by

Sendingwerk

Maart 9, 2022 in Uncategorized

Mens kan nie jou oë oopmaak nie of jy sien mense met as op hul kop, hul klere aan repe geskeur en hul tone bloederig gestamp teen die klippe op die pad van die lewe. Hel, ons is in ’n tyd van pestilensie en goor nuus. Ons krag is op en petrol gaan ook duurder word voor hierdie maand verby is.

Ons gemoedere loop boonop vol met agterdog oor watse nuwe maniere mense nog sal vind om ons geld te steel. Wie kan ons gewone sterflinge verkwalik vir bose gedagtes omdat ons moet lees dat ons Powerball-drome puur verniet is? 

Minister Ebrahim Patel vertel vir die Parlement hy gaan skoonmaak daar by die lotterye. Gode sy gedank – maar wie gaan die nuwe oes wegvoer?

Dis maar goed ek is aandagafleibaar, en dat ek redelik maklik my toevlug neem in boekresensies. Ja, ja, my koppesneller sê ek is borderline as ek my tandekners op sulke plekke soek, maar watwo.

Dis vreemd lekker om die proseliete in te nooi in  jou skedelspasie. Nou vra julle my, hoe sien mens een ’n proseliet tussen ’n klomp heidene raak?

Dis maklik. Miskien is dit nodig, vir die stadiges onder julle, dat ek ’n voorbeeld gee. 

En watter beter verskyning is daar nie as dié van Dineke Volschenk wat die siele der letere tot bekering roep met haar voorspraak vir Marié Heese se Die troebadoer: ’n Vertelling nie. (Boeke24)

Teksboek, ek sê vir julle. Sy val weg met die soort opmerking wat ’n mens onder normale omstandighede dadelik sal laat vra wanneer die eiers gekoop is. Dit het ’n reukie. Sy sê, by wyse van ’n poging om sommer dadelik ons aandag heeltemal weg te lei van Putin en Eskom en petrol, dat hierdie boek baie keurig uitgegee is met ’n treffende voorblad waarop ons ’n portret van ’n luitspeler kan sien.

Hell’s bells, ’n mens laat staan alles. So waaragtig? ’n Luitspeler? Vergeet van die eiers, liefie, hier kom ’n ding.

Dan beweeg sy aan, soos mens maar doen, en skets vir ons die groter konteks. Check dit uit, dis die Middeleeue. Geen moorde en styf gespande spanning nie. Daar is ’n troebadoer met ’n klomp van sy buddies, en hulle vertel vir mekaar stories. Soos Chaucer, sê Volschenk, in die hoop dat haar lesers sal weet wie dit was. Sy kon ook Rabelais gesê het, maar sy het nie. Vandag se outcomes based afgestudeerdes se verwysingsveld is streng post-apartheid.

Dan hanna-hanna sy oor wat alles in die boek gebeur, en probeer die lesers se aandag hou met ’n verwysing na Game of Thrones. Ek vind dit altyd so lekker as ek resensies lees en ek merk, periferaal, jy weet, ’n paar paragrawe aan is daar ’n stukkie kursief, en dan kroek ek en kyk wat dit is, en lees al vinniger om uit te kom by Game of Thrones en te sien wat sy daarvan sê. 

Maar ek moet toegee, Volschenk ken haar steppies as dit by prosiliteer kom. Sy waarsku mens heel subtiel dat daar bloedige gebeure is wat haar laat voel dat die storie nie heeltemal in die realistiese werklikheid geanker is nie. “Sekerlik sal ander lesers ook só kan voel,” volgens Volschenk. Middeleeus, wat?

My gedagtes dwaal na plaasmoorde en Putin en verlede jaar se verbruikersopstande, maar ek roep myself tot orde en lees verder.

Nou kom die lering, die les. Hierdie ge-mission is beslis meer as ’n allegorie. En allegorie (sy rig haar seker tot die Matrieks van 2022) is ’n storie met ’n boodskap, “’n verhaal vol simboliek en metafore wat kommentaar lewer oor iets spesifieks”.

Dit was ’n lang opbou, maar Volsckenk het ’n Plan. Sy onthul dat Die troebadoer iets te sê het oor “die nuwe Suid-Afrika”. (Ja, exactly, in presies daardie woorde wat ons laas in Mandela se tyd gehoor het.)

Ek vermoed dat sy besef het dat sy teen hierdie tyd al die maksimum aantal siele oortuig het om Die troebadoer te lees, want sy wentel die resensie nou af, baie soos ’n dominee wat pas die deel van sy preek bereik het waar hy openbaar het wat die punt van sy storie is.

“Vir my lewer hierdie boek hoofsaaklik kommentaar oor vryheid, hoe vervlietend dit is.”

Dit is die soort opmerking wat almal vir ’n oomblik die oë sal laat sluit in stille nadenke. En elke paragraaf daarna bring verdere rede vir diepe nabetragting. Magsmisbruik, die noodsaak dat die leser sy eie verbeelding moet gebruik, sulke dinge.

Ek het, moet ek ruiterlik beken, van die begin af gewonder hoekom Volschenk so openlik die proseliet wil wees. Drie paragrawe van die einde af vind ek toe uit wat gaan vir wat.

Sy was bang dat niemand die boek gaan wil lees nie. En sy is nogal baie beleefd wanneer sy verwys na die tirannie van genre-fiksie, en die feit dat iets met ’n outydse inslag ’n anomalie is. Vriendin! Ek is saam met jou hartlik keelvol vir speurverhale.

Het daghet vir die lekker storie? Moontlik net in boeke soos Die troebadoer. Volschenk het boedel oorgegee, maar sy hoop, op haar sagte manier, dat daar wel burgers sal wees wat Die troebadoer sal geniet. Omdat dit anders is, en die andersheid dra die vermaaklikheid.

Die uwe het die probleem met die konsep vermaak, maar vergeet vir eers daarvan. Dit sal ons net laat afdwaal na Jools en die ander intellektuele reuse aan ons suidelike firmament.

Sy sluit met die versugting dat daar wel mense sal wees wat haar gevoelens deel en die boek soveel sal geniet as wat sy het.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek het respek vir Dineke Volschenk, vir die manier waarop sy die situasie getakseer en besluit het dis tyd vir sendingwerk. Ons Afrikaners het mos die inherente genetiese proselitisme. Ek behoort te weet, van my aangetroude familie is afstammelinge van sendelinge. Mens kan stry daarteen, maar die über-sieleredder kom op vreemde maniere uit.

Vir my lok die resensie uiteindelik ’n ander vraag uit, ten besluite: Kon sy nie maar gewoonweg die noot hoog ingesit het vir Die troebadoer nie? Dis nie ’n speurverhaal nie, niemand sou haar verdink het van claquisme nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.