David Sylvian – Manafon
November 30, 2009 in Sonder kategorie
As jy in die jare tagtig jou musiek-bewussyn gekry het, sal jy goed weet van David Sylvian en sy groep, Japan. Sy loopbaan as solo-kunstenaar het nie heeltemal geval in die smaak van diegene wat versot was op Japan se soort New Romantic-musiek nie. Tog het dit hom ‘n getroue gevolg besorg van mense wat bereid was om sy eksperimentasie en improvisasie te verduur.
Sy eerste solo-plaat, Brilliant Trees (1984), bly vir my een van sy beste. Dit spog met bydraes deur Ryuichi Sakamoto, Jon Hassell en Holger Czukay.
Sy volgende noemenswaardige album was Secrets of the Beehive (1987) waarop hy weggebreek het van sy oorheersend elektroniese instrumentasie na instrumentasie waar klankversterking geen rol speel nie.
Sylvian se musiek het deur die jare in verskeie rigtings gesteier: jazz, soul, jazz-fusion en Oosterse minimalisme. Hy is baie sterk op die visuele komplementering van sy musiek ingestel, en sy jongste CD, Manafon, is vergesel deur ‘n DVD, Amplified Gesture.
Die musiek op Manafon is uiters minimalisties en feitlik ontdaan van enigiets wat naastenby as ‘n melodie beskryf sou kon word. Vir my gevoel sal ek liewer die goeie sangstem van Scott Walker in só ‘n konteks wou hoor as die amper goeie stem van David Sylvian. Ek vind dit is makliker om na die videos hieronder te kyk as om na die musiek alleen te luister, tensy ek die dag erg bedruk is en ‘n behoefte het aan iets wat my verder afrem.
Maar vir die getroue bewonderaars van David Sylvian is Manafon seker soos manna uit die hemel. Elke diertjie sy plesiertjie!
Onlangse kommentare