by

Applous en voorbehoud

Maart 30, 2022 in Uncategorized

Hoe kom dit dat ons so gelukkig is om binne enkele weke twee groots opgesette besprekings van belangrike historiese navorsing aangebied te kry deur die laaste oorblywende Afrikaanse boekeblaaie van die eens hoog genoteerde Nasionale Pers? Oor die een, oud-kaptein dr. Leopold Scholtz se Terreur en bevryding: Die ANC/SAKP, die kommunisme en geweld (1961-1990) het ek reeds gekommentarieer. Vandeesweek wil ek vlugtig besin oor prof. André Wessels (emeritus), navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat, hierna genoem Potholia, en wel betreffende sy bespreking in Rapport van dr. Nicol Stassen se Van Humpata tot Upingtonia.

Wat is dit, wil ek ten aanvang vra, met die Universiteit van Potholia se mense dat hulle wanneer hulle koerantresensies skryf, skynbaar die mening toegedaan raak dat koerantlesers hul harsings by Cash Crusaders gekry het? Daar is ’n sluimerende tuttigheid in hul enscenering van gewaarwordings wat mens nooit by die punt bring waar jy voel, genade ons, maar hier kom ek nou ’n groot waarheid agter nie.

Vergeefs soek ’n mens na besieling in die wyse waarop sinne gevorm is, waarin gedagtes geformuleer is op só ’n manier dat hulle dadelik ewigheidswaarde kry in die leser se geheue. Seer sekerlik sal enige resensent van historiese publikasies weet dat hy/sy ’n leserspubliek het wat verbete probeer om nié naby enige geskiedenis-skrywes te kom as dit langer is as ’n gemiddelde Twitter-invlieging nie. Sal hy/sy dan nie met byna bonatuurlike vlyt sorg dat ons, die arme koerantlesers, absoluut elke wonderlike woord wat hy/sy skryf, wil verinnerlik nie? Aan sy/haar lippe hang, in die ou taal.

Ek het waardering, eg, vir prof. Wessels se vermelding van dr. Stassen se agtergrond en sy noeste vlyt met publikasies oor die Dorslandtrek en die Angola-Boere. Weliswaar is dit nie die soort inligting wat die resensent deur lang ure se navorsing bekom het nie, maar dit is verskoonbaar omdat dit noodsaaklik is.

Wat nie noodsaaklik is nie, is die res van die “resensie”. In my geestesoog doem ’n beeld op van die resensent, panies bevange dat hy iets sal weglaat, besig om die boek hoofstuk vir hoofstuk uit te pak vir die koerantleser se edifikasie. Hy onderbreek die rustige gang van sy prosa – dit herinner aan die gedrae tred van ’n mediese ordonans by die Tshwane distrikshospitaal wat tydens lunch break gevra word om ’n rolstoel te gaan haal – met opmerkings soos “Was dit alles – die ontberinge, die dood van soveel mense – die moeite werd?” So al asof daar skielik ’n kennisgewing opgeduik het wat eis dat hy ’n captcha moet oplos om te bewys hy is nie ’n bot nie.

Is dit my verbeelding wat my parte speel, of gaan prof. Wessels vervolgens oor na ’n hoër rat? Hy raak liries (wel, nie heeltemal nie, maar hy struikel wel in ’n ander trant in) oor die bylaes, die neerslag van die navorsing, die getal bladsye, die argivale en ander materiaal geraadpleeg, warra warra fishcake.

Soms betrap hy mens heeltemal onkant. Ná ’n enumerasie van die foto’s, ander illustrasies en kaarte, dring hy onverwags deur tot die wesenskenmerk van die geïllustreerde publikasiewese: “Hierdie foto’s help die leser om ’n beter visuele beeld te kan vorm van die plekke en mense waarna in die teks verwys word …” Wat!?!? Nooit! Hy speel seker, nooit sou ons kon dink dít is hoekom daar illustrasies in boeke is nie.

Maar ek gee nie hoop op vir prof. Wessels nie. Vier paragrawe van die einde af poneer hy die stelling wat eintlik die resensie se inleiding moes gewees het (“Nicol Stassen se Van Humpata tot Upingtonia ontruk nogeens ’n stuk vervloë geskiedenis ….”) Dis soos ’n skim wat sy gesig wil wys, maar altyd net buite die gesigsveld bly – die historikus wat die inligting begin weeg, en die skrander insigte begin naderbring.

Nou ontstaan daar ’n vraag by my, en ek vra dit met blydskap omdat ek alles in ag genome ’n sagte plekke het vir die Universiteit van Potholia: Kan dit wees dat Rapport se opdrag aan prof. Wessels nie heeltemal duidelik was nie?

Die laaste drie paragrawe lyk asof die emeritus-hoogleraar besig was om te mik-mik in die rigting van ’n kritiese bespreking – iets wat tot nog toe nie werklik ’n faktor was in die resensie nie.

En dan besluit ek jip, weliswaar voorlopig, daar wás ’n kommunikasiegaping tussen koerant en resensent. Die slotsin is “Die boek bied veel om oor na te dink en te debateer, en word sterk aanbeveel.” Dít sê vir my prof. Wessels was alte bewus van die groot diskoers wat kan spruit uit die kritiese aansluiting by dr. Stassen se werk, maar was nie seker of hierdie die tyd en plek daarvoor was nie.

Nou, laat niemand ooit weer daaroor twyfel nie. Boekresensies sonder die kernelement van kritiese reaksie op die inhoud, is net so irrelevant as die publikasie-inligting wat uitgewers saam met elke boek verskaf. Maar had prof. Wessels ons aan die hand geneem en, soos Frank Sinatra sê, op die pad na righteousness gelei met die verwoording van die dinge waaroor die boek ons laat nadink, en die debat daaroor aan die gang gesit het, dán sou die resensie dr. Nicol Stassen se groot prestasie met hierdie boek waardig gewees het.

Eer daar vermoed word dat ek ’n voorstaander is van prutselary soos wat Carla van der Spuy vir die FAK oor hierdie publikasie gepleeg het (“Die lewe moes verskriklik tydens die Dorslandtrek gewees het”, https://www.fak.org.za/2022/03/15/die-lewe-moes-verskriklik-tydens-die-dorslandtrek-gewees-het/) laat ek wel konstateer dat dit ook moontlik is dat daar geen spraakverwarring tussen prof. Wessels en Rapport was nie. Dat prof. Wessels meen Rapport se lesers wil weet of die inligting oor die outeur se doelstellings uitstekend genoeg is, of dat die chronologie van hoofstukke seer frappant is.

Wie sal kan sê?

Intussen bly alles ongesê oor die dinge waaroor mens moet nadink, en word die debatte nie aangestig deur die eermalige hoogleraar van Potholia nie. Wat is dit aan die Dorslandtrek wat dr. Stassen so aangryp, hom inspireer om alles moontlik aan te teken wat hy daaroor kan vind? Dr. Stassen moes tog sekerlik ’n wesenskenmerk van die Boerenasie geëien het, iets wat hom tot ’n doktorale proefskrif en drie vorige publikasies rondom die onderwerp gestu het? Vind prof. Wessels in sy wye belesenheid oor sake histories enige raakpunte met die res van die Boere se geskiedenis? Is die hunkeringe van die Dorslandtrekkers, die strukture wat hulle gestig het en die totale strontstorting aldaar wat hulle voddig laat terugtrek het na die goeie ou Transvaal enigsins resonerend in ander lotgevalle van die nasie? Straks vergelykbaar met die utopiese konstrukte van die Apartheid-droom, die ineenstorting van die nuwe bestel en die wegvlug na Kanada, Australië en Nieu-Seeland? Kan ’n mens die Boerenasie vertrou om op enige plek gelukkig te wees, buiten aan die boesem Gods? (Laasgenoemde is überhaupt nie ’n uitgemaakte saak nie, maar die metafisika is nie nou ter sprake nie.)

Laat ek dr. Stassen apploudisseer, en my voorbehoud oor die sukses van prof. Wessels se sielige resensie konstateer.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.