by

Langs ‘n ander vuur

Maart 24, 2022 in Uncategorized

Hoekom pleeg boekresensente strukturele geweld teen koerantlesers? Broeders en Susters, liewe gemeente, my brein voel soos ’n Fizzer wat in die son gelê het. Hy buig op sy eie, dik en taai om elke nuwe gedagte. Ek lees Ruhan Fourie se resensie van dr. Leopold Scholtz se Terreur en bevryding: Die ANC/SAKP, die kommunisme en geweld (1961-1990), en ek kry net nie helderheid nie.

Vergeet vir eers van die manier waarop dr. Scholtz se insigte oor die ANC en SAKP mens laat steier, so al asof iemand jou met die verlede deur die gesig geslaan het, asof dit ’n pap plaasdam-barber was.

Ja man, ek weet dr. Scholtz is ’n historikus, en historici werk met die verlede. Dis wat so tragies is. Ek gaan moet wag tot 2050 voordat ek gaan kan lees wat dr. Scholtz oor vandag se dinge sê in sy boek Diefstal en Korrupsie: Die ANC/SAKP, die tenderpreneurs en onse gjelt (2008-2025).

Maar nou het ek net Ruhan Fourie wat ’n sad case van intellektuele twerking gooi in die rigting van dr. Scholtz se huidige publikasie oor yesteryear. En my brein willie. Twerk nie.

Ek voel misken en uitgefreak. Wees rustig Crito baby, sê ek vir myself, wees bly Annelise Erasmus het nie die boek geresenseer nie. Daai suster draai nie doekies om nie. As Rapport haar gevra het, sou dr Scholtz nie so rustig mymerend gelyk het op die foto wat sy liewe vrou, Ingrid, aan Netwerk24 verskaf het vir plasing by Murray la Vita se onderhoud met die militêre historikus nie. Trouens, daai foto sou die laaste ene van ’n vredige dr. Leopold gewees het.

Ruhan Fourie het ’n klompie voorbehoude oor dr. Scholtz se boek. Hy maak vriendelike geluide oor hoe lekker dit geskryf is, maar dan snetter hy ook oor die boek nie nuwe inligting bevat nie. Nada argivale bronne, give or take ’n paar verwysings na webwerwe. En argiefnavorsing vorm ’n kern van wetenskaplike historiese navorsing.

Excuse me? Weet hy dan nie dr. Scholtz sit in die Laelande nie en hul argiewe is maar skraps wat betref die onderwerp onder bespreking. En anyway, dr. Scholtz het mos by Die Burger gewerk in sy jeug, so hy dra al daai argivale kennis met hom saam in sy kop rond. Jy kan baie dinge van Die Burger sê, maar in die algemeen is dit nie monkeys wat by daai outfit gewerk het nie.

Maar ek dwaal af. Dis wat gebeur as mens sulke mooi foto’s van dr. Scholtz sien en jy lees direk daarna ’n resensie soos hierdie. ’n Resensie wat op ’n kol die onvergeetlike frase “dit is hier waar koue feite lesers koud laat” bevat. Ek wonder wat Fourie daarvan sal maak as ek hom vertel dat hy eintlik te make het met kaptein dr. Scholtz, eens verbonde aan die reserwemag van onse weermag? Is dit warm genoeg?

Ewentwel, mens lees Fourie se resensie en diep in jou hart is jy bly die tagtigs en sy PW-nagmerrie is iets van die verlede. Sal ek ooit vergeet hoe ’n ou omie van Aksie Morele Standaarde my uitgeskel as ’n “ware satanskind”?

Maar dan slaan Fourie self ’n Fizzer-oomblik van geen geringe dimensies nie. Hy wil hom verstout om te sê, sê hy, dat meeste Afrikaanse lesers sal waarskynlik voor hulle die rooi boek oopslaan, saamstem met Scholtz se perspektief. Maar, gee hy dadelik toe, hierdie boek is geen braaivleisvuur-analise nie. “Scholtz skryf nugter oor die saak.” Geddit?!?!

Ek weet nie of dit op Crito se weg lê om ’n postdoktorale genoot van die Universiteit van die Vrystaat tot orde te roep oor die gevare verbonde aan wilde veralgemenings nie, maar laat ek dit doen. Hoe weet hy dat meeste Afrikaanse lesers vandag met Scholtz se siening sal saamstem?

Ek kan hom verseker, al het ek van dr. Scholtz se kiekie by Murray la Vita se onderhoud gehou, het ek nog selde, indien ooit, met dr. Scholtz saamgestem oor enigiets.

En die implikasie dat meeste Afrikaanse lesers geneig is om hul diepste sienings langs die braaivleisvuur te formuleer, is vir my benede alle peil. Omdat ek ’n vegetariër is, om mee te begin, en omdat ek die stereotipe figuur van die Afrikaner langs die braaivleisvuur, diep aan die dink’n’drink, met my hele hart en siel verag.

Iemand wat in daardie terme dink, ken té min Afrikaanse lesers, en sal waarskynlik dink dis ’n braaigrappie as ek vir hom ’n Jeanne Goosen-titel aanhaal.

Ek neem aanstoot, is al wat ek wil sê.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.