Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

by crito

En tog

November 6, 2019 in Uncategorized

Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter, 1873-1901, deur Chris Schoeman. Resensie: Fransjohan Pretorius. (Boeke24)
Ek wonder hoe ’n mens Fransjohan Pretorius is. Daar is só ’n kalmte in sy resensie. Hy gee besadig en eerlik ’n mening oor hierdie boek. Eerlik? Hoe meet mens dít? Wel, hy skets die boekemark waarin die boek gelanseer word, en hy som die inhoud op. Hy loof die skrywer vir sy vlyt. Dan kom twee woorde waarna hy die kritiek in ewe besadigde toon laat reën: “En tog.” Ek dink Chris Schoeman het agterna gelouter gevoel. Volgende keer wanneer die jongeliede van die kykNet-resensiepryse bestek opneem, moet julle ’n regstelling maak. Die man raak nie jonger nie.

Oorlog en Vrede: Die morele verbeelding van die mens, deur Willie Esterhuyse. Resensie: Martie Retief Meiring. (Rapport Boeke)
Gewoonlik gryp ek my sneesdoekies en hardloop wanneer ’n resensent baie vraagtekens gebruik, en die resensie wemel van verwysings na vrae wat gevra word. Maar nie met Martie Retief Meiring nie. Sy weet resensielesers pluk moer wanneer hulle moet verneem hoe diep ’n boek hulle sal laat nadink en hoeveel hulle gaan leer tydens die leesproses. Ek vermoed sy het die omslag van die boek een kyk gegee en besef hier is ’n reddingsdaad nodig. Sy pak Esterhuyse se hoofpunte en argumente netjies uit, en kom dan by die tyd en plek wat die hedendaagse leser die meeste sal interesseer, hierdie slow release revolusie waarin ons ons bevind. Ek’s mal oor haar slotsin: Oorlog en vrede bied geen gerusstelling nie. Ook nie in Grabouw nie.

by crito

Gips en kaas

Oktober 30, 2019 in Uncategorized

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan, deur Christine Barkhuizen-Le Roux. Resensent: Erika de Beer (Boeke24) en Joan Hambidge. (Rapport Boeke)

Vir studente van die Resepsiologie is dit goeie nuus dat Erika de Beer afgeleer het om in resensies die storie oor te vertel. Deesdae benader sy die boeke wat sy lees meer krities. Hier vind sy die skryfwerk net so ongemaklik as die onderwerp van die boek. Vir ons edifikasie skyn sy haar toorts op die slordighede in die boek. En voor jy kan sê “Mes!” wroet sy in slonsige denke. Wat, wil ek van Erika weet, is verkeerd daarmee dat ’n vrou wie se geliefde ’n steakhouse het, lanklaas ’n steak gehad het? Dalk is sy ’n vegetariër, dalk eet hulle ander vlesighede wanneer die minnaar nie by die werk is nie? Verstaan Erika die plattelandse lewe, vra mens jouself beangs af. Is daar dalk genuanseerde beskrywings in die boek wat sy nie gesnap het nie? Soos: Die onderskeid tussen ’n Fortuner en ’n gewone Toyota. Op die platteland is ’n Fortuner ’n statussimbool, wat nie verwar moet word met ander Toyota-modelle soos Avanza, Aygo, C-HR, Corolla, Etios en FJ Cruiser nie. Hulle is almal Toyotas. Maar as iemand die model vir die rykes ry, dan is dit net ’n Fortuner. Dis ‘n bakkie de luxe. Of ‘n bakkielose bakkie, as jy wil. De Beer weet skynbaar nie hoe mense oor motors praat nie. Ek sou sê Christine Barkhuizen-Le Roux ken die platteland soos die binnekant van haar hand. En dan kwel De Beer haar ook oor hoe iemand wat by ’n plattelandse Spar verbyloop sal weet dat die mense wat toustaan dit doen om Tikka Chicken te koop. Laat Crito mense wat lanklaas op die platteland was, net daarop atent maak dat die Spar in die meeste dorpies die enigste algemene handelaar is, en dat Tikka Chicken die grootste verkoper daar is, naas die pizza slices. Sulke dorpies het nie ’n KFC nie, sien. Dit spyt my om te sê dat sodra De Beer met die slordighede klaar is, die res van haar resensie begin lyk na vlieë-afvangery.

Gips en kaas, soos die Engelse sê. Om Hambidge se resensie oor hierdie boek te lees nadat jy Erika de Beer s’n gelees het, is soos om Merwe Scholtz se analise van “Rosa Rosarum” te beleef nadat jy voorheen by G. Dekker se vertolking vasgesteek het. Hambidge sien soveel meer daarin raak, en verwoord dit op só ’n manier dat dit onmoontlik is om nie onder die indruk te kom van die roman nie. Die koerantleser weet dadelik hierdie is nie ’n gemiddelde roman oor seksuele trauma nie. Vir my gevoel kan Hambidge wel meer moeite doen met die skakeling van paragrawe en die struktuur van haar argument. Op die oomblik bied sy ’n versameling losstaande indrukke aan – ’n benadering wat soms slaag, maar dikwels ook veroorsaak dat elke paragraaf sy eie gesag moet skep. En dit gebeur nie altyd nie. Mens kan die resensie as geheel neem en afleidings maak, die vraag is net of alle koerantlesers die geduld het om dit te doen. ‘n Boekresensie kan nie Jenseits von Gut und Böse wees nie.

by crito

Allerhande maniere

Oktober 21, 2019 in Uncategorized

Kyk na my: herinneringe aan ’n kindertyd, deur Nataniël. Resensent: Herman Lategan (Rapport Boeke)
Een van die plesiere van Herman Lategan se resensies is die indruk wat hy by jou laat dat hy vir iemand anders kwaad is, en hom nou met groot inspanning in toom hou. Hierdie keer is dit een van Rapport se redaksielede, een met ’n sigbare lang nek. Wie kan dit wees? Die resensie in sy geheel vind Lategan in ’n positiewe luim. Deernis vir Nataniël, groot waardering vir die boek, sluimerende moerigheid oor mense wat met ander se fisieke voorkoms spot. Geskryf met die bekende Lategan-flair.

… en daar was dagga, deur Heinz Mödler. Resensent: Koos Kombuis. (Boeke 24)
Is dit nie eienaardig nie? Mense kan só serieus raak oor die dinge wat eens heerlike spasiële afwykings veroorsaak het, tyd laat rek het en aan seks ’n godsdienstige dimensie verskaf het. Net omdat die taboe opgehef is, en ’n nuwe groeipunt vir die ekonomie gevind is. Koos Kombuis se resensie is vol eerbiedwaardigheid vir die tydigheid en nuttigheid van Heinz Modler se boek. Maar dit is nie die jong Koos Kombuis nie. Dis Koos Kombuis wat die dinge van ’n kind ontgroei het, ouer geword het, en wys. In sy opmerking oor die plaasvervangers wat hy vir dagga gevind het, lê ’n insig wat alles in perspektiief plaas.

By die brandende berg, deur Piet van Rooyen. Resensent: Riaan Grobler (Boeke 24)
Wanneer ’n resensent al sy beskikbare ruimte gebruik om die verhaal en tematiek oor te dra, maar homself nie sover kan kry om ’n lofbetuiging (versluierd of andersins) of verdoeming te gee nie, dan weet ek hy wil iets sê maar is té ordentlik om dit te doen. Is dit regtig nodig om só subtiel te wees?

Die slaghuis, deur Cas Wepener. Resensie: Francois Bekker. (Boeke 24)
Francois Bekker is nie ’n padvinder-resensent nie. Hy is ’n ou hand. En nes Riaan Grobler het hy goeie maniere. Maar ek het tog gedink dat dit baie pikant van hom is om ’n boek wat hy bestemel as synde ’n verhaal in ’n mineurtoon, self in mineurtoon te resenseer.

Die dekonstruksie van Retta Blom, deur Zelda Bezuidenhout. Resensie: Elbie Adendorff (LitNet)
’n Netjiese bespreking wat enigsins bederf word deur die opmerking dat Die dekonstruksie van Retta Blom ’n roman is wat vroue gerus kan lees. Wat?!?! Het Adendorff dan nie reeds in die begin gesê dit is chic-lit nie? Of is dit weer ’n geval van ’n Afrikaanse resensent wat nie die kans kan laat verbygaan om onderwyser te speel nie – kom suster, lees en leer…

by crito

Nuwe note

Oktober 15, 2019 in Uncategorized

50 Jaar met Fred – Fred Mouton se beste spotprente, saamgestel deur Bun Booyens. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24)
Joan Hambidge is darem ’n aanwins vir enige koor. Maak nie saak wat gesing word nie, sy sing saam. Hierdie keer oor spotprente. Sy weet van, oor ’n honderd. Ken al die name. Zapiro, Charley Hebdo, TO Honiball, DC Boonzaier, daais. Sy fluister die jongste skinner oor Anton Kannemeyer en Conrad Botes. Sy sit én die groot dreun én die hoë fluite in. Dis genoeg vir ons. Laat hulle wat ore het, luister. Die lees is egter nie altyd so maklik nie.

Vlug van die gees, deur Cas Vos. Resensie: Johan Myburg. (Boeke24)
Dit verg ’n digter van formaat om ’n resensie van formaat, soos hier, te skryf. Myburg benader Cas Vos (elf bundels sterk, na dese) met deernis, begrip en waardering. Sy hele aanpak getuig van waardigheid. Met die herlees van die resensie besef jy bykomend met hoeveel smaak Myburg te werk gaan. ’n Resensent hoef nie alles uit te spel nie. Myburg se sterk punt is die briljante aanknopingspunt in die begin en die pad wat hy volg om by die laaste vier woorde van sy resensie uit te kom – en wat ’n treffende formulering is dit nie.

Robey Leibbrand: ’n Lewe van fanatisme, deur Albert Blake. Resensie: Bill Nasson (Rapport Boeke)
Heerlikheid! Bill Nasson se resensie is só verfrissend anders. Reguit, op die punt af. Sy taalgeruik adem ’n ander era. Boksemdais, prima donna, hondsdol. Soms gebruik hy woorde wat die politiek korrekte Slangevanger van Grabouw so nooit as te nimmer sou gebruik nie, soos “kranksinnig”. Mens geniet die lees só dat jy wens die resensie was langer. Nasson verstaan die medium. Jy kry ook die gevoel dat hy kundig genoeg is om meer oor die onderwerp te weet as Albert Blake self. Dankie ook vir die  Evelyn Waugh-aanhaling. “The fatal flaw of minor fascists.” Nóú verstaan ek vir Blink Stefaans.

Hond se gedagte, deur Kerneels Breytenbach. Resensie: Willie Burger. (Boeke24, Vrouekeur)
Twee vir die prys van een. Elke hond kry sy dag in die DMZ tussen Geestelikheid en Geestigheid, maar niemand tree in die bres vir Rena Pretorius nie, nie eens haar oud-kollega nie. Wat word van ons volk?

Oopmond, deur Jan Vermeulen. Resensent: Jonathan Amid. (Boeke24)
Dit sit nie in elkeen se broek om jeugromans te resenseer nie. Amid kaats sy bespreking teen ’n verwysingsveld van skrywers wat soortgelyke tema’s as Vermeulen aangepak het. Hy prikkel die koerantlesers met net genoeg van die verhaal. Mooi skoot! Vertel jou tiener hiervan, bekommerde ma. Ek kon egter nie uitpluis of daar wel ’n verwysing na Michael J. Fox in die boek is nie.

Sypaadjie, deur Alma Rossouw. Resensent: Maryke Roberts. (LitNet)
Wel ja, jy sien, die resensie gooi my effens van my storie af want ek wil eintlik weet of dit die soort boek is wat ek kan lees terwyl ek my trekker bestuur maar nou weet ek nie so mooi nie want die 115 bladsye het verbygegaan teen 200 kpu sê Maryke Roberts en sy behoort te weet my vriend sy behoort te weet want sy lees sulke boeke wanneer die dokter haar laat wag en wanneer sy haar paspoort hernieu of wanneer sy ’n uur neem om ’n koppie koffie te drink terwyl sy lees. Maar wat weet ek? Ek het gedog resensies gaan oor die dinge in boeke, nie die dinge naas die boeke nie.

by crito

Oktober 1, 2019 in Uncategorized

Seks, leuens en die internet, deur Erla Diedericks. Resensie: Karin Eloff (Rapport Boeke)
Dit sou maklik wees om te sê Karin Eloff klim ’n bietjie diep in Erla Diedericks se karakter in, maar mens  moet soms ook die ou aksioom onthou: As jy jou lyf toffie hou, moet jy weet dat jy gelek gaan word. Eloff reageer baie direk op Diedericks se lewensverhaal. Miskien omdat sy so baie van die dinge self ondervind het, maar uiteindelik sien sy ook die ommekeer en die insig raak. In wese is daar geen hemelsbreë verskil tussen Eloff en Riette Rust se taksering nie; dis net die manier van hul reaksie beskryf wat verskil.

Tronkhond, deur China Mouton. Resensie: Herman Lategan. (Boeke24)
Welkom terug, Herman Lategan! Voetjie-vir-voetjie. Lang opsomming van die inhoud. Sou mens anders kon? Miskien die name van Bosman en Breytenbach laat val het, maar sou dit die aandag beter gehou het? En dan, in die slotparagraaf, die blik op die man se siel, of  “die asem in die gevoelvolle verhaal”, soos Lategan dit stel: Mouton se liefde vir honde. Ja, dieselfde spesie wat Lategan aan die boud gebyt het.

Soekmekaar, deur Dana Snyman. Resensie: Koos Kombuis. (Boeke24)
Koos Kombuis se naam duik nou met groter frekwensie in die koerante op as ’n jaar gelede. Hierdie een is een van sy welkome verskynings; stilisties kenmerkend van sy openhartige, direkte aanslag. Hy is bewus van die kritiek wat in die verlede teen Snyman ingebring is, en sit dan uiteen hoekom hy nie geneig is om Soekmekaar as bewysplaas vir daardie kritiek te laat brandmerk nie. Mnr Kombuis is begeester deur die boek, en dit is wat mens die langste bybly. Ander se geesdrif is aansteeklik.

Noorman, deur S.D. Fourie. Resensie: Juliana Coetzer. (Rapport Boeke)
Alles in hierdie resensie irriteer my. En as ek so voel, is ek seker die skrywer self kan slange vang. Die sleutel vir my reaksie is in die slot, waar Coetzer in die voorlaaste paragraaf sê, onder meer, “Haar woorde vloei sonder inspanning en laat jou met die gevoel dat Noorman ’n lekkerleesboek is wat jy nie hoef te ontleed nie.” En dan stuur sy almal met ’n kluitjie in die riet: “Aanhangers sal beslis nie teleurgesteld wees nie, en nuwe lesers wat ouwêreldse verhale met allerlei intriges op verhoudingsvlak geniet, sal ewe lekker peusel aan die boek. Inwonders en oud-inwoners van die Strandveld sal weer ekstra waardering hê vir die herinnering van hul geliefde streeksuitdrukkings.” Was die kwasi-akademiese inleiding, die verkneukeling oor interessante taalgebruik, en die lang samevatting van die verhaal dan werklik nodig? As ’n resensent só duidelik aandui dat sy die boek as benede ernstige refleksie beskou, het mens geen ander keuse as om te voel dat jy hier taai deeg gekry het terwyl jy poffertjies gesoek het.

by crito

Kortliks

September 23, 2019 in Uncategorized

Sushi en Shosholoza, deur Erns Grundling. Resensie: Marian van Wyk. (Rapport Boeke)
Marian van Wyk se naam duik nie gereeld op as resensent nie. Ook maar goed so. Sy begaan een van die groot sondes van die resensiekunde. Span 1269 woorde in om iets te sê wat in 100 afgehandel kon gewees het. Teen paragraaf vier begin mens wonder hoekom sy so heftig reageer, en haar slotopmerking in parentese laat jou besef presies wat makeer aan haar bespreking. Vlieë-afvangery in die gedaante van kritiek. Mens snap dat Van Wyk au fait is met Japan en Japanse kultuur; die doel van die resensie is egter om aan te toon of Sushi en Shoshaloza ’n goeie, leesbare boek is of nie, en nie om te bewys dat die resensent die boek beter sou geskryf het en ook beter toegerus is om ’n projek soos hierdie aan te pak as Grundling nie.

Die wolkversamelaars, deur Nadia de Kock. Resensie: JB Roux. (Boeke24)
Ek laat JB Roux se resensies gewoonlik aan my verbygaan, maar ’n kollega vestig my aandag op hierdie juweeltjie: “Die wolkversamelaars lees so vlot soos ’n populistiese roman …”

Klikbek, deur Sidney Gilroy. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24)
Die moderne speurverhaal werp allerhande nuwe dinge op, maar in wese bly die elemente dieselfde. Bekker gee dit toe, maar voel Gilroy verdien aandag danksy die gehalte en aard van sy skryfwerk. ’n Vars oog op Ace se kontrei.

Seks, leuens en die internet, deur Erla Diedericks. Resensie: Riette Rust. (LitNet)
’n Resensie wat my nogal moed gee vir die lewe. Dit is moontlik om intelligent te skryf oor die wasige onderwerp van die seksuele lewe ná 50, en ’n resensent kan sonder gemaakte vroomheid daarop reageer.

by crito

Aanloop

September 12, 2019 in Uncategorized

Vloek, deur Rudi van Rensburg. Resensent: Jonathan Amid (Rapport Boeke)
’n Resensie met ’n lang aanloop oor die krimi-genre en Rudie van Rensburg se plek daarin. Is dit werklik nodig om al die dinge te weet voordat die resensent by die roman self uitkom? Ja, beslis. Mense wat Amid se resensies volg, sal weet dat hy die resensent se rol goed verstaan. Kritikus, kolporteur, mediaman. Resensente som nie ’n boek se verhaal op nie. Aan die kern van alles wat hy hier oor Van Rensburg se skryfkuns sê, en van wat hy oor Vloek oordra, is die aanduiding wat hy vir die Sondagkoerantleser gee of Van Rensburg nog op dreef is. Inderdaad, sê Amid, en steeds ontwikkelend. Hy skets in breë trekke waaroor die boek handel, maar bederf nie die leesplesier vir die Van Rensburg-aanhangers nie. Sy analise van die verskillende verhaallyne gee genoeg aanduiding van die grein van die roman; sy aanhaling van Sir Philip Sidney se woorde oor misdaadfiksie verklap hoekom hy die roman op hierdie wyse geresenseer het. Vernuftig.

Verslag, deur Clinton du Plessis. Resensie: Barend van der Merwe. (LitNet)
Van der Merwe sê in die begin hy is mos nie ’n professor in poësie nie. Hy reageer uit die krop uit, en daarin lê die waarde van hierdie kort en doelgerigte bespreking.

Tussen toeval en willekeur, deur Kobus Lombard. Resensie: Louis Esterhuizen. (LitNet)
Louis Esterhuizen is een van die mees onderskatte Afrikaanse digters van die afgelope dertig jaar. Dis interessant om te sien hoe ’n deurwinterde digter soos hy reageer op ’n opkomende digter soos Lombard. In essensie is sy reaksie op Lombard dieselfde as wat Barend van der Merwe s’n op Clinton du Plessis is. Die verskil lê in die manier waarop hulle hul uitdruk. Esterhuizen is, by wyse van spreke, ’n professor in poësie, en hy vind die juiste woorde vir sy reaksies.

Doodsengel, deur Madelein Rust. Resensie: Org Potgieter (LitNet)
Ek vermoed daar is ’n paar Afrikaanse misdaadskrywers wat ’n appeltjie te skil sal hê met ’n paar van die stellings wat Org Potgieter sommer in die verbygaan maak. Veral: “Daar is – soos te verwagte – ook baie grafiese beskrywings, maar hulle word op ’n diskrete manier aangebied – dit ril, maar dit walg nie; iets waaraan misdaadskrywers hulle soms skuldig maak omdat hulle kortpad vat en nie oor die vaardigheid beskik nie.” So, as mens se walg-gevoeligheid hoog is, takseer jy skrywers se vaardighede anders as mense wat ’n teenoorgestelde walg-drempel het?

by crito

Geheime

September 2, 2019 in Uncategorized

Zola, deur John Jack Smith. Resensent: Deborah Steinmair. (Rapport Boeke)
Hierdie resensie wek ’n ernstige vraag. Die resensent is  een van die heel knapste ontleders – en kenners – van Afrikaanse misdaadfiksie. Deur die jare leer mens haar aanpak ken. Sy het al gloeiende resensies geskryf, en ook negatiewes. By laasgenoemde het sy altyd met begrip vir die skrywer haar kritiek verwoord. Ek herinner my gevalle waar ’n stip lesing van ’n skynbaar positiewe resensie onthul hoe versigtig sy kritiek uitspreek. Sy is self skrywer, en weet hoeveel skade skerp woorde kan aanrig. In hierdie geval is haar oordeel uiters positief, al kwalifiseer sy dit met ’n opmerking, in haar slot, dat die boek vir sommige lesers dalk té erg sal wees. Sy self was geboei, al het sy kon raai wat die oplossing was. Maar is dit dan nie juis die plesier wat lesers van speurverhale soek nie? Om te kan kragte meet met die skrywer? Het die man my uitoorlê of nie …  Buiten hierdie nietighede is dit ’n baie goeie resensie – nie alleen ten opsigte van die boek nie, maar ook oor die manier waarop Steinmair vir lesers wat niks weet van die boek nie stelselmatig die personasies, storielyn en verwikkeling ontbloot. Waar sake kompleks raak, is as mens weet dat Steinmair deesdae verbonde is aan ’n uitgewershuis, en hier ‘n publikasie van een van haar konkurrente bespreek. Dit is nie ’n ideale situasie nie, en iets wat koerante normaalweg behoort te vermy. Dit plaas Steinmair en haar resensie onder ’n vergrootglas – of sy dit nou verdien of nie.

Hond se gedagte, deur Kerneels Breytenbach. Resensie: Jonathan Amid (Rapport Boeke)
Ja, ek het ook eers die boek gaan lees voordat ek Jonathan Amid se resensie wou takseer. Ek is bly ek het, anders sou ek nie besef het hoe ’n besonderse dans Amid moes dans nie. Amid moes werk met die probleem van hoe ’n mens skryf oor ’n roman wat gebou is rondom ’n geheim – sonder om die geheim te verklap. Goed, resensente van misdaad- en speurverhale het altyd daarmee te make, maar in hierdie geval sou Amid nie alleen sy lesers se pret bederf het nie, maar ook sy eie aansien as resensent geknou het. Sy oplossing was om die roman in die groter literêre konteks te plaas, te fokus op die skrywer se styl en vaardighede. Dit werk, uitermate só. Ek vermoed koerantlesers sou wel terdeë besef het dat die resensent die sluier dig hou oor iets, hond se gedagte gekry het as ’t ware. Breytenbach was baie gelukkig om só ’n resensent te kry. In die proses het Amid ook getoon dat hy nou ontwikkel het in een van die voorste resensente van hierdie era.

Dooiegety, deur Bets Smith. Resensie: Clari Niemand (Boeke24)
Ek is nou heeltemal deurmekaar. Die opskrif sê daar is ’n storie binne-in ’n storie. Die resensent skets die primêre verhaal, maar dan spring sy skielik na “’n Jaar of wat gelede verskyn ’n boek deur een van ons voorste misdaadskrywers …” Is dit die storie binne-in die storie? Lyk my nie so nie, maar wat die ander storie is, word ook nie gesê nie. ’n Resensent moet lesers nie verwar nie. As mens dan moet verwys na ’n ander boek, moet jy die titel en skrywer noem, anders raak sake vir sowel resensent as koerantleser net meer trobel. En dit het niks uit te waai met die boek onder bespreking nie. In hierdie geval het Bets Smith aan die kortste end getrek.

Vloek, deur Rudi van Rensburg. Resensent: Francois Bekker (Boeke24)
Miskien begin resensente nou voel dat die ontwikkelingstrajek waarop Rudie van Rensburg is, van só ’n aard is dat dit nie vir hom moontlik is om ’n swak boek te publiseer nie. Daarom is Francois Bekker se resensie vir my so ’n plesier. Enersyds hanteer hy die verhaal- en karakterelemente met gemak en uitvoerig. Andersyds raak hy die soort dinge aan wat vir skrywer en uitgewer en literator van belang is: Komposisie, styl, beplanning, karakterisering, verdieping, hantering van aksie, spanningsbou, en so meer. Bekker is positief daaroor, en sy negatiewe kommentaar handel oor die onderskeid tussen “telling” en “showing”.  Uitstekend.

by crito

Slagveld

Augustus 23, 2019 in Uncategorized

Mans en hul woede, deur Cas van Rensburg. Resensie: Laurie Gaum (LitNet)
Dit is jammer dat Cas van Rensburg oorlede is. Mens wonder wat hy sou gemaak het van die ontgogeling wat Suid-Afrikaners vandag beleef. Wat sou Van Rensburg gedink het van ’n regering wat vroue in top-poste aanstel, maar weens die instutusionele onbeholpenheid van hul polisie-bestel niks doen aan geweld teen vroue op alle vlakke onder die top-poste nie? Soos Laurie Gaum aandui, het Van Rensburg drie belangrike publikasies die lig laat sien waarin hy begrip vir die lewe probeer bring, hand aan hand met Carl Gustav Jung. Gaum sê die jongste daarvan, Mans en hul woede, is nie net vir bejaardes en mans nie, maar ook vir vrouens wat hul mans wil verstaan. Sy resensie is vir my swanger aan implikasies. Ek is dit roerend eens met hom oor wat hy sê, en ek glo saam met hom dat Van Rensburg begrip bring vir dinge wat Afrikaans-lesendes raak. Maar ek weet ook dat die resensent in die bediening van Gods Woord staan, en aan die ontvangkant was van die gemeenheid van die Afrikaanse Outoppie-argetipe, wat “alive and well” is in die slagordes van die kerkgroep wat sulke diep spore in Suid-Afrika se geskiedenis getrap het. Hierdie bespreking is veel meer lering as wat dit resensering is, en ek is daarvoor dankbaar.

by crito

Ontploffing

Augustus 22, 2019 in Uncategorized

Zola, deur Johan Jack Smith. Resensie: Jonathan Amid (Boeke24)
Die probleem metr ’n boek soos hierdie is dat die resensent móét sê waaroor dit handel, maar telkens moet terugdeins voordat hy die vertelling se meganismes verklap. Jonathan Amid het ’n baie breë verwysingsveld, en in plaas van die storie se geheim weg te verklap, gee hy dan verwysings na soortgelyke romans, skrywers en films. Dit werk uitstekend, en in sy slotoordeel plaas hy die leser by ’n presiese evaluering: Zola is goed genoeg om gunstig met die skeppings van Martin Steyn vergelyk te word. Die Afrikaanse krimi-ontploffing deur voort!