Jy blaai in die argief vir 2022 Julie.

by crito

Gedane sake

Julie 21, 2022 in Uncategorized

Maar dit is warm hier waar ek is. Erg. Siësta lê net ’n sweetdruppel ver, maar laat ek ’n gedagte deel. Ek sal nie lank skryf nie, my gedagtes verdamp saam met my energie.

Jean Meiring skryf op LitNet oor Ruan Kemp se tweede roman, Wit leuen. Dit is ’n belangrike resensie omdat dit die streep trek onder die Gedeeltelik bewolk-geskiedenis waarmee Kemp se literêre loopbaan afgeskop het.

Julle sal onthou dat Kemp van plagiaat beskuldig is met daardie roman, en Meiring plaas al die narrigheid op die tafel. Ek haal Meiring se besluit aan:

“Te midde van al die beskuldigings wat heen en weer gekleilat is, het ek stilletjies gedink: Daar’s maar één uitkoms. Kemp se enigste redding is om met ’n tweede boek vorendag te kom wat wys dat hy nét so goed of beter as die skrywer van Gedeeltelik bewolk ’n storie kan spin. Doen hy dit, tuimel die oorwig van waarskynlikheid in sy rigting oor. Slaag hy nie daarin nie, is sy eie nuwe woorde die sterkste bewys teen hom.”

Meiring se resensie dien dan om ’n stukkie literêre geskiedenis af te handel, en Kemp ’n skoon lei te gee vir die toekoms. Dit is te verwelkom.

Sou dit nie heerlik wees as alle onbehaaglikhede op só ’n manier afgehandel kan word sodat die lewe kan voortgaan nie? (Verskoon my dat ek vir die res van hierdie blog buite die resensie-terrein beweeg, maar ek sal tog probeer om daarby aan te sluit.)

Ek het pas die stuk in Daily Maverick gelees waarin die Vrystater Rick de Villiers skryf oor Willem Anker se aansluiting Samuel Beckett. Volgens De Villiers se telling is ten minste 78 reëls uit Waiting for Godot (1952) deur Anker geannekseer in Buys en dié se Engelse vertaling Red Dog.

Dit is baie gaaf van De Villiers (hy is duidelik welbelese) om dit uit te wys. Wat my wel bekommer, is dat sy akademiese vlyt nie soveel momentum het dat hy ook vir ons verduidelik presies hoekom Anker dit gebruik, watse kontraswerking ontstaan, watse implikasies dit vir die verstaan van Anker se werk het, en watse gesprek ’n eietydse skrywer aan die gang sit met die Teater van die Absurde nie.

De Villiers verwys tereg na TS Eliot, en sê dat Eliot verskoon kan word omdat hy met sy aanhalings uit ander se werk iets beters of ten minste iets anders gemaak het. Wat my betref, het Anker dit ook gedoen. Ek het Waiting for Godot al in Suid-Afrika en Londen opgevoer gesien, en die teks verskeie male vir nagraadse navorsing gelees. Nie een keer tydens die lees van Buys het ek eers ’n vae spesmaas gekry dat Anker met Beckett gesels nie. Ek is De Villiers baie dankbaar vir sy opheldering, en dit sal meebring dat ek Buys opnuut sal moet lees en besluit oor wat hierdie nuwe inligting vir die verstaan daarvan meebring.

Miskien sal ’n akademikus met De Villiers se nous dit sommer vir ons doen. Hopelik voordat hy James Joyce se Ulysses in die hande kry en dit die res van sy loopbaan in beslag lê om die plagiaat daarin uit te wys. Moenie met die Iere neuk nie, Rickie.

Hinder dit my dat Anker by Beckett aansluit? Nie in die minste nie. Hinder dit my dat hy dit nie vir die leser makliker gemaak het deur Waiting for Godot as verwysingspunt en bron vir enkele sinne, relatief gesproke, aan te dui nie? Glad nie. Is die avontuur van die akademiese vlyt nie juis om sulke dinge raak te sien en die groter implikasies daarvan na te speur en te verwoord nie?

Ek dink Rick de Villiers het halwe werk gedoen. Ek wens net een van die destydse resensente van Buys sal die saak nou behoorlik afhandel.

’n Laaste gedagte oor die hele idee van ’n streep trek om gedane sake aan te dui: Ek wil ’n groot ruiker blomme stuur aan Fanie Naudé vir sy toespraak by die aanvaarding van die Hertzogprys. Hy het gedoen wat gedoen móés word.