by crito

Ja maar nee maar

Februarie 23, 2022 in Uncategorized

As mens vir moeilikheid soek, koop net ‘n tweedehandse Alfa. Só het ek nog altyd geglo. Nie meer nie. Deborah Steinmair het ‘n nuwe manier gevind.

Dit werk só: Sy is ‘n uitgewer, ‘n goeie een. Flavour of the month in Pretoria, al vir 48 maande in ‘n ry. Ek ken haar goed, daar is al foto’s van ons twee geneem.

Ek is nie skaam om te sê nie dat sy as uitgewer en redakteur sulke merkwaardige resultate het dat skrywers om haar saamdrom, en ek is een van hulle.

En nou het sy moeilikheid vir haarself gaan maak in Vrye Weekblad deur ‘n boek wat uitgegee is deur Protea, haar werkgewer, te resenseer. Die liewe Hans Pienaar se Kaap

Sy begin deur te sê “Openbaarmaking: Ek werk vir die uitgewer van die boek” en normaalweg is dit ‘n goeie idee om so iets te doen. Maar … Ander uitgewers is merkwaardig kleinserig oor sulke betreding deur iemand wat die openbare mening oor boeke help vorm.

Wat sy versuim om te doen, is om die lesers se aandag daarop te vestig dat sy eintlik Kaap se redakteur ook is. Ek suig dit nie uit my duim nie, dit staan in die boek self.

Sy hemel Kaap op, en ek sou elke woord daarvan onvoorwaardelik geglo het as dit nie was vir die feit dat ek weet sy is die redakteur van die publikasie nie.  As sy nie gejuig het daaroor nie, sou dit ‘n mosie van wantroue in haarself wees. 

Wat moet ek egter maak van haar negatiewe taksering van ‘n publikasie deur ‘n mededingende uitgewery in dieselfde uitgawe van die Vrye Weekdier? Ruan Kemp se Wit leuen, gepubliseer deur Tafelberg. 

Sien watter probleem ons hier het? 

Jy sien, suster, ek is nie bereid om te sê mens kan ook niks glo wat Deborah Steinmair oor ander uitgewers se publikasies sê nie. Ek weet hoe skerp sy is, hoeveel insig sy in die binnewerking van romans het. Maar sy laat my eintlik met geen ander uitweg nie. 

Net omdat sy nie die volle waarheid gepraat het oor haar verbindtenis met Kaap nie. 

Maak dit eintlik saak? Wel ja sekerlik. Is dit nie ook sy wat in Vrye Weekblad geweier het om die seën uit te spreek oor die jongelied Kemp se Gedeeltelik bewolk nie? Daai ou gekorswil oor Kemp se skatpligtigheid aan wyle Dave Bishop, jarre gelede lid van dieselfde ou Kaapse sosiale gekoeksel as Max du Preez en Marita van der Vyver.

Daar sal gemeentelede wees wat die dotjies wil konnekteer, maar jy weet mos, hulle konnekteer nie altyd hoe mens dink nie.

Ek wens, ek wens Deborah wil besluit wat sy wil wees – joernalis of uitgewer. As ek die resultate van haar aktiwiteite opweeg, dink ek sy moet haar by die uitgewerswese bepaal. Sy is die natuurlike opvolger van Nicol Stassen. Sy gaan nog dieper spore trap as wat sy reeds gedoen het. 

by crito

Op en af

Februarie 10, 2022 in Uncategorized

Haai julle ouens, dis die arm man se L.I. Bertyn hier. ’n Gesublimeerde Sonja Verbeek op soek na ’n fluid dog manlike Tanja. Ons is tog net almal padpuisies met Marie Biscuit-wiele op soek na ’n ongeluk met die Bentleys van die lewe. Julle kry die prentjie?

Anyway, ek het ’n strange groove (om World Party aan te haal) opgesit ná pasende Sondag se Rapport. My gedagtes in tagtig verskillende rigtings tegelyk. Laat my terugdink aan die dae toe ek my eerste ondervinding met Malawi se allerbeste landbouproduk gehad het op aanbeveling van die maplotter van Yeoville.

Dis ’n lekkerte, die speletjie wat Rapport se opskrifskrywers vir my aan die gang gesit het. Om kunstenaars en celebs te beskryf in terme van ander kunstenaars of glansetters.

Al my chakra’s het getintel toe ek lees Afrikaans se le Carré? bo Fanie Olivier se resensie van Jaco Wolmarans se Ivoor.

Laat ek ’n klein geheimpie met julle deel. Ek voel oor John le Carré soos Anton Goosen oor Bob Dylan. Nooit sal jy my kry dat ek sy naam in ’n sans serif-font tik of iets dergelyks zefs nie.

Faantjie het nou wel nie gesê Wolmarans ís die Afrikaanse le Carré nie. Hy’t gesê, vol eerbied en respek soos Maria Callas in die begin van “Casta Diva”, dat Wolmarans waarskynlik die naaste aan ’n Afrikaanse Le Carré is. Daar’s ’n subtiele verskil – maar dit het nie my root chakra verhinder om my tot op die rand van ’n adult nappy-oomblik te bring nie. Ons kan nie aan ons skrywers dink sonder om hulle die knieg te laat buig voor ’n groter meester in ’n ander taal nie.

Natuurlik moet ek ook mea culpa in die oortreffende trap. Is dit nie ek wat Jo Prins vergelyk het met Nino Shurter nie? Terwyl ek weet dat ek eintlik bang is dat die dag wat ek meneer Prins van aangesig tot aangesig ontmoet, ek hom gaan komplementeer met sy meesterklas oor “Für Alina”.

Die geneuk met daardie opskrif by Faantjie se resensie is natuurlik dat jy die hele resensie lank wonder wanneer gaan die groot oomblik nou aanbreek, en dan kom dit eers in die tweede laaste sin. Dis hel op ’n Le Carré-akoliet. Dis soos om te wag vir die laaste galm van “Che regnar tu fai nel ciel …” en dan lui iemand die deurklokkie.

Intussen beleef jy Faantjie in full swing, kliphard aan die probeer om nie die boek se geheime te verklap nie terwyl hy jou vertel wat eintlik so goed is daaraan. En jy, die liewe leser, sit in jou agterkop by voorbaat en verbande trek met Le Carré … Gaan dit Smiley-era wees, of die nadraai? Of is dit die enkelvlugte, in die trant van Constant Gardener, Absolute Friends of Our Game?

En omdat jou aandag aldus afgelei is, is dit eers met die tweede lees van die resensie dat dit tot jou deurdring dat hierdie eintlik ’n baie knap resensie is. Faantjie kon selfs die Le Carré-verwysing weggelaat het. Miskien moes hy maar gesê het Jaco Wolmarans is naaste aan ’n Afrikaanse Mick Herron, dan het dit niemand se aandag getrek nie.

Uiteraard is daar ’n subteks in die resensie, dis after all Fanie Olivier wat aan die woord is en hy is nie ’n palooka nie. Hy verwys vroeg al na die Zondo-kommissie, en daarmee hou hy ’n groter sambreel oor die roman. Wolmarans se roman beskryf ’n lang geskiedenis van korrupsie en lastige vrae wat lei tot kommissies wie se verslae nooit lei tot vervolgings nie.

Op dié manier resoneer Olivier se reaksie op Ivoor saam met die vertelling van Wolmarans. Wolmarans suggereer in sy “Bedankings” dat alles uitdeindelik verdigsel is, maar jy weet, saam met Olivier, dat dit nie is nie. Die resensie is die boek waardig (ja, ek het dit gelees).

Neffens Olivier se resensie is Annelise Erasmus se reaksie op Iewers êrens van Willem Pretorius. Die versoeking is groot om Erasmus die Afrikaanse Susan Sontag te noem, maar ek sal nie, en Willem Pretorius die nuwe Walter Meyer, maar ook dít sal ek nie doen nie, want Andries Bezuidenhout doen dit reeds in die boek self.

Wat ’n fabelagtige kombinasie van resensies op een dag, hè? Eers laat Faantjie ’n cocktail van dopamien, serotonien, oxytocin en endorfien in jou los, en dan gee Erasmus vir jou ’n handvol downers.

Ek weet daar is mense wat dink sy skryf té serebraal, maar vir diegene wat wel Matriek gemaak het, is sy aangenamer as die eerste lees van The Honourable Schoolboy. As ek my lyf vir ’n oomblik Queenie Leavis mag hou, kan ek jul aandag vestig op die ligter oomblik waarmee sy begin, ’n ryke kragtoer van ironie.

Sy sê dat kunsresensente volumes oor die skilderye sal kan skryf, dat boekresensente hulself sal verloor in die bydraes van die outeurs wat by die skilderye ’n stukkie bygedra het, en dat akademici van verskeie dissiplines kan die boek en werke na hartelus ontleed.

Dan kom sy tot ’n ontgogelende besef: “Vir my voel dit of alles oor die boek reeds gesê is, alles is reeds gevoel, alles is reeds onthou.”

Maar sy probeer tog ’n eie reaksie gee, en doen dit só skerp dat ’n mens skielik weet hoekom sy haar resensie met daardie ironiese opmerkings geopen het. Haar analise van die tematiek – die skoonheid van verval, noem sy dit – is ’n groot oomblik in die Afrikaanse resensiekunde. Gaan lees self.

Hoekom ek dit so hoog aanslaan, is omdat Erasmus oor iets skryf wat sy nooit op die naam noem nie, maar met een woord darem suggereer. Dié woord is eindtyd, en sy verbind dit aan verwaarlosing, verval, iets wat breek. As alles reeds onthou word, is dit verby, kaput, verlede tyd.

Omdat sy in Afrikaans skryf, oor ’n boek waarin Afrikaanse skrywers reageer op een skilder se werke waarin hoofsaaklik verval uitgebeeld word, laat sy dit aan die leser oor om te snap dat dit hier gaan oor die verwording en vergaan van dít waarmee die politici en kultuurleiers van die goeie ou slegte dae so gesmous het: Die Afrikaner se volkseie, volkskultuur, volksbesit. Dit wat ons was toe ons mag in die hande gehad het, as jy wil, die tye vóór “Baby Tjoklits” en “Loslappie”.

Iewers êrens is ’n treurboek, maar, sê sy, sy kan die verval en vergaan ook aanvaar as ’n teken van vooruitgang, van die sikliese aard van die verloop van die geskiedenis. By die resensie is daar vier van die skilderye afgedruk wat haar resensie onderskraag.

Mens kyk daarna en jy voel of jy by jou eie begrafnis is.

Ek het die resensie gelees op een van die natste Sondae wat ons in baie jare hier in Pretoria beleef het. Maandag het ek die boek gaan koop, en ná die deurblaai het ek besef dat Annelise Erasmus se slotwoorde iets is wat mens net met die boek in die hand kan geniet: “En niks is al finaal bepaal nie, al is die swembad leeg.”

Daar is niks wat ’n mens aan hierdie hartseer kan doen nie.

by crito

Probleme probleme

Januarie 26, 2022 in Uncategorized

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl.

Boek24? Wel, dis ’n ander probleem, maar netnou daaroor.

Laat ons vir eers, liewe broeders en susters, peins oor wat ons op Boekeblaaie soek. Sien, daar is groot probleme in die lewe, en klein probleme. Jy moet net helder wees daaroor.

As die vreeslose vryheidsvegter vir die eekhorinkie sê hy lieg, dan is dit een ding. As Johannesburg nie meer kan bekostig om hul verkeerstekens te herstel nie, is dit iets anders. As die staatskoffers leeg gesteel word, die skuldiges word uitgewys en die wiele van die gereg is verroes, dán het ons ‘n Probleem. Dis die groot malaise.

’n Mens probeer daarmee saamleef, en jy soek na balans in jou depressie. Jy wil graag alles glo wat Leopold Scholtz daar in die Lae Lande uitdink, maar jy weet Malvory Adams het ’n suiwerder blik op die land van KFCuisine.

Om dan te wil seur oor Afrikaanse resensies, seg, dis só ’n luukse! Dis soos om tempera te verwag terwyl die algemene gevoel is om maar na die vetkryte te gryp. Maar glo my vry, ek is nou eenmaal betotteld oor resensies, en wanneer ek gaan soek na boekresensies op die plek waar hulle behoort te wees, dan is ek soos Fourie du Preez oor ’n hangskop. Ek wil dáár wees as die dinge afkom.

Moenie kom met promosiewerk en rubrieke en vooruitskouings nie. Gee my resensies wat ek kan lees. Gee my resensente wat met my praat asof hulle dink ek sal verstaan.

Wat, vra julle, liewe broeders en susters, wat is dit dan wat die tannie so omkrap? Is dit die feit dat Trisa Hugo se bespreking van Veldhospitaal 12 goed is, maar nie fantasties nie? Nee, gewis nie. Ek het wel my oë hemelwaarts gekaats en hard gesluk omdat sy ’n verband trek met geweld in André P. Brink se boeke (dit nou met verwysing na die onbeskaafdhede van willewragtag Duitsers in die koloniale Duitswes-Afrika). Maar sy oordryf – enigiemand wat al die groot joernaalhouer van Kaapstad se boeke gelees het, sal weet dat dit eintlik Anderkant die stilte is waaraan sy dink, miskien het sy net die titel vergeet, lank gelede gelees jy weet.

Maar Brink is verby sy sell by date, literêr-frenologies gesproke, en mens sou verwag het dat Hugo meer bydertyds sou gedink het, soos in Zirk van den Berg se Die vertes in en Tweegevreet. Selfde tydperk, selfde land, selfde misdade.

Ek moet toegee, Trisa Hugo se resensies verbeter met elke nuwe poging. Die gewraakte erkenning dat sy ‘n roman miskien nie gesnap het nie, is iets van die verlede. Haar styl is steeds trapsuutjieserig, maar ek bespeur ook hier ‘n verbetering. Die Extended Frodo is in sig.

Wat soos ‘n té klein G-string aan hierdie antie kom sit het, is ‘n stukkie nuus wat my vriendin Angie vir my aangedra het. Die Nino Schurter van Melville-koppies had ‘n Genis-oomblik op Facebook: “Ou Crito het alweer stoffies in die oge, lyk dit my. So gaan Louise Viljoen se bespreking van Magmoed Darwiesj sowel as Jean Meiring se stuk oor Karel Schoeman se Rekonstruksie skynbaar ongesiens verby. Ag, kan iemand tog net daar die ruggie vryf?”

Sug. Die Crito-blog is al hoeveel jarre aan die gang, en die baardman het nog nie agtergekom dat Crito nooit skryf oor resensies van vertaalde werke nie. Klaas Vakie much?

Jean Meiring se bespreking van Rekonstruksie het ’n ellelange blog afgegee, wat ek in my stille wysheid besluit het om nie te plaas nie. Crito is al in die verlede daarvan beskuldig – met ’n mate van geldigheid verdomp – dat ek dink ek kan van die resensies beter skryf. Tog het ek Harry Callahan se vermaning oor ’n mens se beperkinge ernstig opgeneem, vandaar die invalshoek van hierdie weblogs.

Maar moontlik sal dit tog vir Beeld se Boekeredakteur van hulp wees as ek die ongeplaaste stuk kortliks saamvat, ’n sweepslag op die eie rug.

Jean Meiring is op die oomblik die resensent van Afrikaanse boeke wat deurlopend resensies van skouperd-gehalte lewer. Hy is betroubaar, sy insigte verryk sy lesers want hy vou die publikasies in soveel fasette voor mens oop. En die lees daarvan vind ek altyd suiwer plesier – ’n semantiese ontdekkingstog.

Wanneer hy ontspoor, is dit nie weens ’n verkeerde taksering nie, maar vanweë die nalaat om ’n insig tot sy volle konsekwensies deur te trek. Dít is wat met sy bespreking van Karel Schoeman se Rekonstruksie gebeur het.

In die geheel het dit al die goeie kenmerke van ’n Jean Meiring-resensie. Op een plek maak hy die deur oop na ’n kamer wat min literatore en resensente bereid is om te betree, naamlik Schoeman se eenogigheid. Hy verwys na die feit dat Schoeman in Rekonstruksie net op Engelse bronne steun en oorwegend Engelse perspektiewe gee; daarbenewens sluit hy sy oë, soos met Imperiale somer ook die geval is, vir die howe en die regspleging.
“Hulle was sentrale boustene van die naoorlogse bewindsargitektuur waarop Schoeman se visier hier val. Sonder hulle is selfs die beperkte prentjie wat hier geskets word, wesenlik onvolledig,” sê Meiring.

Meiring skets die ontstaansgeskiedenis van Rekonstruksie, maar dit behoort vir enigiemand wat ’n studie van Schoeman se oeuvre gemaak het, duidelik te wees dat die jonger Karel Schoeman – sê van circa sy Vrijstatia-publikasies – ’n duisend dode sou gesterf het voordat hy iets so onvolledigs soos Rekonstruksie sou aanbied vir publikasie.

Ek is bly dat dit wel gepubliseer is, maar mens moet eerlik wees daaroor – in terme van die hoë standaarde wat Schoeman aan homself gestel het, is dit slordige werk. Dit staan in die teken van sy tanende magte en fisieke aftakeling.

En belangriker nog, mens moet dit koppel aan die dinge wat Schoeman in Die laaste Afrikaanse boek geskryf het, en spesifiek die mate waarin hy homself vervreem van die Afrikaner gevoel het. Vir die ouer Karel Schoeman sal die gebreke in Rekonstruksie nie ’n wesenlike probleem wees nie, en sal die publikasie daarvan vir hom gaaf wees omdat hy reeds afskeid geneem het van ’n kulturele sfeer wat vir hom geen saak meer gemaak het nie.

Die gedagte wat by my opgekom het terwyl ek Meiring se resensie lees, was dat dié resensie ’n kernpunt in die bestudering van Schoeman se oeuvre kon wees as dit net hierdie dinge verbind het, en die bestek geneem het van die wyse waarop die laat- en postume publikasies van Karel Schoeman ’n afsonderlike rubriek moet vorm wanneer sy hele oeuvre bestudeer word, as skrywer van fiksie én niefiksie. JC Kannemeyer is nie meer met ons nie, maar wie ookal eendag gaan probeer om ’n biografie van Schoeman te skryf, gaan uitvoerig hiervan moet rekenskap gee.

So, broeders en susters, ’n bietjie erg, nie waar nie? Baie soos ’n student wat wysneus probeer om sy professor ore aan te sit. En gewis ’n geval van Crito wat die resensie probeer oorskryf. Boonop in futlose styl, nè?

by crito

Waar’s my Tabard?

Januarie 20, 2022 in Uncategorized

Die jaar strek voor ons uit soos die tweede laaste bladsy van ’n Meyer van Rensburg-digbundel. Ons het al só baie belewe en so baie moet nog gebeur. Hierdie maand het nie alleen die rampante filosofie van Lindiwe Sisulu opgelewer nie, maar ook die meeste reën wat ons in baie jare hierdie kant van Soutpansbergweg gehad het. Maande van muskietbyte wag op ons, metafories gesproke, nè?

In die sfeer van die resensiekunde dommel ons nog helaas ’n bietjie in. Al sedert laas November. Niks gebeur nie en volgende week is dit weer sulke tyd. Ek slaan Sondae Rapport oop met die afwagting van ’n Afriforum-fondsinsamelaar, en teen Maandagoggend, wanneer ek ook Beeld se Boekeblad te siene gekry het, weet ek die blaaie is deur die kraaie bespreek.

Soms raak ek so desperaat dat ek presies weet hoekom Rassie Erasmus so Twitter-vaardig geword het.

Laat ek dan maar die jaar afskop met ’n paar vlugtige opmerkings. Het julle geweet dat daar iets soos ’n vereniging van onafhanklike uitgewers is? Noem hulself SAIP, en hulle het Matthys Strydom se Nog stories teen my muur as die beste publikasie uit hul geledere in 2021 aangewys.

Dié boek is vir LitNet geresenseer deur Annalize Hills, wat met goeie gevolge vir Strydom aan ons voorhou as ’n uitsonderlike Renaissance-mens, sonder om te noem dat hy die broer is van die Afrikaanse digter Leon Strydom, op wie ek jare gelede ’n gigantiese crush gehad het. Of dat Matthys al ’n baie belangrike boek oor Francois Krige die lig laat sien het.

Ek vermoed dat Johannes Hamman homself ook in die geledere van die SAIP bevind. Volgens Rapport is sy debuutroman, Ysterklou Beperk, deur Wenakker Boeke gepubliseer, en mens kan hulle direk by die skrywer bestel. Een en een, nè?

Fanie Olivier resenseer dit vir Rapport, en dit is aangenaam om te kan rapporteer dat Faantjie nog sy steppies ken. Die roman het soveel angles dat mens omtrent kan aanvoel hoe die opwinding by Olivier opbou soos hy hulle lys. Dit speel noord van die Magaliesberge af, en is ’n historiese roman, ’n plaasroman, ’n feministiese roman, ’n familieroman, ’n ekonomiese en maatskaplike roman, ook ’n politieke roman, ’n aktuele roman en les bes ook ’n ondermynende roman. Ons doen dinge oordentlik in my wêreld!
En dit alles kom tereg onder die sambreel van die onstaan van ’n stukkie Afrikaner-kapitalisme, aldus Faantjie. Ek hou só daarvan om te sien hoe ’n literator uit die ouer generasie opgewonde raak oor die taal van ’n boek, al dink hy nie die boek is ’n volslae sukses nie.

Maar wat de hel, ons doen dinge op ons manier hier rond.

Die eerste krieweloomblik van die 2022-resensiejaar het gekom met Stefaans Coetzee se reaksie op Ivoor van Jaco Wolmarans (Boeke24).

Dis ’n kragtoer, reken hy. “Aan die lesers wil ek sê, staan op aandag en salueer. Wolmarans is ’n skrywer wat kan kers vashou by die wêreld se bestes.” Sy verwysingsveld is die skryfwerk van Andy McNab, Chris Ryan, Jack Carr, Ben Coes en Dalton Fury. Nie Fanie word grootwildjagter, soos die omslag my laat vermoed het nie.

Die kanse dat ek ooit McNab et al sal lees, is nul. Nie my scene nie. Die manier waarop Coetzee op Ivoor reageer, laat my dink dat ek tog ’n poging sal aanwend met Wolmarans.

Wat het my laat kriewel? “Die Portugese dialoog maak die boek nog net meer besonders.”

Ek is nie ’n taalpuris nie. En ek wil graag aanneem dat Coetzee hom per abuis ’n bietjie vaag uitgedruk het. Daarom neem ek aan dat nie al die dialoog in Portugees is nie. Ek kan kwalik onderskei tussen desculpe en meu nome é Crito en nou slaat Wolmarans my met die leksikale ekwivalent van pasteis de nata.

Ag wat, dis net fun & games. Sondag sal Rapport hopelik die jaar afskop met ’n swaargewig-resensie. En die dag daarna Beeld ook.

by crito

Tot my stomme verbasing

Desember 9, 2021 in Uncategorized

Tot my stomme verbasing het daar weer ’n paar resensies verskyn waaroor mens kan nadink. Ek is só besorg oor die dilemma waarin die gewers van die kykNet-pryse vir beste resensies hulle jaarliks bevind. Dis só ’n klein dammetjie dat mens nie altyd kan onderskei tussen die regte visse en die marshmallow-visse nie.

Julle weet mos. Die regte resensies, en die resensies wat net soos resensies lyk, maar nie is nie.

Hoe kan mens hulle van mekaar uitken? Wel, soos die toeval dit wil hê kan ek die eenvoudige Crito-toets aan julle voorhou as ’n manier om tot die essensie van die saak deur te dring.

Lees die resensie, en vervang dit dan met een sin wat begin met die woorde “Tot my stomme verbasing …” Dis ’n maklike toets en haal die verswelgende ennui uit enige skermutseling met boekresensies.

Byvoorbeeld…

Tris Hugo het onlangs geskryf (vir Boeke24) oor Jaco Alant se “surrealistiese, byna absurde” roman Is mos oos. Die paaldanser van Kleinmond (kyk op Instagram na Maankind1 se foto’s) vertel baie oor die inhoud van die boek, maar uiteindelik gee sy bes. “As jy die laaste bladsy lees,” skryf sy, “laat dit jou half verbluf, want jy is nie heeltemal seker wát jy gelees het nie.”

Gelukkig is sy net half verbluf, want dan laat knal sy ’n bon mot wat dadelik een van my all time gunstelinge word vir ’n resensie-slotsin: “En wie weet, dalk is hierdie resensie so onbetroubaar soos ons professor se weergawe van sy geheue.”

So, die Crito-toets: “Tot my stomme verbasing sal jy iemand anders se resensie moet lees om heeltemal seker te maak.” Marshmallow, nuh? Maar ook volpunte vir eerlikheid.

Nog ’n voorbeeld: Willem van den Berg se bespreking van Dana Snyman se In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories.

Wanneer jy die opskrif sien, “Ons moet move, Dana” dan beginne mens dink dat hier nou ’n resensent is wat ook besef het dat Dana Snyman al baie mileage gekry het uit die hersirkuleer van sy schtick. Ook moeg geword het daarvoor.

En aanvanklik lyk dit inderdaad of Van den Berg ’n bietjie versigtig is. Dan swaai hy om, en sien jy dat hoewel hy en Dana Snyman op dieselfde golf surf, hy hier is om ons te leer wat van golwe word. Van den Berg ken sy storie as resensent, en hy neem ons saam na die vlakwater van Snyman se kuns, waar al die storm en drang en weltschmerz uitgewoed het, en ons die liefde onverbloemd kan sien. Mens voel omtrent soos Jeff Clark toe hy Mavericks die eerste keer gesurf het.

Die Crito-toets: “Tot my stomme verbasing toor Dana Snyman weer met my hart.” Nie malvalekker-vissie nie.

Vir my meer problematies is Neil van Heerden se resensie van Irna van Zyl se Op ’n mooi dag (Boeke24). Die resensie het my eers ’n bietjie suur gemaak, omdat Van Heerden nie vir sy lesers waarsku dat Van Zyl se gewaardeerde speurder, Storm van der Merwe, nou skynbaar haar potjie sonder Van Zyl se hulp moet krap nie. (Wat sou die rede wees? het Van Zyl dalk agtergekom dat Ella Neser meer gedug is?)

Tog stuur hy sy betoog behendig by al die slaggate verby waarmee resensente van speurverhale te make het, en uiteindelik kom hy by ’n slot waarin massiewe kopstukke opgesluit lê. Hy sê een ding, maar die toon en woordkeuses suggereer dat hy anders dink.

Luister net: “Daar is diegene wat meen die Afrikaanse misdaadfiksiemark het ’n versagdigingspunt bereik, maar dié bewering is waarskynlik ongegrond. Met steeds waardige bydraes soos Op ’n mooi dag, en honger lesers wat die boeke soos ortodontale betonmengers verorber, kan ’n mens hoogstens sê: Basta!”

Waarskynlik. Steeds. Hoogstens. Drie skarniere wat die deure van begrip na ander ruimtes laat oopswaai. Voeg daarby dat hy ’n resensie waarin hy deurentyd positief reageer, doelbewus afsluit met ’n slot wat hom as waarnemer berekend op ’n afstand plaas, en jy besef hierdie is geen marshmallow-resensie nie.

Dit is gerig op lesers, maar uiteindelik uitgewers en handelaars. Hy laat hulle met ’n gedagte: “Tot my stomme verbasing nóg ’n speurverhaal.”

by crito

Sondaars

November 17, 2021 in Uncategorized

Die uitpasseer van Wilbur Smith het my aan my pa laat dink.

Hy was een van die vorige geslag lesers. Hy het my in die plesiere van boeke probeer interesseer met James Hadley Chase, Robert Ludlum en, belangrikste van almal, Wilbur Smith. In ’n stadium, iewers in die tagtigs, het hy ewe trots Afrikaanse vertalings van Smith se stories vir my as geskenke gegee: Manne onder manne en Die engele ween.

Ek het gou gesnap dat dit maar net Milfs & Baboons vir die boyz was, met ’n goeie dosis skop-skiet-en-donder daarby. Hy het die boeke in elk geval by sy boeke op die rak geplaas. Wat ’n tipiese ding is vir mans om te doen. Gee ’n geskenk wat jyself eintlik wou gehad het, en annekseer dit terstond wanneer die geskenkpapier afgeskeur is.

So, ek doen nie eintlik Wilbur Smith nie. Om die waarheid te sê, toe ek sy naam sien op die internet, toe is ek sommer van voor af in ’n diep geestelike vloermoer in. Al die ou argumente wat ek en my pa gehad het oor die vrou se rol in die samelewing en die huwelik. Hoe ons oor etiek baklei het ná my egskeiding en die dinge wat hy vir my gesê het met my tweede troue saam.

Ek het issues met mans, my huidige ene uitgesluit. Hy is cis, en gee nie om as ek sê ander mans is sexy nie. Hy verwar nie passie met jagsheid nie. Dit was my pa se probleem. Hy het geglo in monogamie en die heilige huwelik, daardie konstruk waarin mans hul geleidelik van passie speen en uiteindelik na hul huweliksmaat kyk asof dit hul suster is. Nóg man nóg vrou durf hulself oorgee aan rampante jagsheid want dit sal die goeie orde versteur. Bla bla bla.

Niks is ooit eenvoudig wanneer daar hormonale reaksies by mans en vroue is nie.

Nou sal julle vestaan hoekom ek sterk geïrriteerd was toe ek sien Rapport Boeke plak die opskrif Die sondes van die vaders op Valda Jansen se bespreking van Kompoun, Ronelda S. Kamfer se debuutroman. Daai uitdrukking behoort eintlik op ons landsembleem te wees in die plek van !ke e: /xarra //ke.

Dis ons verstekposisie. Niks nuuts daaraan nie en eintlik ’n baie obvious dog boring opskrif vir ’n resensie oor ’n boek wat volgens die resensent sal sorg dat die Afrikaanse letterkunde nooit weer dieselfde sal wees nie.

Dis ’n groot stelling daai, en ek het die resensie ’n paar keer gelees voordat ek die noodwendige besluit moes neem dat Valda Jansen nie die ding vir my doen nie. Sy sê baie oor die inhoud en oor die skrywer, oor die woede en die waarnemings en die woorde. Maar haar resensie is nie dermate gelaai met kritiese substansie dat dit daardie opmerking kan dra oor hoe Kompoun die Afrikaanse letterkunde gaan raak nie.

En ek wil Jansen só graag glo – die Afrikaanse letterkunde, en die literêre kritiek daaromheen, het werklik ’n goeie skop onder die gat nodig. Tog kan ek nie wegkom van die idee dat Jansen se bespreking alte netjies inpas by die oorheersende verskynsel van claquekritiek nie. Die vergoelikende resensie deur ’n goedgesinde resensent, op dieselfde vlak as byvoorbeeld Sarel Venter se kreet van plesier oor Hennie van Deventer se Koerantkamerade (LitNet).

Wat het Jansen nié gedoen nie? ’n Paar dinge: Die raakpunte en verskil tussen Ronelda S. Kamfer se Kompoun en die literatuur oor die armblankes van die jare dertig; die voortdurende sosiale trawal weens armoede en die voortsetting van Apartheid-gemeenskapsstrukture. Om enkele aspekte van die groter kompleks te noem. Ek soek nie ’n opsomming die stories in die boek nie. Ek wil weet waarheen die tentakels oral uitreik, op alle vlakke.

Sy noem dat Kamfer in uiterstes skryf en dat haar karakters in uiterstes praat, maar bly in gebreke om die uitwerking daarvan op karakterisering, toon, styl en afwisseling binne die roman self te bepaal. As mens Jansen se resensie lees, deins mens terug voor die lees van die roman omdat die indruk gewek word dat dit ’n skellende roman is, humerigheid sonder verligting of katarsis.

’n Kritiese benadering sou veel meer aspekte ter oorweging gebring het. Die een eie insig wat my die blyste maak, is dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, wat op so baie maniere geslagte van leerders in die steek gelaat het, tog sterk genoeg is om ’n skrywer soos Kamfer op te lewer. Iemand wat sonder huiwering of mooiskryf bereid is om die eie ervaring te ondersoek. Implisiet in die publikasie van Kompoun is die verdere ontwikkeling van ’n unieke skryftalent.

Ek is nie ’n politikus nie, en nog minder ’n gypsey, daarom kan ek nog hunker na iets soos ’n ideale situasie. Ek bekommer my siek oor die kompartemente waarbinne Suid-Afrikaners nog lewe op haas elke terrein lewe.

Valda Jansen is ’n gesaghebbende resensent, maar dit sal vir my veel meer interessant gewees het om te sien hoe iemand uit die voorheen uitgelese geledere reageer op die woede in hierdie roman. Wilbur Smith en my pa se mense.

by crito

Laaste lag

November 4, 2021 in Uncategorized

Wat laat Crito lag?

Dis Annelise Erasmus wat wil weet, in die aanhef tot haar resensie van Hans bars die bioborrel, van Rudie van Rensburg.

Eintlik rig sy haar vraag aan al Rapport se lesers, maar ek was gevlei genoeg om die vraag persoonlik op te neem. Julle weet mos, daai teorie van die reseptiewe leser.

As julle my vra, het nig Annelise hier ’n oomblik van Derridaanse apprendre à vivre beleef. Sy het die boek gelees en gedink o fok wat maak ek nou, nè? Toe raak sy regtig mature oor die dilemma. Sy weet sy kon maar soos ’n beginnerresensent die storie vertel en ons tune van hoe sy gelag het soos ’n trust fund kid wat sy Amarok gekrok het. Maar sy het nie. Sy het ’n pad gekies, apprendre à vivre mos, die een wat net ’n uitgelese handjievol Afrikaanse resensente bewandel, en ’n werklike verskil gemaak deur ons iets nuuts te leer.

Dis die ding. Sy gebruik humor as aanknopingspunt, en riff daarop asof sy Abdullah Ibrahim is wat ’n suspended 7th herontdek het. Dink net. Tydlose, skynbaar ewigdurende klankplesier.

So, ek begin haar resensie lees en ek is soos in, eish, Helen en Carl en prof Zumbastic en die NG-homofobe en military veterans onder 30 en die Goue Leeus en Steve Stofsuier en die anties by die tombola-tafel laat my lag. Of daai ou wat voorheen bevoordeelde sekswerkers melkterte noem. Tot my ewige skande moet ek ook erken dat die hotelbestuurder in White Lotus se veelbesproke bolliepatrollie my so laat lag het dat my wangspiere nou nog voel asof Dan Roodt hulle geleen het vir ’n poësievoorlesing.

Maar dan maak sy haar moves met Aristoteles en Plato en Sigmund Freud. Die twee Griekse denkers skiem, nes daai joker Hobbes, dat mens lag vir situasie waar daar ’n “ons” en “hulle” is, en die ons ‘n effe nugter afstand kan kry op die dinge wat die hulle doen. Sy verduidelik dit dan aan die hand van ’n opmerking oor iets in Hans bars die bioborrel.

Maar vir julle wat nog nie die boek gelees het nie, moet ek dalk net verduidelik dat “ons” is soos die Sacketts in ’n Louis L’Amour-roman, en “hulle” is soos die anti-vaccers op ’n vliegtuig. Die baddies op die morele sirkus van die lewe.

Freud se teorie oor humor en die verligting van spanning sluit mooi aan by die gebeurde en regulasies in Huis Madeliefie in die roman. Om dit te vertaal na ’n meer bekende voorbeeld: Alles waarmee Rooipiet Moolman worstel in Anton Roodt se Weerlose meganika in sy poging om ’n entertainment te maak van Die Slag van Bloedrivier kan beskou word as die verligting van spanning.

Daarna praat sy oor ander teorië oor humor – oor onversoenbaarheid en onvanpastheid, onskuldige oortredings, politieke korrektheid, en die fyner dingetjies soos satire, slapstick en klug, en dinge soos woordspeling en spreekwoorde, goeters wat ’n taal uniek maak.

In hierdie stadium van die resensie het ek reeds ’n paar gevolgtrekkings gemaak. Ek koop Annelise se humor-ontleding. Ek koop die idee dat Hans bars die bioborrel die moeite werd is om te lees en dat ek baie gaan lag. En dis vir my belangriker om te sien waarheen die argument op pad is, want dit is kwalik deel van die evaluering van die boek self.

Sy verskuif haar fokus na die manier waarop die belewing van humor ook ’n belewing van Afrikaans as taal is. Die taal van die boek lewe in die monde van senior burgers, ’n verouderde vorm dikwels, met spreekwoorde en gesegdes gans onbekend aan vandag se skoolverlaters en mak Kaapse aktiviste wat seur oor skoolname en sulke belangrike dinge.

Ek veronderstel Annalise Erasmus sou ook kon uitwei oor ’n ander pikante hoek: Die lesers (van die resensie, wat moontlik ook die lesers van die boek sal word) wat identifiseer met die mense in Rudie van Rensburg se Hans-romans, is die geslag Afrikaners wat die kunstefeeste op Oudtshoorn en Potchefstroom en Bloemfontein hul lewenskrag gegee het, en sedert die jare negentig die groot kopers van Afrikaanse romans was.

Dis ’n geslag waarvan die getalle krimp. Die KKNK, Aardklop en ander feeste is in ’n oorlewingstryd. Uitgewers is ongetwyfeld bewus daarvan. Ek dink ons kan aanneem dat as Rudie van Rensburg Hans bars die bioborrel eers in 2041 geskryf het, die taalgebruik daarin heel anders sou gewees het – die soort eenvlakkige semantiese taalverskynsel wat vandag op RSG leef, sans spreekwoorde en beeldspraak wat dateer uit die pre-digitale era.

Annelise Erasmus se aanpak van hierdie resensie is hoogs oorspronklik. Sy het ons iets geleer – en sy het ook ander gedagtes oor die veranderende aard van Afrikaans en Afrikaanse humor by my gewek. En ek is bekommerd.

As laaste gedagte ’n eerlike antwoord op haar vraag wat dit is wat Crito laat lag. Dít: Wat is die verskil tussen ’n blinde kol en ’n G-kol? As jy nie weet nie, klim ek nooit in ’n kar wat jy bestuur nie.

by crito

Die uitsonderings

Oktober 28, 2021 in Uncategorized

Kan ons die wetenskap vertrou in die tyd van die gloeiende resensie? Ek is nogal au fait met somme en het die afgelope weke, toe daar weinig wetenswaardig gebeur het op die koerante se boekeblaaie, probeer vasstel hoeveel negatiewe resensies daar die afgelope twee jaar oor Afrikaanse boeke gepubliseer is.

Laat ek die resultaat van my navorsing dadelik met julle deel, want dit is aardskuddend. Nie ’n enkele voluit negatiewe resensie nie.

Nada.

Daar is ’n paar waarin die resensent wil-wil laat deurskemer dat alles nie pluis is nie, dat die dinge nie klop nie. Maar in die algemeen is die duim wat ondertoe sak oor die boek so skaars soos ’n tilde op ’n orgie vir umlauts en cedillas.

Kan ek enigiets anders aflei dat dit uitermate goed gaan met Afrikaanse boeke? Boekwinkels loop oor met boeke wat ten hemele aangeprys is, en skrywers is die glansganse van die dag. Wanneer die tantièmestate van die uitgewers af uitgestuur word, word baie noukeurige sekuriteitsmaatreëls in werking gestel. En die uitgewers presteer ook op hierdie gebied – nog nie ’n enkele skrywer het sy geld of lewe verloor in ’n transitoroof nie.

En sowaar as Carl Niehaus paisley-hemde dra, as die uitgewers oop kaarte speel oor hul prestasies, sal ons moontlik agterkom dat al die lofliedere in resensies gelei het tot goeie besigheid en lekker winste. Intussen kan mens maar net diep nadink oor die feit dat Afrikaanse resensente altyd die goeie in boeke raaksien. Ons is só geseënd!

Tot 14 Oktober, toe LitNet ’n resensie geplaas het oor Koos Kombuis se Help! My dorp hou ’n kunstefees. Die resensent is die amper ikoniese Jean Meiring.
Sedert Meiring op die resensie-toneel verskyn het, hoor ’n mens by skrywers dat daar niks meer sielsvervullend is as om deur Meiring geprys te word nie. Ek bewonder hom vir sy taalvernuf, en die logiese samehang van sy resensies. Skrywers, op hul beurt, weet dat as Meiring hul goeie hoedanighede raaksien, dan bly dit raakgesien.

Sal Piet Croucamp se rolmodel gesjarmeer wees deur die aandag wat hy van Meiring se kritiese oë kry? Ek wonder. Dis vir my welig interessant om die resensie te lees én te probeer agterkom hoe Meiring vrede maak met die ewige tiener in Koos Kombuis se skryfwerk.

In die begin van die resensie steek hy sy vingers onder die Kombuisiaanse bandana in en kielie die kale knikker. Dan, met die finesse van ’n goeie advokaat wat ’n steeks getuie in ’n lokval van woorde lei, verklap hy een en ander oor die inhoud.

Nie alles nie. Min genoeg te geld as humoradvetensie.

As mens mooi daaroor nadink, is Meiring besig om sy lesers ’n idee te probeer gee van al die dinge wat snaaks is in die boek – en op watter vlak van snaaksigheid ’n mens dit moet takseer. Hy weet ook dat ’n mens ophou om ’n resensie te lees die oomblik wanneer dit voorspelbaar en vervelig word.

Daarom begin hy oral dingetjies plant wat ’n heeltemal ander verhaal vertel. Dinge soos “Maar, dit is snaaks, soms,” en “Ek het ook lekker gelag”. Jy kan sulke opmerkings op sigwaarde aanvaar, maar jou gesonde verstand sê vir jou dat soms nie gereeld genoeg kan wees nie, en dat as jy ook lekker gelag het, jy nie wil sê wat jou meer gereelde reaksie was nie.

Hoe ‘n mens ookal na die resensie kyk, dit smeer vir Kombuis. Meiring versag sy slotsom deur sy styl; Koos Kombuis sal die resensie lees en waarskynlik skaam kry.

En ons, die cognoscenti, sal weet dat Meiring vir Kombuis met gemomde vriendelikheid ’n groot guns bewys het. Meiring kon die hele resensie gereduseer het tot net een woord, maar hy het aan die troebadoer se goegemeente ook ’n sein gegee dat Koos steeds hul Koos is.

Ek lees sulke resensies met ’n groot mate van afstandigheid. Ek weet Jean Meiring is die Lewis Hamilton van die resepsiologie, en uit die dinge wat hy sê, kan ek aflei dat hy nie dink mens kan go-karts met F1 vergelyk nie.

In essensie gaan dit hier oor ’n vrot boek wat tog, vir daardie onbewaakte oomblikke in die binnekamer, genoeg skop het om mens van fatsoenlikheid te laat vergeet en te lag asof jou adult nappy jou gaan red. As resensie is dit ’n verfynde intellektuele oefening. Meiring is sowel kolporteur as verdoemer. Teleurstelling is ’n baie moeilike emosionele sleutel in die hande van enige resensent; Jean Meiring het ’n baie vindingryke oplossing gevind vir die verwoording daarvan.

Ontroering is ook moeilik om te hanteer, veral omdat ’n resensent baie maklik verlei word deur oorbeklemtoning. In baie van die afgelope twee jaar se resensies het ek kon raaksien hoe ontroering ’n leser baie maklik agterdogtig kan maak oor die opregtheid van die resensent wat probeer om die ontroering onder woorde te bring.

Die resensie wat Juliana Coetzer verlede Sondag in Rapport gelewer het oor Erika Murray-Theron se Kom ons loop weg, is nie in alle opsigte goed aangepak nie. Ek het ’n hekel aan resensente wat die hele boek probeer opsom, veral by in ’n niefiksie-werk soos hierdie. Maar die irritasie wyk taamlik gou. Coetzer weet wat sy met die resensie wil doen, en stel alles in werking om haar doel te bereik: Om die leser met min en eenvoudige woorde te oortuig dat die boeke haar tot in die diepste van haar wese getref het.

Die opbou is informatief, maar die twee sinne waarmee sy die resensie afsluit, stroop dit alles weg. Jy weet dat sy die sinne sê omdat hulle so bitterlik baie beteken, maar langs die sinne sien jy die ontredderde resensent sit, moontlik met betraande wange, moontlik verslae, beslis wyser: “Kom ons loop weg het my diep geraak. Erika Murray-Theron is ’n sterk en dapper vrou.”

Jy sal nie weet presies hoe raak daardie twee sinne is, hoe swaar hule weeg, as jy nie die aanloop goed gelees het nie.

Ja, ek het nog hoop vir Afrikaans.

by crito

Bibliobibuli

Oktober 6, 2021 in Uncategorized

Word julle ook so speuls wanneer julle ’n opskrif lees soos Dekonstruksie as gebundelde terrorisme? Hou my vas skatlam, of ek kom ’n ding oor van eindelose binnepret.

As julle Charl-Pierre Naudé se bespreking gelees het van Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte, Aryan Kaganof se jongste skotoom, sou daardie opskrif alleen die jaarlikse intekengeld op Beeld werd gewees het. Dit is só next to it dat mens half simpatie wil hê met Herman Lategan, wat so ’n Brakpan mixed grill gekry het vir sy resensie van dieselfde boek in Rapport: ‘Vuilgat’ wys ’n vet vinger.

Dit is albei van die mees veelduidige resensies wat nog ooit op die onderskeie koerante se boekeblaaie gepubliseer is. Soos meeste besprekings van boeke wat deur ’n kleiner leeskring gelees gaan word, geskryf in die styl van ’n literator wat weet hy gaan sy eie eksamenvraestel merk.

Maar nou weet ek ook dat ’n paar van julle – net enkeles, want in die algemeen is Crito se lesers ’n uitgelese, skrander klompie – nie heeltemal die breë gly van Naudé en Lategan se slepe raaksien nie. En vir dié paartjies, enkele meditasies oor dieper dinge.

Dis duidelik dat albei resensente hulle vergewis het van die uitgewer se kommentaar (op sy webwerf) oor die boek: “Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte is ‘n radikale en eksperimen-tele teks, die eerste en enigste van sy soort in Afrikaans. Dit is onmoontlik om die teks te katagoriseer as roman, gedig, drama of draaiboek. Dit is vreemd, eksperimenteel en totaal anders.”

Die eerste ding wat mens van Lategan se reaksie opval, is dat dit lekker kort is. Eintlik sê hy alles wat mens wil weet in een paragraaf: “Taalreëls word verbreek, die styl is astrant. As die boek ’n vinger was, was dit ’n vet middelvinger. Dit is egter ’n woede gevoed deur broosheid en droefgeestigheid.”

Waarna Lategan hier verwys, is natuurlik die vet middelvinger van die proktoloog wat besig is om die gesondheid van die klier der lettere te bepaal. Sien, ’n leser moet nooit dinge sommer voetstoots aanvaar nie.

Naudé neem ’n langer aanloop. As die boek ’n voet was, is dit die voet wat die literêre agterstewe ’n skop gee. Wanneer hy sê “Dit is een van die oneerbiedigste en ontsporendste tekste (albei in die beste sin van die woord) wat tot nog toe in Afrikaans verskyn het” is dit sy manier om te sê dat die boek baie beslis ook geniet sal kan word deur literatore en resensente wat gewoonlik op die draad sit met ’n oor aan elke kant op die grond.

Ek het Naudé se resensie stipgelees, en met elke herlees nog meer die gevoel gekry dat hy eintlik die dames van die leeskringe wil waarsku dat daar geen romantiese denouement is nie.

Naudé se aanpak is gewis dié van iemand wat die bibliobibuli se aandag wil vestig op die inherene anti-literatuurskap van die boek, wat soos ons weet, nie as roman, gedig, drama of draaiboek gekategoriseer kan word nie. “Dis by tye poëties, skreeusnaaks, platter as platvloers. En dis ’n opsetlike en wydlopige (ook loopse) verleentheid vir enige selfbewuste, literêre fynproewer.”

O, hierdie is nie ’n boek waarin verbande met groot diepsinnighede gelê word en dinge geaktiveer word en mens ’n groot teoretiese verwysingsveld nodig het nie. Hy sou ook kon gesê het dis die Kootjie Emmer van ons tyd, maar hy het nie.

Van verbande gepraat. Sowel Lategan as Naudé lê hulle met William Burroughs se The Naked Lunch, en Naudé se gedagtes dwaal ook na Samuel Beckett en Antonin Artaud. Ek weet nie van julle nie, maar ek voel Burroughs en Beckett is twee van die groot literêre con artists van die vorige eeu. Beckett werk op die verhoog, maar nie as teks vir die bibliobibuli nie. Burroughs het bewys dat jagsheid die siekte van ons tyd is, ’n pseudo vir alle tye.

Dit voorspel vir my niks goeds vir die lees van Aryan Kagakof nie.

Naudé se opmerkings oor aanhalings beier uit na die Belgiese skrywer Paul Bogaers wat ’n hele roman, Onderlangs (2007) saamgestel het uit “gesteelde” passasies. “Dis ’n tegniek wat soos die res van Vuilgat interessante postmodernistiese vrae vra oor oorspronklikheid en kreatiwiteit.”

Ek zoom uit. Sekerlik is ek heeltemal uit tred met die res van ons wonderlike land waar die meerderheid mense diefstal bewonder, en die interessante postmodernistiese vrae oorlaat aan die intellektuele elite. Ek kan nie wag vir die uitgawe van Vrye Weekblad waarin Deborah Steinmaier vir Aryan Kaganof onder hande neem met ’n paar postmodernistiese vrae nie. Naudé het reeds die huiswerk vir haar gedoen. Cento a go-go.

Ek begin myself afvra of die sinisme my kop laat vrot het. Is ek die enigste wat Charl-Pierre Naudé se resensie lees en die heeltyd die gevoel kry dat hy vir my iets anders wil sê? Soos byvoorbeeld: “Dit sal roekeloos wees om hierdie teks se gekonstrueerde interteks met gelade kwessies, soos die rol van geweld in identiteitsvorming, te onderskat. Dis ’n heerlike aanval op die nut en selfopvatting van letterkunde per se.”

Hierdie is ’n slim ene. Jy sal hom nooit betrap dat hy sê die boek vertel jou uiteindelik meer van Kaganof as van enigiets anders nie. En dan “heerlke aanval” – Naudé het duidelik, nes ek, ’n broertjie dood aan die selfingenomenheid van die burokrasie der lettere. To each his own, nè? Aryan Kaganof het my en Naudé nader aan mekaar gebring.

En dan lyk dit ook of Kaganof nogal vir Naudé geïnspireer het tot ’n eie skunnigheidjie: “Om die digter Adam Small by te haal, die Here het gaskommel en wat Kaganof doen, is om dit te wys.” Lekker een C-P! Geddit?!?!

Ek wil Charl-Pierre Naudé se resensie apploudeer, maar dink ek doen dit om die verkeerde redes. Hy het die boek onbeskaamd geniet, maar in my hart van harte het ek ’n gevoel hy het nie. Moontlik het hy wel opgegaan in die spel wat Kaganof versus die literêre verkaktheid speel, maar vir my het hy ook genoeg rooi liggies laat flits. Ek meen hel, wat anders wou hy regkry met “die Afrikaans is ’n spel van eiesinnig gekonstrueerde demotiese vorms”?

Kom verby, Doris.

Maar gestel ek het dit verkeerd. Dán moet ek aanvaar sy besluit om die boek op hierdie manier te resenseer het uiteindelik berus op ’n verskeidenheid dieperliggende oorwegings. Dis vir Crito maklik om uit te flap omdat die opskrif al my ongeduld-snellers aangeskakel het; Naudé is korrek deur respek aan die boek te toon as “radikale eksperiment”.

As die Afrikaanse letterkunde nie Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte kan verwelkom nie, is ons in diep, groot bollie. Dis sulke radikale eksperimente waarmee die koors van die middelmoot en die hogere letterkunde gemeet word.
Maar nogtans en desnieteenstaande wil ek die aandag van die Crito-gemeente vestig op Herman Lategan se baie veelseggende en oerpragtige slotopmerking: “’n Mens wil tog in die woorde van T.T. Cloete vir Vuilgat sê: ‘Kom liefs tenger onversadig en honger maar voldaan terug’.”

by crito

Om te doleer of nie

September 16, 2021 in Uncategorized

Die nuwe woord wat ons vandag leer, liewe broers en susters, is doleer.

Dis ’n woord wat só diep in die grein van onse mense vas is, dat ek my heel buite weste skrik elke keer dat ek dit sien of hoor. Mensig! Wat weet die mense van my? Ek, Afrikanervrou in merg en gespeente – my hele wese voel blootgelê.

Presies soos die mense van Luthuli-Huis voel wanneer Carl Niehaus hulle vertel van die verskil tussen IRT3 en IRP5.

Maar dis ’n ander hartseer, daai. Laat ek liewer preek oor die dinge waarvan ek weet. Nie dat ek al baie lank op hierdie podium staan nie, nè? Diegene onder julle, broeders en susters, wat al meer as twee dekades geëmansipeer is, sal weet dat daar dekades lank broeders was wat baie sterk gedoleer het oor emansipasie.

Dit was ’n felle stryd, vra maar vir my vriendin Christina. Maar dis gewen.

En nou doleer daar weer ’n klomp broeders. Terwyl die lewe by hulle verby- en aangaan. Laat ons nie leedvermakerig wees en sê dat die agterosse ook in die kraal kom nie. Want ons weet mos dat die agterosse, soos wafferse anti-vaccers, dit nie altyd by die ICU van die geesteslewe verbymaak nie.

Mag ek, geagte gemeente, vir julle van my persoonlike ondervinding vertel?

Die afgelope paar weke het ek in relatiewe afsondering gaan mediteer op ’n Bosveldplaas anderkant Klaserie. Ek moes my geestelik gaan herbewapen nadat my seun my in die sterkste moontlike taal aangespreek het oor my mees onlangse skrywe.

Ek het besluit dat die gewoontes van die mondaine nie meer by ’n vrou van my ouderdom wenslik is nie. Saans het ek voor die kaggel gaan sit en tog te lekker gelees aan die boeke wat wyle die eienaar van die plaas versamel het. Ek het ’n eksemplaar gevind van Abr. H. Jonker se kortverhaalbundel Leiers en my verstom oor die waagmoed van die Afrikaanse Pers-Boekhandel om sulke loutere snert in 1948 uit te gee en boonop verkoop te kry in groot getalle. G’n wonder Ingrid Jonker het haar vir haar pa geskaam nie.

En toe vra ek myself af watse dolering dan nou hier besig is om in my gemoed te voltrek? Dit was egter só lekker daar voor die kaggel, dat ek verder lees, en by die kortverhaal “Die keuse” afkom op ’n plekhouertjie waarop lesers aangemoedig word om al die Rooi Jan-boeke te lees sodat hulle kan deelneem aan ’n kompetisie om £100 te wen. Al die titels word gelys – van Rooi Jan – Die Skrik van K•••••land tot by Rooi Jan – Jagters van die Withart – en as mens hulle almal gelees het, sal jy die vrae wat Casper H. Marais self opgestel het, kan antwoord en daardie groot bedrag geld wen.

En dít was die presiese oomblik waarop ek besef het dat ek nie gedoleer het nie. Ek meen, ek het al Brian Fredericks se As die Cape Flats kon praat gelees. Toe ek gelouter terugkeer huis-toe by dorpe verby wat in 1948 nog Witbank en Middelburg genoem is, was ek diep onder die indruk van hoe bly mens kan wees dis nie meer 1948 nie. Sommige dolerings neem 40 jaar om deur te spoel deur die niere van die groot gemeentelike liggaam. Maar dit doen, om my seun se mees geliefkoosde uitdrukking aan te haal.

Hoor my aan, liewe broeders en susters. Kan ek julle aanmoedig om Abr. H. Jonker se Leiers te gaan soek, en “Die keuse” te lees. Die man mag totaal humorloos gewees het, maar hy het geweet van dolering. “Die keuse” is dié groot Afrikaanse doleringsverhaal. Die stryd tussen ds. Cornelius Verhaegen en die dolerende gemeentelid Izak Meyer.

Ek het dit tog so geniet om terug te reis na my huis en gemeente. RSG geluister, liewe vriende, en toe Amoré Bekker op ’n slag sê “Laat dit juig,” het ek uitgeroep van lewensvreugde.

Maar laat ons eerlik wees, ek staan hier voor julle met ’n sware gemoed. As ek ds. Verhaegen se wyse woorde in “Die keuse” kan aanhaal: “Broeders, ons moet sowel vir die stoflike as vir die geestelike welvaart van ons gemeentelede sorg.” Onthou, in 1948 was ons susters nog nie deelnemend nie.

En toe ek by die huis is en op datum kom met my werk, is dit asof dit só bestem is dat my oog heel eerste val op suster Ingrid Winterbach se besinning oor Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal Deel XVI, en wel op die bladsye van Beeld, en vir mense verder weg op die webwerf van Netwerk24.

As ek haar woorde mag eggo, wat is lekkerder, in ’n tyd van onbehae, inperking en bowenal taalverdorring en -verwarring, ja, ’n tyd waarin dolering die wagwoord van soveel soekende siele is – nou vra ek by herhaling, wat is dan lekkerder as om ’n taalmeester en een van die skranderste geeste van ons era se resensie oor die nuwe band van die WAT te lees?

Niks nie! Ek kan aan niks dink wat my meer vreugde verskaf as suster Winterbach wat ’n woordeboek resenseer soos dit behoort gedoen te word nie. Ander resensente kry die maklike opdragte, maar die WAT is ’n opdrag wat aan luttele resensente hoofbrekens sal besorg.

Onse suster bekyk die WAT XVI uit elke moontlike hoek. Sy skryf met soveel gesublimeerde geesdrif dat selfs haar enumerasie van nuwe woorde en hul betekenis ’n mens gefassineerd en met opgehoue asem laat lees.

Maar ja, daar sluip wel ’n enkele foutjie deur, wat ek met groot vrymoedigheid voor die deur van die koerant se subredakteurs lê. Op een plek verwys sy na “f*l” wat seer sekerlik ’n tikfout moet wees. Sou dit wees dat sy fǿl wou skryf, wat ’n vreemde manier is om “foël” te skryf, maar met woordeboeke loop ’n mens mos dikwels fonetiese dingetjies raak. En spel ’n mens daardie vloekwoord nie in elke geval met ’n v nie?

Natuurlik kan dit wees dat sy eintlik wou verwys na die woord wat Johan Combrink beskou het as een van die interessantste, kleurvolste woorde in Afrikaans, “fok”, maar julle het my dit nie hoor sê nie en veral nie hier nie, ek haal net Johann Combrink aan.

Maar hoe dit ook mag wees, geagte broeders en susters, in daardie resensie (ek benoem dit nou al vir volgende jaar se kykNet-Rapport-resensiepryse) is daar een ding wat my ernstig verontrus het, en eintlik die spilpunt is van vandag se preek.

Ek haal suster Winterbach aan: “Aangesien die gedrukte weergawe van die WAT gaandeweg verouderd raak, en in die lig van die groot drukkoste en dalende verkope, is besluit dat vanaf die letter T die WAT slegs aanlyn beskikbaar sal wees.” Tot sover suster Winterbach.

My eksegese van hierdie aanhaling betrek twee sake.

Die eerste is dat die WAT in tred met die eise van ons tyd nou saampraat met die groot woordeboeke soos Van Dale en die Oxford, wat elektronies beskikbaar is. Dis goed, en dit is reg so.

Die tweede is dat onse Afrikaanse broeders en susters as kopers van die woordeboeke wat ons taal help verstaanbaar hou, besig is om in groter wordende getalle te doleer. Dít is onheilspellend. Want doleer beteken dat die broeders en susters nie meer deelneem nie. Hulle wys hul afkeer. Hulle gee nie meer om nie. Dit traak hulle nie. Hulle voel vere.

Is die dood in die pot vir Afrikaans?

Wat sal julle doen as ek vir julle sê dat die ander ou staatmaker, die HAT, ook so stilweg deur sy uitgewer na die begraafplaas van woordeboeke gestuur is?

Ja, ek voel ook só. Te pletter.

Laat ek afsluit deur suster Winterbach te bedank daarvoor dat sy vir ons stof tot vreugde én nadenke gegee het.

Kom, laat ons sing.