by

Bibliobibuli

Oktober 6, 2021 in Uncategorized

Word julle ook so speuls wanneer julle ’n opskrif lees soos Dekonstruksie as gebundelde terrorisme? Hou my vas skatlam, of ek kom ’n ding oor van eindelose binnepret.

As julle Charl-Pierre Naudé se bespreking gelees het van Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte, Aryan Kaganof se jongste skotoom, sou daardie opskrif alleen die jaarlikse intekengeld op Beeld werd gewees het. Dit is só next to it dat mens half simpatie wil hê met Herman Lategan, wat so ’n Brakpan mixed grill gekry het vir sy resensie van dieselfde boek in Rapport: ‘Vuilgat’ wys ’n vet vinger.

Dit is albei van die mees veelduidige resensies wat nog ooit op die onderskeie koerante se boekeblaaie gepubliseer is. Soos meeste besprekings van boeke wat deur ’n kleiner leeskring gelees gaan word, geskryf in die styl van ’n literator wat weet hy gaan sy eie eksamenvraestel merk.

Maar nou weet ek ook dat ’n paar van julle – net enkeles, want in die algemeen is Crito se lesers ’n uitgelese, skrander klompie – nie heeltemal die breë gly van Naudé en Lategan se slepe raaksien nie. En vir dié paartjies, enkele meditasies oor dieper dinge.

Dis duidelik dat albei resensente hulle vergewis het van die uitgewer se kommentaar (op sy webwerf) oor die boek: “Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte is ‘n radikale en eksperimen-tele teks, die eerste en enigste van sy soort in Afrikaans. Dit is onmoontlik om die teks te katagoriseer as roman, gedig, drama of draaiboek. Dit is vreemd, eksperimenteel en totaal anders.”

Die eerste ding wat mens van Lategan se reaksie opval, is dat dit lekker kort is. Eintlik sê hy alles wat mens wil weet in een paragraaf: “Taalreëls word verbreek, die styl is astrant. As die boek ’n vinger was, was dit ’n vet middelvinger. Dit is egter ’n woede gevoed deur broosheid en droefgeestigheid.”

Waarna Lategan hier verwys, is natuurlik die vet middelvinger van die proktoloog wat besig is om die gesondheid van die klier der lettere te bepaal. Sien, ’n leser moet nooit dinge sommer voetstoots aanvaar nie.

Naudé neem ’n langer aanloop. As die boek ’n voet was, is dit die voet wat die literêre agterstewe ’n skop gee. Wanneer hy sê “Dit is een van die oneerbiedigste en ontsporendste tekste (albei in die beste sin van die woord) wat tot nog toe in Afrikaans verskyn het” is dit sy manier om te sê dat die boek baie beslis ook geniet sal kan word deur literatore en resensente wat gewoonlik op die draad sit met ’n oor aan elke kant op die grond.

Ek het Naudé se resensie stipgelees, en met elke herlees nog meer die gevoel gekry dat hy eintlik die dames van die leeskringe wil waarsku dat daar geen romantiese denouement is nie.

Naudé se aanpak is gewis dié van iemand wat die bibliobibuli se aandag wil vestig op die inherene anti-literatuurskap van die boek, wat soos ons weet, nie as roman, gedig, drama of draaiboek gekategoriseer kan word nie. “Dis by tye poëties, skreeusnaaks, platter as platvloers. En dis ’n opsetlike en wydlopige (ook loopse) verleentheid vir enige selfbewuste, literêre fynproewer.”

O, hierdie is nie ’n boek waarin verbande met groot diepsinnighede gelê word en dinge geaktiveer word en mens ’n groot teoretiese verwysingsveld nodig het nie. Hy sou ook kon gesê het dis die Kootjie Emmer van ons tyd, maar hy het nie.

Van verbande gepraat. Sowel Lategan as Naudé lê hulle met William Burroughs se The Naked Lunch, en Naudé se gedagtes dwaal ook na Samuel Beckett en Antonin Artaud. Ek weet nie van julle nie, maar ek voel Burroughs en Beckett is twee van die groot literêre con artists van die vorige eeu. Beckett werk op die verhoog, maar nie as teks vir die bibliobibuli nie. Burroughs het bewys dat jagsheid die siekte van ons tyd is, ’n pseudo vir alle tye.

Dit voorspel vir my niks goeds vir die lees van Aryan Kagakof nie.

Naudé se opmerkings oor aanhalings beier uit na die Belgiese skrywer Paul Bogaers wat ’n hele roman, Onderlangs (2007) saamgestel het uit “gesteelde” passasies. “Dis ’n tegniek wat soos die res van Vuilgat interessante postmodernistiese vrae vra oor oorspronklikheid en kreatiwiteit.”

Ek zoom uit. Sekerlik is ek heeltemal uit tred met die res van ons wonderlike land waar die meerderheid mense diefstal bewonder, en die interessante postmodernistiese vrae oorlaat aan die intellektuele elite. Ek kan nie wag vir die uitgawe van Vrye Weekblad waarin Deborah Steinmaier vir Aryan Kaganof onder hande neem met ’n paar postmodernistiese vrae nie. Naudé het reeds die huiswerk vir haar gedoen. Cento a go-go.

Ek begin myself afvra of die sinisme my kop laat vrot het. Is ek die enigste wat Charl-Pierre Naudé se resensie lees en die heeltyd die gevoel kry dat hy vir my iets anders wil sê? Soos byvoorbeeld: “Dit sal roekeloos wees om hierdie teks se gekonstrueerde interteks met gelade kwessies, soos die rol van geweld in identiteitsvorming, te onderskat. Dis ’n heerlike aanval op die nut en selfopvatting van letterkunde per se.”

Hierdie is ’n slim ene. Jy sal hom nooit betrap dat hy sê die boek vertel jou uiteindelik meer van Kaganof as van enigiets anders nie. En dan “heerlke aanval” – Naudé het duidelik, nes ek, ’n broertjie dood aan die selfingenomenheid van die burokrasie der lettere. To each his own, nè? Aryan Kaganof het my en Naudé nader aan mekaar gebring.

En dan lyk dit ook of Kaganof nogal vir Naudé geïnspireer het tot ’n eie skunnigheidjie: “Om die digter Adam Small by te haal, die Here het gaskommel en wat Kaganof doen, is om dit te wys.” Lekker een C-P! Geddit?!?!

Ek wil Charl-Pierre Naudé se resensie apploudeer, maar dink ek doen dit om die verkeerde redes. Hy het die boek onbeskaamd geniet, maar in my hart van harte het ek ’n gevoel hy het nie. Moontlik het hy wel opgegaan in die spel wat Kaganof versus die literêre verkaktheid speel, maar vir my het hy ook genoeg rooi liggies laat flits. Ek meen hel, wat anders wou hy regkry met “die Afrikaans is ’n spel van eiesinnig gekonstrueerde demotiese vorms”?

Kom verby, Doris.

Maar gestel ek het dit verkeerd. Dán moet ek aanvaar sy besluit om die boek op hierdie manier te resenseer het uiteindelik berus op ’n verskeidenheid dieperliggende oorwegings. Dis vir Crito maklik om uit te flap omdat die opskrif al my ongeduld-snellers aangeskakel het; Naudé is korrek deur respek aan die boek te toon as “radikale eksperiment”.

As die Afrikaanse letterkunde nie Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte kan verwelkom nie, is ons in diep, groot bollie. Dis sulke radikale eksperimente waarmee die koors van die middelmoot en die hogere letterkunde gemeet word.
Maar nogtans en desnieteenstaande wil ek die aandag van die Crito-gemeente vestig op Herman Lategan se baie veelseggende en oerpragtige slotopmerking: “’n Mens wil tog in die woorde van T.T. Cloete vir Vuilgat sê: ‘Kom liefs tenger onversadig en honger maar voldaan terug’.”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.