Jy blaai in die argief vir 2009 Oktober.

by ctb

Loudest Whisper – The Children of Lír

Oktober 31, 2009 in Sonder kategorie

 

Een van die hartseerste dinge waarop ‘n mens in die musiekwêreld afkom, is daardie kunstenaars wat ‘n werklik skitterende plaat maak, maar ongelukkig is dit in ‘n musikale styl wat pas uit die mode geraak het. Loudest Whisper is een van die heel beste voorbeelde daarvan.

Die groep se legendariese (in die volste sin van die woord) album The Children of Lír is in 1974 uitgereik. Beskou die konteks: Pink Floyd se konsepalbums Dark Side of the Moon en Wish You Were Here is reeds uitgereik, die Eagles se Desperado en Hotel California het die wegswaai van progressiewe rock-musiek na country-rock bewerkstellig, Cat Stevens se Tea for the Tillerman en Teaser and the Firecat het folk-rock se hoogtepunte gebring, en ELO het gesorg vir die uitwoed van kwasi-klassieke rock.

En hier kom uit Ierland ‘n groep met ‘n konsepalbum oor die Lir-mite – musikaal iewers tussen folk-musiek en progressiewe of psigedeliese folk geplaas – en dit help net niks dat die musiek sag, melodieus, ongelooflik mooi en die lirieke verskriklik opreg is nie. Want die wêreld is besig om ryp te word vir die seisoen van aakligheid, ingelei deur die Sex Pistols se “Anarchy in the UK”.

Die Lir-mite handels kortliks oor vier kinders, die laaste van hul generasie, wat deur ‘n stiefmoeder in swane verander word, en nadat hulle die 900 jaar-lange vervloeking van die stiefmoeder deurgeleef het, keer hulle na normaal terug, word as Christene gedoop, maar dan tref die teenslag hulle: Hulle verouder bitter vinnig en sterf.

Inligting oor die groep is skraps – ek kon alleen vasstel dat die broers Brian en Paul O’Riely sentraal staan, gehelp deur sangeres Geraldine Dorgan. Daar moet nog ander lede ook wees, en foto’s bevestig dit. Daar is ook goed gebruik gemaak van die bystand van ‘n groep strykers, en perdalks ook ‘n teug of twee aan die aaptwak.

Die CD is op die Internet te koop, en hopelik sal die paar snitte hieronder help oordra dat hierdie ‘n album is wat elke ordentlike versamelaar behoort te hê.

by ctb

David Byrne: Music from The Knee Plays

Oktober 29, 2009 in Sonder kategorie

 

Daar is tye wat mens graag iets wil hoor wat só anders is as die musiek waaraan jy gewoond is, dat jy nie eintlik weet waar jou hulp vandaan sal kom nie.  Tensy mens Portugees magtig is, help dit nie om na obskure sangers van Brasiliaanse samba-variante te gaan luister nie. 

Ek het baie plesier geput uit David Byrne, stigter van die Talking Heads, en sy pogings om in sy solo-loopbaan die musiek van Suid- en Sentraal-Amerika te ontsluit. Maar sy album wat my die meeste bevredig het, is iets wat hy op sy eie voorstoep gemaak het, naamlik Music for the Knee Plays.

Dit is in 1984 die eerste keer uitgevoer, en is eintlik kort interludes vir die toneelveranderinge tydens die opvoering van die Amerikaanse gedeelte van regisseur Robert Wilson se the CIVIL warS: a tree is best measured when it is down.

Die opvoering van die Amerikaanse gedeelte van die werk was in die styl van Japannese Bunraku-marionettespel, en getrou aan Byrne se dwarsheid het hy toe die musiek gaan haal in die styl van ‘n groep van New Orleans wat daarvoor verantwoordelik is dat funk en New Orleans blaasorkes-musiek ontmoet, naamlik die Dirty Dozen Brass Band.

Die album is ‘n nimmereindigende bron van kuriositeit: jy kan die musiek volg, want dit klink omtrent soos ‘n dekonstruksie van ‘n versameling bekende frases en clichés. Of jy kan Byrne se woordskilderings tussendeur en bo-oor volg – dit gee ‘n baie interessante blik op die groter prentjie waarmee Robert Wilson in CIVIL warS werk.

Wat my die meeste gekielie het, is dat ‘n mens se uiteindelike gewaarwording een is van wag en wag op die punch line, maar dit kom nie.  Dié was seker in die toneelstuk self …

Die grepe hieronder kom uit Byrne en die Les Misrabeles-ensemble se uitvoering van die werk vir BBC2 in 1988.

 


by ctb

Edgar Broughton Band – Sing Brother Sing / eponieme album

Oktober 27, 2009 in Sonder kategorie

 

In 1968, toe ek in Standerd 9 was, was ek ingeteken op die Melody Maker en NME. Ek onthou hoe ek die eskepades van die Edgar Broughton Band gevolg het – anargiste wat konserte agterop vragmotors gehou het, voordurend op vlug was voor die polisie uit, en oor die algemeen legendariese status bereik het. In dieselfde tyd het ek begin luister na Captain Beefheart se eerste plate, en teen die tyd dat ek my eerste album van die Edgar Broughton band aangeskaf het, was hul musikale aanslag maklik verteerbaar (by gebrek aan ‘n ander beskrywing!).

Die Edgar Broughton Band se wortels lê in die blues – maar teen 1969 het die psigedeliese tye hulle ingehaal. Edgar en Steve Broughton, die kern van die groep, is en was altyd anargiste, en die EBB se weergawe van psigedeliese rock neig nader aan Captain Beefheart (vir wie hulle ‘n baie sagte plekkie het) as aan Pink Floyd. Die EBB was, nes Pink Floyd, gekoppel aan die platemaatskappy Harvest. Die EBB se klank moes jy op volle volume beluister.

Wasa Wasa, hul eerste album (1969) was nog ‘n bietjie rof en ongelyk, maar Sing Brother Sing (1970) is ‘n ander storie. Die eerste snit, “The Moth”, het ‘n amper pastorale aanslag, totdat jy die lirieke beluister. Hierdie manne ken die skadusy van die lewe. Dit word gevolg deur “Momma’s Reward”, waarop die sang die groot invloed van Captain Beefheart baie duidelik maak. En dan volg die sports: “Refugee” is baie dramaties en swartgallig, “Officer Dan” is ‘n bietjie vaudeville ten koste van geregsdienaars, “Old Gopher” boogy disrespekvol, en so aan tot by “Psycopath”, wat vandag mak klink, maar destyds absoluut opslae gemaak het. Soos gesê, die Broughton-trio het geweet hoe om die skadusy van die lewe bloot te lê. In totaal is Sing Brother Sing ‘n dwarsdeursnit van die dele van 1969/1970 wat mens nie eintlik onthou nie. Wat sin maak – die Stones het in daardie tyd Altamont oorgekom, en het dieselfde dinge oorgedra met “Sympathy for the Devil”.

EBB se eponieme album van 1971 spog met Victor Unitt terug in die groep. Dit is loshande die groep se beste plaat. Dt open met Dabid Bedford se simfonie-orkes wat die groep begelei met die speel van “Evening over Rooftops”, ‘n onvergeetlike, voortdurende opbouende vertelling van ‘n dag in die stad en die naderende donkerte. Uiteraard vertel dit van heelwat meer ….

Daarna swaai die groep terug na hul kragtige soort rock, met telkens ‘n sweem van folk-rock en selfs country (“Poppy”). Hul psigedeliese oomblik breek met “For dr. Spock” aan (nog altyd vir my een van die lekkerste snitte hierop), en dan kom die EBB se twee groot moordenaar-liedjies van hul loopbaan – “Out Demons Out” en “Apache Dropout”. Eersgenoemde is die groep se wekroep en reaksie op ‘n liedjie van die Fugs, en laasgenoemde is ‘n samestelling van die Shadows se “Apache” en Captain Beefheart se “Drop Out Boogie”.

Vir avontuurlike luisteraars, en te koop en af te laai op die Internet.

by ctb

Ellen Foley – Spirit of St. Louis

Oktober 26, 2009 in Sonder kategorie

Mense met ‘n intieme kennis van die musiek van Meat Loaf, sal weet dat Ellen Foley die een is wat die duet saam met hom sing in die liedjie “Paradise by the Dashboard Light”. TV-kenners weer sal haar onthou as Billie Young in die eerste seisoen van die reeks Night Court.

Ek onthou haar weer as die vrou wat bewys het dat Mick Jones en Joe Strummer van The Clash ook maar net mense is.

Foley het in ‘n stadium vir Jones gewys dat daar nie iets is soos ‘n maklike liefdesverhouding nie. Jones het die verhaal van hul stormagtige verhouding opeteken in die liedjie “Should I Stay or Shoul I Go”. Maar daar was darem ook ‘n keersy. Foley was na haar deelname aan Meat Loaf se konsertreise in taamlike groot aanvraag – nie minder nie as twee groot geeste het gespring om produksieleier te wees van haar debuutalbum, Nightout (1979) – Mick Ronson en Ian Hunter.

Teen die tyd dat sy haar tweede langspeler begin opneem het, het sy en Jones mekaar se hormone al deeglik opgejaag gehad.  Foley sing op die liedjie “Hitsville USA” op die Clash se album Sandinista! (1980), en Jones is die produksieleier van Foley se tweede album, Spirit of St Louis (1981).

Jones en die Clash se Joe Strummer het meeste van die musiek op hierdie tweede album geskryf. Dit vertoon verbasend pop-erige fassette van hul musiek. Spirit of St. Louis is ‘n pragtige plaat: melodieus, ‘n groot spektrum van emosies word aangeraak en gee vir Foley die kans om te wys waartoe sy in staat is.

‘n Liedjie soos “The Shuttered Palace” is eintlik niks meer as Europop nie, maar die lirieke maak dit iets veel meer substansieels. “Beautiful Waste of Time” gee haar kans om as sangeres ‘n bietjie te speel. Sy het ‘n wonderlik ekspressiewe stem, iets wat sy op “My Legionaire” en “Games of A Man” skitterend benut.

Die album se hoogtepunt is “Theatre of Cruelty”, wat in styl terughunker na die jare vyftig. Foley het darem een van die uniekste sangsteme van haar era – ‘n stem soos ‘n voice, het iemand eens gesê. Maar die snit word weggeraap uit die hande van voorspelbaarheid deur Jones se produksiewerk, wat miskien op s’n beste beskryf kan word as Nick Lowe De Luxe.

Hierdie album is by verskeie Internet-handelaars te koop en af te laai.

by ctb

Bob Dylan – Christmas in the Heart

Oktober 23, 2009 in Sonder kategorie


 

Ja, ek hou daarvan!

 

Die ding is, al sou Bob Dylan die lys met kontra-indikasies op die pamflet in ‘n purgasieboksie gesing het, sou ek dit geniet het.  Ek is ‘n Dylan-apologeet.

Ek besef daar kan net een ding erger wees as Bob Dylan wat kersliedere sing, en dit is die Grateful Dead wat dit doen – en dan neem in ag dat Phil Spector se Christmas Album  die maatstaf is waarvolgens mens hierdie feestelike pogings beoordeel.

Dylan se CD is besonder buitenissig en daarom uiters gaaf. Hy sing “Here comes Santa Claus” asof hy sy sinusprobleme finaal afgeskud het. Dartelende Dylan, ek maak nie ‘n grap nie.

Hy het, met een uitsondering, nie werklik probeer om die bekende benaderings tot die liedjies te verander nie. Sy vertolkings is geanker in die jare vyftig. Luister veral na “Winter Wonderland” en “Christmas Island” met hul vroulike agtergrond-sangers in die trant van die Andrews Sisters. En op “The First Noel” kry ons held dit werklik ook reg om ‘n hoë noot te slaan.

Die uitsondering waarna ek verwys, is “Must be Santa”, wat nie uit plek sou gewees het op Ry Cooder se Show Time of Chicken Skin Music nie. Dit het ‘n treklklavier en ‘n baldadige Tex-Mex-ritme, heeltemal in kontras met die ander musiek se vrome hupsheid.

Vir die rekord: Alle opbrengste uit die verkope van hierdie CD (en ondersteunende konserte) word geskenk aan ‘n instansie wat kos versprei onder diegene wat hongersnood het. Dit is alles goed en wel, maar kinders met vol magies gaan hierdie CD minder geniet as ek en ander Dylan-aanhangers wat nie skewe woorde in sy rigting duld nie.

by ctb

Dr. Strangely Strange

Oktober 20, 2009 in Sonder kategorie

 

My gunsteling Ierse folk-groep bly Tir Na Nog, maar Dr. Strangely Strange het om heel ander redes ‘n baie sagte plekkie in my hart gekry. Die groep is in 1969 deur die Britse produksieleier Joe Boyd onder sy vlerk geneem – Boyd synde die man wat die Incredible String Band se mak Svengali was. Omdat ek destyds die grond aanbid het waarop die ISB geloop het, moes ek eenvoudig na Dr. Strangely Strange ook luister.

Die groep se personeel was omtrent soos die wisselende deelnemers aan ‘n orgie, maar die kern was altyd teenwoordig, naamlik Jim Booth (sang, kitaar), Ivan Pawle (baskitaar, lawerborde, sang), Tim Goulding (sang en enige instrument onder die son), Andy Irvine (mandolien), Neil Wood (tromme), Orphan Annie Christmas (klawerborde en sang), Linus (fluite, vinger-simbale, sang, perkussie, autoharp) en Tim Booth (sang en vrek baie instrumente).

Gary Moore en Dave Mattacks het ook in stadiums hul gesigte in die groep gewys.

Hul eerste verskyning was as begeleidende musici op die ISB se Changing Horses (1969), wat volgens oorlewering die eerste plaat was wat die ISB nugter opgeneem het.  Daarna het die groep hul debuut uitgereik – Kip of the Serenes (1969), dit ‘n jaar later gevolg met Heavy Petting, waarna die groep uitmekaar is. In 1997 is Alternative Medicine: The Difficult Third Album uitgereik, en in 2007 Halcyon Days. Ek kon Alternative Medicine nie opspoor nie, nie eens met Rapidshare nie.

Wat ‘n mens van hul musiek moet weet, is dat dit soms baie chaoties klink. Hulle had ‘n besonder traakmynieagtige manier van dinge doen. Op die openingsnit van Heavy Petting (“Ballad of the Wasps”) maak iemand teen die einde ‘n fout met ‘n refrein, die groep bars uit van die lag en gaan ongestoord voort.

Die groep se debuutplaat, Kim of the Serenes, is die moeite werd om te gaan soek – ek het myne by die Peppermintstore-blog raakgeloop. Die ooreenkomste met die ISB is hierop die opmerklikste, met ongelooflik mooi melodië, en oulike aanwending van ou temas. Soms verbeel mens jou jy hoor Robin Williamson sing, asof hy soos Ivan Pawle probeer klink … Kan ook nie anders met al die kitare, klokkies, handgeklap, kazzoo’s, viole en pensklaviere in die rondte nie.

Hieronder is twee video-arm liedjies uit hul eerste en tweede albums.

by ctb

Koop – Koop Islands

Oktober 19, 2009 in Sonder kategorie

 


Koop – Koop Islands

Terugwerkend na die eerste inkarnasie van Depeche Mode het ek ‘n ingebore agterdog oor groepe wat met elektroniese wonderwerke en oëverblindery ‘n magtige klank vorendag bring. Kyk maar na die Pet Shop Boys, om een groep te noem: die een kêrel sing, en die ander staan by ‘n klawerbord en bring klanke vorendag wat normaalweg deur ‘n groep mense saam geskep word.

By nadere ondersoek blyk dit dan dat daardie een siel baie tyd en harde werk spandeer het aan die voorbereiding op rekenaar van daardie groot klanke. Jy moet hulle nie vlak kyk nie – die Vince Clarkes van die wêreld is die naaste aan genië wat die jare tagtig en negentig opgelewer het. Net jammer die musiek is so eenvlakkig.

Nou het ek met ‘n omweg – die TV-program So you think you can dance – uitgekom by Koop, ‘n merkwaardige jazzduo uit Swede. Die duo is Magnus Zingmark en Oscar Simonsson. Hul krag lê nie in die voorbereiding op rekenaar en dergelike elektroniese hulpmiddels van klankbane nie. Wat hulle doen, is om na ander mense se musiek te luister, en dan klanke daaruit te isoleer en uit te lig.

“O, wat ‘n netjiese C-kruis was daardie nie op die vibrafoon nie,” seg Magnus.

“Gaps dit,” giggel Oscar.

Dan gaps hulle dit, en bou daarmee n paar oktawe se note met die gesteelde noot as stamsel. So gaan hulle aan – kitaarakkoorde, klavierspel, tromslae, baskitare en so meer. Hul musiek is snit-vir-snit ‘n versameling gesteelde en geleende klanke, aangepas en vervorm om na hul sin te klink.

Die enigste werklike menslike bydrae is dié van die sangers, wat gewoonlik van Swede se voorste kunstenaars is: Ane Brun, Yukimi Nagano, Hilde Louise Asbjornsen, Rob Gallagher en Mikael Sundin.

Ander kunstenaars neem ‘n paar maande om ‘n CD op te neem. Koop werk tussen vier en ses jaar aan een CD. Tot op datum het hulle drie CDs in die mark: Sons of Koop (1997), Waltz for Koop (2002) en Koop Islands (2006).

Laasgenoemde is die beste aanknopingspunt, omdat die uitsonderlik begaafde sangeres Ane Brun daarop te hoor is. Daarna is Waltz for Koop aan te beveel. Aldrie CDs is op by Internet-handelaars te koop en af te laai.

Die liedjie hieronder is “Koop Island Blues” met Ane Brun wat sing.

by ctb

Audience – The House on the Hill

Oktober 16, 2009 in Sonder kategorie

Audience – The House on the Hill

Bun Booyens herinner my aan hierdie Britse groep wat soveel belofte gehad het, drie goeie albums gemaak het sonder om werklik deur te breek, en toe die lepel in die dak gesteek het (hul vierde album is daar ander musici voltooi) nadat die kern van die groep afgerokkel is na ander groepe. Trouens, sonder Audience sou daar geen Juicy Lucy gewees het nie. Ander lede het na Frankie Miller, Sharks, Stackridge en Hot Chocolate verkas.

Maar Audience was iets besonders en The House on the Hill, hul voorlaaste groot uitreiking (1971) is die vrylikste bekombaar in winkels en op die Internet.

Die kern van Audience se bekoring lê vir my in Howerd Werth se sangstem, en die wyse waarop Keith Gemmell se blaasinstrumente (klarinet, tenoor-saxofoon en fluit) om die beurt gebruik word om die musiek aan tekstuur te laat wen. As jy Audience se album Friend’s Friend’s Friend (1970) ken, sal die snit “Ebony Variations” jou al laat besef het dat Gemmell ‘n helsem is wanneer dit kom by die vermenging van jazz- met klassieke elemente. Op The House on the Hill is die uiteenlopende invloede beter geïntegreer.

Met die uitreiking van hierdie album destyds was dit in die hoogsomer van progressiewe rock. Audience het meer by Van der Graaff Generator aangesluit (Werth se sang herinner nogal aan dié van Peter Hamill soms) en Soft Machine aangesluit as by Pink Floyd of Yes, wat sin maak as mens in gedagte hou dat Audience baie lank in Ronnie Scot se jazz klub in Soho opgetree het.

Luister gerus hoe Gemmell se saxofoon ‘n gewone folk-refrein in “You’re not smiling” omvorm tot iets meer avontuurliks en rowwer, of hoe sy fluit op “Eye to eye” ander temas aangryp as die soort blaserye wat mens indertyd op ‘n vergelykbare Jethro Tull-liedjie sou aantref. Gemmell verstaan die emosionele rol wat ‘n fluit kan speel, en is ‘n meester wanneer hy sy saxofoon gryp om die clichés van rock-musiek teen te werk.

Daar bestaan ongelukkig nie konsertopnames van die groep nie – die videogreep hieronder plaas ek net om ‘n idee te gee van die musiek.

by ctb

Pete Townshend & Deep End (met David Gilmour) – Cannes 1986

Oktober 14, 2009 in Sonder kategorie

Pete Townshend van die Who het in die jare tagtig ‘n lang ruk diens gedoen as opdraggewende redakteur by die Britse uitgewer Faber & Faber. In dieselfde tyd was hy hy ‘n aktivis wat hom beywer het vir beter versorging van Brittanje se dwelmverslaafdes, en uiteraard teen dwelmgebruik.

Een van die uitvloeisels daarvan was ‘n plan om saam met Meg Patterson ‘n inrigting vir dwelmverslaafdes in Londen te begin. Hoewel daar dadels van gekom het, het hy gehelp met die stigting van die welsynsorganisasie Double-O Charities. Ten einde geld daarvoor in te samel, het hy die “supergroep” Deep End gestig. Deep end het twee konserte gehou, en twee TV-konserte.

Een daarvan is in Cannes gehou in 1986, en uitgesaai in die Europese TV-program Rockpalast.

Die groep het ingesluit Chucho Merchan (baskitaar), Simon Phillips (tromme), Rabbit Bundrick (klawerborde) en genooide kitaarspeler David Gilmour (van Pink Floyd). Voorts was daar ‘n vyftal agtergrondsangers, en ‘n koperblaasseksie van vyf man. Dis ‘n groot klank …

Die klankgehalte is fenomenaal, en dis duidelik dat hierdie musici byeen was om mense ‘n bietjie wakker te skud. Die materiaal steun swaar op Townshend se solo-plate van die laat jare sewentig en vroeë tagtigs (vgl. “Slit Skirts”, “Rough Boys” en “Second Hand Love”), met net drie Who-liedjies (“Won’t get fooled again”, “Behind Blue Eyes” en “Pinball Wizard”) wat ‘n kans kry.

Dit bring my by een van die interessante gewaarwordinge wat ek gekry het met “Pinball Wizard” – Townshend kan vier verskillende sorte hel uit hierdie liedjie speel, maar sonder die baskitaarspel van John Entwhistle (saliger) bly die liedjie effe tam. (In ‘n onlangse uitsending van die TV-program Biography oor Entwhistle is daar ‘n gedeelte waar Entwhistle verduidelik hoe allesoorheerend die baskitaar in daardie liedjie is – werklik verbluffend.)

Nietemin, soek dit met Google en laai af.

by ctb

Beck & Flaming Lips – KCRW Studios

Oktober 13, 2009 in Sonder kategorie


In 2002 het Beck Hansen sy CD Sea Change uitgereik. Kort vantevore het hy ‘n uitgebreide konsertreis deur die VSA onderneem om Sea Change se koms bekend te maak, en ná die uitreiking daarvan het hy weer begin konserte hou, met die Flaming Lips op die voorprogram, en met hulle as sy band.

Op 24 Desember van daardie jaar was hulle in Los Angeles, en is deur die radiostasie KCRW van Santa Monica gevra om ‘n konsert-uitsending vanuit die ateljee te maak. Vir die Flaming Lips was dit uiteraard geen uitdaging nie – hulle het al sedert 1999 met hul sogenaamde “headphone concerts” (waartydens die gehoor by hul koserte met oorfone op in detail kon luister na wat die musici op die verhoog doen) begin met pogings om perfeksie op die verhoog te bewerkstellig.

Hierdie radiokonsert van Beck kry dan ook al sy oemf van die Flaming Lips se ongelooflike vakmanskap, gekoppel aan ‘n klompie werklik betowerende Beck-én Flaming Lips-liedjies.

Dit is sekerlik een van die beste opnames van hierdie aard wat ek nog gehoor het (soek gerus na King Biscuit-opnames van allerlei kunstenaars as u hierin belang stel) en ‘n moet vir bewonderaars van sowel Beck as die Flaming Lips.

Hulle speel:

1 golden age

2 we live again

3 cold brains

4 do you realize

5 lonesome tears

6 lost cause

7 little one

8 paper tiger

9 new pollution

Soek met Google vir ‘n aflaaibare weergawe hiervan.