar gevolg. Haar jongste labum heet Bare Bones (vanjaar).

Careless Love is die maklikste aanknopingspunt. Dit behoort gou duidelik te wees hoekom Peyroux so fenomenaal gewild geword het onder jazz-liefhebbers: Haar sangstem herinner baie sterk aan dié van die legendariese Ella Fitzgerald, maar dit het ook ‘n opvallende sensuele element wat by Fitzgerald nie altyd so prominent na vore gekom het nie.

Die titelsnit is Peyroux se vertolking van W.C. Handy se bekende liedjie, maar die openingsnit is die een wat Peyroux se groot deurbraak uitbasuin het: ‘n Wonderlike weergawe van Leonard Cohen se “Dance me to the end of love”. Daarbenewens is daar ook besonder gangbare weergawes van Bob Dylan se “You’re gonna make me lonesome when you go”, Elliott Smith se “Between the bars” en Hank Williams se “Weary Blues”.

by ctb

The Strokes – Is This It

Desember 3, 2009 in Sonder kategorie

 

Saam met die jaar se einde kom daar ook die lyste – beste dit, kwaaiste dat. Die Internet-musiekhandelaar eMusic het pas hul lys van die dekade se 100 beste album gepubliseer. The Strokes se Is this it is daarvolgens die top-CD wat tussen 2000 en die begin van 2010 uitgereik is.

Net vir interessantheid, hier’s hul Top 10:

  1. The Strokes – Is this it
  2. The Hold Steady – Seperation Sunday
  3. The Mountain Goats – The Sunset Tree
  4. M.I.A. – Arular
  5. Burial – Untrue
  6. Ghostface Killah – Supreme Clientele
  7. Panda Bear – Person Pitch
  8. Spoon – Girls can tell
  9. Interpol – Turn on the bright lights

10. Arcade Fire – Funeral

Ek vermoed hul keuse was beperk tot die musiek waarin hulle handel dryf. Hoe anders verklaar mens die afwesigheid van byvoorbeeld Muse se The Resistance of die Manic Street Preachers se Send Away the Tigers?

Nietemin, dit was nogal lekker om The Strokes weer aan die gang te kry. Toe hulle in 2000 bekend begin word het, is hulle beskou as die aankondigers van ‘n nuwe era van garage-rock.

Mens moet ‘n goeie aanvoeling vir ironie hê elke keer dat die term garage-rock gebruik word. In die jare sestig was Iggy Pop en sy Stooges beskou as garage-rock in ‘n tyd dat psigedeliese rock die botoon gevoer het. Die rede vir garage-rock se aantreklikheid is dat dit altyd in ‘n tyd van musikale bombasme teruggryp na onversierde, gestroopte rock. Die jare sewentig het die Ramones opgelewer, en in ‘n sin was die hele Britse punk-beweging ‘n poging om daardie rouheid vas te vang.

Die Strokes het skouer aan skouer gestaan met groepe soos die White Stripes en The Hives. Na die aanvanklike opgewondenheid word garage-rock se groepe opgeneem in die hoofstroom – genadiglik nadat hul onopgesmuktheid die res van ons teruggebring het na groter musikale nugterheid. Hul vierde CD word tans voorberei vir uitreiking, en volgens berigte klink dit na ‘n mengsel van rock uit die jare sewentig en futuristiese musiek. Van die garage-rock van Is this it het skynbaar min oorgebly.

Hieronder is ‘n paar snitte uit Is this it. Luister so hard as moontlik.