by

Herfsmymering

Mei 18, 2022 in Uncategorized

Die kreef raak gewoond daaraan, nè? Ons leef, en dan leef ons skielik nie meer nie. Terwyl die insig en neerslag van Louise Viljoen se erudisie in haar resensie van Narreskip (Rapport) die nuwe digbundel van Johan Myburg my bloed nog met ’n vaart laai bruis, sink die implikasies daarvan in en dwaal my gedagtes.

Ek dink aan Nathi Mthethwa, Minister van Sports, Kuns en Kultuur, en sy departement. Hulle sit die kwal terug in kwaliteit, daardie slobberende drilvis van meerderwaardigheid. Kwaliteit kultuur.

Hulle wil R17 miljoen spandeer aan die maak van ’n reusagtige landsvlag vir Vryheidspark in Pretoria. Ons Pretorianers staan hoeka tou om daar ’n draai te maak.

Ek weet die Dept van SKK sal aanvoer dat dit werksgeleenthede gaan skep, kos op die kaders se borde sit. Kulturele eenheid skep. Dink net hoeveel susters betrek sal word vir die naaiwerk aan daai vlag. Vertel dit gerus vir die mense van Munsieville en Wolmer.

Iemand sal seker nog eendag ’n fraai boekie saamstel oor Mthethwa se insigte. Die rendement van magsbehoud. Sedert die bevryderskleed van Jacob Zuma afgepluk is, is dit een van die groeipunte van die Suid-Afrikaanse uitgewerswese. In dieselfde Rapport waarin Narreskip ontsluit word, is daar ’n opgaaf van nuwe niefiksieboeke.

“Waagmoed en waarheid”, sê Rapport en lei dan die oog vlietend oor die inhoud van Magda Wierzycka se Magda My Journey, Karyn Maughan & Kirsten Pearson se Nuclear: Inside South Africa’s Secret Deal en Norman McFarlane se Across the Border: Surviving the Secret War in Angola.

Almal in Engels. Boeke wat, met die uitsondering van McFarlane se werk, direk of indirek die ANC van sy sokkel stamp.

Ek begin soek na onlangse besprekings van Afrikaanse niefiksie.

Leopold Scholtz se Terreur en bevryding: Die ANC/SAKP, die kommunisme en geweld (1961-1990); Nicol Stassen se Van Humpata tot Upingtonia; Tinus le Roux se fotoboek Die Anglo-Boereoorlog in Kleur.

Ons dool in die verlede. Wil Afrikaanse uitgewers nog deelneem aan die gesprek van die dag? Speur hulle in die geheime van die politiek, die wandade van die huidige regime? Gaan Jacques Pauw ooit weer in Afrikaans skryf?

Ah, maar daar ís Afrikaanse niefiksie oor die kwellings van die dag. Charné Kemp se Moord op Pofadder. ’n Boek oor ’n vrou wat ’n kontrakmoord op haar man beplan het. Kemp is ’n ervare joernalis, en het ook al haar Moord op Griekwastad en Bloed, dunner as water (oor gesinsmoorde) in groot getalle in boekwinkels verkoop gekry.

Onse mense hou tog so van moord en skande. Gewis is iemand reeds besig met ’n manuskrip oor Shaun Oosthuizen, die sogenaamde reeksmoordenaar van ou vroue. Shaun van Munsieville, nè? ’n Woestaard uit ’n kontrei waar eiendomsreg ’n vreemde begrip is.

Ons dool dus nie heeltemal in die verlede nie, maar die kreef, die kreef …

Een van die aanhalings uit die merkwaardige Narreskip spook by my: “skryf geperforeerde verse, vol sesure, / vol hiate, gate sodat die nié-weet kan asemhaal.”

Miskien is daar nie meer Afrikaanse boeke oor die politieke narreskip Suid-Afrika nie omdat Afrikaners nie werklik meer deel is van die politiek nie. Ons nie-weet haal asem, ons verlekker ons in die wete dat daar mense is wat dit erger het as ons. Die common lot. Ons sal dink aan boeke oor Shaun Oosthuizen, maar ons sal nie die aakligheid van Munsieville en Wolmer se plakkerskampe opteken nie.

Laat ek ’n uitgewersreaksie antisipeer: Slegte nuus verkoop nie. Behalwe wanneer dit mens meerderwaardig kan laat voel.

Alles gebeur met ’n omweg, ’n soort nie-weet, ook ons erkenning dat ons kultuur verkrummel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.