by

Die getransformeerde

Junie 30, 2022 in Uncategorized

Jy hoef nie teeblare te lees of hipnoterrapeute te besoek om te weet dat die ou wit patriargie poer in sy moer in is nie. Maak net jou oë oop. Hoeveel omies met vaal skoene, vaal suitjies en belde wat hulle by hul naeltjies vasmaak ken jy nog in jou daaglikse handel en wandel? Tja, hulle is nou ook al by 60 verby en lank afgetree, maar daar is nie n nuwe geslag grys geeste nie.

Transformasie het soveel aangesigte, ook ons s’n. Die matriargie meld haar ook aan in alle literêre geledere – akademies, skrywers, kritici.

Ons taak is volbring, sou mens kon dink.

Prof. Karen de Wet sal jou anders vertel. Sy is die samesteller van Vers en vrou, ’n bloemlesing gedigte “oor vroue, deur vroue, vir vroue” (aldus die boek se uitgewer). Maar lyk my die koperspubliek is nog nie getransformeer nie. Die vrouens het dit nie gekoop nie, en nou is die bundel, volgens ’n berig deur Elretha Britz in Netwerk24, deur die uitgewer verpulp.

Susters, en julle kan maar lees ook, Broeders, waar was julle toe hierdie bundel julle nodig gehad het? Dis ’n ewige klad op die naam van ons dapper stryders van Athene, Persephone en Aletheia. Nou is die bundel weg, vergete, ’n kosbare kleinood waarvoor mens ’n fortuin sal betaal op die informele mark. Dis darem nog by Amazon af te laai, so streng gesproke is daar nog vir die trae kopers onder ons ’n geleentheid om reg te maak wat ons verbrou het.

Mens hoef net die diepgaande stroom van kommer te sien in die kommentare onderaan die berig op Netwerk24 om te weet dat hierdie ’n saak van die grootste erns is. Gode sy gedank niemand het nog besef nie dat die bundel uitgegee is deur ’n uitgewery waar mens die manlike redaksielede op die vingers van een hand kan tel, en dan sal jy nog vingers te spaar hê.

Ons sal prof. De Wet ondersteun as sy voel sy het nou ’n paar maande traumaverlof nodig.

Dit by wyse van inleidende gedagtes. Ek moes dit net van my gemoed af kry, mnr. Lategan.

Nou vir die manne. Want hulle is soos ’n guerilla vegters, geslepe en verbete besig om terug te probeer wen wat hulle in die totale transformasie van ons woelige land verloor het.

Moenie vaag wees nie, wees paraat!
Maar wag, voordat ek verder gaan, laat ek julle eers vertel van die enigste keer wat ek Huisgenoot se Skouspel bygewoon het. Ook nou al ’n ruk terug, dalk nog in die dae toe Lucky Michaels se een girlfriend by Huisgenoot gewerk het. Sal nou nie sê dat ek met tepels versteen van verrukking by Skouspel uitgestrompel het nie, maar ek het darem een staaltjie wat ek kan vertel.

In die ry voor ons was daar ’n paar mammies wat hul dogters gebring het om die beste van Afrikaanse musiek te beleef. Ek het die ouderdomme so tussen 10 en 14 geskat.

Theuns Jordaan het die meisies gedryf tot openlike aanbidding. Toe Jordaan een van sy songs begin, so sjarmant as wat net hy kon, toe leun die een meisie vorentoe en skree vir haar ma doer anderkant in die ry af “Mammie, waar steek hulle hierdie ou weg?”

Haar woorde het teruggekeer om by my te spook toe ek Ali van Wyk se resensie van Zirk van den Berg se Die onsigbare pou in Beeld lees. Waar steek julle hierdie ou weg? Hy skryf ’n resensie soos dit geskryf moet wees. As dit die klas meubelhandelaar is wat die mense onder in die Kaap het, trek ek môre Bellville toe.

Een opmerking van Van Wyk het my dadelik in die oog gespring: “Dit is verfrissend om ’n Afrikaanse roman te lees oor ’n outentieke intieme verhouding tussen middelklas- wit mans wat nie óf grootliks eroties is óf ’n soort borsslanende kameraadskap nie.”

Dis nou die soort ding wat ek wil hoor oor die getransformeerde. Die patriargale ontdekking van die gesprek tussen innerlike sensitiewe siele, a.k.a. outentieke intieme verhouding.

Hulle het gearriveer, die manne.

By ’n verdere herlees van die resensie, wag, laat ek net eers sê dat ek dink dis ’n baie goeie kritiese reaksie van Ali van Wyk, en dat ek hoop hy gaan die meubelbedryf nou ’n bietjie laat pouseer en ’n bietjie inklim onder daardie makabere verskynsel van patriargale mistasting, die misdaadroman.

Laat ek tog wel, soos gesê, by ’n verdere herlees van die resensie die gedagte in Van Wyk se midde lê dat dit erg interessant is dat Die onsigbare pou handel oor twee mans in die musiekbedryf, ’n bromance tussen ’n sanger en sy bestuurder. Nie ’n sangeres en haar bestuurder nie.

Dat die boek geskryf is deur ’n man wat nie hier tussen ons is en nie sal weet dat sy sanger en bestuurder heeltemal té intelligent is om nog geloofwaardig in die Afrikaanse musiekkonteks te wees nie. Ek meen, nie een van die lirieke wat Van Wyk aanhaal, bevat die woorde Baby, Spiderman of tjoklits nie. As jy nie in die slagplaas werk, sal jy nie weet hoe vrees en bloed ruik nie.

En ten laaste is dit erg jammer dat Van Wyk nie ’n mening gewaag het oor die wie die mense was aan wie Van den Berg gedink het toe hy die karakters Ober en Sybie geskep het nie. My geld is op Johannes Kerkorrel as model vir Ober. Was hy dan nie eens die Pop Ster in Koos Prinsloo se Slagplaas nie?

Terug by die taak. Ali van Wyk hou van Die onsigbare pou omdat dit nie op ’n opdringerige manier groot literêre kuns wil wees nie. Ek hou weer van Van Wyk se resensie omdat hy nie ’n enkele keer teruggeval het op ’n pseudo-akademiese toenadering nie – die oerdomein van die vervelige resensent. Mens kry ’n idee van die dinge wat hy as resensent kosbaar en relevant ag – en hy reageer op die boek se inhoud en sy waarde.

Dis mos hoe dit moet wees. Moet hom nie wegsteek nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.