by

Waar’s my Tabard?

Januarie 20, 2022 in Uncategorized

Die jaar strek voor ons uit soos die tweede laaste bladsy van ’n Meyer van Rensburg-digbundel. Ons het al só baie belewe en so baie moet nog gebeur. Hierdie maand het nie alleen die rampante filosofie van Lindiwe Sisulu opgelewer nie, maar ook die meeste reën wat ons in baie jare hierdie kant van Soutpansbergweg gehad het. Maande van muskietbyte wag op ons, metafories gesproke, nè?

In die sfeer van die resensiekunde dommel ons nog helaas ’n bietjie in. Al sedert laas November. Niks gebeur nie en volgende week is dit weer sulke tyd. Ek slaan Sondae Rapport oop met die afwagting van ’n Afriforum-fondsinsamelaar, en teen Maandagoggend, wanneer ek ook Beeld se Boekeblad te siene gekry het, weet ek die blaaie is deur die kraaie bespreek.

Soms raak ek so desperaat dat ek presies weet hoekom Rassie Erasmus so Twitter-vaardig geword het.

Laat ek dan maar die jaar afskop met ’n paar vlugtige opmerkings. Het julle geweet dat daar iets soos ’n vereniging van onafhanklike uitgewers is? Noem hulself SAIP, en hulle het Matthys Strydom se Nog stories teen my muur as die beste publikasie uit hul geledere in 2021 aangewys.

Dié boek is vir LitNet geresenseer deur Annalize Hills, wat met goeie gevolge vir Strydom aan ons voorhou as ’n uitsonderlike Renaissance-mens, sonder om te noem dat hy die broer is van die Afrikaanse digter Leon Strydom, op wie ek jare gelede ’n gigantiese crush gehad het. Of dat Matthys al ’n baie belangrike boek oor Francois Krige die lig laat sien het.

Ek vermoed dat Johannes Hamman homself ook in die geledere van die SAIP bevind. Volgens Rapport is sy debuutroman, Ysterklou Beperk, deur Wenakker Boeke gepubliseer, en mens kan hulle direk by die skrywer bestel. Een en een, nè?

Fanie Olivier resenseer dit vir Rapport, en dit is aangenaam om te kan rapporteer dat Faantjie nog sy steppies ken. Die roman het soveel angles dat mens omtrent kan aanvoel hoe die opwinding by Olivier opbou soos hy hulle lys. Dit speel noord van die Magaliesberge af, en is ’n historiese roman, ’n plaasroman, ’n feministiese roman, ’n familieroman, ’n ekonomiese en maatskaplike roman, ook ’n politieke roman, ’n aktuele roman en les bes ook ’n ondermynende roman. Ons doen dinge oordentlik in my wêreld!
En dit alles kom tereg onder die sambreel van die onstaan van ’n stukkie Afrikaner-kapitalisme, aldus Faantjie. Ek hou só daarvan om te sien hoe ’n literator uit die ouer generasie opgewonde raak oor die taal van ’n boek, al dink hy nie die boek is ’n volslae sukses nie.

Maar wat de hel, ons doen dinge op ons manier hier rond.

Die eerste krieweloomblik van die 2022-resensiejaar het gekom met Stefaans Coetzee se reaksie op Ivoor van Jaco Wolmarans (Boeke24).

Dis ’n kragtoer, reken hy. “Aan die lesers wil ek sê, staan op aandag en salueer. Wolmarans is ’n skrywer wat kan kers vashou by die wêreld se bestes.” Sy verwysingsveld is die skryfwerk van Andy McNab, Chris Ryan, Jack Carr, Ben Coes en Dalton Fury. Nie Fanie word grootwildjagter, soos die omslag my laat vermoed het nie.

Die kanse dat ek ooit McNab et al sal lees, is nul. Nie my scene nie. Die manier waarop Coetzee op Ivoor reageer, laat my dink dat ek tog ’n poging sal aanwend met Wolmarans.

Wat het my laat kriewel? “Die Portugese dialoog maak die boek nog net meer besonders.”

Ek is nie ’n taalpuris nie. En ek wil graag aanneem dat Coetzee hom per abuis ’n bietjie vaag uitgedruk het. Daarom neem ek aan dat nie al die dialoog in Portugees is nie. Ek kan kwalik onderskei tussen desculpe en meu nome é Crito en nou slaat Wolmarans my met die leksikale ekwivalent van pasteis de nata.

Ag wat, dis net fun & games. Sondag sal Rapport hopelik die jaar afskop met ’n swaargewig-resensie. En die dag daarna Beeld ook.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.