by

Van monumente gepraat

Junie 1, 2022 in Uncategorized

Assegrootblief, verskoon my dat ek weer ’n preek begin met ’n verwysing na ons minister van sports, kuns en kultuur, sy edelhaglikheid Nathi Mthethwa, maar dit kan helaas nie anders nie. Die minister het sedert my vorige fulminasie die laaste reste van die Afrikanerdom hier te lande erg omgekrap met sy versugting dat die Afrikaanse Taalmonument se naam moet verander na gewoon die Taalmonument.

En noudat die regering dit goedgedink het om gebaretaal die amptelike twaalfde taal van Suid-Afrika te maak, kry ek ’n spesmaas dat die monument se argitek met voorbedagte, heldersiende rade die monument sy langste vinger so regop laat staan het.

Maar ons is kwaad, en tereg só. Wie wil nou met die jaarlikse vakansie onder in die Kaap die pligsbesoek aan die Afrikaanse Taalmonument bring terwyl jy weet dit is sy uniekheid kwyt? Weg is die gewyde oomblikke waarin jy één kan voel met die verlede, die diepe meditasie oor die onverskrokkenheid van Pannevis, De Waal en Hoogenhout. Dit sal voel asof jy verraad pleeg teen jou versameling Afrikaanse boeke tuis. Nee wat, dan skiet ons sommer van Beaufort-Wes af reguit deur na Hartenbos.

Is ek onnodig bitter? Miskien. Hier is ’n griep wat die rondtes doen in Pretoria wat my hele vriendekring platgesloeg het. ’n Gevoel van truttigheid het van ons besit geneem, ’n verstoktheid in die gebeente. Ons bid saans dat die skraal windjie oornag moet gaan lê.

Uiteraard het dit ’n enorme uitwerking op die manier waarop ek my groot liefde vir boekresensies uitleef. Gewis ’n paar sonderlinge dinge beleef, maar wie kla? Lekker resensies is ressensies met verrassings.

Soos Charl-Pierre Naudé se knuffelende behandeling van Gerhard Barkhuizen se Smee (Boeke24). Naudé wil allermins die digter se geesdrif knelter, en sê vir hom op ’n baie mooi manier om aan te hou probeer, hy sal eendag ’n goeie vers geskryf kry. Hy moet net ophou om soos ’n beeldhouer te dink. As ek kyk na die maniere waarop Naudé sy resensie plooi, dan kry ek ’n vermoede hy kon hom baie krasser uitgedruk het, en dat Barkhuizen die aandag wat hy kry, en die raad, opreg moet waardeer.

Francois Smith se resensie in Rapport oor Brian Fredericks se Hou jou oë oop het ek gelees op die oggend toe my stem ingegee het van die griep. Laat ek dit reguit sê: My hart het onrustig begin klop en ek het teruggesak in my kussings voordat ek die moed bymekaar kon kry om verder te lees.

Gelukkig dat ek het.

Die probleem lê in daardie paragrafie wat apart staan van die resensie, waarin die redaksie van die koerant die kern van die resensie opsom om die koerantleser nuuskierig te maak sodat hy/sy die resensie sal lees. In hierdie geval lui dit “Al betrek Brian Fredericks in sy eerste roman, ‘Hou jou oë oop’, weer die Kaapse Vlakte, armoede, dwelms, ras, klas, tronk en nommerbendes, bied dit wel nog ’n kans om onder die indruk van sy ongekunstelde aanslag te kom, skryf Francois Smith”.

Die indruk wat dit by my gewek het, is dat Smith dink die onderwerp is afgesaag, maar die skrywer het ’n onmiskenbare talent. Nou, lees mens die resensie end-uit, is dit duidelik dat dit nie is wat Smith dink nie. Dit was iets wat by hom opgekom het, maar hy kom al resenserend uit by ’n heeltemal ander slotsom, wat op iets veel groters slaan as net ’n skrywer met ’n onmiskenbare talent.

My simpatie aan Smith en Hendricks.

Op die laaste aand van Mei het ek Barend van der Merwe se resensie van Die Afrikaanse woordelys en spelreëls se eerste honderd jaar (LitNet) gelees. Die boek is geskryf deur Christo van Rensburg. Ek het vir ’n oomblik gedink ek is op ’n ander planeet, of dat ek vertigo onder lede het. My kop was nie lekker nie. Van der Merwe gee ’n lesersindruk oor die soort boek wat ek nie normaalweg lees nie, wat uitgegee is toe die Taalmonument nog nie onder beleg was nie, en ek het die resensie geniet. Vreeslik geniet.

My volgende reaksie was dat hierdie resensie baie goed sal werk as potgooi, mits hulle vir Magdaleen Krüger daar by Huis Clarens kan gaan haal om dit met so ’n Brooklynse Ôfrikônse uitsprôk te lees.

Barend van der Merwe het ’n goeie track record by LitNet. Hy lees wyd, en bied sy resensies sonder dawering aan. Hy besef terdeë dat as mens oor die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns skryf, jy nie eens moeilikheid hoef te soek nie, jy sal dit anyway kry. Jy kan dié problematiek kwadrateer as jy fokus op die Akademie se knokploeg, die Taalkommissie en hul woordelys en spelreëls. Hy sien raak hoe versigtig Christo van Rensburg te werk gegaan het, en tog bespeur ek ’n mate van gesonde humor wanneer hy verwys na al die dwarstrekkery en halstarrigheid onder die Afrikaanse akademici. Deesdae is dinge só mak dat ’n mens begin terugverlang na ’n goeie literêre geronk.

Nes Charl-Pierre Naudé het hy die goeie maniere om nie sy resensie-liksens te misbruik om die nou reeds ontslape Van Rensburg daarop te wys dat taal ’n lewendige gedierte is, daarom dat die taalkommissie deur die jare moes hop, skip and jump om by te hou en dat hulle in die komende jare nog baie trieks gaan moet uithaal om die gedierte rustig te hou. Afrikaans en Kaaps, nuh?

Toe ek nog op skool was, was daar twee dudes van Wessies wat gereeld baklei opgetel het op paarties, totdat ’n paar van Oos-Moot se seuns hulle zatgeslaan het. Adam Nel en Koos Blignaut was hul name. Adam en Koos het ’n ruk lank laag gelê en hul wonde gelek, en toe glo in die somermaande elke nou en dan die geveg Orange Grove en Norwood toe geneem om die Libanese fietskettingbendes aan te vat.

Hoekom dink ek aan Adam en Koos? Omdat dit by my opkom dat as mens oor die Minister van Sport, Kuns en Kultuur skryf in dieselfde blog waarin die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en hul Taalkommissie ter sprake kom, dan laat al die wette van karma en die universe my dink dat dit dalk tyd is dat die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns die geveg na die minister neem.

Hulle gaan daai barney makliker wen as wat hulle dit gaan regkry om gestandardiseerde Afrikaans en Kaaps van mekaar weg te hou.

Ek dink nie ek het die griep al heeltemal afgeskud nie. Lekker slaap.

7 antwoorde op Van monumente gepraat

  1. Daniel Hugo het gesê op Junie 9, 2022

    Miskien moet Crito maar self eers Gerhard Barkhuizen se Smee gaan lees voor hy Charl-Pierre Naude se neerbuigende oordeel klakkeloos onderskryf.

    • CP Naude het gesê op Junie 10, 2022

      Neerbuigend? Ek het my eie resensie weer gaan lees en ek dink my aansienlike waardering vir hierdie digter kom voldoende oor. Koop gerus die bundel en lees. Veral as jy ‘n aspirant-digter is, lees die bundel en lees dan die resensie. ‘n Korreksie op Crito se (soos altyd) interessante kommentaar: Die digter van Smee sal nie eendag ‘n goeie vers skryf nie, hy doen dit reeds. Maar as hy sy mentor(s) kan ontgroei – en dit lyk my hulle weet beter wie hulle is as ek – staan hy ‘n kans om te skitter. En dit bedoel ek allermins as neerbuigend teenoor die mentors. Dis net dat die tyd soms aanstap.

      • crito het gesê op Junie 15, 2022

        Neerbuigend? Ek het jou hantering van die bundel as “knuffelend” beskryf. Dis ‘n mooi Nederlandse word vir koester of omhels.

        • Crito ek waardeer jou opbouende kommentaar. En jy gee vonk aan literere belangstellings. En dankie dat jy my aan die woord ‘knuffelend” bekendgestel het. My vraag oor “neerbuigend” was gerig aan die ander kommentator. Wat hier gebeur het, is ek het gedink my kommentaar het nie deurgegaan nie, en toe kom dit twee keer oor. Kan jy die tweede een skrap, asb.?

  2. Ek lees dat Crito graag resensies lees. Ek aanvaar dat Crito se lees van ‘n resensie opgevolg word, of voorafgegaan word, deur die lees van die boek waaroor die resensie gaan. Dan kan daar buiten die verwysing na die resensie, ook darem gesê word of die leser aan die hand van sy of haar eie leeservaring met die resensie saamstem of nie. Anders is dit soos om oor die Taalmonument te skryf sonder om dit vooraf te besoek. Hoe daar van die Taalmonument tot by resensies (wat op een plek as ressensies gespel word) gevorder word, verstaan ek nie heeltemal nie. Dalk is dit maar deel van die registerverwarring in die blog waar woorde soos fulminasie, versugting, meditasie, dawering en knokploeg meeding met anyway, skip and jump dudes en barney.

  3. CP Naude het gesê op Junie 10, 2022

    Neerbuigend? Ek het my eie resensie weer gaan lees en ek dink my aansienlike waardering vir hierdie digter kom voldoende oor. Koop gerus die bundel en lees. Veral as jy ‘n aspirant-digter is, lees die bundel en lees dan die resensie. ‘n Korreksie op Crito se (soos altyd) interessante kommentaar: Die digter van Smee sal nie eendag ‘n goeie vers skryf nie, hy doen dit reeds. Maar as hy sy mentor(s) kan ontgroei – en dit lyk my hy/ hulle weet beter wie hulle is as ek – staan hy ‘n kans om te skitter. Dit bedoel ek allermins as neerbuigend teenoor die mentor(s). Dis net dat die tyd soms aanstap.

  4. Zuki het gesê op Junie 16, 2022

    CP Naudé is hoegenaamd nie neerbuigend nie. Hy is eintlik heeltemal te vriendelik. Hy moes dit baie duideliker gestel het dat Barkhuizen se gedigte op hulle beste gemiddeld is. (Ek het wel die bundel gelees.)

Los ’n antwoord vir CP Naude. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.