Jy blaai in die argief vir Uncategorized.

by crito

Spoke

Desember 10, 2020 in Uncategorized

Jeugboeke skep probleme. Vir uitgewers, vir skrywers, vir resensente. Die spook wat op hierdie gebied loop, is dié van die pedagogiek. Die teikenmark sien daai spook sommer gou. Iemand wil die lesers alweer iets leer.

Hier op eie werf (LitNet) is daar twee goeie voorbeelde wat by dié problematiek aansluit. Die resensies is albei stewig: Anke Theron skryf oor Maretha Maartens se Bethel se berg en Wanda Olivier oor Joha van Dyk se Branderjaer.

Maartens is al 75 en haar eerste boek gemik op jonger lesers het in 1982 verskyn. Groot is haar welslae, wat haar tereg die eretitel van Doyenne van Jeuglektuur laat verdien. Sy het baie lewenswysheid om te deel met jeugdige lesers. Joha van Dyk is 22 en nog student.

Nou hoef ’n mens nie baie skrander te wees nie om te weet dat Van Dyk se invalshoek in meeste opsigte nader aan haar teikengehoor is as dié van Maartens. Haar kans om die polsslag van haar lesers te vind, is beter as dié van Maartens. Al het Maartens volgens Anke Theron dan ook groot empatie met haar jong lesers.

Mens se hare begin al regop staan op jou voorarms.

Theron staan self moontlik tydgenootlik gesproke nader aan Maartens as aan tieners. Haar resensie bevat knallers soos “iets wat baie goed werk in jeugboeke en wat beslis tieners se aandag sal trek …” en “’n Goeie jeugroman het die neiging om ’n indruk te laat op ’n jong leser …”. Die roman gee volgens haar meerdere male insig, en dit sal jou nog lank laat nadink. Sy meen Maartens se narratief dra die verhaal van die hoofkarakter goed, “al word daar sosiale kommentaar in die agtergrond gelewer”. Vir ’n verhaal wat in die jare tagtig afspeel, is dit seker noodsaaklik.

Theron bou in haar resensie ’n afstand tussen haar en die teikenmark van die boek in. Sy mik haar resensie vermoedelik op die ouers van tieners.

Wanda Olivier is vir my ’n nuwe naam op die gebied van resensies. Dit is uit haar bespreking duidelik dat sy baie nader aan die boek se lesers én onderwerp staan as Anke Theron jeens Maartens se roman en dié se lesers. Haar aanslag is veel meer byderwets. Daar is wel ’n sweem van pedagogiek, veral in haar slot, maar daar is ’n groter geneëntheid om aansluiting te vind by sowel die roman as die mense wat dit bevolk. Omdat sy so duidelik begrip probeer hê vir die probleme waarmee die karakters te make het, gee sy vir die resensieleser omvattende toegang tot die skakkerings en nuanses van die roman.

Dis net jammer dat sy in haar slotparagraaf die deur geopen het vir haar innerlike pedagoog. Dit is onduidelik hoe haar laaste opmerking (“Maar in werklikheid val ouers ook van pedestals af”) betrekking het op Brandeerjaer.

Jonathan Amid skryf vir Boeke24 oor Branderjaer. Sy ondervinding as resensent spreek duidelik – hy staan nes Olivier nader aan die teikenmark, en sy reaksie is baie direk en oorrompelend. Die eerste paragraaf het my laat vrees dat hy ’n jissempie ouens-resensie gaan skryf, maar hy swaai dit dadelik terug in ’n meer beredeneerde argumentasie. Dit is juis laasgenoemde wat sorg dat sy resensie soveel gesag dra.

Wat my verbly het, is die afwesigheid van daardie pedagogiese spook. Hy ontleed die tematiek, en gebruik die woord insig nooit nie. Waar hy wel die spoor byster raak, is in sy aanmanings oor die rykdom aan intriges, en onsubtiliteit van die vroulike hoofkarakter se van. Sy stelswyse gee ’n pedantiese kleur daaraan, die soort vaderlikheid wat mens eerder met ’n keurverslag sou assosieer.

Van pedagogiek gepraat: Joan Hambidge se resensie van Anoeschka von Meck se Die heelal op my tong aktiveer Deel II van Monty Python se The Meaning of Life, “Growth and Learning”.

by crito

Sekerheid

Desember 3, 2020 in Uncategorized

Aangename weersiens van twee gerekende resensente: Sonja Loots en Rachelle Greeff.

Sonja Loots se resensie in Rapport kry reg wat JB Roux ’n ruk gelede nie kon regkry nie – dit benader Nataniël se Dik dun Thick Thin met erns en is daarom oortuigend en gewigtig. Bewus van Nataniël se tekortkominge, maar ook ontvanklik vir sy genialiteit. Sy noem hom ’n “meester van tragikomiese triestigheid”, en reageer dan aan die hand van talle voorbeelde op só ’n wyse dat niemand kan twyfel oor genoemde meesterlikheid nie. Dis vrek snaaks in dié resensie, watter ander plesiere skuil in die boek?

Dan buig sy haar betoog terug na die erns, en gee ’n kort uiteensetting van Nataniël se plek in die wêreld der Afrikaanse lettere: “By al sy ander talente is Nataniël se oeuvre ’n beduidende bydrae tot die queering of skeefskryf van Afrikaans. Vervreemding, verwonding, marginaliteit en ’n volgehoue verset teen die konvensionele is die goue draad wat dwarsdeur alles loop. Die ontheemding van karakters wat nie tuishoort in hul wêreld nie, en die vreemdmaak van die normale vanuit hul randposisies, is ’n onderbeligte strategie van hierdie skrywer se dominante queer-ingesteldheid.”

Rachelle Greeff skryf in dieselfde uitgawe van Rapport oor Emile Joubert se So byna blou, wat Thys Human in September met baie goeie gevolge vir Boeke24 geresenseer het. Wat vir my baie intrigerend is van haar resensie, is dat sy wil-wil swig voor die sjarme van Joubert se satiriese oog, maar dat sy ten slotte terugdeins met ’n ruiterlike erkenning dat sy nie heeltemal sekerheid het oor presies wat opgestuur is en wat “bloot slordig afgewerk” is nie. Uiteraard maak sy my as resensieleser nuuskierig in die proses, dalk het sy geweet dat dit ook die geval sou wees met baie ander resensielesers.

Ek sou tog wou geweet het of sy dink dit is ’n goeie bundel, gedagtend aan Thys Human se opmerking oor die opneem van Joubert se verhale in kanoniserende bloemlesings.

Van Human gepraat – ek het sy bespreking van Chris Karsten se Die versoeking van Thomas Maas vir Boeke24 uiters goed gevind. Die boek is hierna bo-aan my Kerslys.

Opvallend is die dinge wat vir Human uitstaan: Karsten se taalgebruik, sy navorsing en die vrae wat die roman opwerp. Sy resensie is ’n stawing daarvan en die manier waarop hy sy argumentasie struktureer, bevestig sy agting nie alleen vir Karsten nie, maar ook die genot wat die lees van die boek by hom uitgelok het. Hy dui die raakpunt tussen Karsteen se soort speurverhaal en die letterkunde aan, en identifiseer die tematiek.

Goed. Hy moet net nie dink sy lesers het nie agtergekom dat hy doelbewus baie vaag is oor wie die vermoorde persoon in die verhaal is, en wie die moordenaar. Laasgenoemde sal enige goeie resensent uit fatsoenlikheid nie verklap nie, maar die vermoorde ook? Ek ruik ’n rot. Ek het hierdie resensie nou verskeie kere deurgelees, en begin ’n spesmaas kry dat ek eers ná die lees van die boek self sal weet presies hoe knap die resensie geskryf is.

Hoekom anders sou hy opmerk dat selfs Margaret Atwood beïndruk sal wees op die manier waarop Karsten ’n mens se aandag hou?

by crito

Uit vier hoeke

November 26, 2020 in Uncategorized

Willem Anker se Skepsel het ’n baie interessante vlaag resensies uitgelok. Groots opgesette romans soos dié het die manier om uiteenlopende reaksies te kry. Min of meer ’n jaar gelede was dit dieselfde met Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld.

Rudolf Stehle was eerste om te reageer, in Boeke24, met ’n verslag oor die inhoud – ’n ontleding, as mens dit so wil noem, van die uiteenlopende verhaallyne, boustof en tematiek van die roman. Dit is sekerlik ’n goeie vertrekpunt as die resensent mik op koerantlesers wat nog die roman moet lees; Stehle se kritiese reaksie is ingebou in die manier waarop hy die samevatting van inhoud uitpak, asook in sy twee slotparagrawe waarin hy Skepsel beskryf as “verruklike kuns”, en ’n “seismograaf wat … die trillings van die huidige tydsgewrig registreer”.

Hans Pienaar skryf op die webwerf van LitNet sy resensie in die tweede persoon, in aansluiting by een van die verhaal-invalshoeke in Skepsel. Dit is ’n verbeeldingryke manier om te reageer, met die klem wat dan val op die resensent se gewaarwordinge terwyl hy lees. Die gevaar met só ’n aanslag is dat dit masturbatories kan aandoen; net die pleër geniet dit. Vir die leser is dit ’n versperring – jy moet nie alleen die gedigheid van die resensent se reaksies probeer peil nie, maar jy moet ook via daardie reaksies ’n idee probeer vorm van die roman self. En soos ’n mens onmiddellik besef terwyl jy Pienaar se stuk lees, is Skepsel ’n werk wat enorme eise aan die leser stel.

Pienaar verwys na Stehle se resensie ook, en dit is in ’n sin vir mense wat resensies volg ’n goeie idee om eers Stehle se ontleding te lees voordat jy Pienaar se reaksie aanpak.

Jonathan Amid was volgende aan die beurt, in Vrye Weeklad, met ’n geesdriftige, pragtig beredeneerde reaksie. Hy het nie soos Stehle die verskillende verhaallyne uitgelê nie, maar in sy kenmerkende styl die roman in die groter konteks van skepping en kuns geplaas. Hy gebruik die woorde nie, maar dit gaan oor ’n soort ars poetica by Willem Anker, die skep van ’n komplekse kunswerk. “Met Skepsel,” skryf Amid, “maak Anker die mees meesleurende argument vir die belang van fiksie, en die Roman.”

En weer kon ek nie ontsnap aan die gevoel dat dit vir die leser van die resensie raadsaam sal wees om ook hier Stehle se uiteensetting in gedagte te hou, tesame met Amid se eksegese.

Die vierde reaksie was dié van Jean Meiring. Sy resensie van Skepsel in Rapport toon hom op volle toere; hy vermag meer in die verskaf van inligting, analise en kritiese reaksie as die ander drie resensente saam. Daarmee probeer ek nie vir Stehle, Pienaar en Amid kleineer nie; elkeen van hulle het ’n eie manier van doen, soos aangetoon.

Meiring sien dinge raak wat vir my aan Skepsel ’n onweerstaanbare allure gee – ’n boek wat ek subiet wil koop en baie stadig lees. Sy aanklank is merkbaar, sy kritiese oog het twee gebreke gevind wat hy dan ook uitlê. Meiring benader die roman en sy boustof met ’n merkbare hongerte vir begrip. Mens kan nie anders as besef dat hy Skepsel baie hoog aanslaan nie, al sê hy dit nie pront só nie. Sy gebruik van saligmooi om Anker se prosa te tipeer in sy samevatting laat ’n mens besef dat die estetiese verruklikheid hom deeglik in vervoering het.

Dít is wat ek van Meiring waardeer – dat hy besef dit is vir die resensent nie altyd nodig om dinge uit te spel nie. Die manier waarop hy respek betoon, en die styl waarin hy die literêre kunswerk evalueer, sê alles by implikasie. En hierdie keer pas elke woord presies.

Pienaar en Meiring (in ’n opmerking tussen hakies oor die “puntenerige erkenningsafdeling”), sny ook die publikasiekonteks aan. By Pienaar word dit deel van sy groter hermeneutiese soeke. (Ek kan net nie verstaan hoekom hy verwag die erkennings moet apologeties wees nie; Pienaar se verdere opmerkings daaroor is wel baie insigewend, as deel van sy reaksie.)

Nadat ek die boek na die lees van Meiring se resensie by Amazon gaan koop het, was dit die eerste deel van die boek wat ek opgesoek het. Dit gaan die wysneuse baie besig en uit die moeilikheid hou.

by crito

Een woord

November 11, 2020 in Uncategorized

Een woord is genoeg om ’n resensie wat ’n boek aanprys, in ’n heeltemal ander sleutel te plaas. Dít is wat gebeur met Jean Meiring se bespreking van Donkerdrif, Deon Meyer se jongste Bennie Griessel-roman. (Rapport Boeke)

Soos meestal die geval is met Meiring se resensies, is dit ’n plesier om te lees. Ek verslind alles wat hy skryf, en soos meestal die geval is, herlees ek dit om te sien of daar iets is wat ek nie gesnap het nie. Sy geesdriftige taksering van Meyer se skryfwerk en sy vermoë om ’n meesterlike verwikkeling te skep, is die soort evaluering wat ’n mens graag wil sien. Deon Meyer het baie bewonderaars, die uwe ingeslote.

Maar een woord val heeltemal uit toon – boksombende. Vir diegene wat nooit deur onderwysers aangesê is om die skryfwerk van Topsy Smith te ervaar nie: Die boksombende is die viertal sentrale figure in Smith se Trompie-reeks jeugverhale. Hul bende lewe in die sfeer van die ewige cliché, ondeunde kinders wat nooit die grootmense se sienings en waardes volledig begryp nie en met die vernuf van kartonfigure die lewe se raaisels konfronteer.

Meiring se besluit om die sentrale figure in Donkerdrif ’n boksombende te noem, is ongelukkig. Dit kom ook in ’n stadium waar hy met ’n swierige draai uitgekom het by die opmerking dat dié Meyer-roman ‘n barshou plant. Skielik wonder ’n mens. Probeer hy met dié woord ’n soort patroniserende afstand skep? Is daar iets meer as humor in die etikette wat hy om die mense se nekke hang, soos bv. om te verwys na Vaughn Cupido se “Stellenbosse nonnatjie”?

Verderaan blyk die resensent se afstandelike teenwoordigheid ook baie duidelik uit sy tersyde “vra ek u met trane in my blousel-bloues”. Goed, ek geniet die dolle gang waarmee Meiring se gedagtes vorentoe loop, elke opmerking meer gevat en skitterend as die vorige. Gaan kyk maar na sy taksering van Stellenbosch en sy mense. Dis lewende pret – net jammer daai boksombende spook by my. Dit suggereer ’n vlak van geyktheid wat ek moeilik met Bennie Griessel, Alexa, Vaughn Cupido, Desiree en kol. Mbali kan assosieer. Sulke figure is die kern van talryke speurverhale, ’n troop wat met erns aanvaar moet word, anders is die verhale waarin hulle voorkom, niks meer as burluske nie.

Ek glo vir geen oomblik dat Meiring neersien op Griessel-hulle nie; sy waardering vir die outeur is ook sigbaar in die kritiek op die redaksionele versorging van die roman. ’n Resensent dui sulke dinge net aan as hy ruimte vir verbetering wil aantoon.

Dit is net dat boksombende ’n uiters verkeerde woordkeuse was in hierdie spesifieke konteks.

JB Roux se skrywe oor Dik Dun Thick Thin van Nataniël (Boeke24) is ’n poging tot onverskilligheid. Hy gee te kenne dat hy Nataniël se humor nie snaaks vind nie, maar dit sal darem plesier verskaf aan sy aanhangers. Boeke24 het die ruimte wat aan sy bespreking afgestaan het, vermors. Is daar dan niemand wat Nataniël behoorlik kan resenseer nie? Mense wat bereid is om te sê hulle dink dis vrot en die redes uitpak, of mense wat dink dis goed, en die redes daarvoor neerpen.

Mens sal aan die ander kant nie Tobie Wiese se resensie oor Neels Jackson se Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk (Rapport Boeke) kan opsom in een sin nie. Ek het ’n spesmaas Wiese skryf met die aanname dat sy resensie veral deur mense in die ou Afrikaanse susterskerke gelees sal word. Die manier waarop hy sy argument konstrueer is baie interessant, met talle opmerkings wat aansluit by ander, ouer twisgesprekke – bv. die opmerking oor objektiewe joernaliste, of oor die verskil tussen literalistiese en hermeneutiese benaderings tot die Bybel. Ek het my verkneukel aan sy opmerking oor die verstaanbaarheid van Jackson se styl vir die Kretie en Pletie, maar ook besef dat Jackson ’n klomp dominees diep ongelukkig gaan maak. Kolskoot vir Jackson, en ’n ruiker vir Wiese vir die manier waarop hy die kern van die boek aandui. ’n Mens begin wonder oor die kerke se vreemde besluite oor gays, en die onkunde by baie van die besluitnemers.

My aandag word nie dikwels getrek deur resensies van jeugromans nie. My kinders is al groot. Magdel Vorster se bespreking van ’n drietal boeke in Rapport Boeke het my aandag getrek. Sy skryf doelgerig en saaklik, en al wat nog makeer, is ’n aanduiding van haar eie reaksie. Sy tipeer die boeke maklik volgens die ouderdomsgroepe waartoe hulle sal spreek, maar ek dink sy het nodig om die persoonlike evaluering/reaksie meer prominensie te gee.

Ek sal later Rudolf Stehle se resensie van Willem Anker se Skepsel bespreek.

by crito

Grade van verskil

November 1, 2020 in Uncategorized

Hier op ons werf, by SêNet-briewe, verskyn ’n brief deur Estelle Venter, wat dikwels Crito voor stok kry. Sy het meestal reg, en hierdie keer weer.

Gaan lees gerus haar brief by:
https://www.litnet.co.za/professor-burger-en-crito-trap-oor-die-tou/

Hoekom het Crito nie Burger se resensie behandel nie? Eenvoudige antwoord: Nog voordat ek verlede Maandag Willie Burger se resensie van Renée Rautenbach Conradie se Met die vierkleur in Parys gelees het, het boodskappe daaroor by my uitgekom. Daarna het ek daagliks met ’n omweg daarvan moes hoor. Crito se inligtingskanale het oortyd gewerk verlede week.

Wanneer so-iets gebeur, trek ek die handbriek op, koop die boek, en lees eers. Het my naam al voorheen krater gemaak met sulke gevalle, gaan dit nie weer doen nie.

Nou, ek het Met die vierkleur in Parys gelees, en ek dink Estelle Venter se punte van kritiek op die Burger-resensie is baie billik. Ek dink ook dit is Willie Burger se reg om te sê wat hy van ’n boek dink. Dit is nie die soort boek wat ek onder normale omstandighede sou lees nie, en ek sal nie verbaas wees as Willie Burger ook só sou voel nie.

Waar ek en hy egter verskil, is dat ek die roman toe wel baie geniet het. Lees maklik, Rautenbach Conradie het ’n eie stem, die verhaal het ’n ouwêreldse sjarme, die lotgevalle van Paul Roux het tot my gespreek. Willie Burger se punte van kritiek is vir my nie werklik sulke belangrike oorwegings nie, want ek het uit die staanspoor besef dit is nie die skrywer se bedoeling om die Hertzogprys te wen hiermee nie.

Natuurlik sal hy moet toegee dat dit nie werklik onrealisties is vir iemand om in 1900 “Verdomp” te sê nie. In sy streng Nederlandse vorm was die woord al verskeie eeue in omloop, en mens kan verstaan dat verdomd hier ter plaatse verdomp kon geword het.

Maar dis nie werklik ter sake nie. Daar is onderliggend ’n aspek van hierdie resensie wat my ernstig kwel. Renée Rautenbach Conradie se manuskrip was in ’n stadium deel van haar werk vir die verwerwing van ’n Magistergraad by die Universiteit van Pretoria. Prof. Willie Burger se departement het dit toe goed genoeg gevind vir die toekenning van daardie hoë akademiese onderskeiding.

Nou, ’n klompie jare later, laat hy hom uiters negatief uit oor die boek. Hy is aan Renée Rautenbach Conradie ’n verduideliking skuldig – maar ook aan die lesers van sy resensie daaroor. En aan almal wat by UP nagraadse studie gedoen het oor kreatiewe skryfwerk en magistergrade toegeken is deur sy departement.

In samehang daarmee is dit betreurenswaardig dat hy nie, toe hy gewerf is om die boek te bespreek, sy belange verklaar het en die beker aan hom laat verbygaan het nie. Dan sou hy homself nie in hierdie onhoudbare posisie bevind het nie.

Ek sou dink dit is ’n aksioom dat mense wat manuskripte vir uitgewers keur, nie ook die resensies van die boeke skryf nie. As mens die beginsel deurtrek, moet die persone wat verbonde is aan kreatiewe skryfskole, en dergelike departemente by universiteite, hulle daarvan weerhou om hul allumni te bewierrook of, soos in die geval onder bespreking, te verguis.

Ek gaan my nie uitlaat oor van die ander bewerings wat hierdie week my ore bereik het nie.

by crito

Vreugde groot

Oktober 28, 2020 in Uncategorized

Na ek verneem is daar van tyd tot tyd kursusse wat aangebied word oor resensies. PEN Afrikaans het betreklik onlangs een gehad. Ek weet nie wat die kursusgangers daar geleer word nie, maar ek hoop daar word mooi verduidelik hoe kosbaar dit is wanneer ’n mens ’n resensent kry wat in staat is om vervoering en tomelose geesdrif oor te dra.

Sulke resensies is nie volop nie. Daar is sekerlik boeke wat trometgeskal en luide gebasuin regverdig. Dit is net dat daar so min van die holderstebolder vreugde oor boeke deurkom.

Johan Myburg, die jongste ontvanger van die Hertzogprys, kom die naaste daaraan met sy resensie van Die meeste sterre is lankal dood, van Johann de Lange (Boeke24). Dis nie ’n resensie vir mense wat hul oë net wil laat gly oor die kopie nie. Dis ’n resensie vir stadig lees en uitknip, want jy weet jy gaan dit byderhand wil hê sodra jy die bundel aangeskaf het.

Myburg teken alle moontlike leidrade en leiding aan vir die liefhebber van digkuns, wetend dat die ontdekkings wat mens wil maak, selde op die koerantblad gaan gebeur. En dan vou hy sy resensie in met ’n opmerking wat vertaal kan word as ’n hoesanna in die hoogste hemele: “Die lees en herlees van Die meeste sterre is lankal dood is soos om na ’n naghemel met sterre te kyk – meteen sien jy nie alles raak nie. Maar hoe langer en met hoe meer verwysings jy kyk, hoe meer verwonder jy jou.”

Saggies skree.

Soms moet jy goed daaroor gaan nadink om te besef dat die resensent op ’n manier eie aan haarself die noot op sy hoogste ingesit het. Ek dink hier spesifiek aan Juliana Coetzer se bespreking van Connie Luyt se Waar onthou begin (Rapport Boeke).

Coetzer stip baie hinderlikhede in die roman aan, op só ’n manier dat mens dadelik besef die roman sal nie sonder meer bestempel kan word as ’n sukses nie. Maar dan sê Coetzer ook, aansluitend by die tematiek van die boek, dat ’n mens nooit moet vergeet hoe ’n boek jou laat voel het terwyl jy besig was om dit te lees nie. En die genoegdoening wat sy ervaar het, het baie lank agterna voelbaar gebly.

Daar is ’n verdere kategorie van jubeling, verwant aan die Finse tango, wat mens eers kan plaas as jy die resensent baie goed leer ken het deur die jare. Louise Viljoen is een van die mees ervare resensente van Afrikaanse literêre werke. Die mantel van Elize Botha het op haar skouers geval. Ek het haar al in die openbaar sien optree by verskeie geleenthede, en was nog altyd diep onder die indruk van die manier waarop haar skryfstyl haar manier van praat reflekteer – rustig, bedaard, ewewigtig.

Die enigste probleem daaarmee is dat mens op ’n ander manier die seine van groot vreugde moet soek. Haar resensie van Ryan Pedro se Pienk ceramic-hondjies dra al die tekens van haar inboor in ’n werk en delf vir die essensie daarvan. Dis ’n baie sterk resensie, maar die gedempte aanslag is misleidend. Die sleutel vir haar groot opgewondenheid is vervat in haar slot, waarin sy as senior resensent van Afrtikaanse literêre werke ’n nuwe ontwikkeling verwelkom: “Ryan Pedro en sy mede-debutante is duidelik besig om ’n nuwe klankbaan vir die Afrikaanse letterkunde te skryf. Dit is opwindende tye vir die taal.”

Net so.

by crito

Die taal wat ons lees

Oktober 7, 2020 in Uncategorized

Jean Meiring maak dit nie vir mens maklik nie. Mens moet sy resensies stiplees. Hy hou daarvan om presies die regte woorde te gebruik, en as dié woorde van die einders van ’n koerantleser se kernwoordeskat kom, is dit die leser se probleem.

Soms haal dit hom in. Daar is ’n eienaardige “wat” in die eerste paragraaf van sy bespreking van Francois Smith se Die kleinste ramp denkbaar (Boeke24). Ek het my getroos dat dit seker die seën van die taalkommissie sal geniet, een van daardie verstellings aan ons taal wat hulle gemaak het toe ons aandag elders was.

Ek kla nie. Dit is, soos die geval is met 99% van Meiring se resensies, suiwer vreugde om ’n resensie te lees waarin Meiring juis ons aandag spits op Francois Smith se hantering van die Afrikaanse taal. Daarbenewens is die verband wat hy lê tussen die roman se hooffiguur en Gustav Mahler ’n onthulling wat my dadelik laat besluit het om die roman terstond weer te lees.

Annelise Erasmus het pas ’n dag vantevore ook gekyk na die fleurige taalgebruik van Rudie van Rensburg in se Hans gee Herklaas horings (Rapport Boeke). Erasmus het só ’n vars benadering tot die skryf van resensies dat mens haar resensie omtrent as ’n soort artikel kan lees.

Haar onderonsie met Frans Kafka se opvatting oor watse soort boeke mens behoort te lees, is ’n bonus, nes Jean Meiring se Mahler-geskenk vir my was. Dit is netjiese argumentslyne wat sy trek, met ’n gewikste konklusie: Mens moet leesplesier aanvaar soos dit kom, sonder om te veel te bodder met die dieper betekenis daarvan.

Haar styl is moeiteloos, vernuftig. Veel meer informeel as André Bartlett s’n in sy bespreking van Fritz Gaum se Kerk oor die muur of oor die Rubicon? (Boeke24). Vreemd hoe mens sukkel om leesdrif te monster wanneer jy sien dit is alweer ’n boek oor die NG Kerk.

Hy is nie ongevoelig vir die sake onder bespreking en veral nie vir die gevoelens van die mens agter dié boek nie, maar die korte mette waarmee Bartlett die saak afhandel, is te verwelkom.

by crito

Vers en tegniek

September 28, 2020 in Uncategorized

Dit was ’n goeie draai om te maak, die ene van die uwe by Versindaba. Nog geen kans dat ek ’n verbete poësieleser sal word nie, maar ek kan wel sonder vrees van teenspraak sê dat die reis in hul argief ’n openbaring was. Dit lewer ’n baie groot diens aan poësieliefhebbers en die Afrikaanse letterkunde.

Soos met enige webwerf van dié aard is daar wisselende bydraes; ek is egter oortuig dat die opsigters van dié webwerf nie prulwerk sal deurlaat nie. Die jongste twee besprekings is vir my tekenend daarvan.

Mens hoef net Stefan van Zyl se hantering van Die sterre is lankal dood (Johan de Lange) te lees om te weet dat hier met groot erns en respek vir die digter se oeuvre nagedink word. Van Zyl gee ’n besonderse insig in sowel bundel as digter. Hy kon miskien nog meer uitgewei het by elk van die onderafdelings van die bundel – maar ek sê dit net omdat hy my nuuskierig gemaak het, nie omdat hy enigsins gefouteer het nie.

Sy samevattende opmerking in die slot is bedees, maar uiteindelik takseer hy die bundel baie hoog. Ek kan nie onthou wanneer ek laas só ’n skatting gesien het nie; Van Zyl is duidelik iemand wat die woord “ewigheidswaarde” deeglik oorweeg het voor hy dit gebruik het.

Nini Bennett het na Oopkardoes. Boertige ryme deur Hennie Aucamp. Versôre deur Johann de Lange gaan kyk. Vir my gevoel het sy té oorsigtelik te werk gegaan. Dit is nie ’n swak resensie nie – sy kon net veel meer uitgebrei het.

Mens wonder watter aspekte van Aucamp se werk die samesteller openbaar het, dinge wat ons nog nie geweet het nie; Bennett gee tematiese aanduidings, sonder om in detail vir die oningewydes te verduidelik waarmee Aucamp aan die gang is. Miskien is dit so dat die bundel die leser wil vermaak “met speelse poësie en gevatte taalspel”, maar by Versindaba, waar ruimtebeperkings nie so erg is nie, kan mens sekerlik die kans gebruik om nie net uit die verse aan te haal nie, maar ook die aard van Aucamp se humor en spel te analiseer, veral wanneer dit in ’n ervaringswêreld waad waar konvensies en preutsheid omseil word.

Die vraag is natuurlik of Boeke24 en Rapport Boeke se besprekings, waar daar ruimtebeperkings is, kan meeding met Versindaba se werf. Verlede Maandag het Daniel Hugo vir Boeke24 geskryf oor die Aucamp-versameling – weer eens ’n bespreking wat Hugo se aansien as kenner van die digkuns laat styg. Dit is ’n uitstekende resensie danksy die presiese manier waarop hy inhoud analiseer, die bundel oopvou voor jou oë en sy reaksie verwoord, in sekere gevalle met ’n emosionele sweem. Dit sou onregverdig wees teenoor Nini Bennett om haar bespreking met Hugo syne te vergelyk; laat ek liewer volstaan met die gedagte dat sy as resensent nog onderweg is.

Hugo sou, vermoed ek, by elke argumentspunt nog verdere toeligting of oorpeinsing kon gee. Niks verhinder hom uiteraard om van hierdie resensie ’n vertrekpunt te maak vir ’n uitvoerige bespreking vir LitNet of Versindaba nie. Ek sê maar net.

Marius Crous het ’n welkome terugkeer tot Boek24 se blad gemaak met ’n resensie van Jacobus van der Riet se Die heimlike heiligdom. Wat ek van Crous se aanpak waardeer, is dat hy dit uit die staanspoor duidelik maak dat dit vir hom gaan oor sy persoonlike reaksie op die verse. Wat hy daaruit put. Dan lees mens verder, en in die slot kom jy agter dat Crous ook ’n strateeg is, dat hy tog op ’n manier ’n besadigde, gedrae poging sal aanwend om ’n ferm, objektiewe taksering te maak. Presies hoe hy dit doen, dwing my bewondering af. Die bundel het by hom aanklank gevind, maar hy oorskat dit nie.

Die lees van die twee besprekings van Marlize Hobbs se Voëlvrou (Schalk Schoombie in Boeke24 en Rachelle Greeff in Rapport Boeke) bring mens terug aarde toe, na die aktualiteit van die gender-vraagstukke van die dag en die tema van vrouens as slagoffers van mansgeweld, op uiteenlopende maniere.

Greeff skryf ’n versigtige resensie. Sy gee eer waar dit gepas is, sy benader die inhoud van die boek met respek. Die kern van haar resensie is egter dat Voëlvrou veel beter kon gewees het. Die potensiaal van die roman is nie verwesenlik nie. Greeff skryf dit toe aan ’n manuskripontwikkelaar wat die outeur gefaal het. Is dit deesdae die gebruik dat ’n “manuskripontwikkelaar” ’n skrywer bystaan voordat die uitgewer dit te lese kry? Of is die uitgewer steeds die een wat die manuskrip se potensiaal help ontwikkel?

Schalk Schoombie het nie sulke besware nie. Hy meen Voëlvrou is ’n kragtige boek, een wat ’n “deurtrapte gewe van seksuele trauma op ’n vars en oorspronklike manier” hanteer, en uiteindelik “gevleuelde woorde van bevryding vir slagoffer én verdrukker” spreek. Onderweg spreek hy Hobbs aan oor haar veralgemenings oor mans.

Ek het gesukkel om my vinger te plaas op die gevoel wat ek, na verskeie herlesings van die resensie, gekry het dat iets haper, dat Schoombie terughou, iets nie pront stel nie.

Dit het die lees van Jonathan Amid se afranseling van Peet Venter se Die dooies praat nie geneem om vir my helderheid oor Schoombie se resensie te bring. Amid is baie reguit oor die teleurstelling wat Die dooies praat nie vir hom is.

Met Schoombie se bespreking van Voëlvrou, het ek uiteindelik besef, moet ’n mens bedag wees op alles wat nié gesê word nie. Hy het agting vir baie dinge, van die inhoud, die tematiek, die deurdagte narratief, tot die skreiende teenstellings tussen manlike en vroulike ervaring.

Maar dit is die toon van sy resensie wat jou laat agterkom dat daar nie groot geesdrif by hom ontlok is nie, dat die lees van die roman nie vir hom ’n katarsis gebring het nie. Hy het weggeskram van enigiets wat kon aandui dat hy meegevoer is, dat die emosionele lading hom diep geraak het, dat dit hom self bevry het van enige wanopvattings. Dit is nie ’n resensie wat getuig van dankbaarheid oor die verryking wat die lees van die boek gebring het nie – daar is eerder ’n afstandelikheid in sy finale woorde oor die roman.

In hierdie opsig is hy net so versigtig in sy resensie-strategie as wat Rachelle Greeff is. Heel pikant gee Greeff een bykomende oorveeg na die boek wanneer sy haar uitlaat oor die omslag daarvan. Mens kan nie ’n boek takseer aan sy omslag nie – Greeff se opmerking is miskien ’n aanduiding dat haar geduld met die boek op is.

Schoombie het wyslik besluit om niks oor die omslag te sê nie.

by crito

Algaande leert men

September 8, 2020 in Uncategorized

Jonathan Amid reageer op Facebook op my teregwysing aan hom oor sy resensie van Toe ons oneindig was, deur Zelda Bezuidenhout.

Hy skryf: “Vandag se kort resensie op Netwerk24 van die nuwe jeugroman deur Zelda Bezuidenhout. Ek het die prestasie van ‘n “vrot resensie” deur die gesiglose kenner Crito losgeslaan omdat ek durf om te sê dat meer volwassenes nou meer YA fiksie blyk te lees en ‘n paar redes verskaf (uit ‘n magdom!) hoekom dit dalk so mag wees. Ek meen, kyk na Graffiti en ander boekwinkels se verkope, loer na Nielsen se lyste en groepe soos die Lekkerleesboekrak hier op Facebook om te sien presies hoeveel buzz daar rondom hierdie boeke is. Ek suig nie die goed uit my duim nie.”

Mooi so. As hy sy resensie begin het met ’n verwysing na “Graffiti en ander boekwinkels se verkope,” aangehaal het uit Nielsen se lyste, selfs verwys het na Lekkerleesboekrak, sou niemand, veral nie die gesiglose uwe nie, ’n wenkbrou gelig het nie.

Hy moet maar die les leer wat ek as beginner geleer het by Harald Pakendorf: ’n Resensent durf nooit aanneem dat sy lesers alles weet wat hy weet nie. Jy moet hulle inlig.

In hierdie geval bly Amid se aanloop gewoon mymeringe omdat dit nie spruit uit ’n aantoonbare en aangehaalde feit nie. Of soos hy dit kostelik tipeer op Facebook, ’n “absolute klomp bol” wat moontlik goeie kompos sal maak.

Die man hét die gawe…

by crito

Hou moed

September 7, 2020 in Uncategorized

Twee goeies, twee vrottes.

Die twee goeies kom van Rapport Boeke, naamlik Annelise Erasmus se bespreking van Bruidzilla, deur Marion Erskine, en Tobie Wiese se resensie van Frits Gaum se Kerk oor die muur of oor die rubicon?

Erasmus se bespreking is ’n betoog oor hoekom ’n mens nie aannames oor die inhoud van die boek moet maak op grond van jou reaksie op die omslag nie. Daar is ’n element van veralgemening hierin, maar omdat sy dit dadelik na haarself herlei en analiseer, gee dit haar ook die sleutel om die boek te begin bespreek volgens die dinge wat ’n reaksie by haar uitgelok het.

Ek hou van die analiserende afstand wat sy deurentyd behou, en die manier waarop sy uiteindelik haar argument vasknoop.

Tobie Wiese het deur die jare bekendheid verwerf as verslaggewer oor kerksake, en die manier waarop hy hier resenseer, getuig van kennis en insig oor dié spesifieke onderwerp. Hy skets eers die raamwerk van Gaum se boek, en ontwikkel algaande kanse om te reageer op die inhoud. Uiteraard het hy goeie motivering om dit te doen – die boek se titel is ’n vraag, en Wiese se hele aanpak is daarop ingestel om vir die leser te sê hoe ’n mens – en hyself – daarop reageer.

Dit is baie vernuftig gedoen, en alles wat hy sê ná sy verwysing na die Prediker se goeie raad, is vir my bewonderenswaardig. Enige resensent kan maar net hoop op só ’n sameloop van gedagtes, en Wiese se argumentering is ’n kragtoer.

Nou, die swak resensies.

Vir eers JB Roux se resensie oor Op soek na Tretchikoff van Anita du Preez (Boeke24). Hy begin met ’n poging om te probeer verduidelik hoekom Anita du Preez oorgeslaan het van romanses na chic lit of romantiese komedie. Sy argument is vergesog, om die minste te sê. As mens vir Tafelberg romanses skryf, en hulle wil nie meer romanses publiseer nie, klop jy aan by ander uitgewers. Soos Protea Boekhuis of Lapa, wat ’n uitstekende rekord het met daardie genre. Niks wat hy sê, oortuig my van die rede hoekom Anita du Preez nou ’n romantiese komedie geskryf het. Dit sou gehelp het as hy ’n bron kon aanhaal.

Maar sy hele gedoe oor spookasemboekies het ’n negatiewe lading, en ’n taalpuris sou hom daarop kon wys dat Tafelberg sagteband-boeke publiseer, en nie slapbandboeke nie. Laasgenoemde word sommer met krammetjies gebind, JB.

Roux maak ’n interessante opmerking oor humor, maar sy gemor oor die omslag aktiveer vir my (om ‘n Hambidge-term te gebruik) Annelise Erasmus se resensie die dag tevore in Rapport.

Ten laaste Jonathan Amid se resensie oor Toe ons oneindig was, deur Zelda Bezuidenhout (Boeke24). Dit sou sekerlik gehelp het as ek nie JB Roux se resensie gelees het voordat ek hierdie een nadergetrek het nie. Amid se eerste sin is: “Hoekom haal al hoe meer volwassenes sogenaamde YA (yound adult) of fiksie vir jong volwassenes van die rak?” Waarop ek onmiddellik reageer: Waar kom jy daaraan? En subiet belangstelling verloor.

Maar ek dwing myself om verder te lees, want Jonathan Amid is alles in ag genome ’n resensent wat al uitsonderlik goeie resensies geskryf het.

Hy antwoord sy vraag met drie moontlike redes wat mens ten beste kan beskryf as mymeringe, wat hy dan selfvoldaan takseer: “Ek roep al drie in die kol, maar dis nou maar wors: daar is ’n besliste oplewing en uitbreiding van relevante, hedendaagse kwessies wat tieners – en ook ouers van tieners – beslis wil en moet lees.”

Nou, dis nie eens pseudo-wetenskap nie. Dit is sommer net leke-pedagogiek.
Wanneer hy die roman self begin takseer, kom die kenmerkende Amid-aanslag op dreef. Selfs wanneer hy in gebreke bly om sy verwysing na John Green te verduidelik, hinder dit my nie so erg nie, want dit is nie ’n essensiële deel van sy sentrale betoog nie.

Dis wanneer jy die laaste, insiggewende paragrawe van hierdie resensie lees dat jy geïrriteerd wonder hoekom hy nie meer krities is oor sy eie skryfwerk nie. Te oordeel na die tweede deel van hierdie resensie het Amid hoegenaamd nie die donsigheid van sy aanloop nodig nie.

Vrot begin, goed geëindig.