Jy blaai in die argief vir 2022 Augustus.

by crito

El anciano gooi mielies

Augustus 2, 2022 in Uncategorized

Kon sweer ek het Breyten Breytenbach gister in Barcelona sien stap. Dit blyk toe egter ’n ou Spaanse omie te wees, en ek sit met die daai simpel nadraai van ’n ou Spanjaard wat dink ’n jong – wel, soort van, relatief gesproke nè? – mujer turista soek sy lyf. Moeiliker om van die ou Spaanse ballies ontslae te raak as van emeritus proffies in Afrikaans.

Dit lyk my dis nou weer ou omie-seisoen. Op die aanlyn-Netwerk24 sien ek het Kerneels Breytenbach sy opwagting weer gemaak, met ’n resensie oor Tom Dreyer se Kodachrome. Hy het onlangs ook daar geskryf, oor ’n vertaalde boek en dus iets waaraan ek per die oer-Crito se besluit my nie hoef te steur nie.

As ek my in sy sfeer mag waag, sou ek dit as ’n resensie met ’n weird groove beskryf. Nie wat ek van ’n ou omie verwag nie, al is dit hierdie spesifieke ene wat volgens ’n vriendin in die boekhandel op sy dag delightfully decadent was. Lyk my dis ’n Breytenbach-ding. Een van my beste pêlle op varsity was ’n Breytenbach van Witbank, en haar wildheid het haar al vroeg laat aanbeweeg.

“Ek is mal oor Tom Dreyer se Kodachrome,” begin hy. Ek het al lekker intro’s gelees, maar hierdie een is wragtag tranquilo.

Dit volg hy op met twee sinne wat Tom Dreyer kan raam, op die tafels van sy hart skryf, of wat mens ookal doen om dit vir ewig en altyd te onthou: “Hou van die manier waarop sy kop werk. Meneer, jy moet daai skedel aan die Smithsonian skenk eendag, dit gaan hulle dekades lank besig hou.”

Daarna doen die omie iets wat seker taamlik evidente is, maar só goed werk. Hy gebruik die Kodachrome-konsep en beskryf die bundel essays in terme van die manier waarop Dreyer kleure ter sprake bring. Dis een skrywer wat ’n ander skrywer se benadering tot konstruksie raaksien, en vir die koerantleser die uniekheid daarvan voorhou.

Ek kan nou al voorspel dat skoliere en studente wat eendag oor Kodachrome skryf, Breytenbach se formulering suf gaan aanhaal: “Dreyer se forté is die vervlegting van herinnering en hede.”

Die resensie het wel een ernstige insinking. Wanneer Breytenbach wesentlike kritiek aan Dreyer wil oordra, doen hy dit op ’n manier wat min mense sekerlik sou snap – buiten miskien sy tydgenote in die heerskare van ou omies. Dis net té slim om knus in sy resensie te lê: “Stilisties is hy nog onderweg, soekend na ’n goeie redigeerder, die lesse van Ampie van Straten se Die potlooddief en die engel nog nie geïnternaliseer nie.”


Watter lesse van Van Straten se Die potlooddief en die engel? Ek moes hard gaan soek na enigiets oor Van Straten op die internet en het uiteindelik ’n leidraad gekry in Erika Terblanche se stuk oor Van Straten op LitNet.

Wat Breytenbach vir Dreyer sê, lei ek af, is om in sy skryfwerk te waak teen oorbodige woorde. Dit verklaar dan ook die bitsigheid oor die goeie redigeerder.

Maar wat het hom die Van Straten-verwysing laat gebruik om iets te sê wat taamlik direk oorgedra kon gewees het? Sekerlik is dit sy manier van skryf, miskien. As ek Erika Terblanche se artikel oor Van Straten lees, dan kry ek ook ’n vermoede dat Van Straten daardie les ook aan Breytenbach geleer het. Hulle was (ook dankie weer aan Terblanche) tydgenote by die uitgewer Human & Rousseau.

Die resensie as geheel mag genio wees, maar laat die chica vir el anciano ook iets te lere gee: Dis nie ’n goeie idee om negatiewe kritiek te versag nie. Die skrywer baat nie daarby nie, terwyl dit die koerantleser verwar.

Om Ampie van Straten aan te haal: “Mielies sit pit in pap. Mieliepap sit pit in jou!”