by

Facefasciste

Junie 15, 2022 in Uncategorized

So amper in die hart van die winter, en ek het ’n groot verandering in my lewe gemaak. Koebaai Facebook. Kyk, ek kan ’n grap vat, maar wanneer die fasciste aan die gang kom, boonop oor ’n boek, dan sak my smile.

Die boek is Pieter Stoffberg se Tenk, waaronder ’n klomp intelligente Vuisboggers ingeklim het. Mettertyd kom ek agter dat nie een van die kritici die boek gelees het nie – hulle had slegs die reklame rondom die boek te siene gekry, en dadelik te velde getrek daarteen. Die skrywer lieg, dis nie hoe die grens was nie, en so onnosel meer.

’n Mens moet jou verweer teen die geestelike beknotting. Almal het die waarheid lief, maar nie almal praat op Facebook die waarheid nie. Hoekom wil mense ’n boek vernietig en ’n skrywer verguis as hulle nie sy boek gelees het nie? Net omdat hulle die vryheid het om te kan saamklets in die babbelkoor van sufdenkendes.

Daarom dat ek kop uittrek uit Faceboek. Wat ek nie lees nie, kan my nie raak nie. Laat die woestaards maar koningkraai in Mark the Z se Meta-ryk. Ek keer die rug op die versoekings van fascisme.

Mens kan mos koerante lees met die aanname dat jy beskerm word teen slordigheid van denke. Daar is ’n moderator wat veronderstel is om die Vuisbogger-gewoontes weg te hou uit die kommentaar onderaan berigte. Wel, soort van. En daar is subredakteurs. Wel, ook soort van.

Maar dan kom daar ’n boekresensie verby wat skielik die sluimerende fascis in my wakker maak. Byvoorbeeld: Louise van der Merwe se skrywe oor An-Mari do Carmo se Toe als groen was. ’n Heel gangbare poging, al is dit gebou rondom die kwalik oorspronklike idee dat ’n goeie jeugboek ook vir volwasse lesers sal deug. (Hoeveel keer moet ons nog lees van ’n jeugboek vir alle ouderdomme? Kan niemand ’n nuwe beskrywing vir daardie idee uitdink nie?)

Wat my oog gevang het, is die plek waar Van der Merwe namens ons almal saamstem met die gevoel van die jong hoofkarakter: “Ek voel soos ’n legkaartstuk wat in die verkeerde boks beland het.”

Dink net vir ’n oomblik mooi daaroor na. Ja. Uhm. Huh-uh.

Hoe weet ons hoe ’n legkaartstuk voel wat in die verkeerde boks beland het? Hè? O, ek sien, sy het eintlik gedink aan hoe ’n legkaartbouer voel wanneer sy/hy agterkom dat een van die stukkies in die boks eintlik by ’n ander legkaart hoort. Maar daai legkaartstukkie se gevoel? Nørrevøk, soos C. Johan Bakkes sou sê.

Dis mos nou opperste slordigheid deur skrywer en die uitgewer om nie daardie fout raak te sien nie. Om nie te praat van die resensent wat dit nie raakgesien het nie. (Dit sou heeltemal aanvaarbaar gewees het as die karakter gesê het “Ek is ’n legkaartstuk wat in die verkeerde boks beland het.” Herinner aan die motto in Etienne Leroux se Die mugu, nie waar nie?)

Maar. Daar is altyd ’n maar … Is ek nie besig om te maak nes die Vuisboggers wat loopmond kry oor Tenk nie? Is die hoofkarakter in Toe als groen was nie dalk iemand wat juis op só ’n manier praat dat semantiek uiteindelik vir ’n knol bollie gaan nie? As sy is, sal dit heeltemal ’n unieke dimensie aan die karakter verleen, en is my kritiek op die boek en resensent fascisties.

Só maklik gebeur dit, nè? Sal die boek moet lees …

Terug na Tenk, wat ek wel gaan koop en lees het sedert die Vuisbogger-walgfees. Die boek het twee resensies gekry, albei positief jeens die boek en sy inhoud, albei nie vergoelikend jeens die oorlog nie: Fanie Olivier in Rapport, en Gert van der Westhuizen in Netwerk24. Die een ’n digter en akademikus, die ander ’n joernalis en vryskutresensent. Albei mans.

Die boek handel oor ’n spesifieke en hoogs geheime weermagoperasie einde 1987. Die grensoorlog dus, en die politieke tydperk waarin die gees van die magshebbende deel van ons land só gekneus is dat dit nooit werklik bedissel kon word nie. Die soldate wie se lewens daardeur onherstelbaar verander is, kry nou die aandag, saam met die offisiere wat die politici se bevele moes gehoorsaam.

Sowel Olivier as Van der Westhuizen skryf met ’n verrassende nugterheid en balans. Dit is verstommend hoeveel vooroordeel daar nog vaardig is rondom die onderwerp van daardie grensoorlog, en vir my as vroulike leser van die boek was dit ’n vreugde om te besef dat albei se benaderings vry van sulke vooraf ingenome standpunte is.

Dit sou vir my wel besonder interessant gewees het om te sien wat ’n vroulike resensent maak van een van die groot manlik chauvinistiese dwalings van die Apartheidsregime. iemand soos Christi van der Westhuizen dalk.

Resensies soos hierdie is hoekom boekbesprekings vir my interessant en belangrik bly. Wie het Facebook werklik nodig as die resensie genoeg is om ‘n intelligente gesprek te lanseer?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.